Woorde: Jacques van Zyl Fotografie: Michel Dei-Cont
Ons daal met ʼn slap draai in die Hexrivierpas af. Voor ons sprei die groen lappieskombers van die vallei uit, voor dit byna 30 kilometer verder saam met die rivier en die grootpad in Kaapstad se rigting in ʼn kloof verdwyn. Ek kan myself skop; ek het skoon vergeet om die sonsopkoms te bekyk.
Minute later skud my Golfie op ʼn grondpad tot stilstand voor ʼn groot pakstoor. ʼn Wag wuif met sy knipbord en ons ry stadig na binne. By die deur ontvang Heleen ons geesdriftig en vra onmiddellik of ons die sonsopkoms gesien het. Michel is sommer vies vir homself – hy’t nie eers één foto geneem nie.
Ek syg half ongemaklik langs ʼn enorme wit raadskamertafel neer en wag vir Jacques en sy broer, Eugene, om by ons te kom aansluit. Voor my staan vier oranje bakkies vol druiwe gereed, elkeen netjies met ʼn benaming op ʼn kaartjie. ʼn Vyfde bakkie staan nog leeg. Slegs een van die name lui ʼn klokkie by my. Daar’s blykbaar nog net twee weke oestyd in die seisoen oor en die meeste druiwe is reeds gepak en uitgevoer. Van die druiwe wat ons moet proe, kom dus uit die yskas uit.
Jacques het intussen kom sit en hy hoor ons gesprek.
“In sy karton, in ʼn gasvel teen ʼn temperatuur tussen 0,5 en 1 graad, hou hy veel beter. Dan kan jy hom eintlik nogal baie lank hou,” verduidelik hy vinnig.
200 HEKTAAR, 100 JAAR
Die plaas Modderdrift net buite De Doorns is reeds sedert 1913 in die Beukes-familie se besit. Pieter Beukes en sy twee seuns, Jacques en Eugene, die vierde generasie op die plaas, is vandag die eienaars. Teen 135 hektaar is Modderdrift een van die groter tafeldruifplase in die gebied, maar dis nie die plaas se grootte wat dit in die kalklig hou nie. Sedert Jacques in 2006 gewig begin ingooi het en op groot skaal begin het om pitdruiwe met moderne pitlose kultivars te vervang, het produksie met 37,5% en omset met ʼn reuse 1 200% toegeneem.
“Die trend is oorwegend na nuwe kultivars wat snaaks lyk,” vertel Jacques. “Soos die vingers byvoorbeeld, en dan hierdie Cotton Candy wat soos spookasem proe – mense koop agter die smaak en agter die vorm aan. Die ou tradisionele druiwe verdien definitief minder in die mark.”
Langs hom sit Eugene tjoepstil met gekruisde arms. Hy knik nou en dan soos Jacques praat.
“Mens kry so ʼn 20% tot 30% premie op die spesiale druiwe, wat dit baie aanloklik maak. Die mark het maar sy fases. Mens moet heeltyd sorg dat jy voorbly – mense se smaak verander oornag.”
Heleen luister aandagtig, asof sy alles vir die eerste keer hoor, maar sy’s duidelik ʼn gevestigde dryfveer op die plaas.
Jacques se stukkie besigheidsgimnastiek het hom in 2016 twee toekennings besorg: Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar én Toyota SA/Agri SA se Jongboer van die Jaar. Jacques en Eugene se kinders is vandag die vyfde generasie Beukese op Modderdrift.
’N PAKSTOOR SOOS MIN
Jacques reël vinnig dat ons deur die pakstoor stap. Daar word streng by regulasies gehou – ons mag niks los saam met ons invat nie en almal moet ʼn haarnet en ʼn oorbaadjie aantrek voor hulle mag ingaan. Wanneer die pakstoordeur oopgaan, is dit asof die klanktoerusting skielik harder gestel word.
Heleen beduie glimlaggend na die deur se kant toe. “Hierbinne is alles chilled, maar daar buite sit 200 mense en pak.”
Die gedruis word nog luider soos ons instap. Drie rye stasies hanteer die vrugte soos dit van die wingerde af inkom. Telkens as ʼn krat ʼn stasie verlaat, word ʼn plakker met ʼn staafkode aangebring – naspeurbaarheid is hoog op Modderdrift se prioriteitslys – dis immers wat oorsese winkelkettings vereis. Kyle, die pakhuis- en plaasbestuurder, is sommer ook ons gids. Hy verduidelik hoe verdampingsverkoeling sorg dat die lugtemperatuur in die stoor agt grade laer as buite is. Elke ding wat in die pakstoor ingaan, moet weer uitkom. Hulle kan nie bekostig dat enigiets, hoe klein ook al, saam met die druiwe verpak word nie. Almal konsentreer en is besig – produktiwiteit word nougeset aangeteken en beloon. Daar’s iets ruimte-eeus aan die toneel voor ons. Rye identiese monitors vertoon identiese grafiese koppelstukke (Eng. interfaces). Selfs die personeel lyk eenders in hulle donkergrys oorpakke en hulle kyk skaars op van hul take. Elke enkele fout wat in die ketting opgespoor word, kan teruggespeur word, presies na die stasie waar dit plaasgevind het.
“Hierdie is ʼn ordentlike fabriek,” spog Jacques met rede. Iemand bring ʼn plakker aan waarop die syfer 500 000 gedruk is. As ek later uitvra, hoor ek dat hulle pas die halfmiljoenste krat druiwe gepak het.
Ons stap na waar die klaargepakte kratte regstaan om afgehaal te word. Dis soos ’n muur.
LANDBOUTOERISME
Die Beukes-familie se fokus op verbruikersbehoeftes het intussen uitgedy na agritoerisme. In die oesseisoen is Modderdrift die enigste plaas in die Hexriviervallei wat toeriste ontvang en toelaat om hulle eie druiwe te kom pluk. Pakstoorbesoeke word ook aangebied. Twee nuwe plase, Brandwacht en La Montagne, word tans deur Modderdrift in die Brandwachtvallei net buite Worcester ontwikkel. Die mikpunt is om die omset met ʼn verdere 300% te verhoog. Die damme is onlangs met 1 200 forelle bevolk om nog ʼn hupstoot aan agritoerisme te gee.
“Hulle het gister met die fondasies begin,” vertel Jacques.
Die nuwe pakstoor wat opgesit is sal in ʼn jaar meer as ʼn miljoen kissies verpak, werk vir 600 mense skep en gaan nog meer modern daar uitsien as Modderdrift sʼn. ʼn Besoek aan ʼn fabriekfasiliteit is dalk nie wat by ʼn mens opkom as jy aan agritoerisme dink nie, maar ons besoek was meer as die moeite werd.
Ter afsluiting gaan kyk ons waar daar druiwe geoes word. Meeste eweredige trosse is reeds geoes, maar daar is nog baie oor vir die mense met hulle mandjies. Op die koop toe is dit koel en skaduryk onder die wingerdstokke. Eugene is skoon ʼn ander mens – skielik is hy die een wat praat en beduie. Hy vertel ons wat die straatverkopers alles met die gesteelde druiwe aanvang, en ek besluit net daar ek raak nie weer aan steeldruiwe nie.
KNARS-KNARS KOU ONS EETDRUIWE
Uiteindelik is ons terug in die ontvangslokaal. Die vyfde druiwebakkie is intussen volgemaak en ons begin proe aan wat die toeriste in hulle oesmandjies kan verwag.
Crimson Seedless is redelik algemeen in winkels beskikbaar en beslis een van die beste tafeldruiwe. Die korrels het ʼn relatief hoë suurgehalte, maar toon ʼn baie goeie balans tussen die surigheid en die suikers. Dis een van die laaste tafeldruiwe wat nie gepatenteer is nie. Die ferm, verlengde, ovaal druiwekorrels is redelik neutraal in smaak, maar deeglik soet en dit kraak sappig tussen ʼn mens se tande. Die vruggies is verbasend verfrissend, ondanks die hoë suikergehalte. Die korrels het ʼn kenmerkende, aangename vrankheid maar is effens minder suur as Allison en het iets byna heuningagtig in hulle smaak. ʼn Sterk maar dun velletjie om die vrugliggaam maak seker dat die druif amper in jou mond ontplof as jy hom byt.
Crimson is ʼn middel- tot laatseisoen druif wat relatief laat nog geoes kan word. Dit hou ook besonder goed op die rak, wat maak dat vars Crimson-druiwe tot in die laatherfs beskikbaar is. Alhoewel dit bekend staan as ʼn mediumgrootte pitlose tafeldruif wat soms sukkel om groot korrels te maak of ʼn mooi kleur te ontwikkel, is Modderdrift se Crimson stewig, sappig en eweredig gekleur met ʼn kenmerkende kersierooi gloed.
Scarlotta Seedless (Sugranineteen) is reeds in 1993 deur Sun World se Variety Development Center in die San Joaquin-vallei in Kalifornië ontwikkel, maar het eers in 2005 op die mark verskyn. Dis ʼn laatseisoen druif met ʼn uitstekende opbrengs per hektaar. Die middelgrootte ovaal korrels lyk vir my ongeoefende oog nogal baie soos Crimson sʼn, maar is dalk effens slanker.
Die smaak verskil egter heelwat van Crimson. Die druif is ʼn bietjie meer waterig, sonder om enigsins smaakloos te wees. Die suurgehalte is laer en die vruggies het ʼn terughoudende elegansie wat die ander druiwe nie het nie. Die aantreklike rooi-pers korrels proe merkwaardig verfrissend en neutraal, maar het tog iets aromaties aan hulle. Scarlotta is minder soet as enige van die ander druiwe en ook effens sagter onder die tande. Hierdie is ʼn druif waarvan ek baie sal kan eet.
Soos genoem, verskil Allison Seedless se smaak nie hemelsbreed van Crimson s’n nie. Allison is wel effe meer krakerig en daar’s iets van die gekookte swartbessie-lekkergoed waaroor ons as kinders so baklei het in die smaak wat ek nie by Crimson kon proe nie. Behalwe dit en die merkbaar hoër dog steeds aangename suurgehalte, proe Allison baie soos Crimson.
Allison se diep pienk-rooi kleur is effens donkerder as Crimson en die vorm van die korrels is effens ronder. Die vrugvlees is besonder ferm en omring deur ʼn velletjie wat glad nie afbreuk doen aan die geur en eetbaarheid daarvan nie. Allison Seedless (Sheegene-20) is ʼn laatseisoen druifsoort (die korrels word twee weke later as Crimson ryp) wat in 2000 deur Sheehan Genetics LLC in Porterville, Kalifornië, ontwikkel is deur Princess met Red Globe te kruis. ʼn Patent is in Oktober 2012 op die druif toegestaan. Allison lewer ʼn hoë opbrengs, maak groot, knapperige korrels en is maklik om te kweek.
Sheehan Genetics se Melody™ (Blagratwo) het die sterkste geur van die druiwe voor ons. Ek proe muskaat en tropiese vrugte – en heelparty sekondêre druiwegeure. Ongelukkig was die druiwe in die yskas gebêre en ek verbeel my ek kan dit ook proe. Anders as die vorige drie rooi druiwesoorte is Melody ʼn swart druif. Die korrels ontwikkel maklik hulle volle kleur en word redelik vroeg in die seisoen ryp. Die korrels het ʼn hoë natuurlike suurheidsgraad wat sorg dat die komplekse smake nie te swaar op mens se tong weeg nie. Soos al die vorige druiwe is die korrels ferm, pitloos en krakerig onder jou tande. Die vlees van die druif is effens rooierig. As ʼn mens van ʼn ‘outydse’ druiwesmaak hou, is dié een dalk net die druif vir jou. En ek kan my indink dat dit lekker in konfyt sal proe.
Sweet Sapphire is beslis die mees ongewone druif in Modderdrift se portefeulje. Dis by verre die mees krakerige en soetste van die druiwe voor ons en ek skat kinders sal lekker stry oor die laaste trossie hiervan. Asof die smaak en tekstuur nie genoeg is nie, het Sweet Sapphire ook ʼn baie ongewone vorm. Die vruggies, elk met ʼn diep kuiltjie op sy punt, hang soos ʼn spul donkerpers worsies aan die trosse – amper soos eetbare AA-flitsbatterye, dink ek stilletjies. Van die vyf wat ek sover geproe het, smaak Sapphire die minste na die soort druiwe wat ek ken. Soos die smaak is die tekstuur ook baie ongewoon en interessant – dis soos om in die stingel van ʼn sappige, stroopsoet vetplant te byt.
Sweet Sapphire is ʼn middelseisoen, swart tot swart-pers pitlose druif met ongewoon groot korrels (20mm x 35-70mm en 7g tot 9g per korrel). Die ferm druif breek of kneus nie maklik nie, maar is geneig om in sy lengte oop te bars as dit te veel reën. Die vlees van die druif is liggroen, besonder bros en lekkergoedsoet, met ʼn vol druiwegeur. Hulle suikergehalte is van die hoogste onder tafeldruiwe – tussen 18 en 20 grade Brix. Die vlees is so ferm dat ʼn mens die korrel met jou vingers in twee kan breek. Die druif is in 2004 met behulp van veelvuldige kruisings ontwikkel deur Dr. David Cain van International Fruit Genetics in Bakersfield, Kalifornië, en is in 2013 vir die eerste keer kommersieel in die VSA geoes.
As mens dink Sapphire is uniek, sal Cotton Candy jou in jou voetspore laat vassteek. Op die oog af is dit ’n doodgewone wit druif, maar die oomblik as jy ʼn korrel in jou kies stop, weet jy dat jy hier met iets heeltemal besonders te doen het.
Cotton Candy is weereens die resultaat van jare se kruistelery deur International Fruit Genetics se Dr. David Cain wat eers in 2002/2003 vrugte afgewerp het. Die komplekse lekkergoedgeur is verkry deur die nuwewêreldse Vitis labrusca met die alombekende Vitis vinifera te kruis. Die muskusagtige geur wat tot die spookasemsmaak lei, kom van V. labrusca af, terwyl die meer geronde geure V. vinifera se afdruk is.
In die plastiekbakkie wat Heleen voor my neergesit het, proe elke korrel effens anders, maar toe die spookasemsmaak sterk deurkom, wil ek amper op my rug val – dis die ene pienk kermis-suikerdons. Hoe koeler die druiwe, lees ek later, hoe sterker is dié geur. Uiteraard is Cotton Candy ook baie soet, maar die smaak is so oorweldigend dat mens dit skaars agterkom. As druiwe só kan smaak, weet ek regtig nie waarom daar nog lekkergoed verkoop word nie!
Besigheid: Modderdrift | Area: De Doorns, Wes-Kaap, Suid Afrika | Kontak: office@modderdrift.co.za | +27 23 354 8740 | www.modderdrift.co.za