farmers, Mega Farmers
comments 2

T-bene uit Amsterdam

Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Anina Lonte

Thys van Rooyen het in 2000 die skuif gemaak van boewe agter tralies sit, tot bees in voerkrale versorg. Sedertdien boer hy en sy seun Reno op Amsterdam, ‘n 1 000 hektaar plaas in die omgewing van Daniëlskuil, naby aan Kuruman.

Een van Amsterdam se stoetbulle (met sy toolbox nog waar dit hoort).

Ons stap saam met Reno in die rigting van die voerkrale, op soek na Thys.

“Hy’s altyd iewers besig,” verduidelik Reno.

Anderkant die krale jaag iemand op ‘n vierwiel-fiets verby.

“Dis hy daai. Op pad om die bees te voer.”

VOORLIEFDE VIR VEE

Inderdaad. Ons kom by die voerkrale aan en Thys sit aan die stuur van ‘n trekker met ‘n enorme voermenger daaragter. Jy kan sommer sien hy wil nie gesteur word nie, maar hy spring hoflikheidshalwe uit die kajuit om te kom gesels. Die trekker se enjin bly loop. Dalk ter beklemtoning dat tyd nie op hierdie plaas verbeusel word met nietighede soos kletsery met die media nie.

Thys is op die man af en sy indringende blik laat geen twyfel dat hy verdagtes se broek laat bewe het tydens sy jare as polisieman nie.

Die voerkraal op Amsterdam.

“Ek het nog altyd ‘n voorliefde vir boerdery gehad en immer ‘n klompie vee op ander mense se grond aangehou.”

’n Voerkraalbees met kake wat nie beweeg nie, dwing verlies af.

Nadat Thys die plaas gekoop het, hou hy aanvanklik net ‘n paar stuk vee aan vir, soos hy dit noem, backgrounding. Dit is wanneer jy kalwers voer tot ongeveer 240 kilogram waarna hulle na voerkrale toe gaan, of jy hou aan voer tot hulle slaggereed is. Maar dit het nie by kleinbegin gebly nie.

“Ek kon sien daar is goeie besigheid in die voerkraalbedryf en het maar aangehou tot waar ons vandag staan met so net oor die 1 200 bees.”

‘n Ander ding wat die ouens met die dikraambrille vir ons leer: As jou seun met sy graad in landbou en al sy nuutgevonde kennis saam met jou kom boer en hy is nie ná vier jaar ‘n beter boer as jy nie, jaag hom weg. Ek wonder hardop wie nou die beste boer tussen pa en seun is.

Die voer word op die plaas gemeng en bevat hooi, lusern en chop. 

Reno antwoord: “Ek het ingenieurswese studeer. Dus het ek alles wat ek van boerdery weet, by my pa geleer.”

En hoekom die bestendige en voorspelbare lewe van ‘n ingenieur verruil vir die wisselvallige en onvoorspelbare een van ‘n boer?

“Ek hou nie van roetine nie. En hier op die plaas hou die natuur jou op jou tone, want hy speel nie aldag saam nie. Soos die droogte die afgelope vier jaar. Jy kon die gevolge aan die bees sien. Maar nou, met die goeie reën, lyk die diere en veld weer goed.”

Thys en Ryno van Rooyen rond hul bees self op hierdie manier af.

WENRESEP

Per definisie voer ‘n voerkraal die vee en op Amsterdam word die voer self gemaak. Ruvoer soos hooi, lusern en chop (‘n afvalproduk van mieliemeel) word aangekoop. Die konsentrate word deur deskundiges in Johannesburg voorsien. Alles word in mengers gegooi en die trekkers kom haal hulle. ‘n Voerkraalbees met kake wat nie beweeg nie, dwing verlies af.

Thys verduidelik: “Hulle vreet daagliks ongeveer ‘n 100 op ‘n ton. Hier waar ons nou staan, is omtrent 800 bees. Dus agt ton. En ons meng aanmekaar vars voer. Sodra dit suur word, vreet die bees dit nie.”

“Nee wat, ek sou sê voerkraalvleis is sagter, want die bees kry al die regte voedingstowwe en hy loop nie so baie nie.”

En g’n bees kan slegs op vaste stowwe lewe nie.

“Almal saam suip hulle gedurende die somer omtrent 60 000 liter per dag. Die winter ‘n bietjie minder, maar nie baie minder nie. Ons het egter genoeg water.”

Thys en Reno se voerkraal werk só: “Ons produseer ook ons eie kalwers kommersieel, maar die meeste word aangekoop. Sodra hulle afgelaai word, word hulle geprosesseer, kry hulle groeistimulante in die ore en word hulle teen siektes ingespuit.”

Daarna gaan hulle na ‘n aanvangskraal.

“Daar ontvang hulle starters (‘n bietjie meer hooi) en natuurlik tef waarvan hulle kan vreet soveel hulle wil.”

Ruvoer wat op Amsterdam gebruik word om hul eie voer te maak.

Sodra die diere aangepas het, verskuif hulle na die volgende krale.

“Dan word hulle oorgeplaas na growers (meer proteïne en minder gras) toe. Sodra hulle gebackground is en hulle is reg, gaan hulle vendusiekrale toe, of word hulle verder hier by ons gevoer na slagbees toe. Sodra ons sien hulle is vet, word hulle in hul laaste krale gesit waar hulle vir 28 dae lank Grofactor in hul voer ontvang. Daarna ontvang hulle vir die laaste drie dae slegs grower om seker te maak al die goed is uit hul sisteme.”

Kyk, daar is stories wat vertel dat bees wat op veld wei, beter smaak as hul eweknieë in voerkrale. Amper soos die staaltjies oor Karoo-lam proe beter omdat hy bossies eet. Daar is selfs fynproewers wat kwansuis die verskil tussen die Hantam, Boesmanland en die Kalahari se lammers kan bepaal.

“Nee wat, ek sou sê voerkraalvleis is sagter, want die bees kry al die regte voedingstowwe en hy loop nie so baie nie.”

RISIKOBEHEER

Hierdie klink na die perfekte vorm van landbouproduksie. Voerkrale is nie te erg uitgelewer aan die natuur nie. Ja, daar kom droogtes, maar Thys en Reno het genoeg water. Die bees vreet nie veld nie. Hulle kos word aangery en gemeng. Boonop is die vleis sagter. Hoe lyk die ander uitdagings?

“Siektes. Hoofsaaklik longontsteking. Die kalwers se longe groei aan hul ribbes vas en kom net nooit weer los nie. Ons temperatuur-uiterstes dra baie tot die probleem by. Dis tussen die warm en koue weer wat hulle siek word.” 

Thys en Reno van Rooyen.

Thys reken die mark se wisselvalligheid is nie ‘n groot probleem nie.

“Soms maak jy ‘n bietjie. Soms speel jy gelyk, maar as jy aan die einde van die jaar na jou boeke kyk, dan sien jy jy het darem jou pond vleis verdien.”

Om hulle risiko te versprei teel Thys en Reno ook speenkalwers en het hulle die Beefmaster-stoet.

“Ek glo altyd dat ons ten minste darem op twee van die komponente moet wen.”

Ons lewe tans in die Tyd van Korona en voerkrale is nie gespaar nie.

Volgens Reno kan enigiemand ’n voerkraal bedryf. Die voorvereistes is die wete dat jy bloot ‘n slegte dag beleef en nie ’n slegte lewe lei nie. Dit help ook as die hare op jou tande hardebaard is.

“Alhoewel die veilings aangaan, is die koopkrag net nie daar nie. Dan sit jy met ‘n situasie waar daar te veel vleis op die mark is en met ‘n slagprys wat dienooreenkomstig val. Dit het ons benadeel. Maar ons werk dit teë deur nou effens goedkoper bees aan te koop en later teen ‘n hoër prys van die hand te sit.”

Volgens Reno kan enigiemand ‘n voerkraal bedryf. Die voorvereistes is die wete dat jy bloot ‘n slegte dag beleef en nie ‘n slegte lewe lei nie. Dit help ook as die hare op jou tande hardebaard is.


Eienaar: Thys van Rooyen| Besigheid: Amsterdam | Area: Kuruman, Noord-Kaap, Suid-Afrika

Filed under: farmers, Mega Farmers

by

Hein is a wandering collector of stories who lives by the words of Lee Marvin in Paint Your Wagon, "I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back." He was born and bred in the Western Cape, but criss-crosses Southern Africa in this quest.

2 Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published.