farmers, Sustainability
Leave a comment

’n Kop vir sterk tee

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont

Ons ry vroegoggend na Nicolaas en Andries Slinger se plaas, De Lille, noord van Clanwilliam. Kliprante blink ougoud teen ’n porseleinblou hemel, met sweempies pienk waar die oggend vir oulaas gebreek het. Die versoeking is groot om te stop en ’n foto van elke murasie met ’n bloekomboom te neem. Die skilder, Gabriel de Jongh, se kinders het hierdie skone eenvoud “boompie-bergie-huisie-ding” genoem, en die pad na De Lille is een lang, lieflike tentoonstelling daarvan. 

Nicolaas en Andries Slinger met wilde bergtee van Wuppertal se kleinboere.

OPTELKIND BOER VOORT

Andries ontmoet ons op De Lille en neem ons na die buurplaas, Vondeling, waar sy pa, Nicolaas, die teebaan behartig. In 1972 het Nicolaas as 14-jarige plaaswerker by Vondeling in diens getree. Toe die buurplaas, De Lille, in 1992 op die mark kom, het Vondeling se eienaar, JP Theron, Nicolaas bygestaan om dit te koop.

“Ek was nooit ’n dag van my lewe in die skool nie en ek boer nou al 26 jaar vir myself met rooibos en skaap,” sê Nicolaas. Nicolaas boer op 1 600 ha met 430 ha rooibos, ongeveer 200 Dorper en Dohne-Merino-kruisings en 70 volstruise. Ná elke rooibosoes versamel hulle hul eie saad en lewer dit aan Rooibos Bpk. vir verwerking, waarna Ysterfontein Boerdery die saad in hul kwekery ontkiem.

Nicolaas boer ook met volstruise op De Lille.

Andries boer op drie huurplase van amper 3 000 ha met 170 ha skaap, 100 ha saaigrond en 170 ha teelane. Andries meen dis moontlik om so verspreid te boer, want “jy hoef nie so baie by rooibos te kom nie”.

ORGANIES GESERTIFISEERD

Ons plan om die kerfmasjiene in aksie te sien, word deur beurtkrag gefnuik en daar staan ’n hele paar teebondels in Vondeling se skuur. In die middel, apart van Vondeling se oes, staan ’n paar sakke bergtee van Wuppertal. Dit is skoon, sterk tee wat wild in die berge groei. Die bosse is dikker en ruik soeter, met blink, groen blare en donkerrooi are. “Kyk net hier,” sê Andries en gee ’n bos aan. “Jy kan sommer voel dis volume-tee hierdie.”

Nicolaas Slinger met ’n bossie wilde bergtee van Wuppertal.

Al die Slingers se teelane is organies en daar word geensins bespuit nie. Sowel Nicolaas as Andries is internasionaal gesertifiseerde organiese boere en lewer uitvoertee aan Rooibos Bpk. en Berg en Dal. Volgens Andries is die prys vir organiese tee ongeveer R5 tot R10 meer as konvensionele tee, en hulle het al tot R18 meer gekry. In 2019 het organiese rooibos R55/kg droë tee behaal, met winsdeling ingesluit.

Soos alle rooibosteeboere, wag hulle elke jaar met groot afwagting vir die oesprys om vasgestel te word.

BORSEL DIE BLARE

Die lug is koeler as wat ek verwag het. “Ja, die koelte kom nou in,” sê Nicolaas. “Dan vat die sweetproses langer.” Daar lê ’n lang voor gekerfde tee op die baan. “Die tee is gisteroggend gekap en teen die namiddag in ’n voor geplaas. Ons sal hom vanoggend tienuur oopsprei en twaalfuur loop ons hom deur met ’n borsel,” sê Nicolaas.

‘n Breë blad met gekapte tee lê gereed om oopgesprei te word.

Ek skep ’n hand vol van die warm, rooibruin stokkies. Dit ruik heerlik. “Maar hy’s nog nie reg nie. As die bye begin kom, dan weet jy die heuningreuk is hier. Die bye sê vir jou presies wanneer jou dinge reg is. Voor dit is hy nog suur,” sê Nicolaas. Die tee word elke uur geborsel totdat dit opgetel word. Wanneer dit 9% vog bevat, word dit in sakke gesit.

Hande vol rooibruin stokkies wat mettertyd sal sorg vir heerlike koppies tee.

Nicolaas se pa, ook Andries, was ’n veewagter op die nabygeleë plaas, Papkuilsfontein. “Alles wat ek van rooibos en boerdery weet, het ek hier op Vondeling geleer. Toe die plaas in 1978 sy eerste teelaan geplant het, was ek hier,” sê hy. Andries is een van vier kinders en was in die Augsburg Landbouskool op Clanwilliam.

Die Slingers lewer net gedroogde tee en is tans besig om hul eie teebaan op De Lille te vestig. “Jy moet weet wat jy doen as jy ’n baan gooi,” meen Nicolaas, wat ’n gedeelte van die baan op Vondeling gegooi het. Hy beplan om ’n muurtjie van een meter hoog – effe hoër as die standaard – op te rig. “Die oopgooier gooi 30 m elke kant toe, so jou teebaan moet minstens 60 m breed en 70 m lank wees. Dit kan nie kleiner nie, maar teen R3,50 kerfkoste per kilogram, maak dit sin om jou eie teebaan te hê.”

Die borsels waarmee die tee elke uur op die baan geborsel word.

NATUUR-VERWEER

Reën is die teeverwerker se grootste vyand. Ek en Andries gesels oor die verskil tussen die ou generasie wat sonder aanlyn weervoorspellings en weer-toeps tee verbou het. Andries stem saam dat die jonger generasie met hulle tegnologie nie kan kers vashou by sy pa se instinktiewe aanvoeling vir wanneer die weer gaan draai nie. Die Slingers probeer so ver moontlik saam met die natuur werk, maar met pas gevestigde plantjies in die eerste jaar, is muise ’n groot probleem.

“Die bobbejane het besef dat rooibos ’n wurm in sy wortel kry, en as hy eers een wurm gevind het, dan trek hy alles uit om nog te kry,”

Andries Slinger

“Droër jare veroorsaak dit alles. Die bobbejaan het nie kos in die veld nie en maak ’n plan. Dis ook reg so,” meen Nicolaas. “Spuit is maar ’n gewoonte van ons boere. Hulle wil hê die bos moet lekker rus ná die oes, dan spuit hulle om al die steurnisse weg te vat. Maar die natuur sorg vir homself, daar’s ’n ding vir alles wat jou pla. As jy alles vrek spuit, spuit jy ook die ding wat jou geld spaar, vrek. Kyk hoe mooi is daai tee uit Wuppertal. Daar’s geen gif in daai area nie en kyk net hoe mooi is die bosse in vergelyking met dié uit die teelane.”

LEKKER BRAKWATER

Die Slingers boer met skaap om hul kontantvloei ’n hupstoot te gee, maar baie van hul planne word gestuit deur ’n gebrek aan vars water. Daarom kweek hulle ook nie hul eie saailinge nie en betaal hulle R5 500/kg vir saailinge wat van hul eie saad gekweek word. Die Slingers se boorgate is almal brak. “Ons is al so gewoond aan brakwater drink. Ek kan glad nie die dorp se vaalwater drink nie. Dit maak jou dors!” sê Andries.

Sy kudde van 200 is ’n kruising tussen Dorper- en Duitse Merinoskape.

Andries sou graag op ’n huurplaas saailinge wou kweek, maar Nicolaas meen jy moet binne stapafstand van jou plante woon “sodat jy kan sien as daar swamme kom”. Nicolaas is in 2010 aangewys as Wes-Kaap se opkomende boer van die jaar, en daarna ook as die landwye wenner. Dit is ‘n gepaste eerbetoning vir ’n boer wat nie die geleentheid gehad het om skool te gaan nie, en wat sy grond sonder staatshulp gekoop het.

“Ons was so verbaas,” vertel Andries. “Die volgende oomblik is die tydskrifte hier, en toe vlieg hulle ons na Port Elizabeth. Dit was ons eerste keer in ’n vliegtuig,” lag hy. Riana van Rensburg van die Departement Landbou het intussen by ons aangesluit. Sy besoek die Slingers om die oprigting van De Lille se teebaan, waarmee die Departement hulle bystaan, te bespreek. “Nicolaas het sy plaas klaar afbetaal voor ek hom kon oortuig om iets van die staat te vat. Hy’s gewoond om sy eie ding te doen,” sê sy met ooglopende respek. Riana reël ook ’n jaarlikse skou vir opkomende boere, waarvoor Andries die prysgeld skenk. As ’n tweede generasie teeboer, lê dit Andries na aan die hart om ander opkomende boere te help waar hy kan.

Nicolaas het die kombi gekoop om in ’n roomyskarretjie te omskep, maar dit wag steeds vir ’n “make-over”.

EIENAAR: Andries Slinger | NAAM: De Lille | AREA: Clanwilliam, Wes-Kaap | PRODUK: Rooibostee, Dorper-skape en volstruise | OPSOMMING: Op De Lille het ‘n jong boer by sy pa, wat deur die Universiteit van die Lewe geskool is, geleer hoe om met rooibostee en skaap te boer. 

Filed under: farmers, Sustainability

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *