Through the lens
Leave a comment

Portret van ‘n Boer

Fotografie: Michel Dei-Cont

Hoe lyk die toonbeeld van ʼn tipiese boer? Manlik of vroulik? Ongekunsteld of gesofistikeerd? Saggeaard of hardebaard? Ons fokus die kollig op ʼn paar wat stereotipes uitdaag.


WARREN BAM

WARREN BAM WCB Boerdery, Porterville, Wes-Kaap

Sy ouers was albei plaaswerkers, nou boer Warren met tafeldruiwe vir die uitvoermark én hy is mede-eienaar en aandeelhouer in verskeie boerderye. Warren voel dis nét plaaseienaars wat kan help om werkers te bemagtig sodat hulle ook vooruitstrewend kan boer. Hy glo dit hoef nie ʼn geval te wees van alles hou óf alles verloor nie. “Deel net. Nie noodwendig grond of aandele nie, maar geleenthede.”

Hy is ʼn sprekende voorbeeld daarvan. “Voor 1994 was daar nie eintlik apartheid tussen plaaskinders nie. Die plaaswerkers kon hul kinders tot ouderdom ses saamvat werk toe, waar hulle en die eienaars se kinders gespeel het. Die krake het eers duideliker geraak wanneer hulle begin skoolgaan. Dan het hulle paaie geskei,” vertel hy.

Een van die kinders met wie Warren gespeel het, was Breda, seun van Lushof se eienaar, Ben van Niekerk. Hulle het mekaar ná jare weer in 2002 raakgeloop. Breda het vir hom ʼn aanbod gemaak om saam met hom te boer. In 2015 het Warren voltyds vir homself begin boer.  “En my eerste prioriteit bly die lone van my mense.”


CHRISTINE ROUX

CHRISTINE ROUX Rietfontein, Springbok, Noord-Kaap

Christine en Albertus Roux is die sesde geslag op Rietfontein. Hul boerdery is verdeel tussen dorpers en afrigus (‘n kruising tussen ‘n afrikanerkoei en rooi angusbul) en strek van Boesmanland tot Kamiesberg. Maar die droogte het hier ook sy wurgende tentakels ingesteek. 

Met goeie beplanning en boorgatwater, boer hulle egter vooruit – en Christine het ʼn florerende bokboerdery. Haar bokboerdery het een middag ná ’n droë jaar in Namakwaland begin. “Oom Tertius Archer van Kamieskroon het hier aangekom met vier dragtige boerbokooie agterop sy bakkie en gesê die bokke is vir ons kinders.“

“Jy moet nooit hoër leef as die bossies in jou omgewing nie’’

Toe die kinders skool toe is het ek oorgeneem en vandag het ek gemiddeld 125 ooie.”
Sy sê die boerdery bemagtig haar. Sy het verlede jaar ʼn 200% lam-persentasie gehad, maar dit was nie maklik nie want hulle moes 365 dae voer. 

Die Rouxs is onverbete. “Jy gee nooit moed op nie”

Jy maak elke dag nuwe somme. Behoorlike beplanning en begrotings is ononderhandelbaar.


RENSHIA MANUEL

RENSHIA MANUEL GrowBox, Hanover Park, Wes-Kaap

Renshia het groot planne vir haar kwekery, terwyl sy die welstand van die gemeenskap in ag neem. Haar besigheid het ontkiem toe sy derde gekom het in die Youth Start CT-sakekompetisie. Met R5 000 prysgeld het sy ʼn kwekery in haar agterplaas begin.

Dit het in 2018 na Hoërskool Mount View se gronde verskuif waar sy die water kon gebruik, tot skollies die boorgatpompe vandaliseer het.“In die begin moes ek die pompe elke dag huis toe dra, anders sou dit verdwyn het.”

Naas saailinge verkoop GrowBox ook volledig toegeruste groentetuine in houthouers. “Ek verkoop vyf verskillende ‘tuine’, elk met die regte plantjies en groeimedium,” sê sy. Daar’s byvoorbeeld ‘n slaaiboks met blaarslaai, soetrissie en tamatie en ‘n kruieboks wat ook die cocktail box genoem word, want kruie is ewe geskik vir kosmaak as mengeldrankies.

Renshia wil GrowBox landwyd uitbrei, ook as ‘n kwekery-ketting wat gemeenskappe oplei om voedsel te kweek en self-onderhoudend en winsgewend te word.

www.growboxnursery.com


GERT ROODT

Voordat Gert kom boer het, was hy professor in Bedryfsielkunde en ook vise-dekaan in die Bestuursfakulteit aan die Universiteit van Johannesburg. Gert het op ‘n beesplaas tussen Kalkveld en Otjiwarongo in Namibië grootgeword. Nou is hy besig om met kleigrond te tóór. Hul klein stukkie grond lewer spense vol vrugte, olywe, blomme – selfs witblits en mampoer.

Sy kleinhoewe is 2 hektaar groot en in 2012 was dit ‘n kaal stuk grond aan die oewer van die Theewaterskloofdam. Die grond is eers ontbos voor ‘n dam gebou is. Waterleidings vir wingerd en boorde het gevolg.

Gert plant graag wat hy self geniet om te eet. Daar is grenadella, koejawel, vy, 600 granaatbome en 135 olyfbome.

“Ook iets om te drink,” sê Gert. Hy het ‘n 100 m ry elk van sultanas, muscat d’alexandrie, chenin, cabernet en merlot. Hy stook mampoer van sy grenadellasurplus. En die oorskotdruiwe? Gert stook witblits. “Ek het die gedagte heimlik in my agterkop gehad om met oorskotvrugte te stook. Jy kan nie sulke mooi vrugte laat vrot nie!”
Friedenheim is ’n perfekte voorbeeld van fyn grond-tot-mond beplanning.


CRAIG EN CAROL HOUSTON

CRAIG EN CAROL HOUSTON Niekerksfontein, Mooirivier, Kwazulu-Natal

Craig en Carol Houston boer op Niekerksfontein. Craig het grootgeword op ʼn melkplaas en op kollege verder studeer om dit te kan bedryf. Melkboerdery loop sonder twyfel deur sy are en dis hoe dit hoort want melkboerdery is een van die mees uitdagende maniere om ʼn lewe te maak.

Harry dra ‘n plastiekskerm om sy nek om te keer dat hy sy wond lek wat onlangs veroorsaak is deur ‘n redelik dapper pofadder – watter dier, buiten ‘n Jack Russel, sal dit waag om ‘n Rottweiler te byt?

“Basies leef jy jou werk. Ons is byvoorbeeld tans besig om te saai soos ons elke herfs maak, en ons skedule is baie knap. Gisteraand moes ek herstelwerk aan toerusting doen. Toe dit reg was, bel my voorman om 01:00 om te sê dat daar ʼn probleem met ‘n kalf is en dit moes eers uitgesorteer word. En dan moet ons om 04:00 begin melk.”

Asof Craig se lewe nie rof genoeg is nie, ry hy ook met sy MTB op die berge, neem deel aan uitmergelende ultra-ultra-marathons (250 km sonder ondersteuning oor ses dae en nêrens anders as in die Kalahari nie) en hy het uithourenne op die mees onmoontlike plekke in Lesotho met Alfie Cox gery.

Om geld in die bottel te kry, hou hulle Holsteins gekruis met Jerseys aan. Volgens Carol, is Craig se benadering tot teel baie eenvoudig. “As die koei soos ‘n Holstein lyk, bevrug haar met Jersey. As sy soos Jersey lyk, weet jy wat volg.”

Craig het twintig jaar gelede Nieu-Seeland besoek want hy het gehoor dat die Kiwi’s se melkprodusente se koste laag is. Tot op daardie stadium het Craig opregte Holsteins aangehou, maar het gou begin om hulle met Jerseys te kruis.

“Omdat ons ‘n kleiner dier wil hê wat verder kan loop en die meeste van sy voeding uit weiding kry. Mens word ook beter vir die melk betaal. Kleiner is beslis beter. Mens sien mos nie dat ‘n groot man die Comrades wen nie.”


Het jy ‘n storie vir ons? Stuur jou foto en kort opsomming na redaksie@grondtotmond.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published.