Woorde: Hein Eksteen | Foto’s: verskaf
Toe ons oor die Nieuwoudtpas ry, weet ek summier ons is op pad na ʼn blywende ervaring. Met die intrapslap reken Jannie Nieuwoudt, “Jy kort ʼn besondere en onverdunde klas van malheid om te doen wat ons hier gedoen het.”

Jannie en Katrin is die eienaars van Jamaka Organic Farm & Resort. Die plaas lê aan beide kante van die Rondegatrivier skuins anderkant die Sederberg Algerië kampeerterrein. Die kantoor is behang met foto’s van Jannie as maratonatleet. Katrin stap smorens en saans twee skaaphonde flou. Die punt is: hulle is die ware Jakob en Jakobina. Dus kan die ‘besondere en onverdunde klas van malheid’ eerder omskryf word as ongekende deursettingsvermoë, onverskrokkenheid en bowenal visie.

Jannie: “Niemand in hierdie omgewing het 20 jaar gelede organies geboer nie. En vir iemand soos ek wat nie ʼn boerdery-agtergrond het nie, was dit bitter moeilik om van tradisionele boerdery oor te skakel na organies.”


Jannie en Katrin was aanvanklik beide geoloë werksaam in Namibië. Vaste joppe met dienooreenkomstige salarisse wat hulle verruil vir die wisselvallige bestaan van boerdery. Om seker te maak hulle word nie verveeld nie, gooi hulle die organiese spanner in die werke.
“Jy besef baie vinnig hoe meer jy bemes hoe meer besoedel jy die rivier. En hierdie is hoeka ʼn wildernisgebied. Die ander ding: wanneer jy bespuit, maak jy die goeie organismes tesame met die skadelike dood.”

Almal weet ʼn boer maak ʼn plan, maar ons weet ook sodra die mens planne maak, grynslag die gode. Tradisioneel-geboerde bome is gewoond om bemestingstowwe gevoer te word. Neem die voeding weg en die bome is te verhonger om die volgende jaar ʼn goeie drag aan te sit. Die vrugte is gevolglik minder en kleiner.

“En ons het nie geweet van organiese metodes om peste mee te bestry nie. Dit is nou veral vrugtevlieë. Die ander groot probleem was dat vir die eerste drie tot vier jaar kan jy nie die vrugte as organies verkoop nie. En daardie jare was daar in elk geval nie eintlik ʼn organiese mark nie.”
Jannie is egter nie ʼn kêrel wat sy tyd verbeusel met die oënskynlik onoorkombare nie. Met sy vragmotor gelaai vol sakkies lemoene het hy omliggende plakkerskampe en minderbevoorregte gebiede betrek en gesmous.
Uiteindelik het hy die bemestingsprobleem opgelos deur sy skape, hoenders en ganse se mis te komposteer. Die vrugtevlieg se vlerke word deur ʼn toelaatbare produk uit Australië geknip.
Maar nog is het einde niet.
“Organies is jou produksie aansienlik minder, jy benodig meer arbeid, jy sit met onkruid, boonop ʼn tekort aan voedingstowwe vir die bome. Jy het net soveel meer verskillende goed om in ag te neem as wanneer jy konvensioneel boer.
Daar is egter voordele. Sodra die boere ten volle organies is, die nodige oudits slaag, mense van hulle hoor en hulle konstant kan lewer, word ʼn mark gevestig. “Dan vertrou die mark jou en jy kry heelwat meer vir jou produk.”

En toe besluit die twee fikses om mango’s aan te plant.
“Die rede daarvoor is hierdie omgewing het ʼn mikroklimaat en begin mango’s produseer wanneer die ander gebiede reeds klaar geoes het.” Jamaka pluk vanaf Februarie tot in Julie en selfs in Augustus – sodra die vrugte aan die boom ryp is. Nie soos konvensionele boere wat oes sodra daar genoegsame vrugte is en alles gelyktydig afhaal nie.
Die plaas se neweprodukte bestaan uit die verkoop van lemoen- en suurlemoenskille aan die bierbrouerye en bakkerye. Suurlemoenskil sonder die bitter wit onderlaag. “Dan droog ons baie mango’s – jy kry maar 10% uit, maar dit lyk vir my asof die mark onversadigbaar is.”

Jannie vertel van ʼn ouer boer wat jare gelede vir hom die volgende raad gegee het: Om suksesvol te boer moet jy sekermaak jy het elke maand ʼn inkomste. Nie net eenmaal per jaar nie. Elke maand.
Só gooi Jannie en Kartrin nóg spanners in die werke en betree die uitdagende wêreld van landboutoerisme. En dit maak sin. Jamaka lê in die mesgekloofde vallei. Boomryk. Die standhoudende Rondegatrivier met verskeie swempoele.
“Ons vestig elke jaar ongeveer 10 nuwe kampplekke en bied kampeerders alles wat hulle benodig.” Daar is reeds ver oor die honderd. Tot pizzas en cocktails oor naweke. Sommer ʼn happy hour ook.

Ons stap buitentoe en Jannie reken, “Die sitrus en mango’s loop nou kop aan kop wat produksie aanbetref, maar die kampeerterein vaar beter as hulle beide saam.”


Buite, langs die swembad, staan ʼn fris boerbokram. Sy naam is Bok. En hy is nie al slag seker of hy mens of dier is nie. Jannie: “Gaan loer op Instagram na Ek Is Bok. Hy het sy eie rekening en het meer followers as al Jamaka se Facebook-bladsye en webtuistes tesame.”
Nou ja, ʼn boer is ʼn bok en ʼn bok is nie ʼn wese wat hom deur uitdagings laat kelder nie.
Jamaka Organic Farm & Resort | Clanwilliam, South Africa | Tel: (+27) 027 482 2801 | https://jamaka.co.za
8 Comments