Farm to Fork, farmers, Female Farmers
comment 1

Mira Weiner se groente vir genesing

Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Expressions Photography en Samantha Lowe

Mira Weiner van die Bolandse dorpie, McGregor, het twee jaar gelede ’n totale gesondheidsineenstorting gehad en kort voor die inperking ook haar brose moeder in haar huis geneem. Die twee het begin tuinmaak, meestal om Mira se veganisleefstyl en liefde vir kook van vars produkte te voorsien, maar ook om hulle van mal-word te weerhou. Maryke Roberts gesels met Mira oor haar helende reis.

Mira Weiner in haar tuin waar sy elke oggend vars kruie in seisoen gaan oes vir haar
veganisresepte.

Reeds vanaf ’n jong ouderdom het Mira haar eie ondernemings bedryf en erken dat sy haar geestelike en fisiese gesondheid afgeskeep het. Sy het erge adrenalien-uitputting, ’n lewerkwaal en algehele uitbranding beleef. Dit het ook paniekaanvalle en Polistiese Ovariumsindroom tot gevolg gehad.

Mira het soos meeste ander mense, tydens die inperking begin bak en kook en haar mooi gestileerde disse op sosiale media gedeel. Daar was foto’s van haar en haar ma, met breërand sonhoedens, gevlegte mandjies en klein plantjies in netjiese rye wat voedsame kruie en groente vir haar resepte lewer.

Haar vriende en aanhangers het al meer begin vra vir resepte, omdat almal tydens inperking meer tyd gehad het om nuwe resepte te beproef, asook omdat die midriwwe begin uitsit het! Met veganisresepte – waar baie van die kruie en groente uit Mira se tuin gekom het – het dit heelwat mense aangespoor om hul vingers in die grond te druk en hul eie tuine te vestig.

Mira se veganis-resepte laat selfs vleiseters se monde water. Sy gebruik baie vars kruie uit haar tuin en hope suiker- en gluten-alternatiewe om heilsame disse te skep.

Mira se gesonde resepte het begin help vir slegte spysvertering, sooibrand, inflammasie en ander kwale. Al haar resepte is gluten-, suiwel- en verfynde suikervry. “My kosfilosofie is eenvoudig: kos moet heerlik, voedsaam en heilsaam wees, terwyl dit jou liggaam, brein en siel versterk en genees.”

Haar eie tuin het onder meer wildeals, basiliekruid, laventel, kappertjies, roosmaryn, spekboom, krulkool, sprietuie, brandnetels, suurlemoene en grenadellas. Mira het haar lewe lank ’n vegetariese leefstyl gevolg, maar, het sy dit baie moeilik gevind om suiwelprodukte op te gee. Tydens haar ontdekkingsreis om alternatiewe te ontgin, het sy egter gou besef dat sy wel disse sonder suiwel kan maak, wat net so lekker en romerig proe.

Mira se veganis-resepte laat selfs vleiseters se monde water. Sy gebruik baie vars kruie uit haar tuin en hope suiker- en gluten-alternatiewe om heilsame disse te skep.

Mira het van kleins af gebak en gebrou en sê haar liefde vir vars groente, vrugte en kruie kom van haar ma af, wat nog altyd haar eie groente- en kruietuine gehad het en sy vir Mira, as deel van haar tuisonderrig, geleer het om haar eie groente en vrugte te kweek en die koste daarvan te bereken. “Ek het ook my eie vars produkte verkoop en was op 10-jarige ouderdom ’n regte snipperige entrepreneur!”

Vandag geniet sy dit om soggens uit te gaan, terwyl die Riviersonderend-berge om die klein dorpie wag hou, die water in die leivoortjies kabbel en sy dan met ’n mandjie vol kruie na haar kombuis toe stap. Dit het al menigmaal gehelp om van die neerslagtigheid wat inperking meebring, ontslae te raak.

Mira glo dat kos nie net lekker en heilsaam moet wees nie, maar ook mooi moet lyk. Haar stap-vir-stap-resepte en inspirerende foto’s deur plaaslike fotograwe, kry baie komplimente omdat dit mense inspireer om gesonder te leef.

“My vreugde om my ma en ons tuinier in die tuin te sien werskaf, terwyl ek kos maak of met ander takies aangaan, vul my hart met groot vreugde en genade. Ek hou ook daarvan om kaalvoet op my grasperk te staan vóór en ná ’n lang dag. Dit bring my as’t ware terug aarde toe en gee my kans om oor die dag te besin, en dan al daardie stres te laat gaan.”

Mira se gesondheid het ook baie verbeter. Vir haar organiese groente-voorkeure ondersteun sy organiese verskaffers op die dorp, wat elke week ’n groenteboks aflewer asook die klein plase of kleinhoewes wat hul oorskot groente en vrugte verkoop.

Die aanvraag na haar resepte het tot haar eie webwerf, www.miraweiner.com, gelei, waarop sy as’t ware van haar gesondheidsreis dagboek hou en ander aanmoedig om saam met haar die gesonde pad te stap. Sy werk saam met plaaslike fotograwe en stiliste om haar foto’s te neem en meen dat die visuele juis mense se aandag trek, en verg dit gevolglik goeie stilering en fokus op fyner detail.

“Ek glo regtig ons kan die wêreld deur ons kombuise – klein en groot – verander.”


MIRA SE GUNSTELING KRUIE EN WAARVOOR DIT HELP:

Brandnetel:
Trek ’n kruietee met brandnetel. Dis propvol minerale, vitamiene en antioksidante en ryk aan kalsium, yster, magnesium, potassium en aminosure. Mira drink die kruietee vir inflammasie en pyn en dit bevorder ook jou metabolisme. Sy gebruik dit ook in souse en miso-sop, voeg dit by roerbraaigeregte, maak haar eie wilde brandnetel-pesto en braai die blare selfs vir haar eie brandnetel-skyfies.
Wildeals:
Wildeals is deur die eeue heen gebruik teen verkoue, griep, angs, infeksie, diabetes en stres. Dit help jou om ná ʼn siekte aan te sterk. Trek ’n warm tee met vars gerasperde gemmer, suurlemoen en natuurlike versoeter, heuning, esdoring- of agawestroop.
Sitroenbalsem:
“Ek voel hierdie is die Mira-kruid: ek gebruik dit baie in my genesingsreis vir uitbranding, adrenalien-moegheid, angs en angsaanvalle.” Sitroenbalsem kom van die kruisementfamilie en het ’n heerlike geur. Tradisioneel word dit gebruik om jou gemoed te lig, jou beter te laat fokus en skerpsinnigheid te verbeter, maar Mira vind dit werk ook goed vir slapeloosheid en angssteurnisse. Dit as ’n lekker sterk tee getrek, is goed vir slegte spysvertering en kopseer.
Spekboom:
Spekboomblare is eetbaar en ’n wonderlike bron van Vitamien C – dis so maklik om by jou disse te voeg. Sprinkel dit rou in slaaie, gebruik in roerbraaigeregte en sop of rooster dit in die pan met speserye as ’n peuselhappie. Mira pluk die blare vroeg soggens wanneer dit steeds ’n lekker suurlemoengeur het, wat sy later in die dag nie proe nie. Kou die blare vir uitputting, dehidrasie en selfs vir sonbrand.

VUUR-WATER

Maak 1 fles
Bereidingstyd: 10 minute
Gistingstyd: 2–4 weke
Vuur-water is ’n speseryagtige gefermenteerde tonikum wat verskeie gesondheidsvoordele inhou om jou immuunstelsel te bevorder.
Die geure is aangenaam, want dis ’n vermenging van spesery, suur, soet en skerp. Die gesondheidsvoordele sluit onder meer in antibakteriese voordele, dis ’n immuunversterker, dit beveg verkoue en griep, gee energie, is ’n natuurlike antibiotika, verhoog bloedsirkulasie en help met spysvertering. Dit kan net so gedrink word, of in drankies, slaaisouse, marinades en souse gebruik word.
Een tot twee teelepels per dag, hou die dokter weg!

Bestanddele:
• Appelasyn met die moederplant
• 1 gekapte rooi ui
• 1 gesnyde wortel
• 1 gesnyde mandaryn
• 1 gesnyde suurlemoen, (hou die skil aan)
• 1 gesnyde jalapeno
• ¼ koppie vars gerasperde gemmer
• 8 knoffelhuisies
• ⅓ koppie rou heuning of agawestroop
• 1 eetlepel borrie
• 1 eetlepel gedroogde tiemie
• 1 teelepel swartpeperkorrels
• ½ teelepel cayennepeper
• Knippie pienk Himalajasout

Metode:
Gebruik ’n gesteriliseerde fles en kies groente, vrugte en speserye van jou keuse. Druk elke laag af tot onder en voeg appelasyn tussen die lae by. Herhaal dit tot die fles lekker vol is. Draai die deksel goed toe en laat dit gis vir 2–4 weke in ’n koel, donker stoorplek.
Ná twee weke, neem ʼn slukkie om te proe hoe dit smaak. Jy kan daarna meer gereeld proe, tot jy tevrede is en gebruik dan ’n kaasdoek of sif om die vloeistof op te vang.
Skep dit in ’n gesteriliseerde fles en stoor in ’n koel, donker plek. Indien nodig, kan jy ekstra heuning of agawestroop byvoeg.


NAAM: Mira Weiner AREA: McGregor, Breërivier-streek PRODUK: Veganisresepte en -wenke | KONTAK: 023 6251 409 | www.miraweiner.com

Filed under: Farm to Fork, farmers, Female Farmers

by

Maryke is a prizewinning journalist whose articles have been published countrywide. She has written about a wide range of subjects including books, actors, theatre, food, wine and travel. When she pulls over to open a farm gate and shakes the farmer’s hand, the anticipation rushes through her veins. “Agriculture is more than the production of food – it is the heart and soul of our country. And this is where you’ll discover tales of true grit,” according to her.

1 Comment

  1. Anélia Marais says:

    just to say the Afrikaans word for potassium is kalium☺

Leave a Reply

Your email address will not be published.