Meer as 900 suiwelprodukte ding mee in die 2022 Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe, die grootste en oudste suiwelkompetisie in Afrika. Die kampioenskappe word vanjaar vir die 189ste jaar deur Agri-Expo aangebied. Die beoordeling het op Donderdag 24 en Vrydag 25 Februarie by Elsenburg buite Stellenbosch plaasgevind.
Noukeurige proses onderskryf deur bedryf
“Daar is goeie redes hoekom 68 vervaardigers vanjaar soveel as 920 suiwelprodukte vir die kampioenskappe ingeskryf het,” sê Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo.
“Hierdie kompetisie word met groot noukeurigheid en deursigtigheid saamgestel en daarom word dit volkome onderskryf deur die bedryf,” sê Ehlers. “Agri-Expo, as onafhanklike organiseerder sedert 1834, bestuur die proses agter die skerms – van die aanlyn-inskrywings, die klasindelings, die koueketting van produkte van reg oor die land, die saamstel van beoordelaarspanele, die beoordelingproses en die ouditkomponent daarvan, tot die uiteindelike bekendmaking van die wenners.”
Volgens Ehlers skep die beoordeling die nasionale maatstaf waarvolgens groot én klein vervaardigers, van internasionale maatskappye tot kleinkaasmakers, hulself jaarliks teen mekaar meet: “Verder gebruik sommige vervaardigers die uitslae as prestasie-beoordeling, wat die waarde wat aan die kompetisie geheg word, benadruk.”
Verbetering in gehalte positief vir bedryf
’n Span van 30 beoordelaars per dag onder leiding van die hoofbeoordelaar Alan Fourie beoordeel meer as 100 klasse vir kaas, botter, jogurt, maaskaas, roomys, gegeurde en aangesuurde melk, suiwelnageregte, suiweldoopsouse, melk, en room. Die beoordeling behels drie fasette van sensoriese evaluering, naamlik geur en smaak, voorkoms, asook samestelling en tekstuur.
Fourie sonder verbetering in produkgehalte uit as ‘n hoogtepunt van vanjaar se beoordeling. “Net die beste van die beste van elke vervaardiger word ingeskryf en dit is verblydend dat die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf jaar na jaar presteer.”
Volgens Fourie is die kampioenskappe een van die enigste kompetisies ter wêreld wat vyf beoordelaars per kategorie gebruik. “Vanjaar was meer as ‘n kwart van die beoordelaars ‘n nuwe span wat beteken dat die kampioenskappe ‘n leerskool is waar mense uit die bedryf aan die hele omvang van suiwelprodukte blootgestel word. Hulle vind dit leersaam en strategies waardevol vir produkontwikkeling en innovasie.”
Samewerking is die sleutel tot sukses
“Volgehoue sukses in die suiwelbedryf in Suid-Afrika is afhanklik van die vermoë van die bedryf om aan te pas, te vernuwe en saam te werk.” Só sê dr Tertius Cilliers, Hoof Uitvoerende Beampte van Synercore, platinumvennoot van die SA Suiwelkampioenskappe.
“Of jy ‘n primêre of sekondêre produsent, verskaffer, groothandelaar of kleinhandelaar is, meer as ooit tevore sal ons die voordele van suiwel moet beklemtoon en bevorder,” sê Cilliers. “Die SA Suiwelkampioenskappe bied ‘n uitstekende platform en geleentheid waar jy hierdie soort samewerking en eenheid vir ’n gemeenskaplike doel sal vind – die bemarking en die viering van die waarde van uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf.”
Die 2022 SA Suiwelkampioenskappe word moontlik gemaak deur die platinumvennote Agri-Expo en Synercore, asook ander vennote Chr.Hansen, AECI Food & Beverage, die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Woolworths, IMCD SA, Condio, Hollard, Orchem, Mane en Polyoak Packaging.
SA Suiweltoekennings hibried aangekondig
Die wenner in elke klas word as SA Kampioen bekroon, terwyl produkte van besonderse hoë gehalte ook die Qualité-merk ontvang, wat as die enigste merk van gehalte vir suiwelprodukte in Suid-Afrika erken word. ‘n Paneel van vyf kundiges wys die Produk van die Jaar aan.
Die SA Kampioen-, Qualité- en Produk van die Jaar-wenners word op Vrydag 25 Maart 2022 tydens die Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings by Cavalli Estate in Stellenbosch aangekondig. Belangstellendes kan inskakel by www.cheesesa.co.za/sa-dairy-awards vir ‘n hibriede aanbieding.
Vir meer inligting, besoek www.cheesesa.co.za en www.agriexpo.co.za, of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za.
Gesels saam op sosiale media met #SADairyChamps #SADairyAwards #SAChampion #QualitéAward #ProductoftheYear @AgriExpo1