Diversification, Farm to Fork, farmers
Leave a comment

Hiér loop boerdery soos granaatstroop

Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel Dei-Cont

Ons doen aan by die Schoombees op Schoombee (omtrent halfpad tussen Middelburg en Steynsburg) en gesels met Dionne en Deon. Op pad soontoe ry jy verby ʼn kompleks wat voorheen as ʼn polisiestasie gedien het en wat nou om onverklaarbare redes die SANW huisves. Dan ʼn skool (Graad een tot sewe). Vervolgens ʼn stasie en ’n poskantoor. Boonop ʼn buiteklub. Alles Schoombee – omtrent ʼn distrik op sy eie.

Oor hierdie vlaktes het Deon se voorgrootjie se volstruismannetjie die goewermentsman wat grootjie se grond wou kom vat gejaag.

WINDE VAN VOORUITGANG

Deon: “Ons is nou die vyfde geslag op Vriesfontein. Een van die seuns van die oorspronklike Schoombee (afkomstig uit Denemarke) het hier by Schoombee grond gekoop en dit onder sy vier seuns verdeel. Ons is nou die enigste Schoombees wat oor is op Schoombee.”

Terloops, een van Deon se voorgrootjies sit eendag met die spreekwoordelike turksvy in die hand. ʼn Goewermentsamptenaar maak sy verskyning om aan te kondig dat die staat ʼn treinspoor oor sy grond gaan aanlê. “Oor my dooie liggaam,” was die grootjie se antwoord. Die amptenaar wys vir hom die imposante paragrawe in die kontrak en laat weet dat die besluit reeds geneem is. Daar is geen kans vir hiernatoe of daarnatoe oor die aangeleentheid nie.

Die aanlê van hierdie spoorlyn het gesorg dat voorgrootjie Schoombee se toornrige volstruismannetjie ‘n goewermentsman wyd en syd oor die vlaktes gejaag het.

Só ry grootjie en die amptenaar om te gaan kyk waar die spoor sou loop. Grootjie bly in die kar sit terwyl die amptenaar die veld inloop. Straks was dit toeval, of moontlik het grootjie dit so beplan, maar meteens storm ʼn toornige volstruismannetjie op die amptenaar af. Die vent maak dit beswaarlik in een stuk terug na die kar toe. Hy kyk vir grootjie vies aan, waarop die heer Schoombee antwoord: “Hoekom het jy nie net jou paragrawe vir volstruis gewys nie?” Wat is die belangrikste?

“Aan die begin het Dionne gehuil omdat sy hier was. Maar ek glo sy sal nou huil as sy moet weggaan.”

Pousering: ek help eendag op ʼn plaas buite Swellendam om ʼn trop volstruise van een kamp na ʼn ander te jaag. Twee van ons, ek en ʼn bejaarde oom, staan weerskante van die oop hek waardeur die voëls moet gaan, elkeen gewapen met ʼn plastieksak in die hand. Die oom reken indien die volstruise op my afpyl, moet ek met die sak waai. En as dit nie help nie? Sê die oom: “Dan val jy plat en hou vas.” Hou waar vas? “Daar waar dit vir jou die belangrikste is.” Ek weet tot vandag toe nog nie of hy bedoel het ek moet my kop vashou nie. Nietemin.

Deon: “Ek het my roos in die Boland gaan trou. Aan die begin het Dionne gehuil omdat sy hier was. Maar ek glo sy sal nou huil as sy moet weggaan. Want ʼn mens word baie lief vir die Karoo en sy mense.”

Dionne en Deon Schoombee te Schoombee saam met hul lammers (hulle heet straks Lam en Lamm).

Soos die goewermentsman geleer het, pak jy nie iemand met Schoombee-bloed in sy are, kaalhand nie. Maar net so moet jy ook jou storie met Dionne ken. Nie net het sy lief geword vir die ysige winters en uitermatige warm somers nie, sy is ook iemand met indrukwekkende entrepreneursvernuf in háár bloed. Soos Dionne se vrugtestrooponderneming. Van grond tot mond (dalk van boom tot bek).

SUBSCRIBE TO OUR NEWSLETTER AND WIN!
Five winner get each a case of Darling Cellar wines, which include:

1 bottle MCC Blanc de Blanc Brut, 1 bottle MCC Brut Rose, 2 bottles Chocoholic Pinotage, 1 bottle De-Alcoholised Sparkly Rose and 1 bottle Old Bush Vines Chenin Blanc.
Click here to enter: https://grondtotmond.com/subscribe/

MET DIE STROOPPOT WERK

Dionne: “Ons pluk die granate – indien daar wel granate is – en druk die sap met ʼn sitruspars uit. Daarna word die sap gevries. Soos benodig, maak ons die stroop volgens ‘n outydse suurlemoenstroopresep – uit die sap, suiker en Engelse sout. Nadat die stroop gebottel is, tree Deon in om die label-masjien te werk, want ek plak die goed skeef en dan kritiseer hy my.” Slegs ʼn Schoombee besit die waagmoed om sy wederhelf oor skeefheid te berispe.

Dionne Schoombee se suurlemoen- en granaatstroop maak verfrissende koeldrank. Soek jy meer skop, voeg die granaatstroop by jou jenewer en tonikum.

Vier ton granate lewer gemiddeld een ton sap. “Laasjaar het ons ʼn baie goeie oes gehad. Hierdie jaar niks nie.” Sy verduidelik die proses verder: “Jy water die stroop af om as sap te drink. Maar baie mense koop dit spesifiek om in hulle gin te gooi.”
Ek koop summier twee bottels. Die pad na my geliefde se hart loop nie verniet deur haar jenewerglas nie.

“Laasjaar het ons ʼn baie goeie oes gehad. Hierdie jaar niks nie.”

Terwyl Dionne die mensdom se dors met granaatstroop-gegeurde jenewer les, voed Deon hulle met sy SA-vleismerino’s en Stormbergerbees. Hierdie beesras is in die Molteno-omgewing (moontlik die koudste plek in Suid-Afrika) ontwikkel om uiterste weerstoestande te kan oorleef.

Die skaapras is gekies omdat Deon ʼn lam soek wat met ʼn buitengewone karkas spog. Een wat gehaltevleis voorsien en meerlinge die lig laat sien.

SA-vleismerino’s spog met buitengewone karkasse, lewer gehalte vleis en meerlinge.

MAK EN WILDE DIERE

Hier op Vriesfontein, soos elders, is ongediertes die skaapprodusent se grootste uitdaging. Jakkals en rooikat. Twee oplossings is jagters wat die jakkalse onder skoot kry en vanghokke vir die katte. Nog een is jou teelprogram en om die lammers so na as moontlik aan die huis te hou.

“Ons voer hulle elke dag en ons ken hulle persoonlik – of is dit boklik?”

Alhoewel Vriesfontein teen ʼn teerpad lê, is veediefstal nie juis ʼn kwessie om snags oor wakker te bly nie. Nou en dan slaan ʼn potslagter toe, maar daarmee kan die Schoombees saamlewe. Deon skryf hierdie toestand van sake toe aan die goeie verhouding wat hulle met hul werkers het. Volgens Dionne is die werkers deel van hulle familie, en hulle doen alles in hul vermoë om dié mense te bemagtig.

Ter wille van uitbreiding, bedryf Deon ʼn springbokteelprogram om mooi bokke aan die mark te lewer.
Rommel, die labrador, in teenstelling met sy oorlogsugtige naamgenoot, leef in vrede met ieder en al.

Deon: “En dan plant ek mielies en lusern vir my eie produksie. Die oorskot word verkoop.” Hiervoor gebruik Deon Vriesfontein se sterk ondergrondse water (genoeg vir 50 hektaar) en die oorblywende 65 hektaar word besproei met behulp van die Oranjerivierskema, ʼn projek wat gedurende 1963 van stapel gestuur is waarvan die hoofdoelwit die ekonomiese ontwikkeling van die Garieprivier en sy riviertakke is.
“Dan het ons ook baie wild. Swartwitpense, waterbok, njala. En ʼn springbokteelprogram om mooi ramme aan die mark te verskaf.”

“Ons bewerk ook baie wild vir droëwors en biltong.”

Dionne reken die springbokke is hulle kroonwild aangesien die diere mak en vriendelik is. “Ons voer hulle elke dag en ons ken hulle persoonlik – of is dit boklik?”

Produkte word op die plaas verwerk en direk bemark.

N HART VIR BOER

Vier van hierdie springbokke is die trotse besittings van Deon en Dionne se seun, Johannes, ouderdom 12. Een van sy bokke, ʼn duiker, het net drie bene en Deon het behendig vir die dier ʼn houtbeen gefatsoeneer waarmee dit tog te jolig saam met die ander jol. Hierdie jong aspirantlandbouprodusent spog ook met ses melkbokke wat hy elke middag ná skool self melk. Op die oomblik is Johannes se grootste uitdagings nie koue, hitte, droogte, markpryse of risikoverspreiding nie. Eerder die ongenaakbare werklikheid dat skoolgaan en al die nonsies wat daarmee saamgaan, inbreuk maak op sy tyd om te boer. As gevolg van hierdie voorafgaande nonsies kon ons ook nie ʼn foto van Johannes neem nie. Ons kuier op Vriesfontein was helaas verby alvorens sy skoolhok se hek oopgemaak het.

As ’n mens na Deon en Dionne luister, is dit g’n wonder die jongeling is ʼn sakereus in wording nie. Die denkende landbouprodusent se Elfde Gebod is waardetoevoeging. Daarom bedryf Vriesfontein ʼn slagpale en sny hulle die middelman uit en bemark hulle direk. En ook hier slaan Dionne die kitaar.

Hier word hoëgehaltevleis met merkwaardige vaardigheid verwerk.

“Daar is hierdie romantiese idee omtrent boerdery. Maar daar is vele uitdagings. Koste styg. Soos arbeid en elektrisiteit. Indien jy nie elke jaar met ongeveer 15 persent uitbrei nie, gaan jy agteruit. En jy kan net soveel op jou grond doen. Dus brei ons deur middel van waardetoevoeging uit. Ons het die vee, die water en die voer. En boonop ʼn baie goeie afsetgebied in die Kaap.”

Lamsvleis reguit vanaf die land tot die tand.

Maar soos die oumense gesê het: Dis nie sommer net vir vat nie. “Om ʼn slagpale te begin en te bedryf bring jou teen vele regulasies en red tape te staan.” Dionne is verantwoordelik vir die boekhouding en administrasie en Deon voorsien gemiddeld 30 lammers per week.

“Ons slag en dan word die karkasse vir vyf dae gehang. Ja, jy verloor dalk gewig gedurende hierdie proses, maar dan is jou vleis van ʼn baie hoë gehalte en dis sag. Ons bewerk ook baie wild vir droëwors en biltong.”
Almal weet bemarking is, soos die Engelsman sê: A dark art. Selfs hiervoor het die Schoombees egter ʼn oplossing.

VIND JOU AFSETPLEK

Deon: “My swaer – hy het eers geboer, maar het besef biltongwinkels en deli’s is makliker as boer – is ʼn vennoot in die besigheid en deur hom voorsien ons aan M.eat Biltong & Deli. Dus hoef ons nie self bemarking te doen nie.” Eureka!

Vennoot Telicia Wasserman reken om ʼn suksesvolle deli te bedryf moet jy vooruit kan dink en aanmekaar met nuwe idees vorendag kom.

Dionne, tesame met haar vennoot, Telicia Wasserman, bedryf ook die Schoombee Karoo Plaasstal. Volgens Telicia is die geheim agter ʼn suksesvolle deli: ”Jy moet altyd vooruit dink. Klante stap hier in en wil weet wat is nuut. Daarom shop ons rond in die Kaap en op sosiale media en soek vir produkte wat anders is. Goed wat ons self ook graag wil hê. Ons probeer ook om heelwat plaaslike Karooprodukte aan te hou vir toeriste en mense wat deur Middelburg ry.”

Die plaasstal hou natuurlik ook baie plaaslike Karooprodukte aan om verbyryers mee te verlei.

En dit is hier waar die granaatstroop die kroon span. “Dis ons topverkoper. Mense bel gereeld en ons stuur deesdae die stroop per koerier na plekke so ver as Pretoria.” Nou ja, Pretoria is my geboortedorp en Pretorianers wéét hoe om hulle jenewer te geniet. Gesondheid!


EIENAAR: Deon en Dionne Schoombee NAAM: Vriesfontein | Schoombee Karoo Plaasstal | AREA: Middelburg, Oos-Kaap | KONTAK: +27 79 803 5702

Leave a Reply

Your email address will not be published.