Woorde: Nikki van Coller
Kort nadat jy afgedraai het van die R27 in die rigting van die kusdorpie Yzerfontein, ry jy verby ‘n plaashek aan die regterkant. Dit trek nou nie juis die aandag nie, en mens sal maklik daar verbyry en nie die vaagste benul hê van al die opwindende doen en late op die plaas Hoekkraaltjie nie.

Om mee te begin, is Hoekkraaltjie die grootste produsent van kwartelvleis in Suid-Afrika. Die kwartels word op hul plaas aangehou en hulle verskaf kwartelvleis van hoë gehalte aan restaurante, hotelle, sjefskole en privaat klante die land oor. Johan Burden en Tracey Rall is saam die eienaars en bestuurders van die plaas en lewer ongeveer 8000 kwartels per maand en het verspreiders in Kaapstad, Gauteng, Durban en Nelspruit. Bykomende hokke word gebou aangesien die aanvraag na kwartels toeneem, en daar word ook beplan om meer verspreiders te kry. Dit is belangrik om te weet dat die kwartels se dieet van hoë gehalte is en nie enige antibiotika, groeihormone of dierebyprodukte bevat nie. Bo en behalwe die kwartelvleis, voorsien Hoekkraaltjie ook vars en ingelegde kwarteleiers, asook verskeie bokprodukte, soos vars bokmelk en bokmelkkaas. Maar dit wat hulle skep en beplan vir die plaaslike fynproewersgemeenskap is egter wat hulle bekend maak.

Toe Hoekkraaltjie in 2018 met kwartels begin boer het, het Johan en Tracey besluit om hul toe te wy aan etiese produksie, vrylopende diere en natuurlike maniere om te boer. Vandag is bewaring die hartslag van hulle onderneming en word volhoubaarheid in elke projek bevorder, en veral omdat die plaas in ‘n privaat natuurreservaat geleë is.
Aan die begin het hulle ook die idee gehad om ‘n beweging te begin wat plaaslike produsente kon help om mekaar te ondersteun en geleenthede te skep. Hulle het uitgereik na ander boere in die omgewing om te kyk hoe hulle kon saamwerk om volhoubaarheid te bevorder en die gemeenskap te versterk. In die proses het hulle heelwat interessante mense ontmoet en Tracey put groot genot daaruit om hulle aan mekaar voor te stel.

“Daar is so baie pionierprodusente wat wonderlike en ongewone dinge doen,” sê Tracey. “Ek beskou die plaas as ‘n geleentheid om plaaslike produsente byeen te bring, en ook bemarkers, verspreiders, kopers en ook lede van die publiek. Ons wil waarde skep, ondersteuning bied en ‘n gemeenskap van bewuste boere en fynproewers skep.”
“Ons wil waarde skep, ondersteuning bied en ’n gemeenskap van bewuste boere en fynproewers skep.”
Een manier hoe Hoekkraaltjie beoog om dit te doen, is deur hulle Farm2Fork Exchange wat geskep is in samewerking met Jeanette Sutherland van Agriluxe Marketing. Die doel van die Farm2Fork Exchange is om die volgende generasie sjefs op te lei, te inspireer, te beïnvloed en in kontak te bring met plaaslike boere. Tydens hierdie voldag geleenthede kom verskeie produsente, sjefs, wynmakers en kosentrepreneurs op die plaas byeen om te leer en te deel, en natuurlik te proe! Die klem is sterk op bewusmaking van regeneratiewe boerdery en organiese produksie sonder enige vermorsing.

Die planne moes uiteraard eers wag toe die pandemie toegeslaan het. Die inperkings het tot gevolg gehad dat byeenkomste buite die kwessie was en boonop was verkope om verstaanbare redes swak. Maar Tracey is nie een wat op haar louere rus nie en sy het begin om kontak te maak met hotelle, restaurante en gasvryheidskole om kwartels direk aan hulle te bemark. Toe sy een dag kwartels aan die Sillwood School of Cookery lewer, begin sy met die prinsipaal praat, wat toe noem dat dit wonderlik sal wees as die studente kan sien hoe daar met kwartels geboer word. Tracey het dadelik geweet dat sodra die inperkingsmaatreëls dit moontlik sou maak, die Sillwood-studente die volgende besoekers sou wees op die Farm2Fork Exchange-dag.
Uiteindelik het die dag aangebreek dat die inisiatief weer op dreef kon kom, en op Maandag, 13 September het 50 Sillwood-studente en hul dosente die dag op die plaas deurgebring. Hulle het geleer van verskillende aspekte van volhoubare voedselboerdery, het eerstehands gesien wat die plaaslewe behels en heerlike kos wat plaaslik produseer is geniet.

Die dag het begin met ‘n uitstappie na !Khwa Ttu, waar die studente op ‘n snuffeltog geneem is om meer te leer van die medisinale en kulinêre gebruike van verskillende plante wat in die omgewing groei. Daarna is hulle Hoekkraaltjie toe vir die res van die dag se aktiwiteite wat begin het met ‘n praatjie deur die plaaslike sjef en kosaktivis Mokgadi Itsweng. Mokgadi het op passievolle wyse vertel hoe om jou eie groente te kweek en hoe plantgebaseerde diëte die koolstofvoetspoor verklein. Sy het ook beklemtoon hoe belangrik dit is om plaaslike produsente te ondersteun en dat sjefs daarop moet let om meer volhoubare keuses te maak.
“Dit het werklik my oë as aspirant-sjef oopgemaak.”
Kotie van Tonder, ‘n plaaslike boer het toe ‘n aanbieding oor sampioene gedoen. Dit het ingesluit die basiese beginsels om hulle te kweek en met hulle te boer. Voor middagete het die studente geluister na ‘n fassinerende praatjie oor bye, byeboerdery en heuningproduksie deur die passievolle byeboer Nick Hitge. Hulle kon ook proe aan verskillende heuningsoorte.
Die studente is toe getrakteer op ‘n heerlike middagete met baie happies om aan te proe, onder andere kwartellewers, kwartelboudjies, chevre, tuisgemaakte malvapoeding met ‘n bokmelkricottasous, bokmelkfeta, melktert van bokmelk gemaak, pynappelkonfyt, olywe en ‘n klompie ander plaaslik vervaardigde kossoorte.

Nadat die honger gestil is, het Hoekkraaltjie se inwonende sjef, David Mkandi demonstreer hoe mens ‘n kwartel ontbeen en opsny en ook gewys hoe om ‘n kwarteleier af te dop sonder om dit te breek. Hy het toe ‘n paar van die studente uitgenooi om self te probeer om kwartels te ontbeen en die eiers af te dop. Die laaste aanbieding van die dag was deur Wimpie Borman van Groote Post-wyne wat ‘n wynproe aangebied het en gepraat het oor die belangrikheid van volhoubare wynboerdery.
“Baie dankie dat jy sulke belangrike inligting met ons gedeel het,” het een van die studente gesê. “Dit was goed om te leer hoe mens selfonderhoudend kan word deur voedsel te produseer.” ‘n Ander een het die volgende gesê: “Ons het so baie geleer van kwartels, heuning, sampioene, die innoverende gebruik van groentegebaseerde maaltye en van Groote Post se wyn. Dit het werklik my oë as aspirant-sjef oopgemaak.”

Vir Tracey verteenwoordig die Farm2Fork Exchange die geleentheid om mense op ‘n prettige wyse te laat kontak maak en is ook die ideale manier om hulle filosofie oor te dra. “Die filosofie van Farm2Fork bevorder die gebruik van kos wat plaaslik produseer word. Daarmee word die aanvoerkettings verkort, en gevolglik die koolstofvoetspoor,” sê Tracey. “Dit is natuurlik dan ook net deur sulke opvoedkundige geleenthede dat ons daadwerklik kan demonstreer hoe die gebruik van plaaslik geproduseerde kos die gehalte, geur en voedingswaarde van maaltye verhoog.”
Hierdie program skep nie net unieke ervarings vir studente nie, maar gee ook blootstelling aan kleinskaalse plaaslike produsente en bring hulle byeen. Op dié manier probeer Hoekkraaltjie ‘n ondersteuningsnetwerk skep wat volhoubaarheid, geen vermorsing, en regeneratiewe plaasleefstyle aan boere en funproewers oordra.

Volgens Tracey is dit maar net die begin. “Ons leer stelselmatig en beplan om die inisiatief uit te brei om so veel mense moontlik in te sluit,” sê sy. “Die wonderlike deel is dat almal wat betrokke is – van die produsente tot die verbruikers tot die sjefs en aspirant-sjefs – ‘n soortgelyke ingesteldheid het. Ons is werklik voëls van eenderse vere en dis my missie om ons almal saam te bring!”
Kontak:
tracey@hoekkraaltjie.co.za | +27 (0) 84 627 3458 | +27 (0) 83 571 7959
Ponere Concepts (Pty) Ltd t/a Hoekkraaltjie Boerdery
www.hoekkraaltjie.co.za