News, Sustainability
Leave a comment

Fracking is ‘n chemiese en water ramp-risiko, sê Agri SA

Agri SA het kommentaar gelewer op nuwe konsep-regulasies wat hidrobreking (fracking) reguleer. Gegewe die risiko’s wat dit inhou vir die land se skaars waterhulpbronne, versoek die organisasie dat die regering die regulasies onttrek en alle planne verwerp om hidrobreking in Suid-Afrika toe te laat.

Hidrobreking sal ’n vernietigende uitwerking hê op die land se vermoë om voedsel te produseer. Daar is ’n oorvloed van wetenskaplike navorsing wat daarop dui dat hidrobreking ’n uiters ernstige risiko vir die omgewing inhou, veral waterhulpbronne. Dit word vererger deur ons beperkte kennis rakende die langtermyngevolge daarvan.

Hidrobreking vereis die gebruik van groot hoeveelhede water tydens eksplorasie sowel as produksie. Gegewe die chemikalieë wat in die proses aangewend word, word die water wat tydens eksplorasie en produksie van petroleum gebruik word ook besmet tydens die proses. Dit skep sodoende ’n aansienlike besoedelingsrisiko vir diepliggende en vlak ondergrondse waterbronne, asook oppervlakwaterbronne en die omliggende omgewing.

Suid-Afrika is reeds ’n uiters waterskaars land. Ons staar ’n 17%-watertekort in die gesig teen die jaar 2030, met ’n geraamde belegging van R33 miljard per jaar wat oor die volgende 10 jaar benodig word om die dreigende tekort aan te spreek.

Die Suid-Afrikaanse landbousektor kan tans teoreties voldoende voedsel aan die land en sy buurlande voorsien. Die aanduidings is egter dat voedselproduksie in die kort- en mediumtermyn dramaties sal moet verhoog as gevolg van bevolkingsgroei.

Omgewingsbeheer in Suid-Afrika, wat geïntegreerde waterhulpbronbestuur insluit, is uiters kommerwekkend. Die regering se prestasierekord van omgewingsbestuur van Suid-Afrika se water- en ander natuurlike hulpbronne oor al drie sfere heen dien as duidelike bewys daarvan dat die regering tot dusver versuim het om sy grondwetlike pligte in dié verband na te kom.

Die verslag wat die Departement van Water en Sanitasie onlangs gepubliseer het, naamlik National State of Water Report, asook die regulasies, onderstreep hierdie punt soos volg: “Government’s regulation and management of waste disposal facilities has been shown to be wholly inadequate. This is in part due to the structural/institutional shared executive and legislative competence of provincial and local authorities in this regard”.

Die realiteit is dus dat Suid-Afrika nie ’n uiters dorstige en besoedelende gasbedryf hier te lande kan akkommodeer sonder dat dit die landbousektor se vermoë ondermyn om voldoende voedsel aan sy groeiende bevolking en buurlande te voorsien.

Leave a Reply

Your email address will not be published.