farmers
Leave a comment

SA se landboutoekoms lê in genetika

As daar nou een onderneming is wat ’n kerndeel van die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf uitmaak, is dit TopFruit met sy kantore in Simondium, min of meer tussen die Paarl en Franschhoek. Die maatskappy dra al die afgelope 40 jaar die belange van die plaaslike vrugtebedryf op die hart deur te verseker dat net die beste variëteit vrugtebome hier gevestig word en dat gehaltevrugte die basis van die plaaslike vrugtebedryf vorm.

Woorde: Danie Keet, Fotografie: Mia Truter

Hein Coetzee, hoof operasionele bestuurder van TopFruit.

Met ’n aanvanklike fokus op appels en steenvrugte, het TopFruit mettertyd sy bedrywighede uitgebrei om ook om te sien na die intellektuele eiendom, handelsmerkbestuur en evaluering van pere, tafeldruiwe, bessies, kiwivrugte en neute.

“Ons streef daarna om die plaaslike vrugtebedryf ’n wêreldwye markleier te maak deur middel van doeltreffende bestuur en beheer van intellektuele eiendom en die bestuur en ontwikkeling van handelsmerke,” vertel Hein Coetzee, hoof operasionele bestuurder van TopFruit. Die kantore is perfek vir hierdie maatskappy waar verhoudings met klante, met die bedryf en met mekaar so belangrik is, want dit is hier waar die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf begin het. Die huis het behoort aan Horace Pickstone, een van Harry Pickstone se sewe broers. Die HEV Pickstone and Brother Nursery Bpk-kwekery is hier gevestig en is deur Harry Pickstone, die varsproduktepionier, bedryf. Harry Pickstone word as een van die sogenaamde stigters van die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf beskou.

Van links na regs: Dihan Blom, tegniese bestuurder van die kernvrug-besigheideenheid, Corné Grundlingh, bestuurder van die kernvrug-besigheideenheid, Peter Allderman, konsultant, Robyn Gerber, operasionele administrateur van die kernvrug-besigheideenheid en Xolela Dlikilili, kernvrug-analis.

EVALUEER PLANTMATERIAAL

“TopFruit is verantwoordelik daarvoor om plantmateriaal van nuwe variëteite van regoor die wêreld in te voer en dit dan onder Suid-Afrikaanse omstandighede te evalueer om te bepaal of dit kommersiële waarde vir plaaslike produksie kan hê. Dit is ’n lang proses en duur ongeveer 5 jaar voordat ons vrugte van nuwe bome, stokkies en plante in ons toetspersele kry. En daar is natuurlik ’n wye reeks faktore wat die geskiktheid daarvan beïnvloed – en ons neem al hierdie faktore in ag wanneer nuwe plantmateriaal uitgesoek word.”

Volgens Hein bring TopFruit talle vrugtesoorte na Suid-Afrika uit sy netwerk regoor die wêreld, maar sukses is nooit gewaarborg nie. Suid-Afrika se hoof produksie-areas vir sagtevrugte lê byvoorbeeld tussen die 34ste en 32ste breedtegraad en die grootste appelproduserende areas in lande soos Chili, Nieu-Zeeland en VSA lê tussen die 35ste en 45ste breedtegraad noord en suid, wat veroorsaak dat Suid-Afrika se klimaat aansienlik warmer is as dié van daardie lande. “Die mikroklimaat is maar een van die faktore wat ’n rol speel by die vestiging van nuwe variëteite waarmee ons moet rekening hou.”

“Deur die geneties gedrewe evaluasie van die eienskappe van nuwe vrugsoorte kan ons bepaal wat hier in ons warm, waterskaars land kan werk – ook onder die invloed van aardverwarming en met minder koue-eenhede as baie van die ander kompeterende lande. Die doel is dan om die produsente in staat te stel om meer doeltreffend te werk omdat hulle minder energie hoef te gebruik met variëteite wat teen siektes en wisselende mikroklimaatsomstandighede bestand is.”

Pieter Zietsman bestuur die bessie-besigheideenheid by TopFruit.

Met nuwe variëteite kry die verbruiker iets spesiaal, en op plaasvlak kry die produsent ’n variëteit wat beter by sy mikroklimaat aangepas is en dus die netto boerdery-inkomste verbeter.

In TopFruit se besigheidsmodel werk hulle met kommoditeite en een manier waarop hulle die waarde daarvan ontsluit, is deur dit aan handelsmerke te koppel. Hierdie handelsmerke skep dan ’n identiteit en waarde wat die verbruiker kan vertrou.

“Die beste voorbeeld hiervan is sekerlik die Pink Lady®-handels-merk. Die eerste variëteit wat onder die Pink Lady®-handelsmerk verpak en verkoop word, was afkomstig uit Australië waar dit deur wyle John Cripps geteel is. Tans word variëteite wat aan die streng kwaliteitstandaarde voldoen, soos Cripps Pink, Rosy Glow, Lady in Red en Ruby Matilda, onder die handelsmerk verpak en verkoop. Handelsmerke vat nou al hoe meer pos in die vrugtebedryf en daar is al selfs groente soos broccoli-variëteite wat handelsname kry,” vertel hy.

Volgens Hein moet produsente streng kwaliteitstandaarde handhaaf as hulle hierdie handelsmerk-vrugte verbou en verpak om die verbruiker van kwaliteit te verseker. Daar is substansiële waarde in handelsmerke wat geregistreer en bestuur word sodat almal in die waardeketting voordeel daaruit kan trek – van die produsent tot die finale verbruiker.

Bryan Hughes (links), kommersiële bestuurder by die steenvrug-besigheideenheid en Jason Minnaar (regs), veranwoordelik vir tegniese aspekte van die steenvrug-besigheideenheid.

Sedert TopFruit deur dr Jim Button, Roy Jeffery en Richard Hill gestig is met die visie om verbeterde vrugte-variëteite na Suid-Afrika toe te bring, het die besigheid oor die afgelope 40 jaar aansienlik uitgebrei. Tafeldruiwe van die ARRA™-program in Kalifornië is bygevoeg, asook kiwivrugte, neute en bessies. Macadamia-neute, afkomstig van die genepoel van die Macadamia Conservation Trust, word nou onder kontrak hier verbou en gekommersialiseer aangesien die waarde van neute in die behoud van voedselsekuriteit aan die toeneem is.

By TopFruit bestuur Corné Grundlingh die kernvrug-besigheideenheid (appels en pere) terwyl Bryan Hughes en Pieter Zietsman onderskeidelik die besigheideenhede vir steenvrugte (perskes, nektariens, appelkose, kersies en pruime) en bessies (bloubessies, swartbessies en frambose) bestuur.

Corné sê: “Ons is veral trots op ’n nuwe peervariëteit wat ons glo die peermark kan laat herleef. Die naam is TP 15-41 en dit word onder die handelsnaam Eden Gold™ bemark. Die peer is gekweek om die uitdagings van klimaatsverandering te kan weerstaan, dit het ’n lae kouebehoefte, kom vinnig in drag en kan direk van die boom gepluk en geëet word. Dit het ook ’n lang houvermoë – wat goed is vir ons uitvoeruitdagings.”

Corné Grundlingh, bestuurder van die kernvrug-besigheideenheid.

KOSMETIESE VOORKOMS

Buiten die Pink Lady®-handelsmerk, bestuur TopFruit talle ander appel-variëteite. Twee hiervan is opwindende appel-variëteite, Bingo Gala en Golden Joy, wat plaaslik ontdek is. Albei is mutasies wat deur Jannie Wiegman op Sunridge in Grabouw ontdek is. Bingo Gala is ’n pragtige kersie-rooi appel wat vroeg geoes kan word met net een of twee plukke wat beteken dat vrugte vroeër in die mark kan wees. Golden Joy is ’n vroeë Golden Delicious-appelmutasie wat ’n paar dae ná Panorama Golden geoes word. Golden Joy is ’n vrugbare variëteit met goeie produksie van uitstekende gehalte met ’n skoon kosmetiese voorkoms.

Pieter vertel dat die bloubessiebedryf ook deur verskillende variëteite gekenmerk word en dat nuwes wat beter voordele aan die produsent kan gee, gekies word.

“TopFruit kies nuwe variëteite soos byvoorbeeld die IQ Berries variëteite wat langer houvermoë het en wat beter presteer in terme van produksie en eetgehalte en wat uiteraard kompeterend is. Verder word ons “rabbit-eye tipe” variëteite ook in ’n periode geoes waar daar nie baie ander bloubessie-variëteite beskikbaar is nie. Wanneer ons ‘n variëteit evalueer, kyk ons na produksie, vrugkwaliteit en kosmetiese aspekte. Die bessies moet ’n houvermoë van ten minste 30 dae op ’n skip kan hê. Tydsberekening vir die oes is ook baie belangrik sodat dit op die regte tye in die mark geplaas kan word en die beste pryse vir die produsent kan verdien,” verduidelik hy.
 
MARKTOEGANG

“Ons is ook baie opgewonde oor ons IQ Berries-reeks wat nou vrygestel word. Dit word gedoen om meer waarde tot die bessiebedryf toe te voeg.”

Bryan verduidelik dat daar verskillende variëteite steenvrugte is wat deur TopFruit bestuur word. “Ons bestuur variëteite van die BQ Genetics (VSA), Star Fruits/AC Fruit (Frankryk) en Provedo (Spanje) se teelprogramme. Hul variëteite van nektariens, perskes, pruime, appelkose en kersies word deur ons bestuur,” sê hy.

“Vir produsente is dit ook belangrik om te weet watter marktoegang nuwe produkte sal bied, wat die opbrengs gaan wees, hoe dit bedryfsprosesse gaan beïnvloed en watter tegniese uitdagings moontlik verwag kan word. Ons moet dus waarde toevoeg tot hul produksieketting en verseker dat hul opbrengste deurgaans verbeter,” verduidelik hy.

“Die toekoms van Suid-Afrika se landbou lê in verbeterde genetika. Enersyds omdat dit die verbruiker iets spesiaals aanbied en andersyds omdat die produsent beter opbrengste kry wat natuurlike weerstand teen plae en klimaatsverandering het. Dit is ook die sleutel tot voedsel-sekerheid. Ons het ’n liefde vir die landboubedryf, maar eintlik werk ons met voedselsekerheid deur die beste genetika te identifiseer en te benut tot voordeel van die produsent en die eindverbruiker,” glo Hein.


Kontak Topfruit: www.topfruit.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published.