Hy en sy pa, Piet, boer op sowat 28,5 ha in Augrabies.
Alhoewel daar voorheen ’n verskeidenheid gewasse soos tafeldruiwe en lusern op die plaas geplant is, is dit tans uitsluitlik onder pekanneute beplant.
Gervann is in Upington gebore en het grootgeword in die boerdery-gemeenskappe van Upington en Kanoneiland, waar sy pa in 1997 begin boer het. In 2007 het hulle die boerdery tydelik eenkant toe geskuif om ander besigheidsbelange te bevorder, insluitend ’n groot grondverskuiwingsonderneming. Gedurende daardie jare het die regering kontrakteurs gebruik om die walle van die Oranjerivier te beveilig en te verstewig, en hulle het baie werk op hierdie gebied verrig.

“In ongeveer 2012 kon ons, op die rug van ander besigheidsgeleenthede wat ons bedryf het, help met daardie versterkingsaksies van noodwalle teen hoogwater wat toe geheers het. Ek het siviele ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch geswot, so dit het goed te pas gekom by ons hoofstroombesigheid van daardie tyd,” vertel hy.
Na universiteit het sy entrepreneursgees hom gehelp om ’n IT-maatskappy op die been te bring, en hy het vir agt jaar uitgebreide kontrakte in die omgewing bestuur.
“Ons grondverskuiwingsbesigheid het die boerdery voorafgegaan, en ek was daarby betrokke. Toe die staatsubsidies in 2014 gestop is, het ek en my pa weer boerderygrond gekoop waarop drie blokke pekanneute en lusern was. In 2015 het ons die lusern tot niet gemaak en die res van die grond ook met pekanneute beplant.”

Volgens Gervann is die pekanneutbedryf interessant, met talle veranderlikes wat inspeel op die produksie.
“Pekanneute word gewoonlik in September geplant, en ons gebruik tussen twee- en drie-jaar-oue stokkies, wat ons uit die Piet Retief-omgewing kry, om ons boorde te vestig. Ons het die grond as ’n gevestigde boerdery gekoop, en die bome is nou tussen 15 en 22 jaar oud. Daar was rof-weg 2 500 boompies, met ’n klompie surplusbome wat ons geïnterplant het met ’n spasiëring van 10×10 m.
Die nuwe bome plant ons op spasiërings van 10×5, 6×12 of 8×10 m, afhangend van die kultivar en die grond. Daar is dus verskillende modelle waarvolgens produsente aanplantings doen, en dit word beïnvloed deur verskeie faktore.

As jy jou bome klein wil hou, kan jy dit op 8×10 m plant, wat sowat 130 plante per hektaar gee. Dit gaan oor die plantdigtheid en hoeveel druk op die bome geplaas word. As jy gemiddeld 3 t – 4 t/ha wil oes, is goeie middellyn-spasiërings van 12×10 of 10×10 m ideaal, aangesien dit die bome goed laat dra.”
“Ons opbrengs is ongeveer 3,5 t/ha onder die ses verskillende kultivars: Ukulinga, Wichita, Choctaw, Western Schley, Mohawk en Pawnee.”

Volgens Gervann doen Wichita en Western Schley goed in die omgewing en is uitstekend met kruisbestuiwing. Choctaw is egter wisselvallig en meer geneig om onreëlmatige opbrengste te lewer as gevolg van snoeipraktyke. Een jaar kan dit 4 t/ha oplewer en die volgende jaar feitlik niks, wat die gemiddelde opbrengs aansienlik verlaag.
Hulle ervaar soortgelyke uitdagings met hierdie variëteit as sitrus-produsente, wat vind dat vrugte in November skielik afgegooi word weens vroeë hitte. As temperature van 43°C of 44°C in die laaste week van Oktober of vroeg in November voorkom, veroorsaak dit groot probleme.

“Wat gebeur, is dat wanneer dit te vroeg warm word, die ontwikkeling van die manlike stuifmeeldraad stop. Waar dit gewoonlik ongeveer 12 cm lank sou wees, stop dit dan by tussen 5 cm en 6 cm – ’n mens kan dit duidelik sien. Die hitte het ook die geneigdheid om die ontvanglikheid van vroulike blomme te beperk. Dit blokkeer die proses gedeeltelik as dit nie nat genoeg is nie, en die manlike stuifmeel sterf weens die hoë temperature.
“Daar is ook ’n geneigdheid dat, as dit so warm is, daar geen wind is nie, wat weer belangrik is vir kruisbestuiwing. Daarom het ons ook bye nodig. Vanjaar het ons 90 kaste in die boorde geplaas, en dit het nie net die bestuiwing verbeter nie, maar ook ’n groot opbrengs van heuning gelewer, aangesien al die korwe vinnig volgemaak is.”
Hy verduidelik verder dat, sodra die blomproses en bevrugting in November voltooi is, die vrugset begin. Dit is dan wanneer die bome die kwesbaarste is vir pekanneutprodusente se grootste vyand – die bolwurm. Ná die vrugset word stikstof en kalium in die grond toegedien. Kalium is ’n groeistremmer, maar dit help om die boom die vruggies teen die regte tempo te laat ontwikkel.

“Ons het verlede jaar hierdie tyd ’n redelike plaag gehad en moes verskeie harde chemiese middels spuit om daarvan ontslae te raak. Dit was egter later in die seisoen ’n groot nadeel, omdat die meeste predatore, soos wespe en boomskilpadjies, ook gevrek het. Dit het gevolglik tot groot druk van witluis later in die seisoen gelei. Jy kan nie veel aan bolwurm doen nie en moet maar die skade probeer absorbeer. ’n Vriend het die berekening gemaak dat, hoewel hy R70 000 se chemiese middels gebruik het om dit te bekamp, dit steeds beter was as om R2,5 miljoen op sy hele oes te verloor.
“Die bolwurm maak ’n gaatjie in die vruggies nadat die wyfiemot haar eiers op die blare in die boonste derde van die boom gelê het. Wanneer die larwe uitbroei, is dit omtrent 2,5 mm lank. As dit gesteur word, spin dit ’n sydraadjie en gly daarmee af na die volgende blaar. Wanneer dit weer rustig is, klim dit terug teen die draadjie op, maar andersins soek dit ’n nuwe blaartjie en bly daar totdat dit dit opgeëet het. Daarna soek dit ’n vrug, aangesien dit die hoogste energiewaarde het. Dit sal dan na ’n groepering van vyf tot sewe neute beweeg en in almal gaatjies vreet. Wanneer dit tevrede is, beweeg dit na die volgende tak. Afhangend van hoeveel motte daar in die sisteem is, kan hulle binne ’n dag die helfte van die oes vernietig.
“Chemiese middels is die enigste manier om die pes te bekamp, al kos dit byna R64 000 per toediening, met ’n dubbele behandeling wat gewoonlik nodig is. Dit is moeilik om die wurmpies en sydraadjies raak te sien, en inspeksies kan gewoonlik net in die middel van die dag gedoen word. Elke boom moet fisies ondersoek word deur die takke af te trek en die vruggies te bekyk. Hoewel bespuiting met ’n hommeltuig aansienlik goedkoper is, is dit nog nie iets wat ons gebruik het nie.”
Gervann vertel dat hulle al hoe meer organies boer en tans skape in die boorde laat wei om van die onkruid ontslae te raak. Die opbrengs van die skape – die vleis en wol – help om die helfte van hul kunsmis-rekening te dek. Boonop het hulle ’n merkbare verbetering in die grondlewe waargeneem, danksy die organiese materiaal wat teruggeploeg word.

Die pekanneutboom het ’n diep wortelstelsel en benodig stikstof, wat deur die water in die sisteem gevoeg word. Vanaf November fokus hulle grootliks op hittebestuur. As hulle voorsien dat die temperatuur oor vier dae 40°C tot 41°C sal bereik, gebruik hulle hul drupbesproeiing-stelsel om water deur die hele dag en nag toe te dien. Dan gee hulle feitlik die helfte van die jaar se water, wat aan hulle vir die boorde toegedeel is. Gelukkig het hulle genoeg water vir die jaar.
Die bome is baie gevoelig vir wind, en takke breek maklik af, veral wanneer hulle reeds ’n swaar oes dra.
“Vanjaar het ons 90 kaste in die boorde geplaas, en dit het nie net die bestuiwing verbeter nie, maar ook ’n groot opbrengs van heuning gelewer, aangesien al die korwe vinnig volgemaak is.”
Gewoonlik word die laaste bemesting in Februarie toegedien, en danksy die 90 skape wat hul deel bydra, is geen verdere grondvoeding nodig nie.
“Daar is soveel regulasies oor chemiese middels, maar ons het ses jaar gelede heeltemal weggebeweeg van spuitstowwe. Ons is tans op pad na ten volle organiese produksiepraktyke en behoort oor sowat anderhalf seisoen volledig organies te kan werk. Daar is boonop ’n premie van byna R10/kg op neute wat organies geproduseer word.”

Vanaf November word waterbeheer toegepas deur toe te sien dat die boorde nie te nat of te droog is nie. As daar water in die boorde staan, is dit te nat en word dit moontlik vir ’n dag of twee oorgeslaan. Hulle grawe profielgate op dieptes van 600 mm, 800 mm en 1 m, en as die boonste drie sentimeter heeltemal droog is, word meer water versprei.
In Maart word water verminder, en kultivars soos Choctaw en Pawnee begin oopbreek. Skudblare verbruin en droog uit as teken dat die neute ryp is. Wanneer 95% van die blare oopgekraak het, begin die oes.
Die oesproses sluit in die meganiese optel van gevalle neute, die skud van bome, en die insameling van neute in massasakke. Daarna word die neute handmatig skoongemaak en volgens markvereistes gesorteer in ronde en skerp-punt neute.

Die Chinese kraakproses, waar die meeste neute tans verwerk word, verkies skerppunt-neute omdat hul doppe beter gevul is, terwyl ronde neute meer openinge onder die dop het. Hierdie kraakproses is duur, en slegs ’n paar mense spesialiseer daarin.
“Ons verwerk self. Saam met die oesmasjien wat ons ontwerp en gebou het, het ons ’n seisoen of wat later ook ’n sorteer- en graderings-masjien gebou wat die neute volgens grootte- en gewigsklasse skei. Nou is ons produk 98% markgereed wanneer ons daarmee klaar is,” vertel hy trots.
Hulle verkoop hul neute tans aan SA Pecans, een van die groot ses bemarkingsmaatskappye in die neutbedryf.
“Dit is waar dat ons die meeste dinge self kan doen deur ons eie neute uit te voer. Ek bly egter positief oor die bedryf. As produsente in die sitrus- en tafeldruifbedryf dit kon regkry, kan ons ook. Wanneer jy die kritiese gewig bereik, moet jy net vasbyt en besluit om self uit te voer. Dit is wat die meeste suksesvolle produsente hier doen – hulle voer self uit en stig hul eie maatskappye,” sê Gervann.