Die 2024 ARC Nasionale Meestersuiwelboer Toekennings het weereens die uitblinkers in Suid-Afrika se suiwelbedryf vereer. Hierdie toekennings, aangebied deur die Landbounavorsingsraad (LNR), beklemtoon prestasie en uitnemendheid in vyf sleutelareas: kuddebestuur, somatiese seltelling, sowel as kleinskaal-, mediumskaal- en grootskaalsuiwel-boerdery.

Die wenners word erken vir hul toewyding aan genetiese verbetering en produksie van gehalte deur gevorderde boerderytegnieke en samewerking. Hier is die wenners van 2024:
• Grootskaal Meester-suiwelboer van die Jaar: Foundation Farm (Barry en Jane Schiever), Weenen, KwaZulu-Natal
• Mediumskaal Meester-suiwelboer van die Jaar: Tweekop Boerdery (Pieter Steenkamp en Dirk van Papendorp), Heidelberg, Wes-Kaap
• Kleinskaal Meester-suiwelboer van die Jaar: Gugulomuzi Ngcobo, Donnybrook, KwaZulu-Natal
• Kudde met die beste somatiese seltelling: E Zeeman (Etienne Zeeman), Swellendam, Wes-Kaap, met 157 000 selle/ml
• Kudde met die beste tussenkalfperiode: Packwood Farm (Heinrich Hurter), Plettenbergbaai, Wes-Kaap, met ‘n tussenkalfperiode van slegs 391 dae
Grond tot Mond het met hierdie inspirerende wenners gesels om meer oor hul prestasies en strategieë te leer.

BARRY SCHIEVER VAN FOUNDATION FARM
Van kudde- tot mensebestuurder is die sukses
Om die eienskappe van ’n goeie of suksesvolle melkboer saam te vat, is een van die moeilikste dinge om te doen, meen Barry Schiever.
“So baie faktore moet in ag geneem word, en ons almal beskou sukses verskillend. Ek glo ’n uiters uitdagende oorgang vir baie melkboere is daardie punt wanneer die groei van jou kudde so uitbrei dat daar van jou verwag word om van ’n kuddebestuurder na ’n mensebestuurder oor te skakel. Dit is ’n heel ander spel en iets wat dalk nie ons sterkste punt is nie. Maar ons verbeter voortdurend ons leierskapsvaardighede om te verseker dat die besigheid tot op die volgende vlak kan groei.”
Barry Schiever van Foundation Farm sê dit is ’n groot eer om die toekenning as Grootskaal Meester-Suiwelboer van die Jaar te ontvang. Volgens Schiever is die praktyk van melkaantekening, wat in samewerking met die LNR toegepas word, ’n waardevolle hulpmiddel om die prestasie van individuele koeie in ’n kudde te verbeter.
Van 20 koeie tot 2 000
Foundation Farm, wat sowat 2 000 koeie melk, het in 1990 in Weenen, KwaZulu-Natal, begin met net 20 geregistreerde koeie. Hulle het sedertdien uitgebrei tot twee melkerye wat melk aan Nestlé, Douglasdale en Dairyland verskaf.
Barry wou nog altyd boer en het by elke geleentheid op hul melkplaas in die Winterton-distrik uitgehelp. Hy het in 2005 gematrikuleer en ná sy studies aan die Universiteit van KwaZulu-Natal het hy in 2009 op die familieplaas begin werk. In 2015 het hy en sy vrou, Jane, by Foundation Farm aangesluit, sy vrou se familieplaas. Dit is ’n familieplaas wat deur Alan en Frances Webster sedert 1990 met 20 geregistreerde koeie opgebou is. Hulle het harde werk ingesit om die plaas tot waar dit vandag is, te bring. Hulle het ’n gesonde werksverhouding en ondersteun mekaar met die verskillende vaardighede wat elkeen bring.

Jerseys: ’n Keuse vir gehardheid en hoë vaste stowwe
Hulle boer met Jerseys, die ras wat deur Alan en Frances uitgekies is omdat hulle gehard is teen die uiterste somertoestande in Weenen. Hulle kry bulsemen wêreldwyd en ondersteun hul teelprogramme om hul teelstrategieë in stand te hou. Vir Barry is die interkalfperiodes van kardinale belang en ’n kritiese KPI vir alle melkprodusente. Hulle is tans op 394 dae-periodes, wat hoër is as wat hulle sou wou sien, maar omdat hulle druk toepas om die kudde so vinnig as moontlik uit te brei, het hulle van die minder vrugbare koeie in die kudde gehou om hiermee te help. Hulle verbeter deurgaans hul groeistelsels en pas dit by omstandighede aan.
Moderne melkpraktyke by Foundation Farm
Foundation Farm melk in twee melkstalle. Die eerste laktasie-koeie word in ’n 20-punt-Delaval-oorswaaistelsel gemelk. Die nuwe melkstal het twee Delaval 30-punt-swaaiputte langs mekaar wat tans 1 100 koeie in 3,5 uur melk. Delpro-sagteware word in albei gevalle gebruik. Die ou melkstal melk 400 eerste laktasie-koeie in twee sessies per dag, terwyl die nuwe stal 1 100 koeie hanteer, ook in twee sessies.

“Ons hou ’n koei so lank as moontlik in die melk, en die oudste koei in ons kudde is in haar 12de laktasie en is 14 jaar oud. Die Delpro-sagteware gebruik die melkmeters in die put om daaglikse produksie aan te teken. Hierdie data word in die DIMSSA-sagteware ingevoer, waar ons al ons registrasiedata berg en die melkmetings indien.”
Barry glo melkprodusente maak ’n reuse-bydrae tot die landbousektor, en die impak daarvan is baie wyer as net die verskaffing van melk.
Melk: ’n Voedsame kossoort wat voedselsekerheid verseker
“Kommersiële melkproduksie is noodsaaklik om die volumes en hoë gehalte melk te verskaf wat ’n groeiende bevolking benodig. Alhoewel melk as ’n drankie beskou word, is dit inderwaarheid ’n volledige voedsame kossoort. Dit het ’n goeie balans van makrovoedingstowwe soos proteïene, koolhidrate en vet, terwyl dit ook ’n ryk bron van kalsium, kalium, magnesium, sink en vitamiene A, B2 en B12 is. Melk is daardie voedingstof wat die wrede siklus van wanvoeding kan verbreek.”
Barry is trots op die toekenning. “Dit gee ook aan Foundation Farm ’n stem, terwyl ander produsente in die bedryf baie hard en dikwels ‘onsigbaar’ werk. Dit is goed vir die suiwelbedryf om erkenning te kry vir die harde werk wat gedoen word, die unieke vaardighede wat ontwikkel word, die gehalte van ons produkte, en die spanwerk, vasberadenheid, geduld en passie wat daarmee gepaard gaan.”

JACQUES THERON VAN HELDERSTROOM, BARRYDALE
Dié manne kan melk
Jacques Theron, wat vanjaar ’n spesiale eretoekenning tydens die 2024 Nasionale Meester-Suiwelboer-Toekennings ontvang het, is al dekades lank ’n suksesvolle melkboer op sy plaas Helderstroom naby Barrydale.
Die eretoekenning is aan Jacques toegeken vir sy jarelange bydrae tot die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf. Sy toewyding aan die LNR se melkmetingstelsel, die genetiese verbetering van sy kudde, en sy leierskap as voormalige raadslid van die Melkprodusente-organisasie (MPO) en die SA Melkraad, maak hom ’n gepaste ontvanger van hierdie eerbewys.
Jacques het ’n pragmatiese benadering tot die suiwelbedryf en fokus op die basiese boustene wat sukses verseker.
“Die belangrikste eienskap van ’n suksesvolle suiwelboer is kos. Ons melkbeeste wei ses uur per dag op weiding, kry kragvoer in die stal, en snags gee ons hooi in die kraal sodat ons die mis kan hergebruik op die landerye.”
Jacques boer met Jerseys, wat hy verkies vir hul maklike kalwings en hoë vastestowwe in die melk – iets wat die kaasfabriek waaraan hulle lewer, verkies. Sy kudde bestaan uit 170 melkkoeie, sowat 200 diere in totaal, met nog ongeveer 30 verse ouer as een jaar en 30 jonger as een jaar.
’n Erfenis van harde werk
Jacques se pa het die plaas in 1969 gekoop vir R40 000, terwyl Jacques aan sy tweede jaar van sy BComm-studies aan Stellenbosch gewerk het. In 1970 het hulle die buurplaas vir R55 000 aangeskaf. Beide plase het minimale infrastruktuur gehad, en dit het harde werk geverg om dinge aan die gang te kry. Jacques het in 1972 op die plaas begin werk en het die aanvanklike kudde van ses koeie, wat met die hand gemelk is, help uitbrei. Die melk is in 40-liter kanne versamel en na Nestlé se fabriek in Robertson gestuur.
“Om ons kontantvloei te verhoog, het ek weiding begin ontwikkel met die hulp van mentore soos Prop van Vuuren van Fedmis en kundiges van die LNR en Bonita. Dit het die grondslag gelê vir die uitbreiding van ons melkery.”
In 1980 het Jacques besluit dat suiwelproduksie die primêre bedryf op die plaas sou word. Hy het die melkstal opgegradeer, in ’n melkmasjien belê, en spesifiek met Jerseys begin boer. Met inspirasie en leiding van Oom MC Truter, bekend as “Mnr. Jersey,” het hy die genetiese gehalte van sy kudde verbeter.

’n Fokus op genetika en tegnologie
Sedert die laat 1970’s gebruik Jacques uitsluitlik kunsmatige inseminasie (KI), wat ’n groot verskil aan die kudde se genetika gemaak het. Sy rol in die suiwelbedryf het ook gegroei, en hy het Barrydale op die MPO verteenwoordig en later tot die Melkraad toegetree.
Vandag melk hulle 170 koeie in ’n 8-punt-visgraad-melkstal – ’n groot sprong van die ses koeie waarmee alles begin het. Jacques glo dat die mentorskap en samewerking oor die jare die plaas tot sy huidige sukses gelei het.
“Melkboerdery bring sy eie uitdagings, van onvoorspelbare weer tot skommelinge in melkpryse. Maar ons leef ’n hoë kwaliteit, maar beskeie lewe hier op die plaas. Ons kan ons nie indink om iewers anders te wees nie.”
Suiwelbedryf: ’n Noodsaaklike skakel in landbou
Jacques beklemtoon die belangrikheid van die melkbedryf in Suid-Afrika se landbou en ekonomie. Hy wys egter op die groot uitdagings soos stygende insetkoste, wat vererger is deur die oorlog in die Oekraïne.
“Ek kan my nie indink hoe Suid-Afrika sonder melkboere of melk kan funksioneer nie. Dit is ’n stapelvoedsel en vorm die basis vir baie ander noodsaaklike voedingstowwe. Vir my is dit belangrik om te weet wat in my melkery aangaan. Deur alles te meet – produksie, kosverbruik, en meer – kan ons suksesvol bestuur. Wie nie meet nie, weet nie. Ek glo daar is steeds ’n toekoms vir melkboerdery, maar dit verg ’n skerp potlood en goeie bestuur.”

GUGULOMUZI NGCOBO VAN DONNYBROOK KWAZULU-NATAL
Vasberadenheid lei tot suksesvolle melkproduksie
Die verhaal van Gugulomuzi “Ducky” Ngcobo is een van vasberadenheid en liefde vir boerdery. Hy het sy melkery op Summerhill in Donnybrook, KwaZulu-Natal, vanaf ses koeie met die hand gemelk tot ’n moderne onderneming uitgebou waar 300 koeie daagliks gemelk word.
Sy mentor en boesemvriend, Robert Stapylton-Smith, vertel die merkwaardige storie van hoe Ngcobo ’n finansieel volhoubare melkery opgebou het. Danksy sy harde werk en deursettingsvermoë is hy vanjaar aangewys as Klein Meester-Suiwelboer van die Jaar. Ngcobo, wat nou 71 jaar oud is, praat hoofsaaklik Zulu en min Engels. Deur Stapylton-Smith het hy sy pad na sukses gedeel. Hy het grootgeword in Donnybrook en op die harde manier geleer van finansiële bestuur en boerdery.
’n Reis van nederigheid na sukses
Ngcobo het as ’n plaaswerker begin werk, waar sy eerste salaris ’n skamele R23,75 was. Sy pa het hom aangemoedig om net 75c daarvan vir homself te hou en die res te spaar. Hy het later sy swaarvoertuig-bestuurderslisensie gekry en geld begin spaar deur in taxi’s en swaartenkvragmotors te belê. Hierdie spaargeld het hom uiteindelik in staat gestel om sy eie grond te koop.
In 2002 het hy Summerhill gekoop en met ses Jersey-koeie begin melk. Aanvanklik was hy onseker oor sy besluit om die suiwelbedryf te betree, maar met die ondersteuning van Stapylton-Smith het hy sy melkery tot ’n suksesvolle onderneming uitgebou.

Van ’n eenvoudige skuur na ’n moderne melkery
Omdat sy melkery aanvanklik in ’n eenvoudige skuur bedryf is, het Ngcobo en Stapylton-Smith besluit om vir ’n meer doeltreffende melkstelsel te gaan. Met die hulp van die plaaslike departement van landbou en befondsing van ongeveer R11 miljoen, kon Ngcobo ’n dam bou, ’n 20-punt-melkstelsel installeer, en sy plaas verbeter met elektrisiteit, watergeriewe, en melkmasjinerie.
Hierdie verbeteringe het sy melkery verander. Waar dit voorheen die hele oggend geneem het om sy koeie te melk, kan hy nou binne twee uur 2200 liter melk per dag produseer. Die dam, wat naby sy stalle geleë is, het sy werk aansienlik verlig – hy hoef nie meer lang afstande te loop om water vir sy vee te kry nie en sy werksdae eindig nou rondom 17:00 in plaas van 21:00.
Liefde vir boerdery uit die hart
Ngcobo glo dat sukses in boerdery slegs moontlik is as dit uit die hart kom. “Drome om ’n groot, kommersiële boer te word, is nie genoeg nie. Jy moet lief wees vir wat jy doen. Om te boer is nie maklik nie – van ver af lyk dit maklik, maar hoe nader jy kom, besef jy dit is harde werk.”
Na meer as twee dekades in die suiwelbedryf leer hy steeds elke dag nuwe dinge. “Daar is altyd uitdagings en jy moet balans vind – soos ek wat nou meer water vir my vee nodig het. Maar met die regte ingesteldheid en passie kan jy enige struikelblok oorkom.”

PIETER STEENKAMP VAN TWEEKOP BOERDERY, HEIDELBERG
Melkprodusente moet die basiese dinge reg doen
Pieter is vanjaar aangewys as Meester-Suiwelboer van die Jaar in die medium-kategorie. Hy het op sy pa se skaap- en graanplaas grootgeword en aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer,waar hy sy BSc-landbougraad met landbou-ekonomie en veekunde as hoofvakke voltooi het. Hy het ook ’n honneursgraad in landbou-ekonomie en herkouervoeding verwerf – ’n spesialisasie wat nou groot waarde in sy rol as suiwelboer bied. Sy loopbaan op die plaas het egter onverwags begin toe hy op sy eerste dag moes vragmotor ry, eerder as om in die melkery, sy voorkeurgebied, betrokke te raak.
Die grondslag van sukses in suiwelboerdery
Pieter glo dat sukses in suiwelboerdery daarop neerkom om die basiese dinge reg te doen. Hy benadruk dat voeding die sleutel is tot sukses – elke koei moet genoeg voer van hoë gehalte kry wat by haar produksiefase pas. Hy beklemtoon ook dat kalfintervalle so laag as moontlik gehou moet word sodat koeie vroeg in hul laktasie dragtig raak. Dit is verder belangrik dat kalwers oorleef, goed groei en teen 24 maande op die regte gewig melk toe kan gaan. Voerkoste is volgens hom die grootste uitgawe op ’n plaas, en hy bestuur dit versigtig deur soveel as moontlik hul eie ruvoer, soos kuilvoer en strooi, te produseer. Konsentrate word aangekoop om die beskikbare ruvoere te balanseer.
Hy maak staat op tegnologie om elke koei op ’n individuele vlak te bestuur. Elke koei se produksie, massa en voeding word gemonitor, met melkproduksie as ’n persentasie van liggaamsmassa wat help om optimale kondisie tydens laktasie te verseker. Hierdie presiese benadering verseker ook goeie kalfintervalle. Pieter glo dat prestasiemeting ononderhandelbaar is. Volgens hom is dit eenvoudig: “As jy nie meet nie, weet jy nie. As jy nie weet nie, kan jy nie verbeter nie.”

Presisiepraktyke en genetika
Pieter is ’n sterk voorstander van presisieboerdery en pas dit toe in beide sy gewasproduksie en melkery. Grondontledings en opbrengskaarte van vorige jare bepaal die veranderlike toediening van kunsmis, wat sorg dat hulpbronne optimaal gebruik word. Hy monitor sy koeie nie net op groepsvlak nie, maar op individuele vlak, met voeding, laktasie en reproduksiestatus wat noukeurig dopgehou word. By bulseleksie fokus hy op langlewendheid, koeigemak, uiergesondheid en produksie. Hy meen dat goeie bestuur van hierdie eienskappe ’n positiewe impak op die langslewendheid van koeie het.
Waarom Jerseys?
Jerseys is volgens Pieter die beste keuse vir suiwelboerdery in die Suid-Kaap. Omdat hul melk hoofsaaklik vir kaasproduksie gebruik word, is die hoë bottervet- en proteïeninhoud van Jerseys ideaal. Hy verduidelik dat hulle ver van die mark vir vars melk is, en daarom maak die kaasmark perfekte sin vir hul besigheid.

Diversiteit op die plaas
Pieter diversifiseer ook sy bedrywighede deur graan, soos koring, gars, canola en koljander, te verbou. Hy boer ook met merinoskape en vestig lusern op droëlande vir weiding. Tot en met die einde van 2023 het hulle in twee aparte stalle gemelk – een vir volvoerkoeie en een vir weidingskoeie. Op 1 Januarie 2024 is die melkery geskuif na ’n nuwe plaas waar alle koeie in een stal gemelk word. Hier word ’n kombinasie van volvoer en weidings benut, en tans melk hulle tussen 750 en 800 koeie.
Die waarde van kompetisies
Pieter glo dat kompetisies soos hierdie waardevol is omdat dit boere in staat stel om hulself teen ander te meet. Hy meen dat wenners se bestuurspraktyke altyd lesse bied wat ander kan inspireer om nuwe benaderings te probeer. Sy passie vir melkboerdery, tesame met sy toewyding aan presisiepraktyke en prestasiemeting, plaas Pieter aan die voorpunt van moderne suiwelboerdery in Suid-Afrika.

ETIENNE ZEEMANN VAN LEEURIVIER SWELLENDAM
Voeding die antwoord vir topgehalte melk
Etienne Zeeman is bekroon as die wenner vir die laagste somatiese seltelling in die land. ’n Lae somatiese seltelling is ’n aanduiding van melkgehalte en dieregesondheid.
Etienne het ná skool en sy diensplig direk plaas toe gegaan, aangesien omstan-dighede dit van hom vereis het. Hy wou nog altyd boer en as enigste seun was hy van kleins af betrokke by die boerdery. Hy kon reeds deur sy skooljare waardevolle ervaring opdoen. Hoewel daar oorspronklik met vrugte en groente op Leeurivier geboer is, het hulle in 2002 die melkery begin en spesifiek Jerseys verkies, omdat hul naaste melkkoper ’n kaasfabriek is wat ook botter produseer. Die hoë vastestofinhoud van Jerseymelk is belangrik vir melkkopers, en die afgelope paar jaar betaal melkkopers premies vir vaste stowwe in die melk.
Die rol van spanwerk en bestuur
Etienne glo die sukses van hul kudde is te danke aan verskeie faktore, waarvan die melkspan die belangrikste is. Hy is dankbaar vir ’n lojale, hardwerkende span en glo in die beginsel: “Die eienaar se voetspore is die beste kunsmis op die plaas.” Hy voeg by: “Jy moet altyd oral wees en weet wat aangaan. Daar is nooit ’n eindfluitjie nie. Jy moet presies weet waar en wat alles gebeur sodat jy bestuursregstellings kan maak waar nodig.”
“Ons melk tans 400 diere twee maal per dag en begin reeds om 05:30.”
Prestasiemeting hou jou gefokus
Etienne beklemtoon die belangrikheid van prestasiemeting. Hy is oortuig dat die LNR se maandelikse melkmonsters wat ingestuur word, produsente gefokus hou. “Die uitslae wat jy terugkry, is belangrik om besluite te neem oor jou kudde. Soms is daar diere wat nie voldoende presteer nie en waarvan jy dalk nie bewus is nie – veral in gevalle van siektes soos mastitis. Deur gereelde meting kan jy hierdie probleme betyds identifiseer.”
Voeding en gevorderde stelsels
Voeding speel ’n kritieke rol in die sukses van hul melkkudde. Hulle bestuur ’n 100% weidingskudde, waar die koeie dag en nag wei. Die koeie kry kragvoer in die stal volgens rekenaargebaseerde programme wat elke individuele dier se voer-program bepaal. “Die dier se lewensduur hang af van haar natuurlike gesondheid en produksievermoë. Kalfintervalle word met behulp van ons rekenaarstelsel so kort as moontlik gehou. Die stelsel hou tred van wanneer koeie laas gekalf het, wanneer hulle weer moet kalf, en hoeveel keer hulle al geïnsemineer is. Diere wat nie dragtig wil word nie, of wat nie aan produksiestandaarde voldoen nie, word uitgeskot.” Die plaas se melkmasjiene is gerekeneriseer, en elke dier word individueel elektronies geïdentifiseer. Voer word toegeken op grond van elke liter melk wat die koei gee. Sy ontvang ook 350 g suiwelkonsentraatpille. Ná die melking loop die koei oor ’n skaal, wat gesondheid help bepaal. As ’n dier gewig verloor en moontlik siek is, word sy deur ’n geoutomatiseerde hek afgekeer vir verdere aandag.
Teel en genetika
Teel is ’n ander prioriteit op die plaas. Hulle gebruik uitsluitlik Deense genetika, wat wêreldwyd bekend is vir die produksie van hoë vastestowwe in melk. Daar is geen bulle op die plaas nie; alle koeie word met Deense bulsemen geïnsemineer.
Weidingsbestuur en produksie
Omdat hulle ’n volweidingskudde bedryf, is die kwaliteit van weidings uiters belangrik. Etienne fokus daarop om die weidings in die beste moontlike toestand te hou en die diversiteit van gewasse soos klawers, grasse en lusern te handhaaf. Hierdie balans stel die diere in staat om optimaal te produseer.
Uitdagings in die suiwelbedryf
Etienne wys daarop dat die suiwelbedryf ’n groot bydrae lewer tot Suid-Afrika se ekonomie en voedselsekerheid. Hy waarsku egter dat die aantal melkprodusente afneem, terwyl die kuddes by groot produsente al hoe groter raak. Hierdie konsentrasie hou risiko’s in, veral met betrekking tot biosekuriteit, soos die onlangse uitbraak van bek- en klouseer in die Oos-Kaap. “As een of twee groot produsente ’n siekte onder hul diere kry en grootskaalse vrektes voorkom, kan dit ’n groot impak op die voorsiening van suiwel in die land hê.” Hy beklemtoon ook dat melkpryse wat produsente ontvang, nie in verhouding is met wat verbruikers betaal nie. “Die kleinhandel en supermarkte maak die meeste geld uit ’n liter melk, sonder om enige risiko te dra. Indien ’n produk beskadig word of die raklewe oorskry, word dit teruggestuur na die verwerker, wat dit moet vervang of van die faktuur moet aftrek. Die produsent dra alle risiko’s.”
Voedselveiligheid en die toekoms
“Melk dra grootliks by tot voedselsekerheid,” sê Etienne. Sekondêre produkte soos kaas, botter, jogurt en melkpoeier verseker hoë gehalte voeding. Hy glo die bedryf moet strategies bestuur word om toekomstige uitdagings te oorkom en melkproduksie volhoubaar te hou.