farmers, Mega Farmers
Leave a comment

Roland Trout boer soos ’n vis in die water

Woorde: Hein Eksteen, Fotografie: Mia Truter

Op Zouterivier aangekom, is besoekers oorwel-dig deur die gereedskap en implemente wat wyd en syd staan. Chaos? Geensins. Roland Trout weet presies waar alles is. Hy is heeldag besig met verskeie take, en by elkeen is die benodigde gereedskap byderhand. Soos dit enige vooruitstrewende boer betaam. Roland se geskiedenis in die landbou strek ver terug.

Roland Trout het by sy pa geleer boer en nou leer hy ander boere.

Op Zouterivier aangekom, is besoekers oorwel-dig deur die gereedskap en implemente wat wyd en syd staan. Chaos? Geensins. Roland Trout weet presies waar alles is. Hy is heeldag besig met verskeie take, en by elkeen is die benodigde gereedskap byderhand.

Soos dit enige vooruitstrewende boer betaam. Roland se geskiedenis in die landbou strek ver terug.

Sak die son in die weste boer Roland Trout op sy beste.

ELIZEBETH EN ELIZEBETH: ʼN DROOMSPAN

Pousering: Almal ken mos die storie van die skepsel wat in Hoekie vir Eensames ʼn advertensie geplaas het in sy soektog na ʼn lewensliefde. Hy skryf:

“Ek is ʼn welbedagte en welbehaaglike man en wil graag my lewe deel met ʼn vrou van enige ouderdom en fatsoen, maar wat in besit is van ʼn vyf meter visserskuit met twee 100-perdekrag outboard-motors. Indien so ʼn dame sou belangstel, plaas asseblief ʼn foto van die skuit.”

Dit is egter nié hoe Roland se lieflike vrou en Zouterivier in sy skoot geval het nie.

Roland se grootste uitdaging met betrekking tot sy varkboerdery is die uiters koue winters. Verlede jaar verloor hy 36 kleintjies.

“Elizebeth was voorheen ʼn bestuurder by Enterprise Foods en het óók die droom gehad om te boer.”

Dit is gedurende hierdie tyd dat sy ervaring in varkboerdery en vleisverwerking opgebou het.

“Haar passion was om te boer, en my passion was om my eie grond te hê. En ek het ge-study. Ek het nursing ge-study en pas dit nou toe hier op die plaas om my varke in te spuit. Ek het tourism gedoen en die marketing van onse blomme.”

Boonop is Roland baie aktief op YouTube, waar hy raad aanbied oor varkboerdery en die verbouing van fynbos – proteas, speldekussings, en dies meer.

Nietemin, om terug te keer na die lieflike vrou en die grond. Alvorens Elizebeth die voorspelbare lewe as salaristrekker verruil vir die onvoorspelbaarheid van boerdery, koop sy Zouterivier.

“En so kom ek en sy en die grond toe bymekaar.”

En dit, sonder om eers ʼn foto van die plaas aan te stuur. Inderdaad, ʼn huwelik tussen twee sielsverwantes met ʼn gemeenskaplike passie.

Roland het hierdie varkhokke eiehandig gebou.

Terloops, Elizebeth is weg om boumateriaal aan te skaf en is dus nie beskikbaar om haar kant van die storie te vertel nie. Volgens Roland was daar geen infrastruktuur op die plaas nie, en moes hy en Elizebeth alles self bou – eerstens die houthuis waarin hulle kon woon.

“Nou, ná sewe jaar se koue winters het ons twee genoeg gehad en bou nou vir ons ʼn lekker huis.”

Hy het ook die hokke vir die diere self gebou, asook die besproeiingstelsel vir die blomplantasies aangelê.

Roland het hierdie jaar sy eerste besending fynbosblomme na die Midde-Ooste en Nederland uitgevoer.

DIE GEHEIM VAN CAMBOROUGH-VARKE

Volgens Orwell is alle diere gelyk, maar varke is gelyker as die res van die spul op Noag se ark. Dus begin ons deur oor daardie komponent te praat.

“Ons koop en verkoop nie klein varkies nie, omdat dit te duur is om ʼn sog tot nege maande te kry waar sy dragtig kan raak. Dan moet jy nóg drie maande wag vir haar om geboorte te skenk.”

Die alternatief is om sewe-maande-oue varke aan die slagpale te voorsien.

“Haar passion was om te boer,

en my passion was om my eie

grond te hê.”

“Ons het voorheen winkels verskaf teen rand per kilogram, maar dit het ons nie finansieel vorentoe gevat nie. Ons het egter nou met ʼn nuwe ras varke begin. Dié se naam is Camborough. En daarom is ons nou op ʼn learning curve met hulle. Die voordeel van hulle is jy kan die kleintjies op ouderdom een maand speen en van die ma af wegvat.”

Die rede vir die oorskakeling na hierdie nuwe ras is eenvoudig: waar Roland voorheen sôe hier en daar aangekoop het, was die ras en bloedlyn onbekend.

Die Camborough-vark is bekend vir sy uitmuntende produktiwiteit en aanpasbaarheid. Hierdie ras toon hoë vrugbaarheid met gemiddeld 12 tot 14 varkies per werpsel en uitstekende moederlike eienskappe, wat lei tot hoë speenkoerse. Die Camborough se genetika verseker vinnige groei en doeltreffende voeromset, met ‘n gemiddelde daaglikse toename van 800 tot 900 gram en ‘n voeromsetverhouding van ongeveer 2,4:1. Hierdie eienskappe dra by tot die verlaging van produksiekoste en verhoogde winsgewendheid.
Boonop produseer Camborough-varke maer vleis van hoë gehalte, wat aan verbruikers se voorkeure voldoen. Hulle het ook ‘n sterk weerstand teen siektes, wat veeartsenykundige koste verminder en die algehele doeltreffendheid van die boerdery verbeter. Hul aanpasbaarheid by verskeie klimaatstoestande en bestuursisteme maak hulle geskik vir beide intensiewe en semi-intensiewe boerderypraktyke in Suid-Afrika.

“So het ons mos nie geweet waarvandaan hulle kom nie. Nou, hierdie nuwe varke is ʼn skoon bloedlyn en top of the range. Met ander woorde, ons sit nie nou met inbreeding en deformities nie.”

Roland reken hierdie sôe kan tot soveel as 20 kleintjies baar.

“Want hulle is ge-bless met baie nipples, en hulle kry spesiale kos om die melk se proteïeninhoud te verhoog en die sôe se melkproduksie aan te vul.”

In die varkhok lê hoeka een van hierdie über-vrugbare sôe. Sy is maklik twee meter lank en, ja, duidelik geseën met tepels wat aan ʼn Stalin-orrel herinner. Sewentien babas lê op en om haar.

Fynbos word aangeplant, maar ook wild in die veld geoes.

“Net jammer sy het een van die kleintjies doodgelê.”

Ma en die kroos slaap met soveel sielevreugde dat mens sou kon sweer hulle lewe sonder uitdagings, saam met Jopie Adam, in ʼn land van rus en vrede.

“Nooit. Daar is baie uitdagings.”

Tans is die grootste uitdaging die koue winters. Verlede jaar verloor Roland ses-en-dertig varkies.

“Maar ek worry nie soseer daaroor nie. Mens moet hierdie probleme aanvaar en plan maak.”

Elke lap grond word ingespan en moet produktief wees. Hier kweek Roland nuwe plante.

Binne die eerste drie dae ná die varkies se geboorte geskied die eerste inenting – yster, aangesien pasgebore varkies aan ystertekort ly. Ontwurming volg, waarna die kleintjies vir veertien dae gemonitor word voordat hulle weer ontwurmingsdoepa ingespuit word. Hierdie doepa help ook om myte op die vel te bestry.

“Veertien dae voor hulle geboorte skenk, word die sôe ingespuit om die babas in haar maag te beskerm.”

Fynbos het uiters sensitiewe wortelstelsels en wil nie uitgehaal en elders geplant word nie.

ʼN SKAAP VIR ELKE SEISOEN

Vervolgens Roland se skaapkomponent: Meatmasters, daardie gewilde kruising tussen die Damara en Swartkopdorper. Roland verwys na hierdie ras as die ekwivalent van die Nguni-beesras – gehard om die uiters warm somers te oorleef.

“En hulle het nie baie kos nodig nie, en hulle vreet die fyn grasies tussen die fynbos. En siende dat ons op die voerkraalmanier boer, gee ons vir hulle lemoene wat ons by winkels laai. Daai is baie goeie kos.”

Hierdie bykans eksotiese dieet word met lusern aangevul.

Een van die fynbosboer se grootste uitdagings is klimaatverandering. Die somers word warmer en die plantseisoen word later.

TEENSTRYDIGHEDE VAN FYNBOS

Proteas, drie verskillende soorte speldekussing, en verskeie ander lede van die fynbosfamilie word hier aangeplant. Fynbos kom voor in die Wes- en Oos-Kaap se kus- en bergstreke en word geroem vir hul biodiversiteit en endemiesheid. Hulle vorm 80% (8500 spesies) van die Kaapse Blommeryk, waarvan 6000 endemies is.

“Ons het dié jaar ons eerste bestellings blomme oorsee uitgevoer na die Midde-Ooste. Daar was ook na Holland toe gestuur.”

Sy nooi is in ʼn naartjie, sy ouma in kaneel en Roland se wederhelf Elizebeth is in ʼn speldekussing.

Enigiemand wat die wêreld om Pringlebaai ken, weet dat fynbos op die oog af geharde plante is.

Veldvure brand hulle tot op die grond af, maar dae later verskyn die pionierplante wat skaduwee aan nuwe plantjies verskaf. Maande later is alles weer soos van flussies. Met ander woorde, daar is geen uitdagings nie. Maar, en hierdie is ʼn groot maar, probeer nou om ʼn sterk, volwasse plant na ʼn ander plek oor te plant. Nie na ʼn ver en vreemde plek vir die plant nie, sommer net oorkant die straat. En hulle vrek net daar. Kenners reken die probleem lê by die plante se uiters sensitiewe wortelstelsels.

Fynbos word sorgvuldig gesnoei om die beste blomme ʼn beter kans te gun.

Kluitjie roer my nie.

“Hulle het net so baie uitdagings. Die grootste is die weersomstandighede. Dit is mos nou baie warm, en dus moet ek die water monitor om te sien dat hulle genoeg kry.”

Die volgende uitdaging is gronderosie. Daar waar Roland die landerye skoongemaak het, waai die Wes-Kaap se alomteenwoordige winde die sanderige grond weg.

“Daarom sit ek nette oor die skoongemaakte grond om dit te keer, en ook om die wildsbokke te keer dat hulle nie die klein plantjies vreet nie. En die wildsbokke hoort mos ook hier. Daarom jag ons glad nie, want ons het al te veel op die aarde verloor daar waar mense oorvat. Daarom is hier skilpaaie en ystervarke. Hier is alles hier in die veld en ons los dit netso.”

Ystervarke is bekend daarvoor dat hulle waterpype stukkend byt. Maar die hond hou hulle weg. Een nag hoor Elizebeth die hond tjank buite. Daar aangekom, is die ou se bek oortrek met ystervarkpenne. Roland moes toe sy verpleging toepas.

Blomme wat in die veld geoes word, gaan na winkels en bloemiste waar die blomme vir begrafnisse rangskik word.

“Die ander challenge met die blomme is global warming op die oomblik. Die weer is heeltemal anderster. Soos nou word die plantseisoene later. En met die heatwave laasjaar het ons baie blomme verloor. Van Oktober tot Maart was dit net te warm.”

Bo en behalwe die aangeplante fynbos oes Roland ook van die wilde fynbos. Hierdie gaan aan winkels en bloemiste, waar die plante vir begrafnisse rangskik word.

Alhoewel Zouterivier genoeg water het, is die einde aan uitdagings nog nie in sig nie.
“Want sien, ons is heeltemal off the grid. Geen Eskom en munisipale water nie.”

Indien Roland dus gedwing word na waters waar geen rus is nie, is hy uitgelewer aan die natuur. Maar hy boer saam met die natuur. En soos die seisoene verander, die somers warmer en die winters kouer word, pas hy daarby aan.

Letterlik, ʼn man vir alle seisoene.

Leave a Reply

Your email address will not be published.