farmers, News
comments 3

Oos-Kaapse wenboer André Kritzinger: Begin in die diep kant, dan móét jy swem

Woorde: Danie Keet | Fotografie: Mia Truter

André Kritzinger is pas aangewys as die Oos-Kaap se Jongboer van die Jaar. Nadat sy pa, Bokkie, enkele jare gelede tragies in ’n motorfietsongeluk oorlede is, moes André noodgedwonge die leisels van hierdie mega-boerdery oorneem. Dit is duidelik dat hy die leisels op Tulpieskraal stewig in albei hande het en presies weet waarheen hy oppad is.

André Kritzinger verduidelik die voordele van die opleistelsel wat hulle gebruik.

VRUGTE, PERE EN BEPLANNING

Die Kritzingers boer op die familieplaas wat reeds in 1753 deur die eerste Kritzingers betrek is. Tulpieskraal is die restant van die oorspronklike plaas, Onzer, wat deur die jare onderverdeel is. Vandag is die plaas se hoofvertakking kernvrugte, waarvan 60% appels en 40% pere is, met ’n bietjie pruime en ook weiding vir hul Boranstoet.

Al die boorde op Tulpieskraal word deur beskermende nette bedek.

Aan die appelkant word ’n klomp variëteite verbou, insluitend Royal Gala, Fuji, Goldens, Granny Smith, Pink Lady en Sundowners. Die pere is hoofsaaklik Forelle, Rosemary en Packham as die hoof-kultivars. Hy meen pere doen oor die algemeen beter per hektaar en is goedkoper om te produseer, makliker om mee te werk, en die uitpakke is hoog.

“Ons vervang elke jaar ’n gedeelte van die plaas en haal boorde uit wat nie meer goeie produksiesyfers lewer nie. Dan plant ons nuwe kultivars wat in die area aard en beter opbrengste lewer. Tans is ons fokus om te vervang, en so twee, drie jaar terug was die hooffokus om nette op te sit. Ons is so te sê klaar daarmee en sowat 80% van die boorde is onder nette – die res is jong boorde wat nog in produksie moet kom. Ons sit die nette eers ná jaar vier op die nuwe boorde; dan is die leeftyd van die nette ook bietjie langer, maar die konstruksie is reeds daar met die vestiging van hierdie boorde.”

Die beskermende nette is tans opgerol, maar word soos nodig weer bo-oor die boorde getrek.

SONKRAG EN ENERGIEBEHEER

André vertel dat hulle ook gefokus het op die installering van sonkrag as teenvoeter vir die Eskom-probleme, wat noodsaaklik is vir hul pakstoor en koelkamers om stygende kostes so ver as moontlik te bekamp.

“Ons het nou reeds 500 kW se sonkragpanele met 600 kW batterye. Dit hou ons tans vir drie uur aan die gang. Maar dit gaan meer oor Eskom se rooi en groen tye. Tussen 07:00 en 10:00 soggens en saans tussen 18:00 en 20:00 is dit rooi tye, en betaal ons tussen R1.00 per kW meer vir die krag. So ons laai die batterye met die goedkoop krag in die groen tye en met die son, en in rooi tye gebruik ons dan ons eie krag. Die besparing is groter, en boonop kan ons elektrisiteit terugpomp in die netwerk. In die afseisoen, as die koelkamers nie loop nie, sit ons alle sonkrag weer terug in die netwerk,” verduidelik hy.

Appels hang reg om geoes te word. Tulpieskraal se oesbedrywighede staan nou op ’n einde.

WERKERSTRUST EN UITVOERMARKTE

Daar werk ongeveer 300 mense op die plaas in seisoentyd, waar-van ongeveer 200 plaaslike arbeid is. ’n Addisionele 100 werkers word vir die pluktyd ingehuur.

“My pa het jare gelede die Tulpieskraal Werkerstrust geskep om ons mense by te staan, en hul besigheid op hul 15 ha groei goed.

Die 30 lede, wat 100% van die trust besit, kry twee maal per jaar dividende, terwyl hulle ook staatshulp vir sekere aktiwiteite ontvang – soos vir die oprigting van beskermende nette. Hul vrugte word saam met die res van ons produkte verpak en be-mark, en so deel hulle in die groter geheel.”

“Dit is glad nie meer ekonomies om oesversekering te kry nie, omdat dit duurder is as die oprigting van die nette.”

André vertel dat hulle hul vrugte deur Safpro, Tru-Cape, Core en Fruitworks uitvoer. Die appels en pere gaan die wêreld oor – insluitend na die Ooste, China, Indië, Saoedi-Arabië, Europa en ’n bietjie na Kanada, om maar ’n paar bestemmings te noem. Hy sê dat niks na die VSA gaan nie en dat president Donald Trump se tariefverhogings hulle dus nie eintlik raak nie. “Behalwe natuurlik vir implemente wat daarvandaan kom, maar ons sal maar sien hoe erg dit ons gaan tref.”

UITVOERLOGISTIEK, MEGANISASIE EN NETTE

Hy is tevrede met die uitvoerproses sover vanjaar en glo dit het baie verbeter sedert nuwe infrastruktuur in die Kaapse hawe in gebruik geneem is. Andersins stuur hulle ook vrugte via Gqeberha en Coega. Die enigste probleem is wanneer skepe nie daardie hawens aandoen nie en soms verbyvaar.

“Ons het onlangs ’n masjien aangekoop wat die appelbome se blare afblaas om hulle meer lig te gee en dus verkleuring van die vrugte aan te help. Dit verg minder handearbeid en bespaar tyd en koste, met die moontlikheid vir toekomstige uitbreiding. Al die boorde, veral die oueres, is egter nie geskik vir hierdie tipe bewerking nie, maar ons nuwe boorde word almal met nuwe tegnologie in gedagte aangeplant.”

Al hoe meer aktiwiteite op Tulpieskraal word, waar moontlik, gemeganiseer – soos hierdie blaasmasjien wat die blare van die appelbome afblaas om die vrugte aan meer lig bloot te stel.

Op Tulpieskraal is die nuwe generasie klein boordtrekkers reeds uitgetoets, en daar word al hoe meer op meganisasie staat-gemaak deur dié trekkers en spuite in smaller boorde in te span. Naas die blaasmasjien gebruik hulle ook randsnyers wat die bome meganies snoei. Nuwe boorde word ook só aangeplant, nader aan mekaar en met spesifieke variëteite, sodat hierdie masjiene meer doeltreffend kan werk.

“In Nieu-Seeland en Europa kan die vrugtebedryf dit amper nie meer bekostig om nié meganies te werk nie, omdat arbeid so duur is. Ons is ook op pad soontoe, maar hopelik gaan dit nog ’n paar jaar vat. Ons kan net tot ’n sekere punt meganiseer en doen dit stelselmatig deur ander tipe bome wat kleiner, smaller en laer is, aan te plant. Die plukproses gaan waarskynlik nie gou gemeganiseer kan word nie, maar wel die snoei- en uitdunprosesse. Ons besproeiingstelsels is reeds geoutomatiseer en word met rekenaarstelsels bestuur.”

Appels word in kratte op ’n vragmotor gelaai vir versending.

Hy sê hy sal nooit weer sonder nette boer nie. Nuwe boorde word met infrastruktuur aangeplant, en hoewel hul eerste nette nie ideaal was nie, staan van hulle steeds. Die nette beskerm teen hael en sonbrand, word toegemaak ná bestuiwing, oop ná die oes, en weer gesluit ná blomtyd.

“Ons het baie geleer en gebruik nou onafhanklike kontrakteurs teen ’n vaste tarief per hektaar om die konstruksies op te rig. Daar is min nadele en die voordele is legio. Met bedekte boorde is jou uitpakke baie beter, veral die uitvoerpersentasies. Vroeër was die uitvoerpersentasie dalk sowat 60%, maar nou het die vrugte wat vir uitvoer bestem is, gestyg tot ongeveer 80%, met die gevolg dat vrugte vir die plaaslike mark baie afgeneem het. Maar die inkomste het gegroei danksy verhoogde uitvoere. ’n Mens kan nie net vir die plaaslike mark vrugte verbou nie – dan gaan jy dit nie maak nie,” glo hy.

UITDAGINGS EN OPBRENGS

“Dit is glad nie meer ekonomies om oesversekering te kry nie, omdat dit duurder is as die oprigting van die nette. Ons het druipnette ook gebruik, en dit kos ongeveer R120 000/ha vir die oprigting – en dit hou tot so lank as 12 jaar. As jy dit oor daardie tydperk bereken, is dit baie goedkoper as die koste van jaarlikse oesversekering. Oes-versekering beteken eers iets as jy 100% skade het en alles verlore is. Dan moet alles vervang en betaal word. Maar as jy gewone skade het, voel dit soms of jy net jou premie terugkry, omdat daar allerhande voorwaardes is wat nie werklik werk nie.”

Die uitdagings vir appel- en peerboere in die Langkloof is soortgelyk aan dié in ander produksiegebiede. Vanjaar was daar heelwat probleme met kalanders, maar hulle gebruik kalander-bande om die bome wat die peste beheer.

Kalanderbande word om die stamme van die vrugtebome geplak om te keer dat die kalanders teen die stamme opklim.

André vertel dat hulle oor die algemeen laer opbrengste per hektaar het in vergelyking met ander streke soos Elgin, Villiersdorp en Grabouw, maar dat hulle probeer om dié verskil op te maak met vrugte van hoë gehalte.

“Hul tonne is hoër as ons s’n en produsente in daardie streke kan byvoorbeeld gemiddeld tussen 75 en 85 t/ha Pink Lady lewer, terwyl ons gemiddelde ongeveer 60 t/ha is. Ons gehalte moet dus baie beter wees om dieselfde opbrengs per hektaar te kan realiseer. Wat dit moeilik maak, is dat jy minder tonne het om dieselfde inkomste per ha te genereer. As hulle 80 t pluk en jy 60 t, het hulle 20 t meer om geld mee te maak. As hulle egter net 70% uitpak kry en ons 85%, gaan jy hulle steeds nie wen nie – so ons moet ons gehalte so hoog as moontlik hou. Die nuwe generasie plantmateriaal lewer hoër tonne, en ons moet daarheen werk. Jy moet nie altyd tonne jaag nie – daar is ’n balans tussen gehalte en opbrengs per hektaar.”

Op die skietbaan op Tulpieskraal word daar hoofsaaklik op veldskiet gefokus.

BORANSTOET EN SKIETKLUB

Oor sy beesboerdery is André ewe trots. Hierdie bobaas skut en lid van die Presidentspan wat hy as die B-span beskryf het pa Bokkie se Boranstoet oorgeneem en uitgebrei tot die 200 diere wat hulle tans het. Die Boranne kom oorspronklik van Kenia maar hulle het al baie van hul eie teelmateriaal ontwikkel en behaal goeie pryse op plaaslike en internasionale veilings.

Die Boranstoet op Tulpieskraal is goed gevestig en vaar goed op veilings. Dit is deur André se pa, Bokkie, begin en hy brei dit nou verder uit.

“Ons het ’n groot en gewilde skietklub hier op Joubertina en die manne is gereeld daar vir kompetisies. Ons spesialiseer in veldskiet wat beteken jy skiet op teikens wat soos wild lyk eerder as bloot op afstand. Ons hou ook elke jaar ’n appelskietkompetisie wat groot pret is en dit alles op ons eie skietbaan wat een van die beste in die land is” vertel André.

André is ’n kranige skut en lid van die President-veldskietspan. Hier lê hy aan op die wêreldklas-skietbaan op hul plaas, wat ook die bymekaarkomplek van die Joubertina Skietklub is.
Filed under: farmers, News

by

Danie is an award-winning journalist with three decades of news writing under his belt. He has a special love for local news, having served as the editor of a community newspaper for seven years. He is has also written for most of the daily newspapers and a variety of online news platforms. People and what make them tick intrigues him, but he is also fond of wine, travel, environmental, investigative and a host of other stories. “Being in the outdoors, with people who has a love for nature in their souls, and to put those feelings and experiences into words, is the ultimate challenge to me as journalist.”

3 Comments

  1. 881144 34735Useful info. Fortunate me I discovered your internet site by chance, and Im surprised why this twist of fate didnt happened earlier! I bookmarked it. 895779

  2. 860850 26287Wohh just what I was searching for, thanks for putting up. 592090

  3. 856814 75294We clean up on completion. This may possibly sound obvious but not several a plumber in Sydney does. We wear uniforms and always treat your home or office with respect. 520856

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *