News
Leave a comment

Velde van goud wink vir canola boere

Deur Rene Lötter

Die kanolabedryf in die Wes-Kaap beleef ‘n dinamiese oplewing, aangedryf deur tegnologiese vooruitgang en volhoubare praktyke. Hierdie groei versterk nie net plaaslike ekonomieë nie, maar vestig ook die Kaap as ‘n beduidende bydraer tot wêreldwye kanola-verskaffing. Daar is ‘n stygende aanvraag vir gesonde olies en biobrandstof. Deur samewerking, innovasie en ’n verbintenis tot verantwoordelike landbou, is die Kaapse kanolabedryf gereed om sy volle potensiaal te ontsluit. By Nampo Wes-Kaap se onlangse Nasie in Gesprek paneelbespreking, het rolspelers die toekoms van die gewas bespreek.

Die paneel:

  • Pieter Malan – SSK (Sentraal-Suid Koöperasie)
  • Koos Blanckenberg – Voorsitter: Kanola Spesialiskomitee
  • Kellie Becker van SOILL (Die grootste canola prosesseerder en olie vervaardiger in Afrika)
  • Jose de Kock – produsent

Malan verwys na statistiek van die afgelope 10 jaar wat aandui ons produksie het gestyg van 68-duisend hektaar (2012-2014) na 119-duisend hektaar. Dit is beslis ‘n groeiende industrie. Die potensiaal vir die toekoms is ook goed. Dis ‘n uitstekende wisselbou gewas. Toe koring alleen in die 90s boere onder stres gesit het is canola ingebring. Dis ‘n uitstekende wintergewas. Veral nou met die bewaringsboerdery. Hy meen hierdie jaar kan ons dalk 2,2 ton kry.

Die globale produksie van vette en olies is 250 miljoen ton per jaar en Suid-Afrika voorsien ‘n klein gedeelte. Canola is die 2de grootste saadolie. Becker wys daarop dat pryse hoog was aan die begin van die oorlog in Oekraïne. Die oorlog en vrees oor tekorte het pryse laat styg. Intussen het Oekraïne se produksie nie so erg afgeneem nie. Globale produksie is goed.

De Kock meen Canola is ‘n goeie breeblaar-wisselgewas wat grond-chemie betref. “Dit pas lekker in en gee ruimte om chemie af te wissel tussen koring en gras. Alhoewel mens na canola vir koring moet ekstra insit in die grond. Die wisselgewas komponent raak al hoe groter. Canola speel ‘n groter rol om rotasies in stand te hou.”

Blanckenberg vertel dat in die 90s was ons canola opbrengs tussen 800 kg en 1,2 ton. Dis net vir wisselbou geplant, nie om geld te maak daaruit nie. Nou staan dit op rondom 2 ton jaarliks vir al die produsente in die Wes-Kaap. Daar is boere wat tot 3 ton kry. Die ekonomie van die gewas het baie gestyg.

De Kock stem saam dat canola boerderypraktyke verbeter het. Ons het beter plantmetodes en saad-tegnologie. Hy wil graag ‘n groter keuse van saad sien want die laaste twee jaar was ‘n uitdaging om saad betyds te kry.

Malan stem saam dat een van die groot uitdagings saad-beskikbaaheid is. Saad word ingevoer uit Kanada, Australië en selfs Chili. Die afgelope jaar het ons juis gesukkel maar SSK en ander rolspelers het betrokke geraak en seker gemaak dat ons voldoende en regte saad het. Saad wat vermeerder word wat jou opbrengspotensiaal kan verbeter is belangrik. Die weer bly ook ‘n uitdaging.

Suid-Afrika is ‘n globale markspeler en ons moet rondom dit beplan.

Die spoed van verandering bly ‘n uitdaging. Dit is ook ‘n groot las op kapitaal in terme van die integrasie van vervaardiging en stoor, deur die hele ketting. Die groei in aanvraag na canola word gedryf deur bemarking. Die aanvraag is tussen 130 -duisend 150 duisend ton.

Becker sê canola was lank net ‘n wisselbougewas maar nou het dit werklik ekonomiese waarde toegevoeg wat goed kompeteer met gewasse soos gars en koring. “In Covid toe ons gars moes afwaarts bestuur was canola ons redding gewees en het die ekonomie in die Overberg gered. Op hierdie stadium kan ons die tegnologie gebruik om internasionaal mee te ding.”

Die paneel meen dat navorsing verbeter het. Veral aan die saadkant. Vanaf 2010 is daar enigiets tussen 10 en 16 kultivars beskikbaar. Ons het in die laaste drie jaar 10 nuwe kultivars gekry. Beter tegnologie verbeter ook opbrengs. Die volle potensiaal sal oor ‘n paar jaar gesien word. Daar word ook navorsing gedoen oor klimaatstoestande. Teen huidige pryse rondom 1,4 ton is jy by ‘n gelykbreek.

Die Proteïen Navorsings-trust pomp geld in navorsing oor siektes en bemesting. Die departement van landbou in die Wes Kaap help ook met ‘n program wat nuwe kultivars kom plant in verskeie lokaliteite in die Wes-Kaap en Swartland en dit help boere besluit watter kultivar gaan beter werk in ons areas.

Wat die olie betref: Internasionale maatskappye fokus daarop om versadigde vette in hul produkte te verminder. Ons fokus om ons daar gevestig te kry.

Nog ‘n aspek wat uitgelig is tydens die bespreking is dat die boodskap nie voldoende aan die publiek gedeel word dat dit nie ingevoer of aangery hoef te word nie.

As jy 200 ton canola verwerk in die Wes-Kaap kry jy omtrent 120-duisend ton oliekoek. Dit word in die veebedryf gebruik. Voorheen moes dit per boot of trok aangery word. Canola het in ‘n baie moeilike tyd vir suiwelboere gehelp.

Dis moontlik om canola verder noord te plant maar dis ‘n groter uitdaging in terme van besproeiing en bemesting.

Tussen koring, gars, hawer en canola is die hele graan en oliesade bedryf in die Wes-Kaap goed bedrywig.

Blanckenberg meen daar is baie meer kundigheid beskikbaar. “Ons het mense wat by SOILL as maatskappy betrokke was wat enorme kenis opgebou het en mense deel dit met mekaar. Die laaste twee of drie jaar is daar nuwe canola produsente en hulle gedy want die kundigheid is beskikbaar.

De Kock sê Canola is ‘n uitdagende gewas. “Hy het al sy byname gehad wat ek nie hier kan noem nie”. Canola se vestiging is baie belangrik. Met die vestiging moet jy die regte saad plant en weet watter uitkoms jy soek.

Wil jy ‘n opbrengs kry of gras beheer? Jy moet met die regte bemesting en die regte insek-middels dit behandel. Jy moet jou spuitprogram akkuraat organiseer rondom blomstadium. Ons het ook slimmer geraak met die platsny en oesproses. Selfloper-snyers het dit moontlik gemaak dat ons in ‘n sekere windrigting kan sny.

Blanckenberg meen die bedryf is goed georganiseer, daar is kundigheid beskikbaar en kommunikasie is oop. “Ons het goeie vennote – SOILL, SSK, kunsmis maatskappye, die PNS.
Boere moet ook weet dat die stoor van canola voor hy gelewer word hou steeds gevare in as jy dit nie reg hanteer nie.

Vaardighede in die bedryf is steeds ‘n probleem. Daar is min tegniese vaardighede in die industrie.
Malan voorsien dat produksie sal groei na so 145-duisend hektaar. Canola groei beter in ‘n koel, klam klimaat. Dit kan egter droog raak in die Wes-Kaap. Nietemin – die globale gemiddeld is hier by die 2 ton per hektaar en ons gemiddeld is in lyn daarmee. Produsente moet net sorg dat hulle bybly met die nuutste tendense.

Die fokus moet wees om die regte gehalte saad in Suid-Afrika te kry. Die oestyd wat kom gaan wys waar nog uitdagings is.

Bio-brandstof en buitelandse geleenthede

Becker wil sien dat ons die kapasiteit ontwikkel om die oes binnelands te verwerk. En dat die bedryf internasionaal mededingend raak.

Canola het gesondheidsvoordele. Volgens die Instituut van Plantproduksie is Canola olie laag in versadigde vet (7%), maar hoog in mono-onversadigde vet (61%), en is daarom die ideale plaasvervanger vir diervet. Dit is vry van transvet, wat die “slegte” LDL cholesterol in die bloed verhoog. Die hoë persentasie mono-onversadigde vet in canola olie werk die effek van die “slegte” LDL cholesterol in die bloed en die risiko van koronêre hartsiektes teen. Canola olie is ‘n uitstekende bron van twee poli-onversadigde essensiële vetsure, naamlik linoleensuur (Omega-3) en linoleïensuur (Omega-6). Daar is globaal ‘n aanvraag aan sulke produkte.

Canola word ook nou deur die kankervereniging ondersteun. Hul doel is om dit vir die lae LSM-verbruiker bekostigbaar te maak.

Daar is groot bewegings in die bio-brandstof industrie en die bedryf moet posisioneer word om dit te benut. Daar is ooraanbod in die wêreld maar teen die tempo wat die biobrandstof-industrie groei gaan daar aanvraag kom. Suid Afrika voer baie biodiesel in maar die invoer het afgeneem soos die kanola en soja industrie gegroei het.

Die bio-brandstof industrie word sterk gedryf deur Europa en ook Amerika.

Daar gaan groot geleenthede kom. Ons moet volhoubare aanbod sertifikasie kry, werk aan ons voetspoor en sertifisering en die logistieke ketting na die buiteland. Baie lande is besig om weg te beweeg van GMO (geneties gemanipuleerde) gewasse en Suid-Afrika moet byhou.

En laastens, maar baie belangrik, is data: Die beweging van tegnologie is baie vinnig in terme van toerusting. Plaaslike boere is goeie gaarders van data maar ons moet die data beter leer interpreteer.

Dis die sleutel om beter opbrengste te verseker.

Leave a Reply

Your email address will not be published.