ʼn Nuwe studie* deur ʼn span internasionale navorsers, insluitend navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US), het bevind dat gedokumenteerde uitkomste van trofeejag vir bewaring en die welstand van plaaslike gemeenskappe in Afrika suid van die Sahara oor die algemeen positief was, ofskoon die uitkomste aansienlik na gelang van die konteks verskil het.

Dié studie, wat op 9 September 2026 in Conservation Letters gepubliseer is, het 89 wetenskaplike artikels bekyk wat die uitkomste van trofeejag in 13 lande in Afrika suid van die Sahara assesseer – die omvattendste oorsig in sy soort tot op hede. Dit het die uitkomste gedek vir wild-populasies, habitatte en die welstand van plaaslike gemeenskappe, insluitend inkomste, werksgeleenthede en voedselsekerheid.
“Trofeejag is een van Afrika se mees omstrede bewaringstrategieë,” sê dr Hayley Clements, die hoofouteur en bekleër van die Oppenheimer-Jamma-navorsingsleerstoel in Afrika-natuurlewe-ekonomieë by die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange aan die Universiteit Stellenbosch.
“Altesame 23 lande in Afrika suid van die Sahara laat dit toe en daar is al hoe meer druk in Europa en elders in die globale Noorde om die invoer van jagtrofeë heeltemal te verbied. Openbare debatte oor trofeejag word egter dikwels deur etiek en aannames eerder as bewyse aangevuur. Tot op hede het geen studie ál die wetenskaplike bewyse aangebied oor of dié praktyk bewaring en plaaslike gemeenskappe help of benadeel nie.
“Daar is ʼn geneigdheid om trofeejag as óf onvoorwaardelik goed óf onvoorwaardelik sleg te beoordeel,” verduidelik Clements. “Ons oorsig toon dat die werklikheid veel meer konteksspesifiek is – en beleidmakers kan op grond van daardie konteks optree.”
Uitkomste
Clements en haar mede-navorsers het bevind dat 65% van die gedokumenteerde uitkomste positief vir bewaring en vir die welstand van plaaslike inwoners was, vergeleke met 26% negatiewe en 9% onduidelike uitkomste.
Die duidelikste voordele het op habitat betrekking gehad: Trofeejag is in 92% van gevalle met ʼn toename in die hoeveelheid grond onder bewaringsbestuur geassosieer. Inkomste uit jag kan grondeienaars – insluitend private grondeienaars en gemeenskappe – aanspoor om wild en die habitat daarvan te bewaar eerder as om die grond vir landbou of veeboerdery te gebruik. Trofeejag het eweneens in minstens 85% van gevalle positiewe uitkomste vir hierdie grondeienaars se inkomste, werksgeleenthede en voedselsekerheid gehad.
“Die belangrike punt is dat uitkomste afhang van hoe jag gereguleer en bestuur word, eerder as bloot of jag plaasvind.”
Die uitwerking op gejagte spesies self was egter meer gemeng, sê die navorsers. “Ofskoon die populasies van gejagte spesies eerder stabiel was of toegeneem het as om af te neem, is ander maatstawwe – soos ouderdoms- en geslagsverhoudings – meer dikwels nadelig geraak, en die impak op die beweging van diere was gemeng.”
Hulle beklemtoon ook dat die bewysbasis oneweredig is. “Baie min studies het die toestand van die ekostelsel van jaggebiede gemeet, of nie-ekonomiese aspekte van plaaslike inwoners se welstand soos kultuur en bestuur. Hierdie leemtes beperk die gevolgtrekkings wat oor sommige van die breër gevolge van trofeejag gemaak kan word en dui op prioriteite vir toekomstige navorsing.”
Beheer van geldsake maak saak
Die oorsig het bevind dat uitkomste in meer as 80% van gevalle positief was waar plaaslike gemeenskappe of private grondeienaars regte op die grond en wild gehad en die inkomste uit jag ontvang het. Hierdie patroon was duidelik sigbaar in Namibië en Suid-Afrika, waar regte op die benutting van wild regstreekse aansporings aan grondeienaars of gemeenskappe kan bied om wild en die habitat daarvan in stand te hou.
Daarteenoor was die uitkomste volgens die navorsers meer gemeng in gevalle waar die staat groter beheer oor wild op gemeenskapsgrond behou en gemeenskappe slegs ʼn gedeeltelike deel van die inkomste uit jag ontvang het – soos in dele van Tanzanië en Zambië.
“In al die studies wat bekyk is, dui hierdie verskille op die belangrikheid van hoe stelsels vir die benutting van wild bestuur word – insluitend wie regte en verantwoordelikhede het, wie besluite neem en wie die voordele ontvang. Hierdie patrone dui daarop dat wanneer plaaslike inwoners oor betekenisvolle regte, besluitnemingsbevoegdheid en beheer oor inkomste uit jag beskik, hulle sterker aansporings het om wild op ʼnvolhoubare wyse te bestuur.
“Die belangrike punt is dat uitkomste afhang van hoe jag gereguleer en bestuur word, eerder as bloot of jag plaasvind.”

Beleidsdebatte
Die navorsers sê hulle bevindings is uiters relevant vir die huidige beleidsdebat in Europa: Frankryk het in Augustus 2026 die invoer van jagtrofeë van bedreigde spesies opgeskort, die Britse Wetsontwerp op Jagtrofeë (wat invoere sal verbied) dien voor die Britse Hoërhuis, en nie-regeringsorganisasies wat hulle vir dierewelsyn beywer, maak stemming by die Europese Parlement vir ʼn verbod op die invoer van jagtrofeë oor die Europese Unie heen en voer aan dit sal Afrika se wild beskerm.
Die navorsers voer aan dat ʼn algehele verbod ʼn stomp instrument kan wees wat ʼn inkomstestroom uitskakel wat – in sommige kontekste – plaaslike gemeenskappe ondersteun en aansporings vir die bewaring van habitat en wild bied. Hulle stel eerder ʼn benadering voor wat op standaarde gegrond is: Invoerlande kan bewyse vereis dat jag tot bewaring bydra, dat plaaslike gemeenskappe ʼn billike deel van die inkomste ontvang, asook dat kwotas wetenskaplik bepaal is en aanpasbaar bestuur word.
“65% van die gedokumenteerde uitkomste was positief vir bewaring en vir die welstand van plaaslike inwoners”
Volgens die navorsers is die hoeveelheid grond wat deur trofeejag bewaar word, ook relevant vir wêreldwye bewaringsteikens. “Soos wat lande kragtens die Globale Biodiversiteitsraamwerk daarna streef om 30% van hulle grond teen 2030 te beskerm, kan bewaringsgebiede wat deur jag gefinansier word tot die behoud van areas van natuurlike habitat bydra en die las op staatsbewaringsbegrotings verlig.”
Hulle sê die prioriteit is nou om die leemtes in bewyse wat deur die oorsig geïdentifiseer is, aan te vul – veral wat betref die impak van jag op ekostelselintegriteit en die nie-ekonomiese aspekte van plaaslike inwoners se welstand – asook om in die monitering van die belangrikste bestuursreëlings te belê.
“Ons het nodig dat bewaringsagentskappe en befondsers in die sosiaal-ekologiese monitering van hierdie stelsels belê, veral in streke wat nie voldoende bestudeer is nie. Soos wat Afrika-lande aan ambisieuse bewarings- en ontwikkelingsteikens werk, is dit vir die doeleindes van die korrekte beleid noodsaaklik om die omstandighede te verstaan waaronder diverse bewaringsmodelle, insluitend trofeejag, mense én die natuur ondersteun.”
*Hierdie studie is deur navorsers van die universiteite van Stellenbosch, Florida, Brits-Columbia en Helsinki onderneem. Dit is ondersteun deur die Kone-stigting, Oppenheimer Generations Research and Conservation, die Benjamin Raymond Oppenheimer-trust, Jamma Conservation and Communities en die Europese Unie.
• Bron: Clements, H. et al. 2026. “Outcomes of trophy hunting for people and nature in sub-Saharan Africa”.Conservation Letters. Volume 19, Uitgawe 5. https://doi.org/10.1111/con4.70080

