Kanola: van wisselbougewas tot lonende kerngewas
Die Suid-Afrikaanse kanolabedryf se sterk groei oor die afgelope dekade skep nuwe geleenthede vir plaaslike verwerking en markontwikkeling. Volhoubare uitbreiding sal egter afhang van toegang tot verbeterde genetika en nuwe tegnologie, verantwoordelike produksiepraktyke en die ontwikkeling van plaaslike én uitvoermarkte. Dit was die kernboodskap uit die “Kanola: ’n Goue Toekoms”-paneelgesprek wat op 10 September tydens NAMPO Kaap plaasgevind het. Corné Louw, Graan SA se hoof van Graanekonomie en Lededienste, het saam met Franco le Roux, Zander Spammer, Andries Theron en Piet Lombard gekyk na die bedryf se groei, toekomstige produksiepotensiaal, verwerking, markontwikkeling, genetika en risiko’s. Kanola het oor die afgelope jare van ’n alternatiewe wisselbougewas tot ’n kernkomponent van veral die Wes-Kaapse produksiestelsel ontwikkel. Suid-Afrikaanse aanplantings het van 34 000 ha in 2010 tot 74 120 ha in 2020, 165 750 ha in 2024 en 174 515 ha in 2025 gegroei. In 2026 staan aanplantings op sowat 192 300 ha, waarvan ongeveer 188 000 ha in die Wes-Kaap is. Die groei weerspieël vooruitgang in genetika, produksietegnologie, meganisasie, navorsing en markontwikkeling, maar ook die waarde van …






