Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel dei-Cont
Net voor die N7 teen Piekenierskloofpas uitkronkel, draai ons af na Sorgvliet en ry verby ’n tevrede koper met ’n bakkie vol Dohne Merino-ramme, wat beduie waar ons Izak Smit op die werf sal vind. Izak is passievol oor sy skape, skaaphonde, beeste en saailande, maar dis die nonnetjies-uile wat sy gewasse teen muise beskerm, wat die diepste in sy hart lê.

Izak het in die Eendekuil-omgewing op die familieplaas Kruisriver grootgeword en die familie het Sorgvliet in 1988 gekoop. Hy het voor sy broer se toetrede tot die familiebesigheid al die plase saam met sy pa bestuur, en daarna het hy onafhanklik op Sorgvliet begin boer.
DOHNE-MERINO-STOET
Die plaas het destyds ʼn melkery gehad wat melk aan Eendekuil se kaasfabriek gelewer het, maar Izak het besluit om die melkery te sluit en ʼn Dohne Merino-stoet te begin. Hy het tans 500 stoetooie en het vanjaar ʼn lamsyfer van 173% gehad. Die skandering-persentasie het in 2020 met 30% afgeneem, waarskynlik as gevolg van die droogte. Daar was ʼn hoë persentasie twee-, drie- en selfs vierlinge. Izak het in sy loopbaan as skaapboer al drie vyflinge gehad, “maar dis nie iets wat jy wil hê nie.”
Die skandering-persentasie het in 2020 met 30% afgeneem, waarskynlik as gevolg van die droogte.
Bevrugting vind plaas deur middel van laparoskopie wat deur ʼn veearts toegedien word. Saad word in die ooi geplaas en alhoewel die prosedure vinnig is, verg die ooie baie voorbereiding. Hy verkoop ook jaarliks 150 Dohne Merino-ramme by twee veilings – op Eendekuil en Vredenburg – en die res word as veldramme vanaf die plaas verkoop. Die kaalgeskeerde ooie sonder hul 5,5 kg wolbaadjies is nie besonder gretig om vir ons kamera te poseer nie. Benewens die Dohne Merino-stoet, het Izak ook ʼn voerkraal met 80 beeste wat onder die ou melkery se afdakke gehuisves word, maar hy is van plan om die voerkraal vanweë die wisselvallige mark te sluit.

ROOIBOS TOT DIE REDDING
Sorgvliet was nooit ʼn rooibosplaas nie, en alhoewel Izak se broer ʼn suksesvolle teeboer was, wou hy nooit die teeroete volg nie. Tót die droogte van 2015 sy koringlande geknou het. “Die koringbedryf het so swaar gekry – ek het maar besluit om rooibos aan te plant.” Op die oomblik het hy 200 ha rooibos en hy plant elke jaar nog 50 ha in rotasie aan. Hy is ook ʼn aandeelhouer van Cape Rooibos en boonop die skoonpa van die Besturende Direkteur, Dian Nigrini.
Die koringbedryf het so swaar gekry – ek het maar besluit om rooibos aan te plant.
Izak Smit
“Rooibos is ʼn baie lekker deel van Eendekuil se diversifikasie, want ons het diep sandgrond en dis presies wat rooibos soek,” sê hy. As gevolg van die droogte was daar ʼn toename in rooibosboere, wat daartoe bygedra het dat die teeprys van R70 per kilo in 2018 tot R25 per kilo gedaal het. Eendekuil se gemiddelde reënval is 280 mm, teenoor die 100 mm wat in 2015 geval het. Al het dit in 2019 meer as die vorige drie jaar gereën, het ʼn hittegolf in Augustus die koring en kanola basies heeltemal vernietig, en teeproduksie het met 30% gedaal. “As dinge in 2020 nie drasties verander nie, gaan dit rampspoedige gevolge vir die Eendekuil-distrik hê. Ou boorgate wat bestaan sedert mense kan onthou, is nou droog en water word vir die skape aangery. Ek dink wel die siklus is verby en dat dit vanjaar gaan reën, maar ek wens die wêreld wil aardverwarming in die toekoms meer ernstig opneem,” sê Izak.

Ons besoek ʼn teeland wat die vorige maand geplant is. Alhoewel rooibos nie van nat wortels hou nie, sou nog ʼn paar reënbuie die bossies goed doen. Rooibos word in Julie geplant en in die eerste jaar word dit tydens oestyd in Januarie en Februarie net getop. Daarna word die tee jaarliks vir vier tot vyf jaar geoes, afhangend van die bosse se kondisie.
MOOI EN EFFEKTIEWE UILE
Daar is veertien uilhokke met nonnetjies-uile op Sorgvliet. “Hulle eet my muise en ek love hulle,” sê Izak met oorgawe. Hy klim ʼn boom uit soos Trompie om ʼn nonnetjies-uil en haar kuikens te vind. Maar die uilfamilie moes ongelukkig uittrek om vir ʼn byenes plek te maak. Izak koop soms uilhokke, maar ‘n boer maak ook ʼn plan met ʼn ou geyser. “Hulle hou vreeslik baie van die ou geyser-hokke,” sê Izak terwyl hy nog ʼn paal uitklim om by ʼn uilhuis te kom.
Ek dink wel die siklus is verby en dat dit vanjaar gaan reën, maar ek wens die wêreld wil aardverwarming in die toekoms meer ernstig opneem.
Izak Smit
Hierdie keer vlieg die nonnetjies-uil uit en Izak wys vir ons drie dik muise wat vanoggend nog in sy veld geskarrel het. Daar is ses eiers in die nes, en sou almal oorleef, sal Izak waarskyn-lik een of twee hans grootmaak. “Meer as vier kuikens is nie optimaal in ʼn nes nie,” sê hy. Uiltjies wat hans grootgemaak word, integreer vanself weer met die wilde uilbevolking. Uile is territoriale diere en die hokke moet minstens 800 meter uitmekaar staan, verkieslik in die skadu van ʼn boom. Volgens Izak vang sy uile honderde muise per dag.

LIGTE HAND
Izak huur twee plase in die distrik by en het 1 500 ha saaigrond waarvan 1250 ha onder koring, 200 ha onder kanola, 300 ha onder lupiene, 150 ha onder weiding en ongeveer 50 ha onder hooi staan. Grond- en gewasgesondheid is vir hom baie belangrik en hy doen minimum bewerking. “Omdat hierdie ʼn droë area is en aangesien koolstofvlakke die grond se voghouvermoë bepaal, is dit noodsaaklik om soveel moontlik organiese materiaal op die grond te hou. Dis al manier om koolstofvlakke te verhoog, so ons brand nie en ons bewerk so min as moontlik,” verduidelik hy.
Volgens Izak vang sy uile honderde muise per dag.
Izak doen wisselbou met kanola om die grond los te maak en om die aanwas van ongewensde grasse te beheer. Hy plant lupiene wat met behulp van die rhizobium-bakterieë stikstof in die lupiene se wortels vaslê. Izak neem ons na ʼn land met Kleinrondepit-lupiene en trek ʼn plant uit om vir ons die ligpienk wortelknoppies te wys. Die kleur dui aan dat die rhizobium-bakterieë sy taak verrig om stikstof in die klein knoppies binne die wortels te verbind. As gevolg van wisselbou met lupiene, hoef hy in stede van 65 kg stikstof op ʼn stoppelland, slegs 45 kg stikstof toe te dien.

Op pad terug na die plaaswerf ry ons verby ʼn lupieneland wat plek-plek yl kolle het. Dit is volgens Izak die “white grupp” wat lupiene- en kanola-wortels ondergronds opvreet. “Ongelukkig, omdat ons sandgrond het, moet ons dit elke drie tot vier jaar bewerk om van dié wurm ontslae te raak.” Voor ons vertrek gee Izak twee skaaphonde, Blackie en Floss, opdrag om ʼn paar ramme onder teen die N7 te gaan haal. Enkele minute later drom die verontwaardigde ramme saam in ʼn kraalhoek. Die samewerking tussen mens, dier en natuur is mooi om te sien.
Plaas: Sorgvliet | Kontak: +27 22 942 1762 | sorgvliet@breede.co.za