Woorde: Anna Mouton Fotografie: Michel Dei-Cont
Ry uit Barrydale in ‘n noordwestelike rigting op die R62 en jy is sommer vinnig by Doornrivier. Die plaas is sedert 1923 in die Smit-familie. Piet Smit vertel dat sy oupa die plaas gekoop het terwyl hy ‘n winkelier op Barrydale was. “Daai tyd was hier nie kommersiële boere nie. Die hele Klein-Karoo was die ene volstruis en dit was ook net vir hulle vere – hulle is nie geslag nie.”
WARE AFRIKANERS
Die Smit-familie was oorspronklik Smith. “My oupa het ‘n bord op sy winkel gehad en daar het gestaan ‘PD Smith, General Dealer, Barrydale.’ In 1902, toe die Anglo-Boereoorlog klaarmaak, sê sy oudste seun vir hom: ‘Pa moet hierdie Smith laat doodverf.’” Dit was nadat Gideon Scheepers se boeremag die huis van ‘n Engels-gesinde familie op ‘n naburige dorp afgebrand het. Oupa het geluister en sy bord verander na ‘PD Smit, Algemene Handelaar, Barrydale’.
“Jy kan in die doopregister van Barrydale se kerk gaan kyk,” sê Piet. “My oupa-hulle het agt kinders gehad en die eerste vier is Smith en die laaste vier is Smit!” Piet se pa was die jongste seun en derhalwe ‘n Smit. “Die oudste seun was ‘n tandarts en hy het nie belanggestel om die plaas te koop nie. My pa het die winkel bedryf ná my oupa oorlede is en ook die plaas gekoop.”
PLUK DIE VRUGTE
Piet vertel van sy passie vir boerdery. Hy het die plaas in 1966 oorgeneem en was die eerste Smit wat self op Doornrivier geboer het. “Toe was hier al vrugte. En wingerd. En so met die jare het ek die wingerde uitgeskakel en meer na vrugte toe oorgegaan. Toe die kinders gekom het – Pieter en Fanie – het hulle hoofsaaklik na pakvrugte oorgeskakel en ons het ‘n pakstoor hier op die plaas gebou.”
Vandag besit die Smit-familie twee plase – Doornrivier en Tradouwshoek – wat onder die naam Vleihoek Agri bedryf word. Hulle het altesaam ongeveer 120 hektaar onder vrugteboorde en produseer meestal pere en perskes, maar ook pruime, nektariens, appelkose en sitrus. Meer as twee-derdes word vars bemark. Die res gaan na Ashton waar dit verblik word. ‘n Klein gedeelte word verwerk as puree en daai goeie ou Suid-Afrikaanse gunsteling, Mrs H.S. Ball’s Chutney.
Vrugte-produksie lê in die hande van Pieter Smit. “Ons verbou Early Bon Chrétien, Bon Chrétien, Packham en Forelle vir uitvoer. Ons perskes is inmaak-variëteite maar ons pak dit vars vir die plaaslike mark.”
WANNEER WATER SKAARS IS
Al die boorde word besproei. Soos soveel ander plase is Doornrivier hard deur die onlangse droogte geslaan. “Dit was vir ’n paar jaar verskriklik droog hierso en ons afloopwater was verskriklik min so die damme het nooit vol gekom nie. Een jaar het ons met 25 persent water begin. Toe het ons boorgate begin gebruik,” verduidelik Pieter, “maar omdat dit al water was wat ons gehad het, het ons ver onder normaal besproei.” Die bome het omtrent ‘n derde van die water gekry in vergelyking met die verlede.
Gelukkig het Doornrivier al meer as vyftien jaar gelede oorgegaan na drup- en mikrobesproeiing. “Jy kan meer met minder water doen,” reken Pieter. En hy voel dat daardie droogte gehelp het om produsente meer doeltreffend te maak. “Ons het slim geraak. Ons het altyd oneffektief besproei – jy dink meer is beter, maar dis net waar tot op ‘n punt.”
Pieter se broer, Fanie, hanteer die verpakking en bemarking. Die moderne pakstoor en koelkamers pak vragte pere wat per trekker uit die boorde aankom. Doornrivier pak sedert 2010 hulle eie vrugte vir uitvoer en dit gaan direk van die plaas na die hawe. Hulle pak ook per geleentheid vir ander produsente.
SOETE SUURLEMOENE
“Ons oes van so einde November tot einde Maart,” sê Pieter, “en suurlemoene so twee of drie maande in die winter.” Veral pere kan in die koelkamers bly en vir nog ‘n maand of twee ná oes gepak word.
Die tradisie van vrugte stoor en pak, kom al lank aan op Doornrivier. In die ou dae was daar Rome Beauty en York Imperial appels op die plaas. Piet vertel hoe sy oupa die appels verkoop het. “Daai tyd het al die kruideniersware vir my oupa se winkel van Mosselbaai af gekom. Hy het sy bestellings uitgeskryf en aan die groothandelaars in Mosselbaai gepos. Dan stuur hulle dit met die ossewa – dit was baie soos vandag se vragmotors. As daar ‘n wa verby kom, laai hy sy vrag in Heidelberg en Barrydale af en dan is hy leeg. My oupa het sy appels in kissies gepak en op die wa gelaai en die drywer het dan met dié appels van hier af na Ladismith, Calitzdorp en Oudtshoorn gesmous. As hy volgende keer weer by ons verby gekom het, het hy vir Oupa sy geld gegee.”
SLAAP IN DIE APPELSTOOR
Piet se oupa het plaaslike klip gebruik om ‘n appelstoor tussen die boorde te bou. Die dik mure en goeie ventilasie het gehelp om die appels van die oestyd in April tot so laat as Augustus vars te hou – dit was inderdaad Doornrivier se eerste weergawe van ‘n kouestoor! Die stoor is later in ‘n huis omskep en vandag word dit as ‘n selfsorg-eenheid deur Piet se skoondogters, Yvonne en Anna, bedryf. Daar is drie eenhede wat onder die naam Plaas Wegbreek bemark word.
“Ons is op die roete wat almal na die Kangogrotte en Klein-Karoo Nasionale Kunstefees toe ry,” sê Yvonne, “en ons het baie gaste wat terugkom, want hulle wil eintlik net op die plaas kom bly. Hulle kom met hulle honde en hulle stap en ry fiets.” Daar is nog steeds boorde om die Appelhuis en besoekers kan die stilte en skoonheid van die Langeberge van die ruim stoep af ervaar. Dit is werklik ‘n plek waar stadsmense hulself weer kan vind. ‘n Groot muurskildery in die leefarea beeld die unieke plante van die area uit – genoeg om enigiemand lus te maak om die veld te verken. Die kunstenaar is Barrydale se bekende Quinton Pharo.
WIE DRA DIE KROON?
Eietydse Barrydale het ‘n lang pad sedert die dae van bestaansboere en ossewaens gekom, maar mense hier het nie hulle geskiedenis vergeet nie. “In die depressietyd was die mense mos nou baie arm,” vertel Piet, “en daar was net een halfkroon in die hele Barrydale. Daai jare het die mans sommer al vroeg afgetree. Hulle het soggens daar by die winkel by my oupa op die stoep gaan sit en dan gee my ouma vir hulle koffie. En dan kyk hulle waar die halfkroon in Barrydale is. Dan sien hulle daar stap die prokureur, ou Brink, nou om na die slaghuis toe, dan weet hulle: die slagter, oom Gert Uys, het nou die halfkroon. Oom Gert was lief vir ‘n drankie. So as oom Gert Uys in die straat afstap en hy gaan hotel toe, dan weet hulle die halfkroon is nou by die eienaar, Sterner. En môre of oormôre kom ou Sterner hier na my oupa by die winkel toe om kruideniersware vir die hotel te koop, dan het my oupa weer die halfkroon!”
Plaas: Doornrivierplaas | Area: Roete 62, Barrydale, Wes-Kaap | Kontak: doornrivier@barvallei.co.za | www.plaaswegbreek.com