Farm to Fork, farmers, Innovation
comment 1

Donkey Dairy – ontdek jou innerlike Kleopatra

Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel Dei-Cont

Buiten die Afrika-gesegde: ‘die donkie se dankbaarheid lê in ’n skop’, is daar natuurlik veel meer oor hierdie beskeie lid van die perdagtige familie te sê. “Daar is g’n ding soos ’n steeks donkie nie. Dit is eerder die wreedaardige of onnosel drywer. Mishandel ’n donkie net eenmaal en jy het sy samewerking toetentaal verloor,” vertel Floors Straus my ’n wyle gelede in die Richtersveld.

Bo en behalwe die aanhou van melkdonkies, teel Jesse Christelis ook kleiner weergawes wat jy soos knuffelspeelgoed wil troetel.

DONKIEKAR NA ’N STOFPARADYS

Floors se mense was ontburgerde trekboere totdat die regering toegelaat het dat hulle in 1948 na die Richtersveld trek. En hy weet waarvan hy praat. Tot ses donkies was voor hulle waens ingespan en hulle moes deur halfwoestyne trek waar gevestigde boere hulle toegang tot weiding en suipings verbied het. Maar hulle het deurgedruk tot in hul beloofde land. En dit was die vasbyter-donkies met hul gehardheid en intelligensie wat hierdie tog moontlik gemaak het.

Wanneer iemand jou dus so dom soos ʼn donkie afmaak, kan jy die aantyging as ʼn kompliment beskou. Jy is ligjare intelligenter as die sot wat die beledigende woorde uiter.

Wanneer iemand jou dus so dom soos ʼn donkie afmaak, kan jy die aantyging as ʼn kompliment beskou. Jy is ligjare intelligenter as die sot wat die beledigende woorde uiter.

Nietemin, ek en Mike (fotograaf) hoor onlangs van ʼn onderneming so uitlands soos iets uit ʼn onbekende sterrestelsel. ʼn Donkiemelkery? Soos in ʼn melkery sonder koeie, eerder met donkies?

Inderdaad.

Vryskutskrywers en -fotograwe betree gereeld gebiede waar selfs die engele se broeke bewe (vir die twee van ons sluit dit egter oorlogsones uit), maar hierdie was ’n opdrag wat ons nie kon weerstaan nie.

Indien die merrie nie haar vul konstant onder die oog het nie, hou sy haar melk terug.

PERD VAN ’N ANDER KLEUR

The Donkey Dairy is gesetel in ʼn deel van die land tog te Afrika, met diername soos Maanhaarrand skuins onder Olifantsnek en Buffelspoort. Rofweg tussen Johannesburg en Rustenburg in die Magaliesberg se omte.

Om die waarheid te sê, toe ek die idee aan Griet, ons uitgewer, en later aan my geliefde Giselle noem, was hul reaksies eweneens na aan gril. “Is dit een van daardie Sjinese besighede waar hulle donkies slag en seep van hul velle maak?”

Nee dames, ʼn melkery. Nie ’n slagpale nie. “O. Oukei.”

Ons kom op die plaas aan. Die opstal aan die een kant. ʼn Restaurant en geskenkwinkel aan die ander. Tussenin miniatuur donkies, so hoog soos honde van gemiddelde grootte. Waar is ons?

Jesse Christelis is die eienaar en hy kom nader om ons uit ons verwarring te red. “Voordat ons twee jaar gelede hier kom boer het, was ons vir ongeveer tien jaar op ʼn lappie grond naby Randfontein. Die groot rede hoekom ons hierheen verhuis het, was omdat ons gemengde plantegroei gesoek het om donkiemelk van hoër gehalte te lewer. Boonop drink die diere hier natuurlike fonteinwater.”

Ejiao – die tradisionele Chinese medisyne gemaak van donkievel
Honderdduisende donkies word jaarliks wreed geslag en hul velle word van Afrika na China uitgevoer. Donkiegetalle regoor die kontinent val drasties. Selfs al is handel in donkies in baie Afrika-lande onwettig, is daar toenemend diefstal en smokkelhandel. Vir baie arm, landelike gemeenskappe beteken die verlies aan donkies ‘n verlies aan inkomste. Velle word gekook om ‘ejiao’ te produseer, ‘n gelatien wat in tradisionele Chinese medisyne as ‘n bloedtonikum gebruik word.

NUWE DONKIEDENKE

The Donkey Dairy is enig in sy soort in Suid-Afrika. Ja, om te oorleef moet boere vernuwend dink. Daarom verbeter hulle hul konvensionele landboupraktyke, of ondersoek nuwe moontlikhede soos die verbou van koffie en saffraan. Maar in die naam van etlike gode, hoe het Jesse met hierdie projek vorendag gekom?

Nog knuffelspeelgoed in die vorm van klein boerbokke.

“Laat ek só begin. Ons het voorheen met skaap geboer en het twee jong donkies aangeskaf om hulle te beskerm.” Soos die Anatoliese skaaphond, sal jong donkies wat saam met die skaaptrop grootword, die kudde onwrikbaar teen jakkals, rooikat, rondloperhonde en vreemde mense beskerm.

Jy kan hierdie klein boerbokke as troeteldiere aanhou. Maar onthou: daar waar jy water kan deurgooi, daar kan bokke ook deurglip.

“Ek was onmiddellik verlief op my donkies en het besluit om na maniere te soek hoe ek volhoubaar met hulle kon boer. Ek het nie belanggestel om ’n sanctuary te bedryf nie. Ek wou met hulle boer. Toe begin ek die navorsing doen. Die meeste suksesvolle donkiemelkerye is snaaks genoeg in Europa en hulle het reeds die meeste kreukels uitgestryk. Ek moes natuurlik aanpassings maak met betrekking tot ons klimaat en die donkies tot ons beskikking.”

Hierdie melkkoeie is eweneens aansienlik kleiner en is geskik vir kleiner boerderye of waar jou grond se drakrag min is.

MELK UIT DIE BOONSTE RAKKE

Om die boerdery volhoubaar te maak, vervaardig The Donkey Dairy tans velprodukte en vars melk (wat gevries aangehou word). Laasgenoemde omdat die biochemiese samestelling van donkiemelk van alle soogdiere die naaste aan menslike moedersmelk is. Die maklikste om te absorbeer om die volle waarde daaruit te put. Derhalwe baie gesonder as melkformule, soya- en bokmelk vir babas wat aan beesmelk-proteïen-allergie en laktose-intoleransie ly.

Die melk is boonop die naaste aan menslike moedersmelk en dus uitstekend vir babas wat nie beesmelk kan drink nie.

Dis Vitamienryk aan A en E en beskik oor 60% meer Vitamien C as beesmelk. Die melk beskik oor natuurlike antihistamien en anti-inflammatoriese eienskappe wat as teenvoeter vir allergieë dien en wat ook immuniteit teen asma en ekseem verhoog. Ryk aan Omega 3 en 6, uiters belangrik vir die menslike hart en brein. ʼn Bykomende voordeel is dat donkiemelk die verharding van bloedvate help voorkom omdat dit oor die vermoë beskik om die bloedvate te verruim. Dit beveg onversadigde radikale en is van belang tydens die ontgifting van die lewer.

Die lys is legio.

Met betrekking tot die vel bevat donkiemelk essensiële vetsure wat ʼn reusagtige bydrae tot die teenverouderingsproses lewer. Dan is daar die minerale en spoorelemente wat die vel herskep en herstel. Ander natuurlike eienskappe beskerm die vel teen bakteriese infeksie. Laaste, maar nie die minste nie: die produkte word glad nie op diere getoets nie.

Donkiemerries gee beswaarlik 500 milliter melk per dag om hierdie velprodukte mee te vervaardig – geen wonder dit was vanmelewe ‘vloeibare goud’ genoem nie.

VLOEIBARE GOUD

Donkiemelk, vanweë die skaarsheid en die gesondheidsvoordele daaraan verbonde, staan gereeld bekend as ‘vloeibare goud’. Geen wonder dat lede van die Ou Volk, soos Kleopatra en Hippokrates, in donkiemelk as ’n natuurlike geneesmiddel nuttig vir die instandhouding van skoonheid geglo het nie.

Alles goed en wel. Maar hoe oortuig ʼn mindere sterfling die donkiemerrie om haar vloeibare goud te deel? “Met ontsettend baie moeite?”

“Ek was onmiddellik verlief op my donkies en het besluit om na maniere te soek hoe ek volhoubaar met hulle kon boer.”

Om hierdie strikvraag in verband te plaas: melkkoeie is bekend vir hul skreiende temperamentaliteit. Indien hulle op enige manier stres, hou hulle die melk terug. Dit, ten spyte daarvan dat hulle reeds ongeveer 11 000 jaar gelede in Mesopotamië aan hierdie praktyk bekendgestel is en nog steeds net so kompleks soos hul menslike susters afkomstig van Venus is (in teenstelling met die boeties van Mars wat natuurlik oor hul eie geite beskik).

Hoekom beland donkies in donkiehawes of toevlugsoorde?
Donkies wat te oud geword het om vir hul eienaars te werk, kan gelukkig genoeg rede wees vir hulle om by ‘n donkiehawe afgeteken te word. Gekonfiskeerde donkies (weens verwaarlosing of mishandeling) kan ook ingeneem word eerder as om op veiling te gaan. Selfs troeteldonkies of donkies in “petting zoos” word dikwels mishandel as gevolg van verkeerde voeding en onkunde oor behoorlike sorg vir hul hoewe of tande en hulle raak ook eensaam of verveeld. Donkies behoort dikwels aan arm mense en die diere ly dan weens die gebrek aan hulpbronne wat goeie sorg verseker: goeie voer, gesondheidsorg, skuiling, veilige omgewings en rusdae. Soms word hulle te jonk ingespan en dit voor swak geboude donkiekarre. Daar is ook ’n gebrek aan veeartse. Dan is daar klimaatverwante uitdagings, soos droogte, vloede en aanvalle deur roofdiere in diep landelike gebiede. Of onmenslike praktyke soos om hulle te brandmerk om eienaarskap te bewys. Gebrek aan veeartsenykundige kastrasie van hingste lei tot bakleiery, onbeheersde teling en oorteling van vroulike diere (jennies). Daar is ook die algemene oortuiging dat donkies nie pyn voel of emosies het nie, dat hulle lui, dom of koppig is. Wanneer die diere aan mense behoort wie se lewens deur stres, swaarkry en selfs wreedheid omring is, sal die donkies ook dikwels daarvoor boet.

“Neem koeie se kalwers weg, melk hulle twee keer per dag en hulle gee melk vir ʼn lang tyd. In die geval van donkiemerries verander die spelreëls heeltemal. Donkiemerries skei oksitosien (ʼn hormoon benodig vir sosiale verbinding, voortplanting en bevalling) af en hulle produseer die hormoon net as hulle die babas naby hulle het. Alhoewel ons die kleintjies tydens die melkproses van die moeders af weghou, is dit baie belangrik dat hulle mekaar kan sien. Die vullens keer dan saans terug na die merries.”

Soos in die geval van hulle rundersusters, weerhou die donkiemerrie haar melk indien sy stres of nie die melker vertrou nie.

Die melk bevat minerale en spoorelemente wat die vel help om te herstel en te vernuwe.

BIETJIE VIR BIETJIE

Gedurende hul melksiklus word die merrie elke twee uur gemelk. Die rede hiervoor is dat donkiemerries, anders as die melkkoei, nie oor ʼn reservoir in hul uier beskik nie en baie ongemaklik word namate die uier vul.

“In vergelyking met ʼn goeie melkkoei wat tot 40 liter melk melk per dag kan lewer, gee ʼn donkiemerrie beswaarlik 500 milliliter. En dit is op ʼn besonder goeie dag.”

Die melk beskik oor natuurlike antihistamien en anti-inflammatoriese eienskappe wat as teenvoeter vir allergieë dien en wat ook immuniteit teen asma en ekseem verhoog.

En wat van die vullens? Hulle drink gedurende die nag. “Verstaan asseblief een ding baie goed.

Ons melk eers die merrie nadat die vullens ouer as twee maande is en hulle reeds begin wei het.”

The Donkey Dairy spog met 140 merries. Maak die som en die melkery produseer ʼn skamele 70 liter per dag. “As jy daaraan dink, is hierdie hele besigheid eintlik malligheid,” knipoog Jesse.

En vier teelhingste. Maak eweneens hierdie som en jy besef die manne is besig.

Hierdie blouoog gevlekte donkie klink amper – net amper – soos Ol’ Blue Eyes wanneer sy balk.

BLOUOOGDIERE

Gepraat van teel. Jesse hou sy oog op rare genetika om sy merries se melkproduksie te verhoog.

“Dan is daar in Suid-Afrika ook ʼn rare genetiese omsetting (nêrens anders in die wêreld te vinde nie). En dit is die blouoog gevlekte donkie. Ons het ons s’n gekoop by iemand wat geglo het die donkie is eintlik ʼn muil. Sy naam is Kosie omdat hy appelkooskleurig is.”

“Verstaan asseblief een ding baie goed. Ons melk eers die merrie nadat die vullens ouer as twee maande is en hulle reeds begin wei het.”

Die melk wat The Donkey Dairy vir velprodukte gebruik, word koud verwerk en is vry van enige bederfwerende middels (behalwe vir pomelo-saadekstrak), tesame met natuurlike olies, byewas, komkommer- en rooibos-uittreksels.

Velprodukte geskik vir Kleopatra.

“Aangesien ons nie die melk pasteuriseer nie en die inhoud van die rome natuurlik is, beskik ons produkte oor ʼn raklewe van slegs ses maande.”

Donkiemelk bevat essensiële vetsure wat ʼn reusagtige bydrae tot die teenverouderingsproses lewer.

Hierdie is uiteraard ʼn harde werklikheid vir Jesse, maar tot die verbruiker se voordeel. Daar word nie chemies met die produkte getorring nie en daarom verloor hulle geen van die helende en teenverouderingseienskappe nie.

Wat is die post-COVID situasie?
Volgens Annemarie van Zijl van Eseltjiesrus-donkiehawe en Donkeys for Africa, is die handel in velle wisselvallig. Geregistreerde donkie-abattoirs maak in verwarrende volgorde oop en toe. Regerings reageer op donkie-eienaars en aktivisgroepe se versoeke om die handel in ‘n land te verbied, en maande later word die verbod in reaksie op druk van die handelaars en abattoir-operateurs, omgekeer. Daar is nie vars statistieke oor die smokkelhandel nie. Die velhandel in Suid-Afrika het grootliks afgeneem of dit word ondergronds bedryf. Daar is steeds berigte van trokvragte donkies wat na buurlande soos Lesotho vervoer word. Hulle word soms deur DBVs of die polisie gestop vir inspeksie en die diere word dan gekonfiskeer indien papierwerk of welsyn onvoldoende is.

’N BAD VOL MELK

Kleopatra was alomberoemd (of berug) vir haar verhoudings met Julius Caesar en Mark Anthony – op grond daarvan word sy die prototipe van die romantiese femme fatale. Om haar jeugdigheid en haar weergalose skoonheid te behou om sodoende haar Romeinse minnaars se hartsnare te tokkel, het sy kwansuis elke dag in ongeveer 125 liter donkiemelk gebad.

Jy hoef natuurlik nie tot sulke uiterstes te gaan nie. Wend eerder The Donkey Dairy se velprodukte aan en laat jou onweerstaanbare innerlike Kleopatra ontluik.

Besoek The Donkey Dairy se webtuiste of, selfs beter, gooi ʼn draai op die plaas vir versnaperings en leef jouself uit in ʼn wêreld tot oorlopens toe vol inspirasie en heilsaamheid, so tussen die esels.

Hoekom het China nie hulle eie donkies nie?
China se donkies is op! En om met donkies te teel is nie ‘n winsgewende opsie om aan die aanvraag te voldoen nie, want donkies is nie geweldig vrugbaar nie en hulle is vir langer as ’n jaar dragtig.


EIENAAR: Jesse Christelis NAAM: The Donkey Dairy AREA: Tussen Johannesburg en Rustenburg www.thedonkeydairy.com

1 Comment

  1. Baie interessant . . . gerusstellend dat daar mense is wat donkies met mededoë behandel. Hoeko is die naam van doe plek Engels?

Leave a Reply

Your email address will not be published.