farmers, Sustainability
Leave a comment

Die pad na sukses: Twee wenboere se reis na erkenning en uitnemendheid

Om as Suid-Afrika se graanboer van die jaar aangewys te word, is geen geringe prestasie nie. Hierdie toekenning word al die afgelope 22 jaar aan die land se voorste graanboer toegeken uit erkenning vir die bydrae wat hy, of sy, gemaak het om die plaaslike graanbedryf uit te bou. Die toekening word gegee aan die graanprodusent wat die doeltreffendste boerderypraktyke toepas, maar wat ook buite die landbou presteer.

Pieter de Jager van Albertinia in die Wes-Kaap is bekroon as Graan SA se Graanprodusent van die Jaar vir 2023. De Jager, op linkerkant, en sy vrou, Marié, het die toekenning ontvang van Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, en Christian Giesel, bemarkingshoof by Syngenta, Suid-Afrika. (Foto: Susan Marais)

Die graanboer van die jaar word ook as rolmodel beskou om winsgewende en volhoubare graanproduksie te bevorder. Die kompetisie word deur Graan SA en Syngenta aangebied.
Ons het met vanjaar se wenner, Pieter de Jager wat boer in die Albertinia-distrik, en die naaswenner, Andries Els van Bothaville oor die toekenning en hul rolle in die graanbedryf gesels.

PIETER DE JAGER

Pieter boer al die afgelope 20 jaar op die familieplaas Wiehmansfontein naby Albertinia in die Suid-Kaap en sy boerderypraktyk van minimum- of geen bewerking nie het ‘n eens sukkelende saaiplaas in ‘n winsgewende besigheid verander.
“My pa het ‘n klein melkery bedryf en ook met skape en vleisbeeste geboer voordat hy in 1981 sy eerste stukkie saaigrond aangeskaf het,“vertel die oudleerder van die Hoër Landbouskool Oakdale
wat na skool landboubestuur aan die Saasveld-kampus van die PE Technikon op George gestudeer het waar hy sy BTech en M-graad verwerf het. My kop het in ‘n navorsingsrigting gedruk en vir my nagraadse kwalifikasie het ek kommersiële kwartelboerdery ondersoek,“ vertel hy.

Pieter sê hy het nog altyd ‘n passie vir boerdery gehad, maar meer vir die bewaring van die grond en die wisselwerking tussen plante en diere in die natuur. Dit is hier waar sy liefde vir die landbou in werklikheid begin het.

Vandag is hy een van die suksesvolste graanboere in die land, inderwaarheid die top-verbouer van graan in Suid-Afrika, nadat hy die SA Graanboer van die jaar titel van GraanSA toegeken is.
“Ek glo dit is my boerderypraktyke wat daartoe bygedra het dat hierdie titel aan my toeken is, maar dit verg harde werk en toewyding in ‘n bedryf wat nie aldag maklik is nie. Die belangrikste eienskappe van ‘n suksesvolle graanboer is na my mening dat jy nie ander blindelings moet volg nie en jy moet jou plaas volgens die grond wat jy beskikbaar het bestuur. Elke stukkie grond het sy eie eienskappe en dit help nie jy kyk oor die draad na wat jou buurman doen nie. Jy moet vir jou eie grond sorg en die behoeftes wat daaruit spruit, kan aanspreek. Wat vir hom werk, werk nie noodwendig vir jou nie.“

“Dit help nie jou chemiese verteenwoordiger sê jy moet ‘n sekere produk spuit of toedien, en as dit nie werk nie wil jy vir hom die skuld gee. Die hele boerdery is jou verantwoordelikheid en jou moet in staat wees om dit in totaliteit te bestuur.”

Pieter glo dat ‘n produsent hom so moet bekwaam dat dat hy self sy besluite kan neem sodat hy self daarvoor verantwoordelikheid kan ervaar. “Dit help nie jou chemiese verteenwoordiger sê jy moet ‘n sekere produk spuit of toedien, en as dit nie werk nie wil jy vir hom die skuld gee. Die hele boerdery is jou verantwoordelikheid en jou moet in staat wees om dit in totaliteit te bestuur.

Toe sy pa met die saaiplaas begin het, was dit maar ‘n klein eenheid en hy het dit oorweeg om in die sekondêre landbou te gaan werk. Sy pa het vir hom gesê as hy nie gaan plaas toe kom nie, gaan hy die plaas nie uitbrei nie. Dit het hom finaal oorreed om wel te kom boer, want dit is wat hy in elk geval eendag wou doen. Vandag saai hulle 3000 ha met hoofsaaklik koring en canola en in ‘n mindere mate ook met gars, lupine en radyse. Hiervan maak koring 55% van die totaal uit en canola 45%. Hulle fokus sterk op ‘n wisselboustelsel tussen grasgewasse en breëblaarplante en wissel koring met canola af of koring met lupine om die siektesiklusse in die grond te breek.
“Al is ons winsgwendheid van canola bietjie minder as met koring, beteken dit nie jy kan net koring plant nie. Jy moet dit afwissel en opweeg van koring na canola of van koring na koring. Eersgenoemde lewer gewoonlik ‘n 15% – 20% hoër opbrengs.“ reken Pieter Sy broer was toe reeds ‘n paar jaar op die plaas en hul grootste boerderyvertakkings was skape en volstruise.
In 2005 het hulle meer begin plant en probeer om ‘n meer winsgewende en produktiewe manier te vind om te saai. Hy het toe al ‘n groot belangstelling gehad in geenbewerking en het by die bure, wat dit toe reeds toegepas het, en verder self geleer van hierdie wyse van grondbestuur. Hulle het mettertyd nog grond bygekry en omdat hul implemente nie in ‘n goeie toestand was nie, van die beste geenbewerkingsplanters en ander masjinerie begin aanskaf.

Pieter pas nou die beginsel van geen- of minimumbewerking op sy grond met groot sukses toe. Hulle ploeg glad nie die grond om of grop dit nie en saai jaarliks bloot die gewasse met spesiale planters. So versteur hulle nie die grondstruktuur te veel nie en die manier van bewerking help ook dat so min as moontlik grondvog verlore gaan.

Oor die belangrikheid van graanboere vir die SA-landbou en -ekonomie voel Pieter baie sterk. “Graanboere speel ‘n belangrik rol in beide omdat dit ‘n kommoditeitsproduk is wat ‘n groot bydrae lewer tot voedselsekerheid en die basis vormvan baie stapeldiete. Om dit volhoubaar en winsgewend te kan verbou, is die uitdagings waarmee ons sit.“

Vir Pieter om volhoubaar te kan boer, is sy beginsels van minimumbewerking die enigste manier. “Dit is al hoe ons die grond kan bewaar en volhoubaar kan boer in toekoms. In die laat 90’s en vroeë 2000s is hier geen graan meer in ons area geplant nie. Die grondstruktuur was vernietig weens oorbewerking van vorige jare en sedert die nuwe praktyke toegepas word, het die graanboerdery weer steselmatig aan die gang gekom. Met die regte masjinerie wat beskikbaar is, is dit maklik om die praktye toe te pas.

“Die groot voordeel van minimumbewerking is dat jy steeds in ‘n swak jaar ‘n oes kan maak, alhoewel jy nie in ‘n uiters goeie jaar soveel beter opbrengs kry nie, maar jy sal in die swak jaar steeds ’n redelik oes kan maak om jou direkte koste te dek.

“Hiervoor is deeglike beplanning van kardinale belang aangesien jy vir ‘n jaar vooruit moet beplan en begroot, maar jy weet nie wat tussenin wag nie. Dis hoekom ons nie na die eerste reën in April plant nie, maar wel op ‘n datum wat ons bepaal. Dan hoop en bid ons maar die reën kom.

Hy glo kompetisies soos dié van GraanSA is van kritiese belang.

“Maar winsgewendheid, met ‘n sterk fokus op bewaringslandbou en volhoubaarhied, is van die allergrootste belang. Alle besluite besluite wat gemaak word moet wees sodat jy oor 10 of 20 jaar of jou nageslag oor 50 jaar, nog sal kan boer. Jy moet probeer om jou hulpbronne, jou grond, te bewaar deur nie die struktuur te vernietig nie en dit gesond hou deur die mikrolewe aan die gang te hou. Dit is ‘n langtermynproses, maar jy kan dit in een jaar vernietig. Dan vat dit jare om te herstel. As jy daarop fokus haal jy baie risiko uit die boerdery en kan jy in swak jare steeds goeie oeste maak. Onsprobeer om die grond saam met die natuur te boer deur die grond se oorspronklike toestand terug te kry en nie te vernietig nie,“ meen Pieter.

Hy glo kompetisies soos dié van GraanSA is van kritiese belang. “Dit ontbloot jou boerdery en jy word gedwing om met ander oë na jou besigheid te kyk en dit te herontleed. Jy sien die sterk- en swakpunte van die boerdery en waar jy kan verbeter. Ons kan vir ander produsente wys wat ons dalk reg doen en hulle swakpunte identifiseer en uitwys sodat hulle ook kan verbeter. Dit is in ‘n sekere sin ook ’n klop op die skouer om te sê jy is op regte pad en dien as voorbeeld van hoe dit gedoen moet word, en nie om te sê jy is beter as ander nie.“

ANDRIES ELS

“Grond is die saaiboer se belangrikste hulpbron en is soos ‘n spens – hoe meer daar in die spens is, hoe beter is die opbrengs. En ek sit elke jaar 20% meer terug in die grond as wat ek uitgehaal het om nie die grond te myn nie, maar dit te beskerm vir die toekoms en die nageslag. Ek pas egter eerder vogbestuur toe as om die grond te laat oorlê. In ‘n moeilike jaar met lae graanpryse en hoë kunsmiskostes kan daar teruggeval word op die spens se reserwes,“ glo Andries Els, graanboer van Bothaville wat vanjaar die naaswenner was in GraanSA se Graanboer van die Jaar-kompetisie.

Andries maak sy gewaskeuse op grond van kultivars wat konstant presteer en ‘n top-opbrengs lewer. Dikwels is dit gesonde plante met ‘n hoë siekteweerstand. Hy doen ook jaarliks proewe op die plaas met verskillende kultivars om te kyk wat die beste daar aard. So soek hulle kultivars
uit wat goed aangepas is in die omgewing en wat stremmings kan hanteer.

“Ek is hoofsaaklik ‘n graanboer en 64% van die gewasse wat ek plant is mielies. Dan volg sojabone wat ongeveer 20% van die plantmateriaal uitmaak en 16% is sonneblomme.

Hy het in 1994 aanvanklik saam met sy pa in die Heilbron- distrik begin boer – iets wat hy as ‘n absolute voorreg beskryf. Na ‘n ietwat moelike begin en enkele uitbreidings later, het die fokus verskuif na die watertafelgronde van Bothaville waar hy sedertdien ‘n suksesvolle graanboerdery gevestig het.

Hy het kort daarna grond naby Bloemhof gekoop en ‘n jaar nadat hy getroud is nog grond om sy saaiboerdery uit te brei. Beter moontlikhede was in die vooruitsig in die watergronde van Bothaville en het hy al sy Heilbron-gronde oor ‘n tydperk van twee jaar van die hand gesit. Hier het die bewerkingspraktyke hemelsbreed van dié op Heilbron verskil en uitdagings aan Andries gestel – iets wat hy as ‘n nuwe geleentheid angegryp het.

Nadat ‘n baie nat seisoen in 2010 die meeste van hul oeste laat versuip het, ‘n groot risiko op die watertafelgronde, het hy besluit om verder te diversifiseer en het hy ‘n varkboerdery oorgeneem. Hy werk ‘n groot deel van sy geelmielies tans weg deur die varkboerdey en bemark self die varke om nog meer selfvoorsienend te kan wees. ‘n Bonsmara-kudde het gevolg en hulle het eers geteel en daarna net dragtige diere ingekoop om die beeste vinniger op kapasiteit te kon kry.

“Maar die saaiery is eintlik in my bloed en jy sal my gewoonlik self op die stroper kry. Buiten dat ek dit geniet, kan ek dan ook sien wat die uitwerking van presisieboerdery is, wat die insette van die arbeiders opgelewer het en wat die werking van die verskillende onkruiddoders is.“

Andries word bygestaan deur sy vrou, Marize, wat na die administrasie van hierdie wyduiteenlopende onderneming omsien. Buiten sy vrou, is daar nog ‘n hele span wat hom in die verskillende vertakkings van die boerdery bystaan. Hy het bestuurders vir sy vark-, bees-, skaap- en wildafdeling met werkers wat in elke afdeling toegedeel is. In totaal is daar 27 permanente werkers en gedurende die piekseisoen stel hy tydelike arbeiders aan soos nodig.

“Ek pas streng wisselbou toe aangesien dit die manier is waarop ek my grond bestuur. Die sojabone sal ek byvoorbeeld na drie jaar met witmielies wissel. Na elke seisoen word grondvogbestuur toegepas en die oorlê van sekere dele van die oplaas word daarvolgens bepaal.

“Een rede vir wisselbou is om gronderosie te voorkom en natuurlik om optimale opbrengste te verseker. Dit help ook met onkruidbeheer. Sojas word elke vier jaar geplant en opgevolg met mielies. Ek wissel ook die gewasse om ‘n sinargistiese werking te verkry en om plantgeproduseerde stikstof te benut.

”Ek het ook baie spesifieke bewerkingsmetodes wat deur die jare ontwikkel is en spesifiek aangepas is vir die grond waarop ons boer. Minimumbewerking is die wagwoord en ek rip ook op die rye teen ‘n diepte wat wissel tussen 600 mm en 900 m. Soms draai ek ook die riprigting met 20° om die grondoppervlak oor tyd heeltemal op te breek en om grondstowwe en mikro-elemente meer gebalanseerd oor die oppervlakte te versprei.“

Weens die druk op die landbou om winsgwend te bly het Andries in 2006 met presisieboerderypraktyke begin. Hiervoor span hy ‘n opbrengsmonitor, grondklassifikasie, presisie- kalktoediening en regstellings vooraf aan sy bemestingskedule in. Oor die 17 jaar wat hy dit toepas het hy uitstekende data opgebou wat hy gebruik om elke grondsone optimaal met die regte voedingstowwe te laat produseer.

“Ek doen ook elke drie jaar deurtastende grondontledings – 1 ha se bogrond en 2 ha se ondergrond – wat dan opgevolg word met die presisietoediening van kalk. Daarna plant ek met ‘n chemiese kunsmismengsel wat die noodsaaklikste mikro- elemente bevat, soos bv boor of sink, wat deur die spesifieke gewasse benodig word. Binne ses weke nadat die plant begin is, dien ek topbemesting toe omdat ek daarin glo dat stikstof in drie verskillende stadiums toegedien moet word. Blaarvoeding doen ons met ‘n hoogloopspuit om regstellings aan die blaarvoeding te maak as sapontledings dit aandui.“

Andries glo in deeglike beplanning, nie net wat die fisiese saaiery betref nie, maar veral ook as dit kom by die finansiële kant van die boerdery.

“Ek het ‘n uitstekende boekhouer wat ook ondervinding as landbou-ekonoom het en ons finansiële resultate vanuit ‘n landbou-ekonomiese konteks kan interpreteer. My boerdery word dan per vertakking ontleed en tendense en gemidddeldes van die afgelope 7 jaar word uitgewys. Deur hom word my resulate jaarliks met dié van ander boere vergelyk. Ons vergelyk dan ook ons boerdery in dieselfde konteks met die groepgemiddeldes, die beste en swakste derde van die studiegroep. Ek weet dus voortduren waar ek ten opsigte van die bedryf staan en kan ek gereelde en berekende besluite neem op grond van die beskikbare inligting.

“Ek behartig ook my eie bemarking en het reeds geruime tyd my eie SAFEX-nommer wat my in staat stel om met makelaars te onderhandel. Bemarking bepaal die inkomste van elke afdeling en as jy dit verkeerd kry, is dit net die persoon in die spieël se skuld,“ verduidelik Andries sy bemarkingsaanslag.

Oor die toekoms van landbou het hy ‘n besonderse siening “Landbougrond word net minder en die bevolking bly groei. Anders as wat baie mense dink dat landbou by die vraag na voedsel moet bly, sien ek dit andersom – dit is juis landbou se vermoë om voortdurend meer produktief te raak, wat die ruimte skep dat die bevolking kan groei en dat ons juis met minder landbougrond toenemend meer mense kan onderhou. Landbou, as voedselverskaffer, trek die toekoms van die mensdom vorentoe. Vandag se landbou is dus in ‘n groot mate reeds die toekoms en nie die verlede nie,“ sê hy.

Leave a Reply

Your email address will not be published.