Dit voel amper asof ‘n mens aan die einde van die pad deur die Koue Bokkeveld kom as jy by Kunje indraai. En inderdaad, dit is hier waar die teerpad deur hierdie streek eindig en ‘n grondpad jou verder na Citrusdal sal neem. Die pad is nou wel effens voosgery ná al die reën, maar dis steeds asemrowend-mooi.
Kunje van Theunis en Leoni Hanekom en hul familie is beslis nie die einde van die pad nie, maar ‘n besige wêreld in die kleine met talle boerdery- aktiwiteite. Dit is sprekend van die innoverende aard van Suid-Afrika se landbouers wat nie net bly by die basiese plant-en-oes-aktiwiteite nie, maar deurgaans innoveer en diversifiseer.
Theunis en sy dogter, Natalie, wag ons in asons op ‘n reënerige dag daar aanklop. In die kantoorblok op die plaas, wat uitkyk oor pakstore en ander buitegeboue, vertel hulle van die lang verbintenis wat hul familie die afgelope 185 jaar met Kunje het en hoe die besigheid deur die jare gegroei het tot ‘n sakeonderneming wat appels, pere, perskes, nektariens en sitrus verbou en verpak, maar wat ook gastehuise in die Skurweberg bedryf, staproetes bestuur en vrugte droog. En hulle vertel van die jongste vertakking: ‘n nuwe afdeling wat gedroogde vrugtelekkers maak.
Die familieplaas het reeds in 1834 Hanekom- eiendom geword en nadat Theunis hom in 1986 by sy pa, Louis, op die plaas aangesluit het, is die onderneming gaandeweg uitgebou en bestaan dit vandag uit drie plase: Kunje, Rotsvas en Buffelshoek.
Kunje van Theunis en Leoni Hanekom en hul familie is beslis nie die einde van die pad nie, maar ‘n besige wêreld in die kleine met talle boerdery- aktiwiteite. Dit is sprekend van die innoverende aard van Suid-Afrika se landbouers wat nie net bly by die basiese plant-en-oes-aktiwiteite nie, maar deurgaans innoveer en diversifiseer.
Theunis en sy dogter, Natalie, wag ons in asons op ‘n reënerige dag daar aanklop. In die kantoorblok op die plaas, wat uitkyk oor pakstore en ander buitegeboue, vertel hulle van die lang verbintenis wat hul familie die afgelope 185 jaar met Kunje het en hoe die besigheid deur die jare gegroei het tot ‘n sakeonderneming wat appels, pere, perskes, nektariens en sitrus verbou en verpak, maar wat ook gastehuise in die Skurweberg bedryf, staproetes bestuur en vrugte droog. En hulle vertel van die jongste vertakking: ‘n nuwe afdeling wat gedroogde vrugtelekkers maak.
Die familieplaas het reeds in 1834 Hanekom- eiendom geword en nadat Theunis hom in 1986 by sy pa, Louis, op die plaas aangesluit het, is die onderneming gaandeweg uitgebou en bestaan dit vandag uit drie plase: Kunje, Rotsvas en Buffelshoek.
Natalie verduidelik hoe die fotostelsel werk en die kleur van die vrugte bepaal word.
“Die Gala-appels het eintlik drie kleurvariasies. As dit byvoorbeeld rooi gekleur is, is dit ‘n Gala, as dit tussen 40% en 80% rooi is, is dit ‘n Royal Gala en meer as 80% rooi maak dit ‘n Royal Beaut. Die pakkers moet dus baie mooi kophou aangesien elke variant in ander kartonne verpak word. Soms staan daar tot ses verskillende houers om hulle en dan moet hulle mooi werk om nie deurmekaar te raak nie. Dit kan ook gebeur dat verskillende vrugte op dieselfde dag gepak word. Vrugte met merkies op moet na ander houers gaan en elke variëteit het sy eie verpakking,” word ons ingelig.
In die twee pakstore klap Lydia Visagie die sweep. Sy sorg dat alles glad verloop in die pakstoor vir appels, sowel asdie afsonderlike en naasliggende een vir perskes,. “Ons het ‘n slag die twee pakstore se personeel omgeruil om te kyk waar die fout is, en dit het gou gewys. Die een span was baie meer produktief as die ander,” vertel sy terwyl haar oë oor die geroesemoes kyk. Sy is al vandat sy haar skoolloopbaan voltooi het op die plaas en sy help ook met toesighouding oor die uitdunspanne en die plasing van werkers waar nodig.
In die perskepakstoor gaan dit ewe bedrywig. Hier word die perskes aanvanklik met die hand gesorteer voordat dit op ‘n vervoerband met bakkies volgens die gewig van elke vrug verdeel word. Soos in die appelstoor beweeg die kartonne waarin die vrugte verpak word, aan hake van die boonste verdieping waar dit aanmekaargesit word, af na die pakkers. Die Kakamasperskes wat tans gepak word, word met die hand gesorteer en Klas 1 word in enkellaaghouers gepak. ‘n Nuwe, eie handelsmerk, Kulani, wat groei beteken, is verlede jaar geregistreer en hul bruin kartonhouers het ‘n sterker Afrika-motief.
Die sitrus-gedeelte is nog aan die gang metdie laaste lemoene wat nou gepak word. Eie handelsname is geskep, terwyl Delecta en DeKeur verantwoordelik is vir die bemarking daarvan. Theunis vertel dat die vrugtepolitiek hulle ook verlede jaar met veral die sitrusproduksie geraakhet toe langer oorstaantye deur die Europese mark vereis is en logistiek by hawens ‘n groot kopseer was. Soos dit maar in die landbougemeenskap gaan, het nood leer bid. Om maksimum opbrengs uit soveel as moontlik vrugte te kry, het die Hanekoms ‘n droogaanleg begin waar alle soorte vrugte wat nie gepak kan word nie, gedroog word. Dit word of as droëvrugte bemark, of verder verwerk tot vrugtelekkers.
“Dit is nog in sy beginstadium, maar ons gedroogde produkte, watas K-Fruit bemark word, is reeds baie gewild. Pere, perskes, appels, en nektariens word eers gedroog en dan verder verwerk vir hierdie nuwe produkreeks. Die vrugtelekkers is baie gesond en vol vesel aangesien ons die hele vrug daarvoor fynmaal – die skil en pitte word alles gebruik. Ons het net baie vrugte hiervoor nodig – een ton nat pere of perskes lewer maar 160 kg droëvrugte, terwyl appels en tamaties byvoorbeeld net 60 kg gedroogte produk per ton lewer. Tesame met die handearbeid, is dit een van die redes hoekom dit so duur is,” vertel Natalie.
Op Kunje word groot klem op die welstand van die personeel gelê. “Suksesvolle boerdery gaan oor die bestuur van mense en stelsels en as jy goed daarna kyk, het jy ‘n wenresep,” glo Leoni.
Daar is 50 permanente en sowat 280 tydelike werkers, afhangend van die seisoen. Daar is ook bestuurders en voormanne vir die verskillende vertakkings. Theunis moes die laaste ruk leer om, soos hy self sê, af te gee met besluitneming wat nou gedeel moet word.
Nog ‘n faset is die bewaarskool vir sowat 45 kinders wat ook ‘n nasorgsentrum insluit. Vier opgeleide onderwysers bied die amptelike kurrikulum aan en kinders kry etes en versnaperinge deur die dag. “Die ouers kan gerus wees dat hul kinders deeglik versorg word terwyl hulle werk,” verduidelik Natalie. Sy vertel ook dat Kunje se atlete van die voorstes in die omgewing is. Hul atletiekspan, mans sowel as dames, vaar elke jaar goed tydens georganiseerde byeenkomste. Die kinders staan ook nie terug nie en die Sneeutrapper-rieldansgroep het al trofeë by ATKV-byeenkomste los gedans.
En asof die boerdery hulle nie besig genoeg hounie, bedryf Kunje se Hanekoms ook nog ‘n paar gastehuise op die plaas. Die een het slaapplek vir 12 mense en dan is daar is daar nog vier kleineres en ‘n meer basiese stappershut. Hierdie selfsorgeenhede is sowat 3 km van die plaaswerf af teen die voetheuwels van die berge wat die plaas omring. Van hier gaan besoekers op verskillende staproetes en gaste kan ribbokke, klipspringers en ‘n verskeidenheid voëls en fynbosspesies van nader beskou. En daar is van die mooiste Boesmantekeninge in die streek te vinde. Die Middeldeurrivier wat oor die plaas loop, is die tuiste van die baie skaars Tweeriviere-rooivlerkie, ’n vis wat op die rooidatalys verskyn. Planne word tans gefinaliseer om ‘n gedeelte van die plaas by die Tweeriviere-natuurreservaat in te skakel.
Daar is ‘n hele paar staproetes om die berge mee te verken en wat na swempoele in die rivier lei, met name soos Geelberg, Klipspringer, Speelgoedland en Sewejaartjie.
“Ek sê altyd vir besoekers hulle moet onthou dat die Weskus se water van hier af kom – dis hoekom dit so koud is,” spot Theunis. Met ‘n aanhaling van sy werkers se gevleuelde woorde, “‘n leë sak kan nie regop staan nie”, nooi Theunis en Leoni ons vir ‘n vinnige middagete in die plaashuis se kombuis. Op-die-Berg-gasvryheid bly maar spesiaal.