Francois Rossouw van Mooigezicht Estates in die Hexriviervallei is pas aangewys as 2025 se Toyota SA/AgriSA Jongboer van die Jaar. Grond tot Mond het met Francois vroeer vanjaar gesels na hy as Agri Wes-Kaap se jongboer van die jaar aangewys is.

Presisieboerdery en bestuur van mense gaan hand aan hand
Francois Rossouw boer saam met sy familie op Mooigezicht Estates in die Hexriviervallei op sowat 400 ha produksiegrond, waar hulle spesialiseer in ’n verskeidenheid tafeldruifkultivars. As jong boer wat verantwoordelik is vir alle fasette van die helfte van hul onderneming se produksiepraktyke, rus daar ’n reuse-verantwoordelikheid op sy skouers.
Van al die tafeldruifproduksiegebiede het ons die langste seisoen in die wêreld.
“Min of meer die helfte van die plaas se aktiwiteite val onder my bestuur – dit sluit aspekte in soos dag-tot-dag take, die bestuur van chemiese programme, spuit- en waterbestuur, begrotingsbeplanning en personeelbestuur, met alles wat daarmee saamgaan. Ek het ook verantwoordelikhede ten opsigte van strategiese beplanning as deel van Mooigezicht se direksie. Ons oorhoofse doelwit is om volhoubaar produkte van die hoogste gehalte teen die winsgewendste pryse aan die mark te lewer,” som hy sy rol op.

Francois vertel dat hy van kleins af ’n liefde vir boerdery ontwikkel het. As boorling van De Doorns het hy sy laerskoolloopbaan daar voltooi en is daarna Hoërskool Stellenbosch toe. Hy het daarna ’n honneursgraad in landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
“In 2018 het ek ’n paar maande gebruik om ’n wyer perspektief op die bedryf te kry – ek het kliënte in China besoek, al die afdelings van ons onderneming deurgegaan, en tyd spandeer by ’n kultivarteler in Kalifornië, waar baie van ons kultivars vandaan kom.”

“Ek het as produksiebestuurder begin. Aanvanklik was dit uitdagend, maar ek het baie geleer deur voltyds betrokke te wees. Dit het my goedgedoen om onder te begin en prakties te verstaan wat elke produksieverantwoordelikheid behels,” sê hy.

Volgens Francois bring ’n familie-onderneming sy eie unieke uitdagings mee, maar dit bied ook wyer toegang tot meer fasette van die boerdery.
“’n Mens moet seker maak jy trap nie op mekaar se tone nie, maar gelukkig is elkeen se rol duidelik uiteengesit. ”
“Deesdae kan jy nie meer produseer as jy minder as 4 000 kartonne per hektaar kry nie.”
“My vrou, Jean-Mari, is ’n arbeidsterapeut en speel ’n belangrike rol in die maatskaplike ontwikkeling van ons werknemers. Sy help met die bestuur van fasiliteite vir voorskoolse kinders, kinder- en tienerklubs, leesgroepies en ’n koffiekroeg vir die werkers, en lewer arbeidsterapiedienste soos nodig.”

Francois beklemtoon die belangrikheid van hul arbeidsmag – veral omdat tafeldruiwe soveel handearbeid vereis. Hy glo dit is een van die mees kritieke aspekte van druiweboerdery, veral gegewe die regulasies, wetgewing en voortdurende opleiding. Volgens hom is mensebestuur noodsaaklik vir sukses.
Vir ’n jongboer soos hy is presisieboerdery onontbeerlik. Hy glo dis die werkswyse van die toekoms – en iets wat reeds vandag toegepas moet word.

“Presisieboerdery is belangrik omdat ons baie intensief boer en ’n komplekse bestuurstelsel gebruik wat talle faktore in ag neem. Ons het baie mense in diens, en as jy besef dat tussen 50 000 en 60 000 trosse druiwe per hektaar tussen vyf en sewe keer deur mensehande hanteer moet word vóór dit geoes word, besef jy dis ’n reuse-taak. Tydsberekening is ongelooflik belangrik.
“Dit is ook voordelig vir die landbou dat ons as jong boere kan deelneem aan sulke kompetisies, wat ons die geleentheid gee om betrokke te raak by georganiseerde landbou.”
“Om produksiepraktyke voortdurend te verbeter, moet ’n mens op hoogte bly van nuwe kultivars, die nuutste en korrekte tegnieke, en seker maak dat dit reg deur die onderneming toegepas word. Dit is van kardinale belang om die gaping tussen kennis en praktyk in presisieboerdery te oorbrug.
“Ons doen dit deur sterk op tegnologie staat te maak. Ons spuitprogramme, waterbestuurstelsels – insluitend toediening en boorgatbestuur – sowel as kunsmistoediening met behulp van GPS-koördinate en chemiese beplanning, word alles digitaal bedryf. Met behulp van hierdie programme monitor ons daagliks al die stelsels en pas dit aan indien nodig.” verduidelik hy.

’n Verdere belangrike aspek wat hulle in ag neem, is die vraag van die markte en die tydige lewering van produkte van hoogstaande gehalte aan die onderskeie afsetpunte wêreldwyd.
“Daarmee saam moet ons verseker dat die regte tipe hier geplant word. Ons grootste kultivar is Crimson Seedless, ons brood-en-botter-kultivar, maar nuwe kultivars soos Sweet Globe, Autumn Crisp, die Sugra-reeks en ARD35 is van die nuwes wat ons aangeplant het. Kultivarkeuse is belangrik vir risikoverspreiding en om so lank moontlik marktoegang te behou. Van al die tafeldruifproduksiegebiede het ons die langste seisoen in die wêreld: ons begin reeds in week 50 pak en gaan aan tot in week 16 of 17.”

“Die verskeidenheid kultivars stel ons in staat om verskillende markte te bedien en beperk ook die invloed van wisselende klimaatsomstandighede. Kultivarvernuwing is ’n konstante proses en dit hang af van hoe die kultivar presteer. Maar ongeag hoe goed ’n kultivar is, moet dit winsgewend wees – en deesdae kan jy nie meer produseer as jy minder as 4 000 kartonne per hektaar kry nie.”
Met jong boere soos Francois Rossouw wat betrokke is by landbou, en meer spesifiek die tafeldruifbedryf, is dit duidelik dat moderne benaderings tot volhoubare en winsgewende produksiepraktyke toegepas word.
“Dit is ook voordelig vir die landbou dat ons as jong boere kan deelneem aan sulke kompetisies, wat ons die geleentheid gee om betrokke te raak by georganiseerde landbou. Die oordrag van kennis en vaardighede na ander produsente binne georganiseerde landbou, en veral na die volgende geslag, is van kardinale belang. Só kan ons help om ’n groeiende en vooruitstrewende bedryf te bou wat wêreldwyd die pas kan aangee,” sluit hy af.

