Dit was vanjaar die vyfde agtereenvolgende jaar waarin die Karoo Winter Wolfees aangebied is, en OVK is reeds al vyf jaar by die fees betrokke. Die afgelope vier jaar bied OVK, as deel van die fees, ook die OVK-galafunksie aan. Hierdie funksie dien as die opening van die fees, maar is ook ’n glansryke viering waartydens die wenners aangewys en pryse vir drie jaarlikse kompetisies oorhandig word.

Die drie kompetisies is die Beste Enkelwolbaalkompetisie, gemik op wolprodusente; die Wolinnovasiekompetisie, gemik op die algemene publiek; en die Skolekunskompetisie, gemik op leerders. Die afgelope twee jaar is die galafunksie by Rusoord gehou, ’n skaapplaas net buite Middelburg wat aan Jannie en Marlize Moolman behoort. Rusoord se onthaalfasiliteit bied ’n unieke atmosfeer vir die galafunksie en is self diep verweef met wolgeskiedenis en -tradisie. Dit is vir ons by OVK lekker om te sien hoe die verskillende rolspelers in die bedryf, asook die algemene publiek, die fees geniet en hoe dit jaarliks groei en ontwikkel. Dit is ’n unieke geleentheid op die jaarlikse feeskalender wat aan die publiek iets anders as die gewone stalletjies en vermaak bied. Dit is vir ons ’n groot voorreg om die wenners en finaliste van die verskillende 2026-kompetisies met hul prestasies geluk te wens:

OVK WOLINNOVASIEKOMPETISIE
- 1ste plek: Talitha Potgieter – R20 000
- 2de plek: Oreneilwe Nancy Murwa – R10 000
- 3de plek: Rika van Rooyen – R5 000
OVK BESTE ENKELWOLBAALKOMPETISIE
- 1ste plek: DL Conroy Testamentary Trust (Mon Desir) – Anamarie Conroy – R25 000
- 2de plek: Anker Karoo (Plaatfontein) – Jozua Theron – R15 000
- 3de plek: Fonteinskloof Trust (Fonteinskloof) – Ian le Roux – R10 000
SANTAM OVK SKOLE-WOLKUNSKOMPETISIE
- 1ste plek: Kirsten Southey (Karoo Tuisskool Middelburg) – R10 000
- 2de plek: Hansen Viljoen (Karoo Tuisskool Middelburg) – R5 000
- 3de plek: Karla Potgieter (Hoër Volkskool, Graaff-Reinet) – R2 500

Dit is ook opvallend dat sommige deelnemers die afgelope paar jaar meer as een keer onder die top drie geëindig het. By die enkel- wolbaalkompetisie sowel as die innovasiekompetisie word die be- oordeling anoniem deur onafhanklike beoordelaars gedoen. Hulle ken dus nie die identiteit van die persoon agter enige spesifieke inskrywing nie.
Anker Karoo het reeds drie keer onder die top drie van die enkelwolbaalkompetisie geëindig, terwyl Fonteinskloof dié prestasie twee keer behaal het. By die innovasiekompetisie het Talitha Potgieter en Rika van Rooyen albei reeds twee keer op die podium verskyn. Dit is besondere prestasies waarop hulle almal trots kan wees!

