writer: Hein Eksteen
Vra enige landbouprodusent, en dié is van mening: gemengde boerdery. Gaan die appels onderdeur, sleep die pere die wa deur die drif. Só ook met storieboerdery. Daarom skryf ek televisiereekse (van Die Swart Kat gedurende die 1980’s tot Die Byl 2, mees onlangs), koerant- en tydskrifartikels en gee ek wêreldwyd klas in Engels, ingeval beide die appels én pere onder die bus beland.

“Hein-san, ohayogozaimasu,” sê my baas by die Sendai English Centre in Japan een bedompige, uitmergelende someroggend (my innige simpatie aan die Bokke), terwyl ek probeer uitwerk hoe om my jaarlikse driemalige vier dae lange vakansie ten beste in te span. (Dit is hoe die arbeidsmag in die land van die opkomende son se vakansies werk – daar’s g’n vier weke se lê langs die see nie, en dit is hoekom hierdie arme siele oor die vermoë beskik om soos vetgesmeerdes uit toerbusse te spring en selfies voor die Eiffel-toring te neem, net om ’n klompie ure later dieselfde voor die Brandenburg-hek in Berlyn te doen, en kort daarna weer voor Big Ben.)
“Good morning to you, too, Mister Yuki.”
“I have a very, very special class for you today!”
Om onverklaarbare redes kry ek al die baie spesiale klasse. Soos Tai en Mika Yamaguchi, die plaaslike yakuza- (Mafia-) godfather se spruite. Vorder hulle nie na wense nie, is ’n kop-aan-kop botsing met ’n bofbalkolf moontlik jou voorland. Om nie te praat van die drie aanvallige baishunpu (prostitute) wat die Queen se taal wou bemeester om hul horisonne te verbreed nie.
Nietemin.
Ek stap die baie spesiale klas binne en loop my vas teen agt tieners met elke denkbare haarkleur-skakering en Gotiese styl. Draak-tatoeëermerke waar jy kyk. Ringe reg rondom die oorskulpe komplimenteer dié in die neuse.
Hierdie berugte gebroedsel staan bekend as chimpira en dit is juis húlle wat namens die yakuza bofbalkolf-behandeling op weerloses, soos ek, toedien. Yuki-san verduidelik dat hierdie sonderlinge klasgenote afkomstig is van ’n verbeteringskool. En hulle is nie juis gewillig nie.
“How are you all?” skop ek af.
Die ringkop praat namens die ander en die antwoord kom daarop neer dat ek liefs voortplanting op myself toepas. Yuki-san word rooi om die kiewe.
Ek slaan my oë op na die berge. En die orakel stuur die lig. Praat hul eie taal. Ek spring op, gryp die bordkryt en ons verbuig die vierletter weergawe van ‘voortplanting’ in Engels. I am ****, I want to ****, I have ****, ensovoorts. Yuki-san vlug. Die mannetjies se entoesiasme neem eksponensieel toe en ons verbuig en verbrokkel vele ander kragwoorde wat liefs suid van die ewenaar gelaat word.
Ná die klas stap ek en die span deur die algemene kantoor. Die Japanese personeel staan opsy. Almal is bang vir die chimpira. Yuki-san konfronteer my oor die inhoud van die les. Ek verduidelik: hierdie meneertjies se roeping is die yakuza en geweld en misdaad. Hulle gaan geen baat vind by Shakespeare se sonnette nie. Ek leer aan hulle die soort business English wat van toepassing is.
Gedurende die daaropvolgende weke leer ek hulle boonop touch rugby speel, met dien verstande dat hulle uitsluitlik in properse Ingels op mekaar mag swets.
Die toekomstige booswigte word weer seuns wat gapings soos ’n wafferse Cheslin Kolbe vat, stoomrollers uit dieselfde kleedjie as Pieter-Steph du Toit gesny en hulle lag met die uitbundigheid van Herschel Jantjies nadat dié sy tweede drie in sy eerste toets gedruk het. Onskuldige kinders wat baljaar en liefde gee en ontvang.
Later daardie jaar kom my ma kuier en ons gaan eet een aand in ’n restaurant. Skielik word dit stil. Eters vlug. Ek kyk om. My chimpira-kroos kom sit by ons om Hein-sensei se haha (moeder) te ontmoet. Eerbiedig en nederig.
Plotseling onthou ek iets wat my ma jare gelede vir my gesê het: “As tiener was jy soos ’n wilde perd wat tussen twee rye doringdraad wou weghardloop. Ál wat ek kon doen, was om jou van die drade af weg te hou.”
Die wysheid van ’n moeder en die dinge van ’n kind.
Hein Eksteen is ’n storietrekboer wat saam met Ben Rumson (Lee Marvin in Paint Your Wagon) glo: ‘I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back.’ Die Wes-Kaap is sy herkoms. Suider-Afrika sy herwaarts en derwaarts.