writer: Hein Eksteen
Straks het dié ding begin met my ouma se mense doer ver in die Hantam waarheen my ma my kleintyd tydens skoolvakansies gestuur het om weg te kom van al wat ʼn stadseuwel was – alhoewel my kleintyd uitgespeel het voor cholesterol en, volgens Koos Kombuis, jy nog ʼn her vir jou AIDS-toets kon kry.
Oom Daantjie het ons altyd by die laaste plaashek ingewag. Lank en seningrig met hande soos doringdraad en oë sag en blou soos die uitspansel. Skaap- en koringboer (dis in die dae toe die Hantam nog saaiwêreld was). En die enigste een wat nie gelag het die dag toe ek my eerste spreeu tussen die dadelbome met die windbuks doodgeskiet het en langs die voël se graffie gehuil het nie.
Saans het ons teen Oom Daantjie se bene geleun, elkeen met ʼn beker warm bokmelk in die hand, en een van ons sou vra: “Oom Daantjie, sny vir ons ʼn stukkie.” Dan het hy vertel van die tyd toe hy en ʼn plaaswerker omtrent 200 donkies vanuit die Sandveld te voet Upington toe moes aanjaag.

Teen die tyd dat hulle die eindbestemming bereik het, was ʼn kwart van die diere reeds hopeloos verlore, maar hy het altyd gelag: “Julle moes die Upingtoners se gesigte gesien het toe ons met die orige 150 donkies deur die hoofstraat trek! Jy moes jou trap ken oor al die valstande in die pad soos wat hulle se bekke oopgehang het!”
Tydens my tienerjare het ek die stadseuwels bo dooie voëls en donkiestories verkies en vir meer as ʼn dekade nie weer vir Oom Daantjie gesien nie. Toe hoor ek hy lê in die hospitaal en gaan loer in. Vir ʼn laaste snysel. Helaas, Oom Daantjie se oë was op die televisiestel genael. Niks wat ek gesê het kon hom roer nie. Amper asof die sepie waaraan hy geketting was die laaste stories uit hom slag.
Maar een ding het ek later besef: boere het altyd stories, en soms is hulle selfs storieboere.
Haak ek een middag vas op ene Jan se plaas iewers in die Boesmanland en soos dit eenmaal met boeregasvryheid gaan, nooi hy my om oor te bly. Vroegaand stap ons na sy braaiskerm omtrent 50 meter van die opstal af. Jan, ek, ʼn skaaphond en Jan se aanvallige dogter. Sy dra ʼn koelboks gelaai met vloeibare proviant. Ek het nog aangebied om te help, maar Jan grom onderlangs en ek het aanvaar elkeen op die plaas het sy pligte. Die dogter skink vir ons elkeen ʼn sopie, nogal met ys uit ʼn piouterbak, en sit af terug huis toe.
Die skaaphond lê luilekker amper teen die vuur en toe die voorkole reg is, fluit Jan. Die hond roer nie, maar Vroulief kom aangedraf met roosterkoek. En is weer weg. Kort daarna fluit Jan weer. Dogter is op haar pos en skink stewige knert-se. Met die kole wat soos duiwelsoë gloei en die skaaphond wat snork, fluit Jan weer en Vroulief kom pak die vleis op die rooster. Ek wil nog help, maar Jan kyk my terug in my draadstoel met oë wat flits: Ken jou plek. Later fluit-fluit hy, en Vroulief en Dogter kom haal die spyse en drank. So met opstaan (die skaaphond staan uiteindelik óók op), vra ek vir Jan: “Is die hond fluitgeleerd?” Hy gluur my met onverdunde afgryse aan en grom: “Wat bedoel jy fluitgeleerd? Hierdie hond is soos ʼn mens. Ek praat met hom!”
Ek is seker Jan het op sy beurt ook die onverdunde afgryse in my blik bespeur en slinks geglimlag en gesê: “Nee man, ek het ʼn rug aan my en die walkie-talkie is deur die Jordaan en die meisies is al so gatvol vir op die maat van die oefenvideo in die voorhuis bokspring dat hulle nou allerhande soort oefening soek. Selfs skaap aanjaag. Die probleem is: hoe fatsoenliker hulle twee boude word, hoe maerder word die skaap van al die êroubieks.”
Ek ry die volgende oggend met ʼn swaar Boesmanlandse dopkop, maar my storiespens loop oor en die grondpad Pofadder toe lê vislynreguit met ʼn hoek aan die anderkant waar ek seker is nog boerestories my sluik lê en inwag.
Hein Eksteen is ’n storietrekboer wat saam met Ben Rumson (Lee Marvin in Paint Your Wagon) glo: ‘I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back.’ Die Wes-Kaap is sy herkoms. Suider-Afrika sy herwaarts en derwaarts.