Travel Snaps
Leave a comment

Vertrek ter wille van vertrek

writer: Hein Eksteen

Alle mense se eerste reis geskied teen hul wil. Eers dryf jy sorgeloos in die gerieflikheidspoel van die baarmoeder. Terstond word jy deur magte buite jou beheer gat-oor-kop gedraai. Niemand bespreek die aangeleentheid vooraf met jou nie. En daar gaan jy. Ironies is een van die eerste lesse wat die huigelende wêreld jou vervolgens gaan leer: Jy het keuses. Mag ek verwys na die eerste sogenaamde keuse wat ek nie gehad het nie?

Die Franse filosoof Charles Baudelaire het gesê: Die ware reisiger vertrek ter wille van vertrek. Met ander woorde, jy vertrek nie omdat jy by ’n gewenste bestemming wil uitkom nie. Jy vertrek bloot omdat jy nie meer wil wees waar jy jou tans bevind nie. Straks het die geboorteproses gelei tot Beaudelaire se leerstelling: Toe ek in die baarmoeder wou bly, het die natuur my daaruit verwilder. Nou sal ek nêrens bly nie. Ek vort ter wille van om te vort. Hierdie spesie is natuurlik diegene, soos die uwe, wat aan terminale gatjeuk ly.

En gatjeuk lei ongetwyfeld tot asembenemende lief en versmorende leed. Soos Robert W. Service dit verwoord: There’s a race of men that don’t fit in … So they break the hearts of kith and kin and roam the world at their own free will … Theirs is the curse of the gypsy blood, and they were never meant to win.

Benewens uitmergelende brandstof- en verblyfkoste betaal die permanente reisiger ’n bykans onbekostigbare premie aan kwynende vriendskappe en liefdesverhoudings. Die enigste twee goed wat nie verdwyn nie, is jou oortrokke bankbalans en die ge-max-de kredietkaarte.

Maar voor in die wapad brand vele liggies (en dit is nie nadersnellende kopligte van kapers nie). Juwele wat die reisiger verryk. Ek moet egter bieg: ek verkies deesdae groter vleeslike kontant teenoor geestelike kapitaal.

Diamante. Soos toe die trekboere, of te wel die Bosluisbasters (hulle noem hulself met trots só) in 1948 uit Boesmanland na die Richtersveld getrek het en moes toekyk hoe hul vee in die gorrels (die stroke langbeenboesmangras langs die paaie en tussen die plaasomheinings) van honger en dors vrek. Tog vertel tant Kowie in Eksteenfontein: “Met die Here in onse harte en oorle pa se plaks oor onse sterte is ons deur tot in die Beloofde Land.”

Israel Motlhabane, die swart mielieboer tussen Wesselsbron en Makwassie, vertel weer: “Ek is nooit landbouskool toe nie. Waar moes ek geleer het hoe en wanneer ek wat moet doen? Jy moet weet van die reën en hoe en wanneer die lande bewerk moet word. Watter gif gebruik ek vir watter pes? Boerdery is nie net ’n ding van plant saad en oes later nie. Ek leer nog elke dag en daarom is ek opkomend.” En dit, ten spyte van die feit dat hy op kommersiële skaal boer.

Gary Player verduidelik op sy perdeplaas naby Colesberg hoekom die teel van resiesperde só ʼn haglike gedoente is. “You have a reasonable chance that one in a hundred of your foals will become a champion, but you have to feed the other 99 for three years.”

Groblersdal se boere laat weet: “In hierdie kontrei groei alles, maar niks aard hier nie.”

Petrie Nel van Granaatboskolk in die Boesmanland: “Ek hoef nie my skaap tydens droogtes te verminder nie. Hulle vrek sommer vanself.”

Tafeldruiweboere in Upington: “Die dag as jy tafeldruiwe begin plant, vertel jy volstrek nie vir jou vrou of die bankbestuurder nie.” Dis nou oor die dobbelspel en insetkoste daaraan verbonde.

Swepie le Roux, die wynmaker naby De Rust: “Party mense reken rooiwyn gee hulle jig. Ander is weer van mening witwyn veroorsaak sooibrand. En daarom drink hulle nie wyn nie. Bog! Dit is elke mens se plig om aan te hou soek totdat hy ’n wyn vind wat by hom pas!”

Desondanks die digter se mening dat die rondritsende landbouskrywer in die wieg gelê is om te verloor, is my weg kado met storiejuwele bestrooi (en soms ’n skeut mampoer).


Hein Eksteen is ’n storietrekboer wat saam met Ben Rumson (Lee Marvin in Paint Your Wagon) glo: ‘I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back.’ Die Wes-Kaap is sy herkoms. Suider-Afrika sy herwaarts en derwaarts.

Filed under: Travel Snaps

by

Hein is a wandering collector of stories who lives by the words of Lee Marvin in Paint Your Wagon, "I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back." He was born and bred in the Western Cape, but criss-crosses Southern Africa in this quest.

Leave a Reply

Your email address will not be published.