Direct Sales, farmers
Leave a comment

REKO-kringe – ‘n slim kleinhandelkonsep vir kleinboere.


Woorde: Nikki van Coller

Verbeel jou jy wat in ’n groot stad of dorp woon, kan die persoon ontmoet wat jou spinasie kweek, wat omsien na die hoenders wat die eiers lê wat jy soggens eet en die persoon wat die lemoene kweek wat jy Sondae vir sap uitdruk. Dit klink dalk vergesog, maar dit raak ’n wonderlike werklikheid vir baie stadsbewoners in Swede, Finland, dele van die VK en selfs hier in Suid-Afrika.

As jy nog nie van REKO-kringe gehoor het nie, sal jy oor die komende maande al hoe meer daarvan hoor. Die konsep wen oral in Europa veld en daar is nou ook drie REKO-kringe in KZN se Middeland wat tot voordeel van sowel die verbruikers as die boere strek. Die belangstelling neem toe en namate boere, veral kleinboere, soek na nuwe en innoverende maniere om kop bo water te hou, sal dit ongetwyfeld oor die land uitbrei.

Wat is ‘n REKO-kring?

REKO is ʼn afkorting van die Finse term vir “billike handel”. Die konsep is die eerste keer in 2013 deur Thomas Snellman in Finland ontwikkel. Dit het vinnig uitgebrei en tans is daar reeds duisende groepe in Finland, Swede en verskeie dele van die VK gevestig. Dit is hoofsaaklik gegrond op ʼn vooraf-besteldiens wat van Facebook gebruik maak.

Die doel van ʼn REKO-kring is om ʼn direkte verhouding tussen verbruikers en kleinskaalse produsente te skep.

Dit is hoe dit werk: ʼn REKO-kring of groep is ʼn klein groepe kleinskaalse boere of produsente wat aan ʼn geslote Facebookgroep behoort en wat dan verbruikers in die omgewing uitnooi om by hulle aan te sluit. Die produsente maak elke week ʼn plasing op die groep met ʼn lys van die produkte wat hulle te koop aanbied, hoeveel daarvan hulle het en wat dit per eenheid kos. Verbruikers op die blad plaas dan hulle bestellings in die kommentaarafdeling. Wanneer ʼn boer se produkte almal bespreek is, sal hy of sy die plasing opdateer om aan te dui dat die bestellings vir die geleentheid gesluit is.

Die boere en verbruikers ontmoet dan almal op ʼn voorafbepaalde tyd en plek, gewoonlik of een keer per week of al om die ander week. Daar word vir die produkte betaal en dit word huis toe geneem om te geniet. Die ontmoetings duur gewoonlik nie meer as ʼn uur nie. As aangeneem word dat almal wat ʼn bestelling geplaas het, wel opdaag, gaan hoegenaamd niks verlore nie. Omdat ʼn sosialemedia-platform gebruik word, sal diegene wat nie opdaag nie, vinnig uitgeskakel word. In sommige gevalle word betaling vooraf vereis en dit skakel natuurlik alle risiko vir die produsent uit.

Die doel van ʼn REKO-kring is om ʼn direkte verhouding tussen verbruikers en kleinskaalse produsente te skep. Verbruikers verkry toegang tot wat hulle verlang – ʼn voorraad vars, gesonde, plaaslike produkte, en die kleinskaalse boer kan ʼn lewensvatbare onderneming skep en hul etiese produksiewaardes uitleef.

Daar is nie enige aansluitingsgelde nie, geen tussenganger, geen supermark nie – om die waarheid te sê, geen koste hoegenaamd nie, buiten die werklike produk wat gekoop word. Vir die boere is die enigste koste, buiten natuurlik die koste om die produk te produseer, die brandstof wat hulle weekliks of tweeweekliks na en van die vergaderplekke uitry.

Plaaslike REKO-kringe

Tans is daar slegs drie REKO-kringe in Suid-Afrika – almal in KZN se Middeland. Dit beteken die geleentheid is daar vir baie meer om oral oor die land gevestig te word. Die eerste kring is deur Andre en Kaitlynn Kaueraf van die Bramleigh-plaas begin. Hulle het ook ʼn groot aandeel gehad in die twee wat daarna gevolg het.

Andre is heel passievol oor die stelsel en is seker sy plaas sou nie vandag bestaan het as dit nie was vir die geleenthede wat die REKO-kringe bied nie. “Dis ongewoon vir enigiemand om ʼn plaas as aanvangsbesigheid te begin,” sê Andre. “Dit is uiters moeilik om die mark as beginner te betree omdat die voorraad klein en onbestendig is, en dis dus onmoontlik om jou voet in die deur te kry by supermarkkettings”. Hy noem REKO-kringe die kleinskaalse boer se geheime wapen omdat boere so klein as wat hulle wil kan begin en steeds wins kan maak. Dit is ʼn wen-wen-situasie – verbruikers trek voordeel uit die vars produkte teen verminderde pryse omdat daar geen middelman is wat sy deel opeis nie. Produsente trek weer op hulle beurt op verskillende maniere voordeel.

Een daarvan is die afwesigheid van risiko wat ʼn stelsel van voorafbestellings sonder ʼn minimum hoeveelheid produkte bied.

Hoe om ‘n REKO-kring op die been te bring

Indien jy ʼn plaaslike kleinskaalse produsent is wat sou belangstel om ʼn REKO-kring te begin, is die eerste ding wat jy moet doen om met ander produsente in jou area te praat. Die wonder van die stelsel is dat dit nie mededingend is nie, maar eerder samewerkend. Andre voer aan dat enige aantal produsente kan saamwerk en selfs dieselfde produk verkoop. Op hierdie manier sal ander in die behoefte voorsien as jy self nie kan nie. Ideaal gesproke behoort ʼn REKO-kring of groep uit ten minste 12 tot 20 produsente bestaan. Hoe meer produsente daar in die groep is, hoe beter is die verskeidenheid en hoe betroubaarder is die voorraad.

Produsente vul dan ʼn produsentaansoekvorm in waarin die produkte wat hulle te koop aanbied en enige prosesse waardeur hulle produkte gaan, uiteengesit word. Dit help om te verseker dat produsente toegewyd is en daar ʼn rekord van alle aansoekers is. Slegs diegene wat goedgekeur word, sal uitgenooi word om by die geslote Facebookgroep aan te sluit. Wat dan volg, is om die woord te versprei en om plaaslike verbruikers in die area te kry om aan te sluit en bestellings te begin plaas.

Die stelsel is gewortel in vertroue, dus is “geen herverkope” ʼn integrale deel van die riglyne.

Volgens Andre is die moeilikste deel van die hele proses om produsente te laat saamstem oor ʼn dag in die week, ʼn tyd en ʼn plek. Dit werk die beste as ʼn vaste tyd bepaal word sodat dit deel van almal se weeklikse roetine word.

Watter riglyne moet gevolg word?

Soos met alle samewerkende stelsels is daar bepaalde riglyne in plek om te verseker dat alles glad verloop en tot al die betrokkenes se voordeel is.

Geen herverkope nie

Die strengste reël van almal is dat geen herverkope mag plaasvind nie, want dit ondermyn alles. Al die produsente mag slegs verkoop wat hulle self geproduseer het, of dit nou vars vrugte en groente, vars vleis of byprodukte soos byewas, sappe of konfyte is. Deur jou produk direk aan die verbruiker te oorhandig, beteken outomaties dat jy aanspreeklikheid aanvaar. Die stelsel is gewortel in vertroue, dus is “geen herverkope” ʼn integrale deel van die riglyne.

Slegs plaaslik

Elke REKO-kring definieer wat plaaslik vir hulle beteken – dit kan byvoorbeeld binne ʼn radius van 30 km van ʼn bepaalde punt wees. Die idee is dat die boer of die verteenwoordiger van die plaas self die afleweringswerk doen – daar behoort hoegenaamd geen bykomende aflewerings- of afhaalkoste te wees nie en dit sal nie enige sin hê as ʼn verbruiker 5 uur lank moet ry om ʼn bos spinasie van R20 te koop nie. Vir Andre se Bramleigh REKO-kring word plaaslik bepaal deur te vra: “Indien jy slegs een bestelling het, sal jy tevrede wees om die afstand te ry?”

Gebaseer op vrywillige werk

Aangesien dit ʼn vrywillige mark is, kan REKO-kringe aansoek vir reklame-ondersteuning ensovoorts doen omdat dit ʼn organisasie is wat almal bevoordeel. Alternatiewelik kan die produsente almal bydra om ʼn uithangbord op te sit, Facebookreklame of ʼn koerantadvertensie te plaas. Daar behoort ook geen betaling aan enigiemand te wees vir die administrasie van die kring nie – alles berus op vrywillige diens en boere kan beurte maak om aansoekvorms in ontvangs te neem en die Facebookgroep op datum te hou.

Geen gelde nie

Nie die produsent of die verbruiker betaal om aan die groep te behoort nie en daarom sal dit nie werk as ʼn plaaslike entrepreneur so ʼn REKO-groep begin en ʼn maandelikse bedrag van die produsente vra nie. Dit verydel die doel! Die REKO-kring word deur die produsente self bedryf en niemand betaal om aan te sluit nie.

Eenvoud

Die organisasie en administrasie moet eenvoudig gehou word en deur al die lede gedeel word. Die hooftaak is om die Facebookgroep en die aansoekvorm vir produsente te skep. Daarna moet die groep net aan die gang gehou word, wat insluit die aanvaarding van produsentaansoeke, die bestuur van die plasings op Facebook (slegs verkoopsverwante plasings deur goedgekeurde produsente is moontlik). Laastens moet die kommunikasie aan die einde van die tydperk uitgewis word sodat elke produsent nuwe advertensies oor beskikbare produkte vir die volgende tydperk kan plaas. Die skep van ʼn geleentheid wat aan die Facebookblad gekoppel word, help om besonderhede oor afleweringstye en afsetpunte te kommunikeer.

Die talle voordele

Die ooglopendste voordele vir verbruikers is dat hulle vars vrugte en groete uiters naby die oorsprong kan bekom. Hulle weet dan presies waar hulle kos vandaan kom en kry die geleentheid om byvoorbeeld die boer van die hoenders wat hulle eet, te ontmoet. Nie net is dit gesonder en meer eties nie, maar ongetwyfeld ook goedkoper aangesien daar geen toeslag op koste deur enigiemand is nie.

Die voordele vir produsente is velerlei. Omdat dit deur middel van ʼn Facebookgroep gereël word, is daar baie beheer oor wie mag aansluit en wie plasings kan maak. Boere kan al hul wins in hul sak steek en daar is geen administrasie nodig verbonde aan die samevoeging van bestellings wat wel die geval is as houers met items van verskillende produsente saamgestel word. Met REKO is boere verantwoordelik vir hul eie prysvasstelling, aflewering en administrasie. Volgens Andre is die ander groot voordeel dat dit nie saak maak hoe klein die kleinskaalse boere se bedryf is nie, want sodra hulle ʼn produk kan bydra, kan hulle dadelik begin geld maak.

Ons sien uit daarna om te sien hoe hierdie opwindende konsep oor die volgende jaar of twee dwarsdeur die land inslag vind.


Bestaande Reko-kringe in Suid-Afrika:
facebook.com/groups/rekohowick
facebook.com/groups/rekonotties
facebook.com/groups/rekohilton

Filed under: Direct Sales, farmers

by

Nikki is an experienced copywriter with a BA in Communication Science and 20 years’ experience. After spending 10 years at some of Cape Town’s top agencies, she decided to go solo – and she’s never looked back. When she’s not writing articles for magazines or corporate companies, she keeps herself busy with public speaking and writing books for children. She enjoys pottering around in her veggie garden that continues to outgrow its borders, likes to take walks or to spend time with her menagerie of pets.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *