Travel Snaps
Leave a comment

Tot lof van Magenta Stofdonkie

writer: Hein Eksteen

Magenta was nie Hansie Slim se skelm nie. Eerder deeltydse lewensmaat – Hansie het die verhouding as sulks beskou, en nié ter selfverontskuldiging nie (vra enigeen van sy vriende en vyande en hulle sal hom van alle aantygings van owerspel onthef). Magenta was ʼn beminde wat die pad saam met hom in ʼn ewewydige lyn met dié van sy vrou geloop het. En Hansie het oor die seldsame vermoë beskik om onvoorwaardelik lief vir en getrou aan beide bemindes te wees.

Reis saam met Hein Eksteen en sy manier met woorde, op die pad.

Hansie het hierdie seldsame vermoë in die Kalahari by ene Jop Mop aangeleer. Jop het ʼn dorpsvrou gehad en, daar waar sy bokke op die verafgeleë vlaktes gewei het, sy veldvrou. Die twee het van mekaar se bestaan geweet, maar solank elkeen haar plek geken het, het hulle mekaar – en vir Jop – verdra. En Jop het in hierdie tweeledige bestel self as man gedy.

Net só ook Hansie. Saam met sy sogenaamde dorpsvrou het hy sorgvuldig volgens die reëls en verwagtings van die voorstedelike (alhoewel wêreldburgerlike) gelewe. In die geselskap van Magenta kon Hansie ongebreideld uiting aan sy terugkerende dierlikheid gee. Hansie het geleentheid gehad om om die beurt mak en wild te wees.

Hansie, soos alle mense, het die voorskrifte van makheid saam met die melk ingekry. Dit is egter wildheid wat só verleidelik onbekend is. En Magenta was die Vergilius wat hom aan die hand geneem het en gelei het om sy onderdrukte oerinstinkte weer uit te leef.

Waar Hansie en sy dorpsvrou voorbankers was en die liefdeswals stemmig voltrek het, het hy en Magenta op dorre soutpanne, in lower vleie, langs verlate strande en op woestynduine gestroop van alle remming, genotsugtig gedans.

Die konserwatiewe wêreld waarin Hansie grootgeword het, het hom geleer om, onder die juk van makheid, Vooruit te Beplan en Voorsiening vir die Toekoms te maak. Hierdie bestel het hom egter óók touwys probeer maak dat die oorgrote meerderheid van sy landsgenote ten beste die verlore skakels tussen mens en aap was. Dat vroue met heelwat verhoging amper gelyk aan die amoeba gestel kan word. Homoseksuele, liberales en bell bottom-broeke van die Duiwel is, terwyl margarine en verpligte krygsdiens manna uit die hemel was.

Hand aan hand saam met Magenta op ʼn effens breër weg, fluister sy in Hansie se oor: “Maar wat daarvan as die Toekoms nie vir jou Beplan en Voorsiening maak nie?”

Saam het hulle vervolgens die leerstellings van William Least Heat-Moon in sy boek Blue Highways gevolg: “A man who couldn’t make things go right could at least go. . . . Live the real jeopardy of circumstance.”

“A man who couldn’t make things go right could at least go. . . . Live the real jeopardy of circumstance.”

Daar waar hulle hopeloos verdwaal het (egter alles behalwe hopeloos verlore) in die verlate westelike deel van die Kalahari, onder ʼn doringboom met die laaste skeut whiskey langs die vuur gesit het, het Magenta die vreugde verbonde daaraan om nié te weet waar jy is nie, aan Hansie voorgestel. Beide geografies en geestelik.

Soms wanneer Hansie se geloof wankel, wanneer makheid dreig om sy wildheid te versmoor, het Magenta hom aan sy geliefde Obie Oberholzer se woorde herinner: ‘Daar is vryheid in om nie te weet waarheen jy op pad is nie. Ek meen, wat is nóg ʼn honderd kilometer as jy op pad is na Swartwitpensbokfonteinberg?’

Sodra die wilde Hansie aan die makke ʼn strikvraag stel en laasgenoemde moet bieg dat hy nie weet nie, vra die wilde by die wyse, aartswoeste Zorba: “Wat beteken al jou boekkennis en voorstedelike reëls en verwagtings? As hulle nie aan jou die antwoorde gee nie, van watter waarde is hulle dan?” Waarop mak Hansie met behulp van Magenta bely: “My boekkennis vertel my slegs van die lyding van die makkes wat die wildes nie kan peil nie.”

“My boekkennis vertel my slegs van die lyding van die makkes wat die wildes nie kan peil nie.”

Hansie verlang nog gereeld na Magenta. Nee, verlange is terughunkerend en maak haar betekenis in sy lewe tot niet. Magenta het immers die vuur en die ys, die olie en die water waaruit die innerlike lewe bestaan, in Hansie tot eensgesindheid vermeng.

Gister kan ʼn meulsteen om jou nek word. Môre bly onwrikbaar ʼn onbekende landskap.

Maar nou en dan onthou Hansie Slim die dag toe Magenta Stofdonkie se nuwe minnaar haar agterop die motorfietstreiler gelaai het. En dan wonder Hansie waar sy nou is. En of die nuwe eienaar haar bloot as ʼn pendeltuig beskou? Of as die verlosser wat elke vrou in elke man se lewe is?


Filed under: Travel Snaps

by

Hein is a wandering collector of stories who lives by the words of Lee Marvin in Paint Your Wagon, "I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back." He was born and bred in the Western Cape, but criss-crosses Southern Africa in this quest.

Leave a Reply

Your email address will not be published.