farmers, Mega Farmers
Leave a comment

Skatkis Bonsmaras

Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel dei-Cont

Die grondpad van Vryburg na Skatkis Bonsmaras hou vir kilometers langs ʼn baie duursame wildheining aan (dit voel miskien net só). Dan kom jy by seker die netjiesste plaas op aarde aan. En dit is hier waar Chris Visser en Blikkies Venter nóg ʼn gedugte span is. Twee fiks en gesonde manne, duidelik sonder opkikkermiddels.

Chris Visser

Chris: “Dit is net vir my lekker om na ʼn netjiese plek toe te gaan. Hierdie is my happy place.” Chris het op ʼn mielieplaas grootgeword waar daar ook ʼn stukkie beesgrond was. Sy oorlede pa het meer na gewasse geneig. Chris se nering was bees. Ná sy nasionale diensplig studeer hy egter vervoerekonomie.

“Ek wou nog altyd ʼn transportbesigheid gehad het en toe begin ek een in 1993. Daarna koop ek ʼn stukkie grond hier en ʼn stukkie daar. Toe verkoop ek die hele spul en in 2006 begin ek hier waar ons nou sit.”

Terloops, Chris noem sy plaasbestuurder Albertus, terwyl die plaasbestuurder homself as Blikkies voorstel. Maar, soos Shakespeare ons leer: Wat is in ʼn naam?

“Hier in die 1940’s het die regering vir Professor Bonsma gevra om op Mara, die teelstasie in die Soutpansberg, ʼn ras te ontwikkel wat goed in Suid-Afrika sal aard.”

Blikkies is ʼn plaaslike boorling. Ná matriek gaan werk hy op bees- en saaiplase in die VSA en sluit in 2009 by Chris aan.

Chris: “My familie het merendeels met Bonsmaras geboer en op dié manier kom ek indirek reeds vir jare saam met die ras. En dit is ʼn bees wat baie goed by die Suid-Afrikaanse omstandighede aangepas is. Hier in die 1940’s het die regering vir Professor Bonsma gevra om op Mara, die teelstasie in die Soutpansberg, ʼn ras te ontwikkel wat goed in Suid-Afrika sal aard.”

ʼn Bonsmara uit die boeke.

Die Bonsmara is geteel met vlegting uit die Afrikaner vir sy gehardheid, die Hereford vir sy vleisgehalte, en die Korthoring vir sy melkeienskappe.

En die voor- en nadele van die Bonsmara?

“Die ras is baie gewild in ons land en pas oral baie goed aan. Maak nie saak waar jy boer nie. Boonop is die ras baie geskik vir kruisteling. Die enigste nadeel is die feit dat die ras nog relatief jonk is en dit veroorsaak dat die genepoel baie klein is. Die ander meer Europese rasse bestaan reeds vir honderde jare en dus kan semen ingevoer word. Nie met die Bonsmara nie. Maar ek is lief vir die ras en jy moet doen waarvoor jy lief is, of by die huis bly.”

ʼn Ellelange wildheining vir die mooiheid.
Blikkies en Chris

Volgens Chris moet die perfekte Bonsmara nie te groot en te hoog op sy bene wees nie. Breed van agter die skouers tot amper verby die boude. Geseën met ʼn mooi kop op ʼn dik nek. Om nie van die perfekte skrotum en kloue te praat nie.

Chris se besigheidsbelange neem hom egter al om die ander week na Johannesburg en daarom is Blikkies die man wat na die daaglikse op die plaas omsien.

Blikkies: “Ons het twee dekseisoene – somer en winter – en alles gaan maar oor die tussenkalfperiode. Dus het ons koeie wat in die winter kalf en ons dek vanaf die begin van Junie tot die einde van Augustus. Dan begin hulle van Maart tot die einde van Mei kalf. Ons somerdekseisoen is van die begin van Desember af tot die einde van Februarie. Die kalwers word gemerk en die inligting word aangestuur om in die stamboek geregistreer te word. Ons hou ook daarvan om op die oorplaatjie aan te dui wie die kalf se ouers is.”

Blikkies en Ratsie, die Australiese beeshond.

Daarna begin die inentingsprogram en word seker gemaak dat die weiding en die lekke in orde is om die diere tevrede te hou.

Blikkies sê dat dit vir hom nie soseer gaan om ʼn mooi bul te teel nie. Eerder ʼn mooi vroulike dier. “As jy eers ʼn mooi vroulike dier het, is die bul vanselfsprekend.”

Die logiese opvolgvraag is hoeveel bees Skatkis aanhou. Blikkies: “My oupa het altyd laat weet jy sê nooit hoeveel vee jy het nie.”
Touché.

Kom ons vra eerder hoeveel diere benodig word om ʼn vooruitstrewende stoetery staan te maak. “Ek dink nie dit gaan oor volume nie. Jy kan ʼn goeie stoetery met 100 koeie bedryf. Maar hoe meer bees jy aanhou, hoe meer en intensiewer word die werk.”

En bemarking?

Chris: “Ons gebruik André Kock en Seun as afslaers op ons jaarlikse veilings. Ons fotografeer die bulle ongeveer twee maande voor die veiling en plaas die foto’s op flyers wat ons uitstuur. Natuurlik gebruik ons ook sosiale media om die halfjaarlikse veilings te bemark. Ons stel so 30 tot 40 bulle beskikbaar, maar het ook ʼn kommersiële afdeling waar ons speenkalwers direk van die ma’s af bemark. Dan bied ons jaarliks in Mei stoetkoeie van ʼn sekere jaar op ons produksieveiling aan. Ons stoetkoeie van 2013 is die afgelope Mei verkoop. Volgende jaar is dit 2014. Die kopers kan daardie diere vir nog ses tot sewe jaar gebruik. Die probleem is dat ouer koeie partykeer moeilik in vreemde omgewings aanpas.”

Volgens Chris en Blikkies is ʼn stoetery se grootste uitdaging (bo en behalwe droogte) om die regte korrektiewe parings te maak.

“Wat hierdie plaas geskik maak, is dat hier 30 vierkamp-stelsels met suipings is. Ons kan dus ʼn spesifieke bul by spesifieke koeie sit.”

Blikkie se selfoon lui en hy spring op. Daar is veldbrand op pad en man en muis moet gaan blus. Die ou Land Cruiser is ingerig om brande mee te bestry en die watertenk agterop word volgemaak.

Chris verduidelik op pad dat die brand op ʼn nabygeleë plaas begin het. Chris: “Hierdie tyd van die jaar het ons gereeld brande. Omtrent een per week in hierdie omgewing. En baie van hierdie vure is bloot as gevolg van nalatigheid. Soos ouens wat heinings in die wind sweis en die droë gras aan die brand steek.”

Vaalbos is ʼn plant met ʼn oliebasis en die karnallie wat die vure voortdryf. “Hy is soos petrol wat jy op vuur gooi. En daar is net te veel vaalbos op van die omliggende plase. Hier probeer ons van hom ontslae raak, maar dit is baie duur. Om en by R1 000 per hektaar, maar dit voeg baie waarde tot jou boerdery toe veral met jou weidingsgroei.”

Ons hou by sy plaas se grens stil en sien duidelik die verskil tussen syne en die buurplaas. Skatkis se weivelde is uitsluitlik met gras oortrek. Op die buurgrond lyk dit asof daar meer vaalbos as gras is.

“Die gras daar is swakker omdat dit met die vaalbos kompeteer vir water.”

Chris laat weet die volgende dag dat die brand toe op die ou end oor die teerpad gespring het en 500 hektaar van sy en Blikkies se grond in puin gelê het.

“En ons was só opgewonde oor dié veld omdat ons dit vir ʼn geruime tyd gespaar het. Hopelik behoort ons in November reën te kry en sal dit ons kans gee om ons ander kampe te laat herstel.”

En die ellelange wildheining? Is wild ʼn vertakking?

“Nee. Ons hou net die wild aan omdat hulle so mooi is.”

Op pad terug staan ʼn swartwitpens vlak teen die heining. En ja, soms is die bok mooier dáár in die veld as in die biltongwinkel.


“Asseblief, Meneer,” vermaan die petroljoggie, “Hier op Vryburg moet Meneer ál die kar se deure gesluit hou. Al is Meneer binne-in die kar. Hier is baie oë wat na goeters soek wat hulle nie moet sien nie en hande wat wil vat wat nie hulle s’n is nie.” Op die oog af blyk dit daar is vir elkeen van die horde siele wat hopeloos verlore in die strate drentel ʼn slaggat in al wat ʼn straat is. En elkeen het ten minste 100 stukke plastiek wat die dorp na ʼn verflenterde lappieskombers laat lyk. In die middel van die dorp staan daar ʼn ou lokomotief. Dit moes eens pronkend die dorp versier het. Nou lyk dit soos ʼn brandsiek dier. ʼn Man sit bo-op die stoomketel. Sy gesig in sy hande. Twee mans hardloop blindelings oor die besige straat. Voortvlugtende grypdiewe.

Plaas:

Leave a Reply

Your email address will not be published.