Travel Snaps
comments 2

Een bedelaar aan ‘n ander

writer: Hein Eksteen

Die Rastaman met ‘n houtkontrepsie in die hand, ‘n weerkaatsende sonbril en ‘n glimlag (asof sy mond vol sterre is) staan langs die pad by die afdraai na Noordeinde. Asof hy vir my wag. En waar my fokus oomblikke tevore teleurgesteld op die plastiek-rommel langs die pad was, is dit nou op hom. In die verbygaan, lig hy die kontrepsie op. Die eerste indruk is dat hy wil die ding verkoop. Maar iets in sy houding, die manier waarop hy dit vashou – amper asof dit deel van sy lyf is – verklap verheerliking. Sy lewe en armoedige bestaan? My aankoms in Prins Albert? 

Ná ‘n paar draaie deur die dorp se strate met die een gerestoureerde huis na die ander hou ek voor The Lazy Lizzard-restaurant stil en daar staan die Rastaman weer met sy kontrepsie. Sy oë op my. Klaar geëet, sit ek af na die mesmaker en kunstenaar Cobus van Bosch en so waar as wat kuttels nie vye is nie, wag hy my weer in. Die mond vol sterre. Die kontrepsie in die hand.

“Nee, die ou is nie ‘n siener nie. Hy probeer seker die voëlhok verkoop,” verduidelik Cobus.

Maar hoekom is hy orals waar ek is? Van die een kant van die dorp na die ander?

Ek kry my staanplek by die Olienhof-kampeerplek en stap later die middag deur die dorp. Kunsgalerye, nóg restaurante, luukse gastehuise.

Toe ek by die supermark uitstap, staan die Rastaman weer oorkant die straat.

Ek vra iemand wie die man is.

“Ek dink hulle noem hom Dum Dum. Hy’s ʼn bedelaar en ‘n pes.”

Dum Dum vang my oog, lig die voëlhok op, glimlag. Maar beweeg nie. Indien hy die hok wil verkoop, moet hy tog nader kom. Verwaarloosde straatkinders betrek my. “Asseblief, Meneer…”

‘n Jongerige vrou staan ook nader. Die dowwe oë van ‘n deurwinterde tikkop. Lig haar T-hemp en ontbloot haar borste. Ek kyk weg. Sy gryp my aan die arm en sê, “Ek’t gesien jy’t na my tiete gekyk. R20.”

Ek bied aan om eerder vir hulle kos te koop. Weer buite, baklei hulle soos aasdiere oor die aalmoes. Die tikkop vat die oorgrote meerderheid. “Jy skuld my nog die tietegeld,” sê sy.

Die aand langs die kampvuur kom ʼn amper telepatiese sein oor my foon: ‘Check hierdie uit.’

Sanbonani

Ek is moeg gekyk hoe ons kinders tik gebruik

Ouers dik gesuip. Elke naweek is dit partytyd

Ons tyd is min en dis hoe julle dit gebruik. 

Nowadays se kinders focus op Hennessy en juice pyp

Dit verbaas my om te sien hoe onsse kinders in die strate lyk

Goeies uitgeslyt. Future leaders is gelimit

So roei ons maar die skollies uit

Die Lap is deurmekaar, kyk hoe gaan dit in die aand.

Corbin Duncan Pienaar, Noordeinde se rapper. Rap-naam: CDP.

Die Lap?

Corbin Whatsapp: “Ons dorpi is bekend vir die baie kinstenaars. Een van hulle was Outa Lappies en al sy kinswerk was kleervol en gelap aan mekaar. Dis ‘n remainder van Outa Lappies vir ons almal in Prins Albert, die LAP (die plek van Love And Peace).”

Die bo-dorp is die tuiste van vele gevestigde kunstenaars. Cobus van Bosch, Daniël Hugo (digter), Louis Botha (kunsfotograaf), Gita Claasen (fotograaf en voëlkundige), Kashief Booley (ystersmid), Madeleine Barnard (skrywer en musikant). Om net ʼn paar te noem.

Met ander woorde, die bo-dorp se kunstenaars kry wat hulle in Prins Albert kom soek. Veiligheid, stilte en inspirasie. Die kleinplek-bewoners se poster-dorp.

Maar wat van die kunstenaars in Noordeinde? Hulle wat saam met die tietevrou en straatkinders en bedelaars in die onderdorp moet oorleef? 

Corbin: ”Alkohol en drugs. Ons dorpie is besmet met gangsterism. Ons artists probeer om die plek te bou. Maar daai ouens sien nie hoe ons beter kan lewe nie. Miskien is ons stemme te klein. Daarom maak ons musiek. Dalk val dit iewers op ʼn oor wat wil hoor.”

Vroegoggend sit ek af in die rigting van die Swartbergpas. By Eerstewater staan Dum Dum. Lig die voëlhok op. Ek hou stil. Maar hy glimlag met die mond vol sterre en loop bult af.

Kan dit wees dat Dum Dum besef dat skrywers óók van aalmoese afhanklik is? Van die ervarings en emosies van hul medemens? Het Dum Dum my bloot kom groet? Een bedelaar aan ‘n ander?


Hein Eksteen is ’n storietrekboer wat saam met Ben Rumson (Lee Marvin in Paint Your Wagon) glo: ‘I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back.’ Die Wes-Kaap is sy herkoms. Suider-Afrika sy herwaarts en derwaarts.

Filed under: Travel Snaps

by

Hein is a wandering collector of stories who lives by the words of Lee Marvin in Paint Your Wagon, "I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back." He was born and bred in the Western Cape, but criss-crosses Southern Africa in this quest.

2 Comments

  1. Anina Lonte says:

    Dit was ‘n belewenis om saam met jou te werk/bedel Hein. Bly ons het ontmoet.

  2. Susan says:

    Sal so graag wil weet wie is die Dum Dum. Wat is sy verhaal. Ons kyk mos mense net so en ons besluit wie hulle is en waar hulle hoort, so asof die aarde aan ons behoort en ons kan besluit wie is aanvaarbaar en wie hier mag wees. Wie hier suurstof mag inasem en wie sy asem hier mag uitblaas.

Leave a Reply

Your email address will not be published.