Farm to Fork, farmers, Female Farmers, Niche Farmers
comments 9

Droogoonde van die Koo-vallei werp vrugte af

Woorde: Danie Keet Fotografie: Michel Dei-Cont

Dawie van Deventer boer op die plaas Little Oaks in die Koo-vallei, sowat 40 km van Montagu af, teen die hange van die Langeberge. Die plaaswerf is eenvoudig dog dienlik – die plaasopstal eenkant, dan ’n perskepit-besaaide area wat na die kantoor lei en kort daarnaas, die pakstoor, koelkamer en droogoonde, die spilpunt van alles op die plaas. Dis ’n gewoel en gewerskaf en dit wemel van trekkers, vurkhysers en mense wat rondbeweeg – inderdaad, want dis die hoogtepunt van die vrugteseisoen en Dawie is hard besig om die perske-oes te ontvang en te droog.

Dawie van Deventer en sy vrou, Hesmari, op hul plaas Little Oaks waar hy meestal perskes droog.

Nadat hy in 2000 op Elsenburg gestudeer het, was die plaas sy voorland, darem uit vrye keuse en veral omdat die grond voorheen deur sy oupa en daarna sy pa geboer is.

“Ons werk hoofsaaklik met steenvrugte wat ons self produseer en so nou en dan koop ons produkte in. Perskes en appelkose maak die grootste gros van ons verwerkings uit. In 2017 het ons ons droogoonde opgerig en ons verwerk nou tussen 40 en 45 ton gedroogde perskes per dag. Maar jy moet onthou dat 5 ton nat perskes net sowat 3 ton droëvrugte lewer. So, dis ‘n groot werk om groot tonnemate gedroogde perskes te produseer.

“En om die somme te laat klop, moet die oonde werk. Tans loop hulle nie die hele jaar nie en ons soek nog werk vir hulle, maar ons is besig om planne daarvoor in plek te kry,” vertel Dawie.
Trekkers met kratte perskes kom die werf ingery, die kratte word op mekaar gestapel voor die verwerkingsproses begin. Dan is hulle weer vort om nog te gaan haal.

Die vlamme brand hoog in die droogoonde waarin gedroogde perskepitte gebruik word om die vuur te maak.
Een van die droogoonde waarin perskes gedroog word. Tussen 45 t en 50 t perskes word daagliks hierin verwerk.

“Ons verkies om al ons eie perskes te produseer en te verwerk en die meeste van die tyd kon ons dit sover regkry. Maar die droogte van die afgelope paar jaar het ons en die ander produsente hard getref en ek moes klein hoeveelhede inkoop om die balans van droging reg te kry. Die droogte is ‘n erge ding en dit affekteer die vrugteboere anders. Vee kan jy nog voer en kos aanry. Maar vir ons is dinge anders. Dis die hele tyd hier by jou en byt jou aanhoudend aan die hakskene,” sê Dawie.

SELFGEMAAKTE VERWERKINGSAANLEG

Hy beskryf die perskes en appelkose se verwerkingsproses wat meestal met ‘n kombinasie van hande-arbeid en masjiengedrewe prosesse gedoen word. Sodra die vrugte uit die boorde kom, word dit in die koelkamer geberg voordat dit verwerk word. Die vrugte word in water gedompel waarna dit na die ontpittingsmasjien gaan. Die masjien oriënteer die vrugte sodat dit reg lê en op die “naat” oopgesny kan word. Met een aksie word die vrugte in die helfte gesny en die pitte losgesny. Die pitte word dan van die vrugte gesny waarna die vrugte vir pitreste en merke geïnspekteer word.

“Daar is min risiko in die oonde, maar buite is daar ’n hele aantal faktore wat probleme kan veroorsaak, soos ontydige reën.”

Die vrugte word op ‘n vervoerband met warm bytsoda, of loog, behandel wat die skille van die vrugte losmaak. Daarna word die vrugte in ‘n wentelende vat met skoon water bespuit om die skille van die vrugte af te was.

Werkers sorteer perskes op die vervoerbane voordat dit na die droogoonde geneem word. Die perskes word met loog behandel voordat dit ontskil word.
Gedroogde perskes nadat dit uit die droogoonde gekom het. Nagenoeg 60% van die perskes wat hier gedroog word, word in die oonde verwerk.

Op die droograkke gaan die vrugte na die berokingskamers waar dit oornag met swael behandel word. Die swael dien as ’n preserveermiddel. Die volgende oggend gaan die vrugte dan of na die droogbane of die droogoonde.

“Van die volume perskes wat ons elke dag inkry, kan ons tans sowat 60% in die oonde droog. Die orige 40% word nog op die tradisionele oop droogbane in die son gedroog.” Dawie verduidelik dat hy tans drie oonde het, met ‘n kapasiteit van 5 ton verwerkte vrugte. Die oonde kan tussen 45 en 48 van die groot houtkratte wat hulle in die oesproses gebruik, akkommodeer. Hy wys daarop dat dit nat perskes is wat die oond binnegaan en uit die 5 ton wat ingaan, kom daar slegs sowat 3 ton gedroogde vrugte anderkant uit. Wat in die oonde tussen 24 en 26 uur neem, neem gewoonlik sowat 8 tot 10 dae in die buitelug.

OONDE VERSUS SONDROOG

“Daar is min risiko in die oonde, maar buite is daar ‘n hele aantal faktore wat probleme kan veroorsaak, soos ontydige reën. En ek glo die oondgedroogde produkte is beter, veral omdat ons die prosesse kan beheer. Daar is wel sommige mense wat glo dat die songedroogde perskes anders smaak, maar dis maar ‘n verskil in menings oor smake,” verduidelik hy.

“Dit is ook interessant dat omtrent 90% van ons gedroogde vrugte na die noorde van die land gaan. Een rede kan moontlik wees omdat hier baie vars vrugte in die Kaap beskikbaar is.”

Die oonde wat Dawie hier op Little Oaks bedryf, het groot kapasiteit en daar is slegs ‘n paar van hulle in privaat besit. Hy sê dit verg ‘n groot kapitale uitleg om die oonde op te rig en deeglike finansiële beplanning gaan daarmee saam. Die lopende koste van die oonde moet deeglik in ag geneem word aangesien hulle so ‘n groot volume vrugte as moontlik moet droog om die beste kapitale opbrengs te verseker.

Hy verduidelik die werking van die droogoonde deur dit met die verkoeler van ‘n motor te vergelyk. “Dit gaan kortliks maar oor water wat verwarm word, lug wat daaroor blaas en die warm lug wat oor die perskes versprei word om dit uit te droog. Die water word dan weer gesirkuleer. Die ketels waarin die water verwarm word, word deur die vorige seisoen se gedroogde perskepitte verhit totdat die water ‘n temperatuur van ongeveer 90 °C bereik. Daar is ook ‘n suigwaaier wat die vogtige lug uit die oonde suig om die voginhoud binne so laag as moontlik te hou.

By Little Oaks word 40% van sy perskes op die tradisionele oop droogbane in die son gedroog.

“Daar moenie meer as 16% tot 18% vog in die vrugte oor wees as dit die oonde verlaat nie – dis die uitvoervereistes.”

“Maar jy moet onthou dat 5 ton nat perskes net sowat 3 ton droëvrugte lewer.”

Dawie verduidelik dat daar selfs tussen die verskillende kultivars ’n verskil in vog is – ook in vrugte wat van verskillende streke afkomstig is. Hy verwerk tans ongeveer 11 verskillende kultivars op Little Oaks. Hy herinner ons daaraan dat ‘n mens moet onthou dat hy kilogramme moet verkoop om sy geld te maak en dus die vrugte goed uitsoek voordat hy dit droog.

Dawie van Deventer boer op die plaas Little Oaks in die Koo-vallei, sowat 40km van Montagu af, teen die hange van die Langberge.

Sodra die vrugte klaar gedroog is, word dit in koelkamers geberg teen ‘n konstante temperatuur van 4 °C voordat dit volgens markbehoeftes verpak word. Die temperatuur beïnvloed die kleur en gehalte van die produk, en dus ook die prys wat hy sal verdien. Die vrugte moet nooit te droog wees nie en ’n effense vlesigheid is ideaal.

Die perskes word meganies in die helfte gesny sodat die pitte kan uitval en die twee helftes dan verder behandel kan word.

EINDVERBRUIKERS

Hy lewer aan agente en gebruik nie sy eie handelsmerk om sy vrugte te verkoop nie, maar lewer wel aan enkele padstalle en privaat verkopers. Sy gedroogde perskes word in kissies van 10 kg elk aan die herverpakkers gelewer wat dan ander gedroogde vrugte, soos pruime en pere, vir die markte byvoeg. “Dit is ook interessant dat omtrent 90% van ons gedroogde vrugte na die noorde van die land gaan. Een rede kan moontlik wees omdat hier baie vars vrugte in die Kaap beskikbaar is.”

Voordat die perskes na die droogoonde gaan word dit deur ‘n roterende drom. gestuur om te help dat die skille verwyder word.

Oor die uitdagings vir die bedryf is Dawie seker. ”Ons kry nie veel hael hier nie, maar in 2014 het ons die tipe groot hael gekry wat een keer in ‘n 100 jaar val en baie skade verrig het, maar dit was nie so erg soos die byna 40% van die oes wat ons in 2017 weens die droogte verloor het nie. Die droogte se skade is veel erger, en as ‘n boom vrek, vat dit 3 tot 4 jaar voor sy plaasvervanger weer produseer. Die hervestigingskoste van ‘n gemiddelde boord beloop nagenoeg R120 000 so dis nie iets wat maklik gebeur nie.”

Maar op Little Oaks gaan die lewe aan, vrugte kom en gaan en elke seisoen se uitdagings word op hul eie hanteer. Om te kan boer bly hier steeds ‘n gawe en ‘n voorreg van die natuur.


EIENAAR: Dawie van Deventer | NAAM: Little Oaks | AREA: Montagu, Klein-Karoo, Wes-Kaap | PRODUK: Droëvrugte

Filed under: Farm to Fork, farmers, Female Farmers, Niche Farmers

by

Danie is an award-winning journalist with three decades of news writing under his belt. He has a special love for local news, having served as the editor of a community newspaper for seven years. He is has also written for most of the daily newspapers and a variety of online news platforms. People and what make them tick intrigues him, but he is also fond of wine, travel, environmental, investigative and a host of other stories. “Being in the outdoors, with people who has a love for nature in their souls, and to put those feelings and experiences into words, is the ultimate challenge to me as journalist.”

9 Comments

  1. Joe Hamman says:

    Goeie middag,
    Verkoop julle Droë Perskes in groot maat?
    Ek stel belang om in my winkel te verkoop (as ek nie helfte self opeët nie).
    Prys ook per kilo asseblief.

  2. Jan Byles says:

    Vir wie dit mag aangaan. Ek stel belang in klompie sondroog droë perskes wanneer is dit beskikbaar en die prys asb?

    • P Bonthuys says:

      Ek Wil graag by Huis droog. Die pryse in winkles maak mens soek.
      Kan ek vra Vir n resp Om appelkose te droog asb, en Kan ek dit in n biltongkas doen?
      Groete
      Pieter

  3. Sielie says:

    Kan ons n pryslys kry asb

  4. Johan Liebenberg Bloemfontein says:

    Baie netjies ek wil meer tewete kom oor die droogins proses 0827042000

  5. Leonie Smit says:

    Stel belang om pitye en vrugte te koop asb

  6. Chris Joynt says:

    In die sewentiger en tagtigerjare as ons vanaf Oudtshoorn op pad was Kaap toe of terug het die bane met vrugte in hul verskillende kleurskakerings so pragtig en helder uitgestaan teen die hange van die berg.

    Gedroogde geelperskes en Meebos was my gunsteling droë vrugte.

    Groetnis.

  7. Johann Preiss says:

    Very enlightening article

  8. Hannes Calitz says:

    Baie interessante artiekel oor Dawie se boerdery.

Leave a Reply

Your email address will not be published.