farmers, Niche Farmers
comment 1

Van veldapteek tot hoendervoer al die pad van Curaçao

Woorde: Hein Eksteen Foto’s: Michel Dei-Cont

Party van die nederigste gewasse moes die wêreld vol reis alvorens hulle in die vreemde voorgesit is in geregte. Neem as voorbeeld die aartappel, oorspronklik uit Suid-Amerika. Nadat die Spanjaarde dele van daardie kontinent omgedolf en uitgedelf het, word hierdie wortelgroente ʼn Europese stapelkos. Duitse Bratkartoffeln. Ingelse tjips. Franse pommes frites. Onse eie slaptjips. Of dan die tamatie (ook uit Suid-Amerika). Waarvan het die Italianers voorheen hul puttanesca gemaak? Boonop is die rooi in hul landsvlag kwansuis te danke aan die pomodoro.

AL DIE PAD VAN CURAÇAO

Eweneens gooi sekere produsente wye esse om uiteindelik by hul lewenstaak uit te kom. Die Nederlander, Toine Knipping, is ʼn tekenende gevallestudie. Hy sit een aand toevalling in ʼn kroeg genaamd Zambezi (die ironie van die naam sal later aan die lig kom) in Curaçao, ʼn Nederlands-Karibiese eiland, langs ʼn Colombiaanse landbouwetenskaplike. Dié stel hom toe nie aan die cumbia (Colombia se verleidelike nasionale dans) voor nie, maar wel aan die aalwyn, oorspronklik uit Wes-Afrika ingevoer wat vir eeue reeds op die eiland verbou word.

Aloe Vera plantasie in Curacao

Toine het in Nederland op ʼn plaas grootgeword en woon toevallig op Curaçao langs ʼn Suid-Afrikaanse volstruisboer wat na sy heimat wou terugkeer. Intussen besluit Toine hy wil eendag in Suid-Afrika aftree en as voorloop, koop hy en die buurman toe ʼn plaas in die Soutpansberg se omte om met aalwyne te begin boer.

Die ironie: ʼn plant, oorspronklik uit die Arabiese Skiereiland, wat na tropiese, sub-tropiese en selfs waterarm wêrelddele versprei het, word deur ʼn Europeër omarm en in Suid-Afrika verbou. Soos die wysgere reken: ʼn reis van ʼn duisend myl begin met die eerste dop in die bar op De Aar (of diesulke).

AFRICAN CARIBBEAN ALOE PRODUCTS (ACAP)

Toine is egter nog in Dubai as belastingkonsultant werksaam en ons praat met Quintin, sy seun en mede-direkteur van African Caribbean Aloe Products, handeldrywend as ACAP.

Quintin: “Ons het die plante vanaf Curaçao na Suid-Afrika verskeep. In die winter het die hele spul egter gevrek. Die volgende besending kom toe gedurende die somer en oorleef die blootstelling. Daarna bou ons toe die verwerkingsaanleg en die huis.”

Quintin Knipping is sy pa, Toine, se mede-direkteur en hou sy ouerlike hand oor hierdie nederige plante met hul bykans toweragtige gesondheidseienskappe.

Tydens hierdie ontwikkeling sterf die gewese volstruisboer in ʼn motorongeluk en Toine en Quintin staan voor die keuse om óf die plaas te verkoop, óf ʼn suksesvolle aalwynboerdery van stapel te stuur.

“Teen daardie tyd het ek my studies voltooi en ek stel toe voor dat ek ʼn gapingsjaar neem om ʼn oog oor die plek te hou.” Dit was twaalf jaar gelede. Soos in die geval van die reis van ʼn duisend myl, begin die aanplant van aalwyne aan die begin. Nié met die eerste skeut versterkwater nie, eerder met die toestemming van die owerhede om jou beoogde landery te ontbos. Waar gaan jy wat plant?

KLIPPE UIT DIE PAD ROL

“Sodra jy die toestemming het, begin jy met die ontbossing, gevolg deur die uithaal van die meeste klippe. Jy ploeg en haal uit en ploeg en haal uit totdat jy mooi diep grond sonder te veel klippe het.”

Jy kan enige boer egter vra en dié sal bevestig dat groot klippe wat uitgehaal word, kleintjies agterlaat en dat daardie piepjongens binne ʼn oogwink volwasse rotse word. Nietemin, met die grond gereed en die kompostering afgehandel, word die plantjies in perfekte eenmiddelpuntige sirkels van 38 hektaar groot geplant. Hoe is dit moontlik? Met reuse-passers? “Dis eintlik baie eenvoudig. Ons skakel die 38 hektaar spilpunt aan en plant daar waar die nat strepe loop.”
Touché.

Aalwynplante se lewensverwagting is ongeveer agt jaar. Daarna word hulle te swaar en val hulle om. Nuwe plante neem daarna weer twee jaar voordat hulle in produksie kom. Met ʼn keuse van om en by 500 soorte aalwyn, verbou Quintin aloe barbadensis wat uit Curaçao afkomstig is. Terloops, aloe is ’n Griekse en Latynse woord waarvan die betekenis hermeties versteek bly en vera is Latyns vir waarheid.

Elke ses maande word drie blare per plant geoes – altyd aan die buitekant – en dit van ongeveer 33 000 plante per hektaar. Die blare word in die reusagtige verwerkingsaanleg in verskeie helende middels omskep.

Dr Piet Viljoen verduidelik die geskiedenis van die aalwynplant, en lei jou deur die proses van aanplanting al die pad tot by die eindprodukte. Hy verduidelik die buitengewone samespel van meer as 75 bio-aktiewe bestanddele wat hierdie plant sy krag gee. Met insiggewende foto’s is hierdie boek gedetailleerd genoeg om jou te help as jy self die plant wil aanplant of as jy aloe vera-produkte aankoop. Die boek bevat ook praktiese wenke en ‘n paar resepte wat jy tuis kan probeer. Dr Piet Viljoen verstaan dat die natuur die mens voorsien van dit wat nodig is vir gesondheid en genesing. Dit is egter ons taak om daardie gawes te neem en hulle op die beste moontlike manier te gebruik. Hierdie boek stel jou in staat om te verstaan hoekom die aalwyn ‘n geskenk van die natuur is en hoe om dit te waardeer. Beskikbaar by Amazon

VERWERKING VIR GESONDHEID

Dr Piet Viljoen, is ACAP se hoofwetenskaplike. Hy volg die leerstellings van Paracelsus (1493 – 1541), te wete: “Alles wat die mensdom benodig vir goeie gesondheid en genesing, word deur die natuur voorsien – die uitdaging is vir die wetenskap om dit te vind.” Kry Piet se boek, Aloe Vera: Nature’s Ally to Health and Healing, indien jy meer omtrent hierdie besonderse plant se geskiedenis en voordele wil leer.

Waar Quintin na die plante se welsyn omsien, is Piet en sy span daarvoor verantwoordelik om produkte vir goeie gesondheid en genesing daaruit te vervaardig.

Aalwynblare word gepars om die jel te bekom waarvan verskeie gesondheidsprodukte vervaardig word.
Selfs die geparste blare het waarde en word uiteindelik gedroog en in veevoer omskep.
Die verwerkingsaanleg is uiteraard hoogs higiënies om gesondheidprodukte van die beste gehalte te verseker.

Aalwynsap vir medisinale doeleindes is hierby ingesluit. Mense met spysverteringprobleme vind hierby baat. Suikersiektelyers reken die inneem van die sap is uiters voordelig. Die sap is natuurlik ook in tabletvorm beskikbaar vir diegene wat nie die bitterheid kan verduur nie.

ACAP vervaardig ook verskeie velrome, elkeen met ʼn ander doel. Party rome is geskik vir brandwonde, party vir ekseem en party vir vele ander velprobleme. En selfs die hardnekkigste muskiet sal nie ACAP se inseksproei kan ontsnap nie. Dat hulle ook seep maak, is vanselfsprekend.

ORGANIESE REEKS VIR ASIË

“En ons het ook ʼn gesertifiseerde organiese reeks. Van die sap word gekonsentreer (10 maal) en aan Asië voorsien waar dit by drankies en jogurt gevoeg word.” Hierdie pragtige omgewing se grootste uitdaging vir handeldryf, is die lang afstande na die land se hawens. En onthou, ACAP verskeep jaarliks derduisende liters. Die oplossing? Hulle spuitdroog die sap en so word ʼn duisend liter sap omgeskakel na een kilogram poeier.

Terwyl ons van die Soutpansberg en sy omgewing praat. Die aalwyn kan nie ryp oorleef nie en alles suid van die berge kry die een of ander tyd koud genoeg. En daarom koop die helderdenkende Toine juis hierdie stuk grond.

Paracelsus se leerstelling geld natuurlik ook vir diere. “Wanneer ons die jel uit die blare haal, bly daar altyd ’n bietjie daarvan in die skille oor. Aan die begin het ons dit in die veld weggegooi. Ons het egter gesien dat die wildsbokke dit vreet en met die toets van die bokke het ons agtergekom dat hul parasietvlakke aansienlik gedaal het.”

VAN VELDAPTEEK TOT HOENDERVOER

Nou word hierdie oorblyfsels ook gedroog en in poeiervorm verhandel. Tydens ʼn studie is drie groepe hoenders vergelyk. Dié wat antibiotika ontvang het; dié wat dit nie ontvang het nie, en laastens hoenders wat met aalwyn gedoepa is. Die bevinding: die aalwynhoenders vaar ligjare beter as dié wat niks ingeneem het nie en omtrent net so goed as dié wat antibiotika ontvang het.
“Hoendervoer is een van die nuwe besighede wat ons hoeka nou probeer bedryf.”

ʼn Studie het bevind hoenders wat aalwynvoer vreet, is amper net so bestand teen virusse soos dié wat antibiotika ontvang.

LOCAL IS LEKKER

“Jy sien vandag baie drankies wat aalwyn bevat op die mark, maar hulle kom almal uit Taiwan. Die goeie ding vir ons is dat Suid-Afrikaners hou van local is lekker en indien ons plaaslike aalwynprodukte hier kan bemark, kan daardie mark net groei.”

Om hierdie mark egter te laat groei, is daar soos altyd groeipyne. Organiese aalwyne beteken onkruid kan nie met gifstowwe beheer word nie. Quintin se werkers skoffel dus elke klompie maande en dit is ʼn duur saak. Insekte word uitsluitlik bespuit met doders wat as organies bestempel is. Om nie eens te praat van die paaie (soms eintlik slaggate met teer om), die huidige brandstofpryse en ondoeltreffende hawens nie.
Nietemin, soos baie mense al uitgevind het: bitter in die mond maak die maag gesond!

AALWYNVOEDING VIR GESONDE DIERE

Wildsbokke vreet die geparste blare (wat nog ʼn bietjie jel bevat) en daardeur verlaag hul parasietvlakke aansienlik.

ACAP het oor die jare gesien dat die koedoes en njalas wat hulle aalwyne eet minder bosluise het, dat daar minder gevalle van sarkoptiese brandsiek is en dat hulle oor die algemeen gesonder is en daarom het hulle begin om aalwynaanvullings in die vorm van voedingspoeier en -sap aan die wildbedryf te voorsien.


EIENAAR: Toine Knipping NAAM: African Caribbean Aloe Products (ACAP) AREA: Soutpansberg, Limpopo PRODUK: Aalwynsap, gesondheidsprodukte en hoendervoer KONTAK: 073 195 9952 | www.aloe-acap.com | www.curaloe.co.za



Nog stories van Grond tot Mond:


Story of an African farm pharmacy



Aloe Vera: GESONDHEID EN GENESING UIT DIE NATUUR – Dr Piet Viljoen

1 Comment

  1. Lettie Steyn says:

    BAIE interessant en baie dankie.
    Ek soek egter velprodukte van Aloe Ferox. Wat is die verskil tussen vera en ferox?

Leave a Reply

Your email address will not be published.