farmers, News
Leave a comment

Varkbedryf se varkies in een hok ten spyte van kosteknyptang

Deur: Magda du Toit

Ten spyte van baie uitdagings is die Suid-Afrikaanse varkbedryf op goeie voet en optimisties oor die toekoms.

Die huidige omgewing waarbinne die varkbedryf funksioneer verskil drasties van dié van 30 jaar gelede. “Baie van die reëls wat toe geldig was, spreek nie meer vandag se uitdagings en behoeftes optimaal aan nie. Aanpassings was nodig. In die toekoms sal produsente innoverend moet kyk na koste-doeltreffendheid en veerkragtig en aanpasbaar moet bly. SAPPO is goed geposisioneer om die totale bedryf te ondersteun op die pad na volhoubare vleisproduksie.”

So het Johan Kotzé, Hoofuitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAPPO) die media-inligtingsessie wat in Pretoria aangebied is, ingelei.

Hy het beklemtoon dat voedselsekerheid ongelooflik belangrik is. “Ongeag waarmee ’n produsent boer of hoe mens in die landboubedryf betrokke is, voedselsekerheid, wat biosekuriteit insluit, is tans die belangrikste fokuspunt in ons land.”

Volgens Johan is die oorgrote meerderheid van die 528 varkprodusente in Suid-Afrika, klein produsente wat net ‘n paar varke aanhou met ’n gemiddeld van 1,6 sôe per eenheid. Slegs 77 produsente hou meer as 500 varke aan. Die 11 boere wat meer as 2  500 diere aanhou, het ‘n sogpersentasie van 36%. In totaal is daar sowat 144 000 vroulike diere wat vir teeldoeleindes gebruik word.

Die styging in graanpryse die afgelope jaar het ‘n geweldige invloed op produksiekoste gehad. “Die styging van die mielieprys het meegebring dat 75% van die varkboer se koste met 41% gestyg het,” aldus Kotzé.

Ten spyte van uitdagings is die Suid-Afrikaanse varkbedryf steeds op goeie voet. Volgens Dr Peter Evans, Hoof van Verbruikersekerheid by SAPPO tel Suid-Afrika onder die vyf lande met die gesondste varkboederye in die wereld.

SAPPO boer, Johan van der Walt (Walt Landgoed) help om aasvoels te beskerm.

Volgens Evans het die omgewing waarbinne produsente ‘n bestaan moet maak die varkbedryf se uitkyk op siektebestuur verander. Daarom, sê hy, volg SAPPO ’n risiko-gebaseerde benadering. Hy het ook beklemtoon dat biosekuriteit onderhandelbaar is.

“Pork 360 is die basis waarvolgens ons risiko’s binne die totale waardeketting bestuur. Dit dryf die implementering van ons aksies insluitend die verbetering van varkbehuising. Ander aspekte wat aandag kry binne die Pork 360 program is reëls en protokolle vir die invoer van genetika en ander varkprodukte. Pork 360 is ’n waardevolle hulpmiddel om volhoubaarheid te dryf.”

SAPPO het die hulp van PwC Suider Afrika ingeroep en werk saam aan ’n praktiese raamwerk vir volhoubaarheid met inagneming van diversiteit binne die varkbedryf. Die strategiese doelwit is om werkbare en volhoubare kriteria te ontwikkel met die oog op toekomstige finansieringsmodelle. SAPPO vergelyk tans die kriteria in die Pork 360-program met internasionaal erkende volhoubaarheidskriteria met die oog op toekomstige verbetering tot voordeel van hul lede en die hele bedryf, het Jolanda Andrag, Bedryfshoof by SAPPO verduidelik.

SAPPO fokus ook op die kleinboere. “Ons probeer om ’n groter impak op hierdie deel van die sektor te maak en daarom fokus ons op bereikbaarheid, mentorprogramme, boeredae, voorligtingsdienste en digitale kommunikasie,” het Kgadi Senyatsi, hoof van dié afdeling binne SAPPO verduidelik. Juis daarom het SAPPO ’n ooreenkoms met die Wes-Kaapse Departement van Landbou waar die Provinsie se voorligters SAPPO se hand vat in opleidingsprogramme.

Dit is egter nie net produsente wat opleiding en inligting moet ontvang nie. Sonder verbruikers wat hul beursies oopmaak sal daar geen sprake van volhoubaarheid wees nie. SAPPO het onlangs hul benadering tot verbruikerskommunikasie aangepas. Dit spruit ook uit die uitdagings wat deur die COVID-19 pandemie meegebring is.

Sosiale media word nou meer ingespan om die verbruiker te bereik. Nog ’n innoverende manier om die verbruiker te bereik is QR-kodes op advertensies en vleispakke in die winkels. “Die doel van hierdie inisiatiewe is om tweerigting kommunikasie te bewerkstellig en ook om die vermeende waarde van varkvleis op te stoot. Met die inligting en resepte wat ons so deel, glo ons dat ons op die regte pad is om die Suid-Afrikaanse verbruiker meer vertroud te maak met varkvleis sodat dit meer gereeld op die gesin se tafel verskyn. Die verbruiker moet vertroue in varkvleis opbou,” sê Christian Zimelka, SAPPO se Hoof van Verbruikersopvoeding.


Pork 360: https://www.pork360.co.za/

SAPPO: https://sappo.org/, info@sappo.org, +27(0)21-100-3035


Meer varkbedryf stories van Grond tot Mond:



Leave a Reply

Your email address will not be published.