Deur René Lötter
Die “mite” van bliksemstraal-slagoffers
Die drama van mens of dier wat deur weerlig getref word bly ons fasineer en sulke berigte haal maklik die voorblad. Boere vra ook gereeld wat hulle moet doen met die karkas van vee wat deur weerlig doodgeslaan word. Kan mens die vleis eet?
Nee, meen baie mense, selfs aasdiere soos jakkalse en aasvoëls sal nie daai vleis vreet nie, want dit word vinniger vrot en ruik na die duiwel homself (swael en ammoniak). Sommige vertel daar is selfs bybelverse wat die eet van diere wat deur weerlig doodgeslaan is, verbied.
Nonsens, stry ander, die vleis is veilig om te eet – dit hang net af waar presies op die karkas die weerlig gebrand het. Daar is dan talle berigte van weerlig-karkasse wat skoongemaaak en gevries is en aan roofdiere by teelsentrums gevoer word sonder enige negatiewe gevolge.
Grond Tot Mond het twee deskundiges gevra:
“Geen dier wat natuurlik gevrek het nie d.w.s. nie spesifiek uitgeskot vir vleisverbruik nie bv. in abattoirs, moet as veilig geag word om te verbruik nie.” Aan die woord is dr Johan Steyl, veeartsenykundige patoloog van Pretoria Universiteit. “Daar is baie ander dinge wat beeste en ander vee skielik kan doodmaak. Toestande wat ernstige gesondheidsrisiko’s kan inhou as jy die vleis eet (Bv. miltsiekte). Die diagnose dat weerlig die oorsaak van dood is, is dikwels nie eenvoudig nie. Om ‘n dier dood te vind ná ‘n donderstorm is nie genoeg bewys van weerlig as die oorsaak nie. Om hierdie rede sal dit gevaarlik wees om sommer die vleis te eet sonder om seker te maak.”
En indien weerlig tog wel as oorsaak van dood bevestig word?
“Na my mening is daar geen chemiese oordrag of transformasie in die vleis van weerlig wat dit giftig sal maak nie. Die karkas van sulke diere toon egter versnelde ontbinding wat sal lei tot verrotting van vleis, wat gesondheids-risiko kan inhou – veral indien onbehoorlik gaargemaak. Die berigte van aasdiere wat karkasse vermy wat deur weerlig getref is, is waar, hoewel die rede(s) vir hierdie verskynsel spekulatief is aangesien dit nie deeglik ondersoek is nie.”
93 Skape tjop af maar die kraaie gooi ‘n wye draai
Gevalle van “vertraagde predasie” oftewel aasdiere wat langtand eet aan weerlig-slagoffers, is legio. In Januarie 2022 is 93 skape dood op ‘n plaas (Dunedin) in die Karoo gevind.
Skaapkarkasse is oor ‘n gebied van 1,2 km x 200 m gestrooi. Van al die karkasse is daar glo net een deur ‘n jakkals opgevreet. Gewoonlik is daar met karkasse baie kraaie teenwoordig, maar in hierdie geval het geen kraaie van die skape geëet nie. Nie gedurende die eerste week na die dood nie.
Wat op aarde is die rede hiervoor (indien dit waar is)?
Ryan Blumenthal, senior spesialis in Forensiese Geneeskunde aan die Universiteit van Pretoria, werp lig op die saak aan die hand van hierdie fasinerende storie van ‘n kameelperd:
‘n Volwasse kameelperd is Maart 2014 op ‘n plaas naby Phalaborwa deur weerlig doodgeslaan. Daar is anekdotes dat aasdiere eienaardig opgetree het – baie lank geneem het om aan die karkas te begin vreet. Aasvoëls en hiënas het glo vir vyf dae nie aan die karkas gevreet nie
Volgens die eienaars van die plaas, was die reuk oorweldigend anders as met ander karkasse. Hul hond het glo vreemd gereageer en wou nie naby gaan om ondersoek in te stel nie.
Drie dae daarna het hulle ‘n groot groep aasvoëls laag oor die karkas sien vlieg, maar ure later was die karkas steeds onaangeraaak. Een week later was die karkas wel gedeeltelik deur (net) aasvoëls verteer. Alhoewel daar hiënas en ander aasdiere in die omgewing was.
Dit is wat ons weet nadat die geval noukeurig ondersoek is:
Dit is nie waar dat aasdiere glad nie aan weerlig-karkasse vreet nie. Aasdiere vreet wel aan sulke karkasse, maar meestal eers na ‘n paar dae, en slegs gedeeltelik.
Bespreking:
- ‘n Dier wat deur weerlig doodgeslaan is ontbind nie noodwendig vinniger as ander karkasse nie maar die proses mag anders verloop. Weerlig stuur derduisende volt deur die soogdier se lyf. Ander ontbindingsbakterieë en verskillende brommers of maaiers kan moontlik by hierdie karkasse ‘n groter rol speel. Herkouers ontbind oor die algemeen ook anders as ander vee (of mense). Die kameelperd is ‘n herkouer, en so ‘n grootpens het ‘n massiewe fermentasie-tenk. Die dier kan binne 30 minute begin opblaas. Fermentasie produseer vinnig baie hitte wat ontbinding versnel.
- Miskien word verskeie esters of amiene vrygestel van ‘n liggaam na ‘n weerlig-dood.
- Die geografie van ‘n plaas speel ‘n groot rol in die afbreking of predasie van ‘n karkas. In die afwesighed van groot roofdiere is aasvoëls en hiënas die belangrikste aasdiere teenwoordig op die voorgenoemde plaas.
- Indien boere en werkers berig dat ‘n weerlig-karkas vir dae lank onaangeraak in die veld is, kan dit eenvoudig ook wees omdat die teenwoordigheid van mense en hul honde die aasdiere steur.
- Berigte van ‘n swaelagtge reuk kan wees omdat diere wat deur weerlig geslaan word se pels gewoonlik gebrand is.
Slotsom:
Die ‘mite’ van vertraagde nadoodse predasie op weerlig-sterftes is al jare bekend maar meer noukeurige wetenskaplike studies kan uitgevoer word.