Deur Magda du Toit| Fotografie: Magda du Toit en verskaf
In 1989 het die Joubert-broers en ’n vriend, James Honiball, begin met die bou van gronddamme om hulle trekkers in die af-seisoen te benut. Die Koppies-dam se kontrak is aan hulle toegeken en hulle moes ’n naam vir hulle besigheid registreer. Al die voorgestelde name was egter reeds opgeneem en James registreer toe die besigheid as ALS want, het hy gemeen, hulle sal als doen om die besigheid te laat slaag. Só is die besigheid dan in 1990 as ALS geregistreer en vandag het die Groep sowat 1 100 mense permanent in hulle diens.
In 2022 is die Groep as die Landbouskrywers SA se Nasionale Boer van die Jaar aangewys. Cas Joubert en sy broer Thys, saam met Johan Janse van Rensburg, is die drie direkteure wat die leisels van die enorme besigheid stewig in hul hande vashou.
Tydens die Landbouskrywers SA se besoek aan ALS in KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Noord-Wes het ons die geleentheid gehad om hulle beter te leer ken. Die insiggewende besoek het die sluier gelig oor die Groep se aktiwiteite wat die uitverhuur en oorbou van masjinerie, die uitkontraktering van landboudienste, konstruksie en grondverskuiwings insluit.
“As ’n groep is ons baie divers en ons portefeulje strek van mynbou aan die een kant tot landbou aan die ander, met eiendomsontwikkeling en -verhuring in die middel,” vertel Johan, Hoofuitvoerende Beampte van ALS.
Hy verduidelik dat hulle ’n baie plat maatskappystruktuur het en dat hulle bestuur gebaseer is op ‘n groep individue wat almal dieselfde waardes nastreef.
“Ons deel een visie en is ewe optimisties oor geleenthede op die horison. Ons doen voortdurend navorsings en meet onsself teen ons kompeteerders. Op die wyse bepaal ons wat beste praktyke in die bedryf is. Ons evalueer dit weer om die beste daarvan in ons besigheid toe te pas. Ons kyk baie eerlik na ons besigheid en omstandighede en maak dan regstellings tot voordeel van die familie en die besigheid. Ons is nie skugter om buite die kassie te dink en besluite te neem en uit te voer nie, maar neem nooit lukrake en impulsiewe besluite nie. Ons glo nie in kruissubsidiëring nie en indien daar ’n afdeling is wat nie na wense presteer nie, word die afdeling toegemaak. Alle besluite berus op konsensus. As een van die direkteure nie saamstem nie, dan laat ons die saak daar.”
Die hart van die besigheid is die mense, hul liefde vir landbou en die passie waarmee hulle, alles uitvoer. Die gevoel van eiewaarde en waardering vir mekaar se sterkpunte is soos ’n goue draad deur die besigheid geweef. Die personeel heg baie waarde aan dissipline, aandag aan detail, presisie, die gebruik van tegnologie en evaluasie.
“In ons harte is ons boere en dit is waar alles begin het,” sê Cas Joubert. Die ALS Graan divisie se saaiboerdery staan onder bestuur van Colin Steyn waar hulle hoofsaaklik fokus op die verbouing van wit- en geelmielies vir graan en kuilvoerproduksie, sojabone, koring, lusern en aangeplante weiding vir die beesafdeling.
Maar voordat geplant word, word eers aandag gegee aan die grond. “Grondgesondheid is vir ons van kardinale belang,” meen Steyn. Die lande waarop gewasse verbou word, word gelyk gemaak en gevorm om die oppervlakwater egalig te versprei en te beheer. Die ondergrondse watertafelvlak word bestuur met algehele, ondergrondse dreinering op alle spilpuntbesproeiing-landerye. Hierdie praktyke lei tot verhoogde belugting van grond vir wortelontwikkeling en verbeterde grondorganisme-funksionering. “Grond wat so optimaal bestuur word, gee vir ons beter saadontkieming asook ’n groter wortelsone vir beter wortelontwikkeling danksy ’n laer watertafel. Goeie wortelontwikkeling lei tot ‘n plant wat gesonder is en meer bestand is teen veranderinge in weersomstandighede,” verduidelik Steyn. Ander voordele sluit in, verhoogde belugting, verbeterde pH-vlakke, en verbeterde mikro-organisme-funksionering in die grond.
Hulle pas wisselbou toe deur sojabone en mielies af te wissel in die somer en lusern en koring in die winter. Hulle plant hul eie proewe op kleinmaat om te bepaal watter kultivars die beste op hulle grond en binne hulle bestuur sal doen.
Elke aspek van die boerdery is op presisieboerderybeginsels gebaseer. Grondgesondheid word fyn bestuur en jaarliks net na strooptyd begin hulle onmiddellik met voorbereiding vir die komende seisoen. Stroperkaarte en historiese data word ingespan saam met die resultate van die grond- en blaarontledings vir beplanning en regstellings. Grondmonsters word volgens ’n ruitstelsel geneem. Die gekombineerde data word gebruik om preskripsies vir elke land te skryf en hiervolgens word kunsmis en kalk variërende toegedien. Plantestand word ook volgens die data aangepas en die nuutste toevoeging tot presisieboerdery is om plantestand binne ‘n land te varieer na gelang van die ingesamelde inligting.
“Die slim gebruik van beskikbare tegnologie bly die beste manier om insetkostes optimaal te bestuur en volhoubaar te boer,” aldus Steyn.
Die Groep het twee silo-eenhede wat toegerus is met skale, inneem- en uitlaaifasilteite, graderingfasiliteite, droërs en siftoerusting. “Dit bespaar kostes en verhoog effektiwiteit. Die droërs maak dit moontlik om die gewasse vroeër te stroop en self te droog. So verminder ons risiko en het ons meer beheer oor die graanprys. Ons kan ook die volgende gewas se plantdatum vervroeg wat help om gewasse op die optimale tyd te plant.
Verder spaar ons vervoerkostes omdat ons op die plaas self lewer,” verduidelik Joubert.
ALS het onlangs toegetree tot die neutbedryf met ’n 30 ha pekanneutaanplanting net buite Potchefstroom. Verder uitbreidings is in beplanning.
“Kultivarkeuse en grondvoorbereiding is kardinaal wanneer dit by pekanneutproduksie kom. Dit verseker dat wanneer die boord in produksie kom, dit van die staanspoor af optimale opbrengs lewer,” sê Regardo Bornman. Regardo is die Menslike Hulpbronbestuurder by ALS en ook verantwoordelik vir die pekanneutaanplantings. Bornman verduidelik dat hoewel pekanneutbome se wortels klam gehou moet word, die bome eintlik droë toestande verkies. Verder gedy pekanneute onder kort, koue winterstoestande opgevolg deur lang en warm somers.
Die veeboerdery-afdeling bestaan uit skaap- en beesboerdery. Die totale beeskudde staan op 6 000 beeste en bestaan uit Wagyu, Bovelder en Beefmaster stoeterye sowel as ’n kommersiële Beefmaster-kudde. Die diere word op plase in KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap aangehou. By die Bovelders handhaaf hulle ’n kalfpersentasie van 93%, speenmassa van tussen 240 en 260 kg, tussenkalfperiode van 12 maande en mortaliteit van slegs 3%.
Die kuddes word met presisietegnologie bestuur. Rekordhouding is kardinaal in kuddebestuur. Elke kudde se inligting word aan die hand van ’n RFID-sisteem bestuur. “Die stelsel bestaan uit ‘n RFID- leser en ’n antwoordsender (transpondeerder) wat meestal in die vorm van ‘n oorplaatjie op die dier is. Op die manier word menslike foute maklik uitgeskakel. Die leser wat in die hand gehou word, kan honderde plaatjies per sekonde lees,” verduidelik Barry Viljoen verantwoordelik vir die Bovelder beeskuddes.
Die skaapboerdery bestaan uit Döhne Merino’s wat naby Potchefstroom aangehou word en ook Dorpers, Wit Dorpers en Meatmasters wat meer aangepas is by die Noord-Kaapse veldtoestande. Baie aandag word aan veldbestuur toegewy. Hulle pas drukbeweiding in kampe toe om te verseker dat al die beskikbare weiding benut word. Die veld word daagliks deur die kuddewagters gemonitor en die lekinname word fyn dopgehou. ’n Verhoging in lekverbruik dui op verlaging in weidingkwaliteit wat beteken dat aanpassings gemaak moet word en dat diere geskuif moet word. Kampe word oorgestaan sodat dit geleentheid kry om te herstel. Water word ook so in die kampe geplaas dat vertrapping van die veld voorkom word.
Verskeie wildspesies word op Rondekop naby Parys, Lekwena naby Potchefstroom, en Nguni naby Upington aangehou. Hoewel die wildboerdery op jag fokus, is daar ook ’n groot klem op die teel van sekere wildspesies. “Ons besef dat as ons volhoubaar wil wees met wildsboerdery, ons al vier die pilare waarop die wildsbedryf staan, moet benut. Daarom teel ons hoë-waarde trofeediere wat ons jaarliks op veilings aan ander boere en jagondernemings aanbied. Sekere van ons diere word ook op ons plase gejag en met die verblyf wat ons bied saam met eko-toerisme verkry ons boonop addisionele inkomste. Ons verkoop ook ons eie wildsvleis wat ons in ons eie slaghuis verwerk. Ons poog ook om sover moontlik soveel van ons eie plaaslike produkte in die restaurant te gebruik,” verduidelik Joubert.
NAAM: ALS Group | KONTAK: www.alsgroup.co.za | 0861 257 257