Wat kry jy as jy beeste, dekgewasse en wyn op een plaas gooi? By Hartenberg buite Stellenbosch dink hulle dalk die antwoord is: die toekoms. ’n Groot navorsingsprojek, ReGenWine, het pas op dié wynlandgoed afgeskop, en hulle pak letterlik die bul by die horings.

“Ons wil kyk of ons met die natuur kan boer, eerder as teen haar,” sê prof. Melané Vivier van Stellenbosch Universiteit, wat die projek lei. Sy en haar span wil vasstel of regeneratiewe wynbou regtig die grond gesonder, die druiwe beter en die boerdery meer volhoubaar kan maak.
Waarom nou, en hoekom beeste?
Die wynbedryf staar groot uitdagings in die gesig, van klimaatsverandering tot insetkoste wat die hoogte inskiet. Wynmakers en boere soek dringend na nuwe antwoorde. “Ooral hoor ek mense praat oor volhoubaarheid,” sê Gerard Martin van South Africa Wine, die organisasie wat die projek help befonds. “Ons moet uitvind of regeneratiewe boerdery nie dalk daardie antwoord is nie.”
Dexter-beeste, kleiner en rustiger as Hartenberg se ikoniese Ankole’s, speel ’n hoofrol in die studie. Hulle word ná die oes tussen die rye ingestuur om dekgewasse soos hawer en grasse te bewei. Op dié manier voed hulle die grond met hul mis, werk die plante in met hul hoewe, en help so om kunsmis te bespaar. Intussen groei hulle self en kan later vir vleis verkoop word.

Van erdwurm tot wynkwaliteit
Volgens Wilhelm Joubert, Hartenberg se wingerdboukundige, het die plaas se hele ekostelsel verander toe hulle diere begin insit het. “Die grond het weer asem begin haal. Jy sien weer erdwurms, miskruiers… die lewe is terug.” En dis nie net mooi nie – dit kan wynmaak op die lang duur red.
Die ReGenWine-span werk met vyf spanne navorsers, elk met hul eie fokus: grond, plante, diere, ekonomie en projekkoördinering. Saam meet hulle alles van mikrobes in die grond tot suiker in die druiwe, en selfs die winsgewendheid van die stelsel.
Nie net nog ’n modegier nie
Wat hierdie studie anders maak, is dat dit in werklike wingerde plaasvind, met praktiese uitkomste wat regdeur die wynbedryf bruikbaar kan wees. “Ons wil nie net mooi stories vertel nie,” sê Vivier. “Ons wil harde data hê waarop boere kan besluit.”
ReGenWine bou voort op ’n kleiner projek wat reeds tussen 2022 en 2024 geloop het, maar dié keer is die doel groter: om ’n model te ontwikkel wat enige wynplaas kan gebruik, én verbeter.
Wêreldklas uit SA se wingerde
Die hoop is dat Suid-Afrika nie net kan byhou met wêreldtendense in regeneratiewe boerdery nie, maar dalk selfs kan voorloop. “As ons saamwerk, kan ons regtig wêreldklas-uitkomste lewer,” sê Martin.
