Woorde: Leoni Kok Fotografie: Michel dei-Cont
Ons durf die berugte Brandvlei/Katkop-pad na Boesmanskop-boerdery aan met die nodige toerusting om bande te herstel, want dis so te sê ‘n gelukskoot as mens nie ‘n pap wiel op hierdie pad kry nie. Meer as een pap wiel per rit is ook nie ongehoord nie. Die meeste boere rus derhalwe hulle bakkies met twee spaarbande toe. Dié nuus laat my benoud al die skerp klippe in die grondpad dophou en ek stuur gereeld skietgebedjies van ‘hou wiele hou’ na bo.
WAAR BANDE KOM OM TE DOOD TE GAAN
Naas water is die toestand van die omgewing se grondpaaie Loeriesfontein se gewildste gesprekspunt. Elke persoon wat ons teëkom, het ‘n papwiel-storie en Willem en Ansie Loubser het waarskynlik die meeste van almal, met dié dat hulle 110 kilometer buite die dorp woon.
Willem se Prado se bande lyk of Edward Scissorhands dit vir ‘n skilderdoek gebruik het en Ansie vertel hoe sy ‘n week of twee tevore drie pap bande in een rit te bowe moes kom. Verkeer op die Katkop-pad is maar yl en mens kan ure wag tot iemand tot jou redding kom. Van selfoonseine is daar ook nie sprake nie. Wat wel opval, is dat inwoners dadelik sal aftrek as jy stilstaan langs die pad om te hoor of alles in die haak is.
“Ons moet ons bande elke 30 duisend kilometer vervang, terwyl bande gewoonlik tussen 70 en 80 duisend kilometer hou,” plaas Willem hulle pad-probleme in perspektief. Die toestand van die Katkop pad hou ook ander probleme as bandskade in. Voerverskaffers is huiwerig om hulle vragmotors op die pad te laat ry en dis ook moeilik om permanente werkers te kry, omdat hulle so ver uit die dorp is.
Om die plaas se werkers van basiese kruideniersware te voorsien bedryf Ansie ‘n plaaswinkel en ‘n slaghuis waar sy onder meer skaapwors, -biltong en -maalvleis maak. Aan die einde van ons besoek kry ons elkeen ‘n heerlike lamsboud, wors en biltong persent met die belofte dat Boesmanland-lam heel anders smaak as Boland-lam, en ek kan daarvan getuig. Wie sou kon dink dat ‘n skaap se droëwors en -biltong kan kers vashou en selfs uitstaan bo beesbiltong?
Die Loubsers boer met skaap, soos al die produsente rondom Loeriesfontein, en Willem is die vierde geslag Loubser wat op Boesmanskop boer. Sy oupagrootjie het die plaas in 1891 vir 160 pond gekoop en die oorspronklike kaart en transportdokument hang geraam in hulle huis.
Om voordeel te trek uit beide somer- en winterreënval boer die Loubsers op vier plase, waarvan twee in die Boesmanland en twee in die Hantam nader aan Loeriesfontein geleë is. Die Boesmanland kry tradisioneel somerreën, terwyl die Hantam winterreën kry.
EINDE VAN DIE LYN VIR VELE
Sedert 2017 het nie een van die twee areas noemenswaardige reën gehad. “Dis die vyfde agtereenvolgende jaar wat beduidende droogtetoestande heers,” sê Willem. In 2019 is daar slegs 13 mm op die plaas gemeet. Vier van sy boorgate het totaal opgedroog en nog drie is so verswak, dat dit in onbruik verval het.
“Die huidige droogte het reeds gemaak dat baie plaashekke gesluit is en boere ‘n ander heenkome gaan soek. Die meeste beweeg nou land uit en oorweeg opsies soos Australië en Amerika. Ons boergemeenskap raak al hoe kleiner,” meen Willem. Veegetalle het ook baie afgeneem tot onder 50% van vroëer jare. “Om jou ‘n voorbeeld te gee, in normale jare is die Karoo, wat ook gedruk gaan onder hierdie intense droogte, se kapasiteit om skaap te hanteer ongeveer 150 000 skaap. Tans is daar net by die 60 000 skaap.”
In goeie reënvaljare is die skaapboerdery in die Boesmanland en Hantam heeltemal ekstensief en word lammers in die veld afgerond vir slaggereedheid. Maar wanneer die droogte begin teister – soos nou – moet die skaap gevoer word, en dit is ‘n enorme logistieke onderneming. Net om voer en waterpunte te diens moet daar elke dag 150 kilometer gery word. Boonop is dit ‘n duur spulletjie. Onderhoudvoer vir die boerdery beloop sowat R40 000 per week.
SONPANELE EN HOMMELTUIE
Ek vra of hommeltuie nie die hoeveelheid ryery sal verminder vir dinge soos heining-inspeksies nie. Willem meen dit sal wel groot besparings meebring op arbeid, diesel en slytasie op voertuie, maar omdat sy plase so groot is (altesaam 42 000 hektaar) het die hommeltuie wat tans beskikbaar is nie die batterykrag of reikwydte wat hy benodig nie.
Om lewensvatbaar in die omgewing met skaap te kan boer is die meeste plase bo tien duisend hektaar groot en dis nogal verbysterend om dié skaal te begryp. Dit het drie jaar geneem om Katkop, een van die Loubsers se Boesmanland-plase, se grensdraad van 56 kilometer te elektrifiseer.
“Ongediertes, veral jakkalse en rooikatte, veroorsaak vir ons groot skade,” verduidelik Willem die doel van die elektriese heining. Vandat die heining in werking is, het skaapverliese drasties afgeneem. “Ek sou sê die heining is 80% effektief teen jakkalse.” Voor die heining het die boerdery sowat 450 lammers per jaar verloor weens ongediertes, terwyl die syfers nou nader aan 150 is.
Rooikatte bly egter ‘n probleem omdat hulle oor die vier en ‘n half voet hoë heining kan spring. Om die probleem te oorkom is Willem-hulle besig om die nuwe elektriese heinings wat hulle oprig twee en ‘n half meter hoog te maak.
Van Eskom-krag is daar op die meeste Boesmanland-plase nie sprake nie en sonpanele word gebruik om die elektriese heinings aan te dryf. Elke 12,5km langs die grensdraad is daar ‘n sonpaneelstasie wat elektrisiteit vir die heining opwek. Om die heining meer duursaam te maak het Willem ook beton-spoorweg-dwarslêers gebruik in plaas van houtpale. ‘n Hyskraan moes elk van die dwarslêers plaas, omdat hulle 330kg weeg. “Ek probeer om my dragtige ooie en dié met lammers binne die elektriese heining te laat loop en die ander ooie buite.”
TE DROOG OM TE JAG
Buiten skaap is daar ook wild op Boesmanskop. Willem se pa was lief vir springbokke en het ook gemsbok, blesbok en blouwildbees na die plaas gebring. Sedertdien het Willem eland, rooihartebees en swartwildebees by die versameling gevoeg. “Ek het ook ‘n paar witblesbokke en swart springbokke wat natuurlik hier voorgekom het en waarmee ek verder geteel het.”
Die Loubsers se wildbedryf was voor die droogte op veral biltongjagters gemik. Hulle het klein groepe in ‘n mobiele kampterrein gehuisves, of soms selfs by hulle aan’t huis.
Maar weens die intense droogte is alle jagte onbeperk gekanselleer vir om en by die volgende drie jaar. Willem skat hulle het die afgelope paar jaar sowat 60% van hulle wild verloor het. “Dit sal minstens drie jaar van goeie reën behels voor die jagbedryf op Boesmanskop hervat kan word… Dieselfde geld vir die hele Boesmanland, Karoo en Noord-Kaap,” meen hy.
Ons gaan ry ‘n draai op die plaas en Willem wys vir ons ‘n stokou padskraper wat van yster gebou is. Hiermee skraap hy steeds sy plaaspaaie en ook dele van die Katkop-munisipale pad.
Terwyl ons verder verken, sien ek ‘n heining waarteen ‘n waterpyp vasgemaak is en ek wonder hoekom die pyp nie ondergronds lê nie. “Ystervarke grawe die pype uit die grond uit,” sê Willem. Hy glo ook dat dit nie water is waaragter die diere aan is nie. “Hulle grawe hom uit of hy water in het of nie. Naas jakkalse veroorsaak ystervarke die meeste skade.”
Voor ons vertrek, wys Willem ons ook die 720 hektaar-soutpan wat op sy grond geleë is. Die bekende Liquifruit-advertensie met die mooi modelle in die hittige son op die dor aarde is in dié soutpan geskiet. Dit was glo ‘n redelike storie om die filmspan met die probleempaaie by die pan te kry. Willem noem ‘n ander interessante ding. Die soutpan dien as ‘n natuurlike ‘heining’. Sy wild wei aan weerskante van die pan en gebruik dit as ‘n deurloop, terwyl geen skaap die pan sal oorkruis nie.
Met ons skaapvleis-geskenkpakkies en al is ons laatmiddag vort terug dorp toe, en daar is dit toe ook só. Die berugte pad eis een van ons bande. Dis g’n wonder party inwoners ry met oorpakke in hulle voertuie rond nie; dis ‘n vuil, stowwerige besigheid om só langs die pad ‘n band te ruil. Met geen spaarwiel en nog 70 kilometer se grondpad wat voorlê, is ons weer op pad terwyl my skietgebedjies van ‘hou wiele hou’ al hoe korter op mekaar.
Gelukkig kom ons sonder verdere moeilikheid terug by die gastehuis in Loeriesfontein waar ons ‘n klomp kontrakteurs raak kuier. Hier vind ons uit dat heelparty maatskappye hul werkers die pad tussen Brandvlei en Katkop belet. As hulle Brandvlei toe wil ry, moet hulle die ompad deur Calvinia vat.
Plaas: Boesmanskop-boerdery, Willem en Ansie Loubser| Ligging: Stellenbosch, Western Cape, Loeriesfontein, South Africa | Kontak: w.i.k@hotmail.com