Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel dei-Cont
Só mildelik het dit hier gereën dat elke duik en holte ‘n vleitjie vorm waar bloukraanvoëls spoggerig pik-pik aan ‘n feesmaal van garssaad en goggas. Dis nie net die Overberg se voëls wat floreer nie. Die wollerige ronde skape lyk soos strokiesprent-wolkies teen ‘n grasgroen hemel.

Ons draai af op die Tesselaarsdal-pad en volg die GPS blindelings deur groen en goudgeel heuwels na SAB se proefplaas. Ná die tyd is ek nie seker wat ek nou juis van hierdie plaas verwag het nie, maar die kombinasie van moderne argitektuur en tegnologiese innovasie het dit beslis oortref.
Die modelplaas huisves SAB se hoofkantoor vir navorsing en ontwikkeling in Suid-Afrika sowel as SABBI, die South African Barley Breeding Institute. Die sentrum dien as die middelpunt vir navorsing en ontwikkeling waar die hele proses van seed to sip vervolmaak word. Alhoewel die sentrum op ontwikkeling van moutgars gefokus is, word ander kommoditeite wat elders in Afrika gebruik word, soos sorghum en kassawe van Oos-Afrika, ook hier nagevors.

Ons praat alles oor gars met Manfred Venter, AB InBev se agronoom in die Wes-Kaap, en Hennie le Roux, die bestuurder van die modelplaas. Hennie het by Elsenburg landbou studeer en ‘n nagraadse diploma in Agronomie (Akkerbou) voltooi voor hy in 2014 by die plaas aangesluit het.
VOERGARS OPBRENGSVERHOGING
Manfred verduidelik die verskil tussen moutgars en voergars. “ABInBev het streng internasionale standaarde waaraan moutgars moet voldoen. Indien gars wat gelewer word nie aan die standaarde voldoen nie, word dit as voergars geklassifiseer,” sê Manfred. Ek assosieer die Overberg nog altyd met koring en canola, maar met hierdie besoek is daar opvallend baie gars op die land. “Ja, die boere hier saai al meer gars as koring as gevolg van die verhoogde aanvraag na moutgars en die goeie opbrengste wat gars in vergelyking met koring en canola in die gebied gee,” sê Hennie.

Hy verduidelik dat die vrystelling van die Hessekwa-kultivar in 2012 ‘n groot rol in die ommeswaai na gars-produksie gespeel het. “Al ons gars-kultivars word na streke vernoem, soos Hessekwa, Elim en Bitou. SABBI is een faset van die hele proses. Hulle ontwikkel garskultivars wat aangepas is tot Suid-Afrikaanse toestande,” sê Hennie.
“En dan vermeerder Hennie die saad hier op die modelplaas,” voeg Manfred by.
“Die doel van ons werk op die modelplaas is om opbrengsverhoging in vergelyking met koring te verseker. Dit is een van die hoofredes hoekom saaiboere na gars oorslaan. Dis ook voordelig dat SAB se aanvraag na gars toegeneem het en dat hulle ‘n moutfabriek in Caledon het. Gars pas goed in by die streek en dit stimuleer die plaaslike ekonomie,” sê Hennie.
MOUTFABRIEK
Seker die grootste voordeel wat boere trek uit die vestiging van die modelplaas en SABBI in die Overberg, is dat die saad vir hierdie area geteel word. “Ons doen onbevooroordeelde navorsing en verkoop self niks – geen chemie of kunsmis – aan die produsent nie. Ons doen die navorsing om vir produsente te kan sê hoe om die gewas optimaal te verbou, van bemesting, tot chemie en bewerking. Hulle kan kies of hulle dit wil toepas,” sê Manfred.

“Dis hoekom Hennie se rol hier so belangrik is, om die saad op groter skaal op die proef te stel. Hy plant nie net ‘n klein blokkie nie. Ons rol dit op ‘n kommersiële vlak uit.”
Die plaas is 2 300 ha groot en Hennie saai jaarliks 1 500 ha, waarvan gars jaarliks ongeveer een derde uitmaak. Hy pas ‘n deurlopende wisselboustelsel toe, een wat jaarliks afgewissel word, met een derde gars, een derde koring en een derde canola, lupine en hawer.
“Die publiek besef nie altyd hoeveel beroepe daar in landbou is en die vaardighede wat benodig word om ’n suksesvolle landbouer te wees nie.”
Gars word in Mei geplant en begin November geoes. Die plaas se gemiddelde opbrengs oor die afgelope vyf jaar is 3.6 ton per hektaar.

Die plaas het ‘n tweeledige uitdaging: om graanopbrengs vir hul produsente te verseker, maar om ook die kwaliteit te lewer wat hul koper, die moutfabriek, verlang. Die moutfabriek verkoop die mout verder aan SAB se netwerk van brouerye om bier daarvan te maak. “Dis ons uitdaging,” sê Hennie. “Daarom is ons besig met die oprigting van ‘n mikro-brouery op die plaas sodat ons vinniger die vermoë van ‘n kultivar in mout en brouery kan beproef.”
Ek is self geneig om die maak van bier as ’n meer robuuste proses as wynmaak te beskou, maar teen die volumes wat SAB bier produseer is dit ‘n presiese wetenskap.

“Ons moet groot dink, en wat dinge moeiliker maak, is dat die produk altyd dieselfde moet proe. ‘n Bierdrinker verwag dat ‘n bottel bier presies dieselfde moet proe as die vorige, en dit geld ook van jaar tot jaar en selfs van dekade tot dekade. As iemand al vir twintig jaar Castle drink, moet dit altyd soos Castle proe,” sê Hennie.
SABBI se hoof-garskweker, Daniel de Klerk, kweek die saad, waarna dit onder besproeiing by Hartswater geplant word om te vermeerder omdat die opbrengs daar soveel hoër is. “En dan kom die saad na my en na ander saad-vermenigvuldigers toe – onafhanklike boere in die Overberg – wat dit op grootskaal vermeerder,” sê Hennie.

KENNERS IN HUL VAKGEBIED
Die modelplaas het ‘n jong, dinamiese energie; van die geboue tot die denkwyse en uitvoering is progressief. Ons ontmoet ‘n paar vakleerlinge wat hul loopbane as garskwekers hier op die perseel begin, maar selfs die bestuur lyk bloedjonk, al is hulle kenners in hul vakgebied. Dit is ‘n opwindende spasie om te betree, op ‘n vlak wat nie tipies met landbou geassosieer word nie.
“Die publiek besef nie altyd hoeveel beroepe daar in landbou is en die vaardighede wat benodig word om ‘n suksesvolle landbouer te wees nie. Jy kry suiwer wetenskaplikes en dan kry jy mense soos Hennie wat ‘n wetenskaplike, ‘n entrepreneur en ‘n grondkundige is. Dit is ‘n kombinasie van laboratorium- en plaaswerk,” meen Manfred.


Ons besluit om die wetenskap vir die grond te verruil en ry na die “mikro-plasies” waar Hennie sy proewe doen. Op pad wys Hennie ‘n klein modderstorting uit waar die swaar, nat grond nie langer aan die heuwel kon klou nie. Ondanks die reën wat reeds geval het, is September ‘n kritieke maand in gars se groeisiklus. “Ons benodig in September 25 tot 30 mm vir die oes om optimaal te dra,” sê Hennie.
Maar gars is nie altyd groener nie. “Wat gars moeilik maak – waar die risiko van garsproduksie hoër kan wees – is omdat jy die saad se embrio lewendig van die land af tot in die silo moet vat, en van die silo tot in die moutfabriek.”
‘n Helikopter kap skerp draaie in die lug terwyl dit die lande met gewasbeskermingsprodukte bespuit. Hennie se mikro-plasies bestaan uit stroke graan wat met verskillende hoeveelhede stikstof behandel word. “En ek los altyd een strook sonder enige stikstof,” voeg hy by. Hy eksperimenteer ook met plantmetodes. Die eerste land is met ‘n tand-planter geplant wat 28% grondversteuring tot gevolg het; met die tweede het hy ‘n geen-bewerkingsplanter gebruik wat minder as 2% grondversteuring veroorsaak.

Ná die gars geoes word, word dit in windrye gegooi om vir tien dae te lê. Dan tel die stroper dit op en word dit na ‘n bergingseenheid gestuur.
Maar gars is nie altyd groener nie. “Wat gars moeilik maak – waar die risiko van garsproduksie hoër kan wees – is omdat jy die saad se embrio lewendig van die land af tot in die silo moet vat, en van die silo tot in die moutfabriek. Want daai saadjie moet weer kan ontkiem,” sê Hennie. Manfred illustreer deur ‘n garshalm te pluk en dit middeldeur te sny sodat ons die ontwikkelende aar kan sien.
Terug by SAB se futuristiese kantoor gee Hennie vir ons ‘n spesiale uitgawe bier wat jaarliks aan produsente gegee word om die oesjaar te herdenk. Ons kry elkeen ‘n blikkie Castle Lager Harvest 2019 Reserve. My keel is droog gepraat maar ons moet wag tot later om die plaaslik geproduseerde moutgars-brousel te proe. Want, soos hulle sê: the proof is in the pudding.
En hulle is die Overberg se poeding-spesialiste.
SAB-proefplaas | Area: Caledon, Wes-Kaap | Kontak: www.ab-inbev.com
2 Comments