Woorde: Clifford Roberts Fotografie: Greta Gericke
Rean de Waal is ‘n boer wat ‘n plan kan maak – en nie net met die vreemde, wonderlike en selfontwerpte implemente in sy skuur nie. Die feit dat hy naby Vredendal eksklusief met wyndruiwe boer in ‘n streek wat ál meer oorskuif na gemengde boerdery, sal enige besoeker se wenkbroue laat lig. Nie dat dit nie elders met sukses gebeur nie, maar volgens Rean gaan dit nie te sleg met hom nie. “Ek het my besigheid se fokus verander,” verklaar hy.
Rean se familie boer al ‘n geruime tyd hier. Sy oupa het die plaas in die depressiejare gekoop. Daar was nie veel toe hy begin het nie, maar oor die jare is die plaas opgebou. Rean se pa het oorgeneem en twee eiendomme bygekoop, en Rean het op sy beurt weer twee bygevoeg toe hy in 1993 die leisels oorgeneem het.
Vandag beslaan die plaas 143 ha met 110 ha onder wingerd. Verbasend genoeg gaan die grootste deel van sy oes na ‘n kelder 250 km ver weg – Mountain Ridge in die Tulbagh-streek.
VER VAN JOU WYN, NA AAN JOU WINGERD
Die storie oor hoe hy daar betrokke geraak het, het ‘n aanloop. Rean sê hy het gekyk na ander moontlikhede, maar was versigtig vir ‘n “gemors maak”. ‘n Eie kelder in Vredendal maak nie vir hom sin nie omdat dit so ver van die mark is.
Sowat 18 jaar gelede sien hy en twee vennote toe ‘n moontlike geleentheid naby Wolseley: die ou Romansrivier-kelder wat toe staan. “Ons het saamgespan en genoeg tonne bymekaar gemaak om die deure weer te open en ‘n bemarker aangestel,” vertel hy, en voeg by dat dit sy buurman, Joubert Roux, was wat met dié goeie besigheidsidee vorendag gekom het. Rean sê hy’t baie by hom geleer.
Die 8 700-ton-kelder is met 1 000 ton aan die gang gekry, “natuurlik met die hoë kostes omdat die volume laag was”. Later het sy vennote onttrek en het sy aanvanklike leweringsvolume aansienlik gegroei. Hy het aanvanklik met ‘n 30-ton-vrag saam met die vennote ingeklim.
“Wynkopers en wynmakers was baie beïndruk daarmee! Uiteindelik kon ek die besigheid uitbrei onder die handelsmerk Mountain Ridge.” Hy voeg by dat die druiwe plaaslik afgeklas is, nog voordat dit in die tenk was, “omdat dit nie gelyk het soos die voorgeskrewe prentjie van ‘n ideale opgeleide wingerdstok nie”.
VASTRAP EN DEURDRUK
Met hernieude ywer het die bestuur van die onderneming stabiliseer en baie van die ou lede ook teruggetrek. Tans is daar sowat 23 van hulle, meestal uit die Breederivier. “Ons het nou ook ‘n groot persentasie aandele, wat nie uitgereik is nie, waarmee ons besigheid doen. Dit laat jou toe om wyne aan te koop en het dus die kelder verplig om markverwante pryse te behaal.” Druiwe word vanuit groot dele van die Wes-Kaap verskaf wat sekuriteit bied ten opsigte van kwaliteit.
Rean lewer deesdae amper 3 000 ton wyndruiwe van sy plaas, en as hy spasie kort, help buurkelders. “Ek lewer steeds plaaslik ‘n klein hoeveelheid om my kwotakostes te dek, maar het nog altyd geglo jy moet ‘n backup vir jou druiwe hê, en myne is in plek.”
Die verskuiwings in die vallei se wynbedryf noodsaak diversifikasie, “maar jy moet jou volle aandag gee. Landbou in Afrika is nie ‘n plek om foute te maak nie. Jy moet hoë produksie met die laagste insetkoste kan doen en kwaliteit lewer. In wyn kry ons dit reg met ‘n klein kelder.”
Mountain Ridge spits hom op grootmaat en nismarkte toe en skep klein platforms vanwaar hulle kan bemark, soos by Hartebeespoortdam. “Jong bestuurders word aangestel – hulle is vol energie, wat nodig is, want daar is baie wyne op die mark en die kompetisie is straf.
DROËER TOEKOMS
“Sukses gebeur met nuwe gedagtes en planne,” sê Rean. “Ná die afgelope jare se droogte is dit ‘n deurgetrapte leefwyse dié. Om te deurnag het ‘n gewoonte geraak. Ek het hier leer koffie drink.” Hy reken die maatreëls wat hy toegepas het om in hierdie strawwe tyd net sy wingerde te laat bot, het hom ‘n addisionele R1,5m gekos. Dis nou buiten die addisionele waterpype en damme wat gekom het.
“Ek het darem 75% van my oes gehad. Maar dit raak werk.”
Deel van die proses was ook om vir water te boor – iets wat teen ‘n ongekende pas oral in die vallei gebeur. Daar is nog diegene wat glo die droogte is net deel van ‘n siklus, sê Rean. “Maar dit wat nou gebeur, is die toekoms. Dinge verander. Hierdie klimaat is nie ‘n tendens nie – dit het al in 2003 begin. Dit gaan al droër raak. Jy kan maar gaan kyk; die saaiplase van Bitterfontein is weg en nou is daar net natuurreservate.
“As jy nie daarin glo nie, gaan jy nie aanpas nie. En as jy nie aanpas nie, gaan jy vou.”
LOSKOP EENDE EN ‘N SLAKTRAPPER
Ons verlaat sy kantoor en stap langs die kanaal om die sonsondergang te bewonder. Die toerusting in sy skuur trek weer ons aandag. Hy nooi ons om te kom kyk na die snoeimasjien – ‘n omgeboude trekker met soveel vlymskerp arms dat jy mooi moet kyk waar jy loop; ook die “slaktrapper”, die resultaat van ‘n lang stryd met dié klein witdopgediertes wat wingerdstokke kan verorber.
“Ek het eende probeer,” sê hy, maar die projek is vinnig beëindig nadat Rean een laatnag in ‘n duikpak agter die klomp aan is nadat hulle in die kanaal ontsnap het. Twee ander het in ‘n boorgat vasgesit. Die slaktrapper, met sy vier, nougesette bande, doen nou die werk.
En wat is nou beter as ‘n plan wat goed werk?
Plaas: Welgemeen-plaas en Mountain Ridge-wyne | Produsent: Rean de Waal | Area: Vredendal, Wes-Kaap, Suid-Afrika | Webwerf: www.mountainridge.co.za
Dankie Rean vir die liefde wat jy het. En dit laat groei in ons jonger geslag om vooruit te boer deur reg te beplan.