News
Leave a comment

Landbou nie so swaar getref deur Covid-19-pandemie nie; individuele boere kry swaar

Woorde: Danie Keet

Dit is goed dat landbou, voedselproduksie en die verspreiding en kleinhandelverkope van voedsel aan die begin van die Korona-pandemie deur die regering as noodsaaklike dienste verklaar is. Dit dui daarop dat die direkte impak van die pandemie op die landbou-sektor beperk sal wees. Dit is die mening van Prof Johan Kirsten, direkteur van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BER) aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Om egter te verseker dat die voedselverskaffingsketting bly funksioneer, is dit noodsaaklik dat ander noodsaaklike ondersteuningsdienste in spel gehou word. As hierdie stelsels nie in stand gehou word nie, kan dit ernstige gevolge vir voedselveiligheid inhou.” 

Kirsten meen dat die verbod op die aktiwiteite van informele handelaars ‘n belangrike skakel in die voedselverskaffingsketting verwyder. Gelukkig is hierdie verbod vinnig opgehef, maar nie sonder negatiewe gevolge vir die varsproduktemarkte nie, wat tot ’n daling in pryse van groente en vrugte gelei het en so boere se inkomste geknou het.

“Om die ware impak van die Covid-19-pandemie op die landbou-ekonomie van Suid-Afrika te kan verstaan, moet ‘n mens na die potensiële impak van die virus kyk.

“Dit is ook krities belangrik om duidelik te onderskei tussen die uitdagings wat reeds voor die uitbreek van Covid-19 bestaan het en die ware impak van die virus weens die pandemie. Dit is veral belangrik om te verseker dat die regering se hulpprogramme reg aangewend word.”

Volgens Kirsten is daar verskeie vlakke waarop die landbou-ekonomie deur die pandemie geraak word.

“Die waardeketting in die landbousektor is operasioneel, alhoewel nie teen optimale vlakke nie en met gevolglike bottelnekke en blokkasies wat tot produkverlies aanleiding sal gee.”

“Eerstens is dit die impak van die virus per se, wat weggelaat kan word en slegs korttermyn verskaffingsversteurings veroorsaak. Tweedens is daar die paniek, wat in lae sake- en verbruikersvertroue weerspieël word, wat ‘n groot impak het, en derdens die inperkingsregulasies self, wat ‘n groter en ernstiger impak het.”

Dr Peter Oberen:

Dr Peter Oberen, ‘n voormalige veearts en bekende sakeman in die landbousektor, deel hierdie sentimente. “Landbou is uit die staanspoor as ‘n kritiese bedryf geklassifiseer en was as sodanig uitgesluit by die swaarste inperkingsmaatreëls. Werkverlies in die landbousektor sal egter ‘n onbedoelde uitkoms van die inperking wees. In Suid-Afrika sal dit vir die regering ‘n ernstige stok in die speke veroorsaak insake sy ambisie om werksverskaffing in die landbousektor teen 2030 met ‘n miljoen poste uit te brei. En alhoewel die landbou as noodsaaklike dienstesektor verklaar is, word die sekondêre landboubedrywe in die besonder deur die inperking geraak.”

“Die waardeketting in die landbousektor is operasioneel, alhoewel nie teen optimale vlakke nie en met gevolglike bottelnekke en blokkasies wat tot produkverlies aanleiding sal gee.”

“Met restaurante wat gesluit is, het die vraag na primavleissnitte, byvoorbeeld, gedaal tot op ‘n punt waar sommige voerkrale nie meer beeste inkoop nie, wat weer sodoende hul besigheid en werksgeleenthede in gevaar stel. Die deurset by slagpale het ook gekwyn.”

“Landbou-aktiwiteite kon regdeur die inperkingstyd voortgaan, buiten die handel van wyn op die plaaslike mark. Die wynbedryf is pas ook weer hard getref deur ‘n tweede verbod op plaaslike wynverkope nadat die verkope aanvanklik weer onder beperkte omstandighede oopgestel is.”

Jannie Strydom:

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, betwyfel of die regering besef watter enorme skade die besluit om weer drankverkope op te hef, op die totale wynwaardeketting gaan hê.

“Vlak vyf en vier van die nasionale inperking het reeds ‘n groot nadelige uitwerking op die wynbedryf gehad toe die verbod op binnelandse verkope ‘n inkomste-verlies van meer as R3 miljard tot gevolg gehad het.”

“Ons is uiters bekommerd oor werksverliese wat reeds as gevolg van Covid-19-regulasies in die waardeketting voorgekom het. Na raming kan nog 18 000 werkers geraak word.”

“Die besluit om drankverkope wéér te verbied, gaan ook verdere druk plaas op talle produsente en wynkelders wat reeds enorme skade vanweë Covid-19-regulasies gely het en wat ‘n groot behoefte aan oorbruggingsfinansiering het. Daar bestaan ook praktiese implikasies, soos wat van 2021 se oes gaan word as die 2020 oes nog in die kelders is. Die totale spiritualieë-bedryf, waarvan die oorsprong in die landbou lê, word nadelig deur die opheffing van drankverkope beïnvloed,” het Strydom gesê.

Vinpro:

Vinpro, die bedryfsorganisasie vir die wynbedryf wat meer as 300 000 werkers huisves, is tans besig om met die regering hieroor te onderhandel. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, meen die bedryf is steeds daartoe verbind om met die regering saam te werk om die maatskaplike uitdagings wat verband hou met alkoholmisbruik en die impak daarvan op die gesondheidsektor aan te spreek.

“Ten spyte van gereelde skakeling met die Departement van Handel, Nywerheid en Kompetisie die afgelope tyd, het die wynbedryf geen waarskuwing oor die verbod gekry nie en het dit ook nie die geleentheid gekry om hieroor te onderhandel met die Nasionale Koronavirus-beheerraad nie. Geen oorweging hoegenaamd is gegee aan die onmiddellike logistiese probleme vir verskaffers, verspreiders en die kleinhandel nie.”

“Daar word reeds geskat dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf in die volgende jaar omtrent 80 wynprodusente en 350 wyndruifprodusente kan verloor weens die vorige verbod van 5 weke op die uitvoer van alkohol en ’n verbod van 9 weke op plaaslike wynverkope. Die bedryf het in hierdie tyd ‘n verlies van R3 miljard gely.”

Prof Johan Kirsten:

Volgens Kirsten het die sluiting van die kos-weg-van-die-huisbedryf, wat ‘n belangrike rol in die voedselwaardeketting speel, ook ‘n groot impak op die landbousektore gehad.

“Dit sluit in restaurante, hotelle, gastehuise, koffiewinkels en spysenieringsondernemings. En moenie vergeet van die entrepreneurs wat warm maaltye aan verbygangers en taxibestuurders verskaf nie. Gesamentlik vereis hierdie sektore ‘n groot volume voedselprodukte van die groothandel, varsproduktemarkte en voedselverwerkingsektore in die verskaffingsketting. Dit het gelei tot die tydelike daling van pryse betaal op plase, veral vir rooivleis, groente en vrugte.”

“BFAP (Bureau for Food and Agricultural Policy) se voorlopige basisverslag voorspel egter ‘n 6% jaar-op-jaar styging van die reële landbou BBP wat dus voorspel dat die gemiddelde landbou-opbrengs nie slegter daaraan toe sal wees nie – dit is net spesifieke boere wat sal swaarkry.”

Volgens Statistiek Suid-Afrika (SSA) het groothandelverkope van landbouprodukte regdeur die inperkingstyd voortgegaan, weer met die uitsondering van wyn in die plaaslike mark natuurlik.

Die groothandel-landbouprodukverkope was in April 42,6% minder as in April 2019. In Mei het die agterstand gekrimp tot ongeveer 20,7% minder as in Mei 2019.

Tussen Maart en April vanjaar het die verkope van landbouprodukte in die groothandel met 35,5% gedaal. Met die verslapping van die inperkings tot vlak 4 is dit egter opgevolg met ‘n styging van 29,7% in Mei.

Kirsten glo dat as ‘n mens aanneem dat die virus ‘n minimale direkte impak op boere en werkers het, moet jy steeds die regulasies wat onder rampbestuurwetgewing uitgereik is, verstaan om die ware impak daarvan op die landboubedryf te begryp. 

“Dit verskaf terselfdertyd duidelike riglyne oor die landbousektore wat hierdeur benadeel is. Hierdie sektore het die grootste nood aan regeringsbystand om ‘n ekonomiese ineenstorting van boere en boere-besighede te voorkom.”

“Deur ‘n rasionale benadering te volg saam met ‘n analise van die regulasies, is dit duidelik dat die regering se regulasies, en ook die korona-virus, ‘n minimale impak op die grootste deel van die landbousektor sal hê.”

“Die sektore waar kontantvloei vir ten minste ‘n maand of selfs heeltemal opgedroog het, of waar verkoopvolumes dramaties gedaal het weens die inperkingsregulasies, moet ideaal gesproke vir die regering se ondersteuningsprogramme kwalifiseer. Dit sluit in wynkelders, wynlandgoedere en wyndruifprodusente, hoenderboere, wol, braaikuikens, sybokhaar, die blommebedryf en dierevelle,” het Kirsten gesê.

Filed under: News

by

Danie is an award-winning journalist with three decades of news writing under his belt. He has a special love for local news, having served as the editor of a community newspaper for seven years. He is has also written for most of the daily newspapers and a variety of online news platforms. People and what make them tick intrigues him, but he is also fond of wine, travel, environmental, investigative and a host of other stories. “Being in the outdoors, with people who has a love for nature in their souls, and to put those feelings and experiences into words, is the ultimate challenge to me as journalist.”

Leave a Reply

Your email address will not be published.