Farm to Fork, Farm Tourism, farmers
comments 2

Gifberg se boere skiet ‘n kolslag

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont en verskaf

Awie en Ancarene van der Westhuizen se plaas, Welverdiend, lê aan die voet van Gifberg met ‘n uitsig wat strek van Maskamberg se rugkant tot waar Gifberg eindig. Ons ontmoet in Koekemakranka Plaaskombuis, die restaurant en kuierarea waar Maskam Gastehuis se mense aan tuisgebakte brood en brousels smul.

Die gulhartige Van der Westhuizens, van links af, Ancarene, Sebastiaan, Awie en Alexis.

“Ek is hier bo-op Gifberg gebore,” beduie Awie. “Op die plaas Kantoorshoek.” Gifberg is vernoem na die giftige bessies van ‘n bos wat op die berg groei. Khoisan het dié bessiegif gebruik om aan hul pylpunte te smeer. Awie vertel die bessies is só giftig, “as die bessie se pitte in ‘n klipbak val en skape suip van daai water, dan vrek hulle.”

Ancarene is van Zastron in die Suid-Vrystaat en saam het hulle vir baie jare in Johannesburg gewoon en by Skynet Worldwide Express gewerk. Die familie het ongeveer vyftien jaar gelede terug getrek en aanvanklik in Vanrhynsdorp gewoon. Ancarene het toe reeds begin om die hoofhuis op Welverdiend aan blommekykers te verhuur. Hulle het die plaas in 2006 gekoop en eers in 2011 voltyds hier kom woon en boer. “Hulle sê mos, ver van jou goed, na aan jou skade,” sê Awie. “Vandat ons hier kom bly het, het alles begin floreer,” beaam Ancarene.

ROOIBOS, PATAT EN DORPERS

Awie boer met 120 ha organiese rooibos wat aan Cape Natural gelewer word. “Ek spuit niks gif op my tee nie, want ek en my familie drink dit ook. Waarvoor sal ek gif op ons eie tee spuit?” Hy boer ook met 140 Meatmaster skape en 60 wit Dorpers wat in die veld wei en saans in kampies slaap, want so na aan die berg is jakkalse, rooikatte en luiperds volop. Awie meen sy skaapvleis het ‘n baie unieke geur. As hulle die kans kry, lê hulle lekker weg aan sy tee. “Hulle vréét rooibos. As jy nie versigtig is nie vreet ‘n Dorper jou droppers ook!” sê hy.

Op hierdie plaas dra elke stuk grond sy deel by en daarom word die teebaan as ‘n tennisbaan gebruik.
Die skape slaap saans in kampies om hulle teen roofdiere te beskerm.

Awie plant twee tot drie hektaar patat op ‘n slag en het gedurig patat in die grond. Hy kry die kernrankie van ‘n geteelde patat-kruising uit Pretoria. Hierdie kruising groei vinniger en waar ‘n gewone patat eers ná ses maande geoes kan word, is die kruising binne drie tot vier maande oesgereed. “Jy kan hom net drie keer plant, dan raak jou patat bont,” sê hy. Patat wat in Januarie geplant word, is in April reg, maar hy laat die patat in die grond lê tot middel Augustus sodat meer rankies gepluk kan word om weer te plant. “As jy die rankie afbreek moet hy melk hê, anders sal hy nie groei nie.”

Awie bemes sy patats met onder andere termiethope.

DIVERSE PLAASTOERISME

Dit was aanvanklik vir Ancarene ‘n groot aanpassing om op die plaas te woon. Maar ná 2011 het hulle begin met die oprigting van gaste-akkommodasie. Twee ou werkershuise is gerestoureer en drie nuwe huisies is gebou wat altesaam 19 gaste huisves. Alle eenhede is toegerus met kookgeriewe, lugverkoeling vir die bloedige somers, ‘n kaggel vir die wintermaande, ‘n braaiarea en, die belangrikste van alles, ‘n asemrowende uitsig oor die bergreeks.

Die plaas het twee staproetes vir besoekers wat die omliggende veld en berge wat in Augustusmaand met ‘n dik blomtapyt bedek word, wil verken.   

Die Van der Westhuizens het twee blomroetes van onderskeidelik 5,6 km en 7,8 km geskep sodat gaste die area te voet of per fiets kan verken. Augustusmaand is volgens Ancarene wanneer die Maskam se blomme op hul mooiste is. Sy’t aanvanklik middagetes vir verbygaande blommekykers gemaak en later begin om vir haar eie gaste ontbyt te bedien. “Maar dit het beteken dat ek alles in warm skottels na die huisies moes dra. Toe bou ons in 2019 die Koekemakranka Plaaskombuis waar almal wat nie vir hulself wil sorg nie, kan kom eet,” sê sy. Benewens ontbyt, bedien sy ook tweegang-aandetes op aanvraag.

Maskam het drie eenhede wat vyf gaste elk huisves en twee eenslaapkamer-eenhede vir paartjies wat ‘n romantiese wegbreek wil geniet.

Ancarene het ‘n ruim hart en besige hande wat daarvan hou om mense te bederf. Maskam Gasteplaas het natuurlik met die grendelstaat leeg geloop, maar sy woeker voort. “Gedurende lockdown het ek nou koeksisters bemeester. Ek’t nooit tyd gehad om te leer nie, maar nou kan ek,” sê sy en sit ‘n bord netjies gevlegte koeksisters voor ons neer. Sy’t ook die romerigste melktert met hul eie plaaseiers gemaak sowel as twee varsgebakte spogbrode – ‘n sonneblomsaadbrood en ‘n soetsuurdeegbrood.

Ek wil weet hoe groot haar oond is, want die brode is indrukwekkend. “Dis sommer ‘n gewone oond,” lag sy. “Maar sy deur wil nie meer toemaak nie, so nou moet ek ‘n stoel daarteen sit wanneer ek bak!” Sommige mense laat hulle net nie onderkry nie. Elke Vrydag laai sy haar motor vol vars brood om in Vredendal af te lewer. Ancarene bemark en verkoop ook haar brood en tuisgemaakte konfyt op Maskam Gastehuis se Facebook-blad.

Ancarene se hande staan vir niks verkeerd nie. Die rakke staan vol van haar ingelegte plaasprodukte. 

Awie is ewe kreatief met vloeibare verversings. Hier word nie rondgespeel met pynappelbier nie. Hy stook sy eie witblits en mampoer – laasgenoemde van enige vrugte wat hy kan kry. Ek wonder of die konfytkoker en die stoker ooit stry kry oor wie die surplus vrugte mag gebruik. “As die voorloop oranje brand, dan moet jy weet dis skoon metanol. Maar as hy blou brand, dan kan jy hom drink,” sê Awie terwyl hy twee kleurlose brousels in Consol-flessies oopdraai. Ek is ewe verlig as teleurgesteld toe hy ‘n proesel vat en besluit dat ons liewer nie dié vuurwater moet teug nie.

BLINK PLAN MET TURKSVY-SAADOLIE

Awie het sy eie manier van dink en doen. “Ek plant nou groot turksvye, want vorentoe wil ek die olie uit die pitte pars,” vertel hy. Turksvy-saadolie is ‘n gesogte basis-bestanddeel in die kosmetiese bedryf, propvol anti-oksidante om Vader Tyd se aanslag op ons velle te negeer. “Eendag as ek genoeg turksvye het, sal ek die masjiene koop om die olie uit te haal, want dis baie duur.” Awie sny turksvyblare af en laat hulle vir veertien dae lê voor die blaar direk in die grond geplant word. As alles goed gaan, groei elke blaar tot ‘n boom. Hy het al 130 blare geoes en ook 27 doringlose blare van Namibië gekry. “Ouens in die Vrystaat vra tot R20 ‘n blaar! Ek gaan alle soorte plant. Ek het reeds die pers, groen en doringlose turksvy.”

Awie plant turksvye, want hy het groot planne om die olie uit pitte te pars. 

Met 120 ha rooibos wil ek weet of Awie ‘n teebaan het. “Ja, ons droog hom op die tennisbaan,” sê hy. Wanneer ons verby die sementblad met sy wit lyne ry, wonder ek of hulle tee op die tennisbaan droog, of tennis op die teebaan speel? Om’t ewe, as daar balle geslaan wil word, word die net opgesit.

“Ek weet dit klink soos ’n boere-liegstorie, maar ons kalkoenkuikens het sonder rede vreeslik gevrek, tot ons stukke termiethoop in die hok gegooi het. Toe hou hulle op met dood.”

Die sonsondergang begin net-net teen Gifberg se kranse gloei toe ons saam met Awie die plaas gaan verken. Ons ry verby ‘n paar Hereford-beeste wat saam met ‘n ponie in die veld staan. Die ponie, Lady, lei die bees die hele plaas vol, vertel hy. Awie stop by die kampie waar sy turksvyblare geplant is. Daar is ook rye uie, slaai en groente. “Ek moes ‘n ruk terug vir Ancarene ‘n sak uie bring, toe vra hulle my R90 ‘n sak. Ek’t net daar besluit ‘nooit weer nie’ en my eie uie geplant.” Die slaai en groente is vir tuisgebruik en natuurlik ook vir hul gaste.  

“Oral waar daar ‘n duik is, maak ek ‘n stukkie land, want die watertoevoer is goed. Ons het nie ‘n enkele pomp op hierdie plaas nie. Dis alles bergwater wat met gravitasie vloei,” sê hy. Al vloei die water op dié land goed, het Awie besef dat die grond arm is. “Dis waaisand hierdie,” sê hy. Hy’t die grond laat ontleed en by oom Lodewyk, Vanrhynsdorp se uie-koning, gaan aanklop vir raad. “Hy’t gesê ek moenie hoendermis op my uie gooi nie, dis te sterk. Ek moet perdemis koop. Toe koop ek tien sakke.” Awie gebruik ‘n mengsel van perdemis, beesmis en skaapmis op sy groente, maar volgens hom is daar geen beter kunsmis as ‘n termiethoop nie. Stukkies termiethoop lê oral oor die rye gestrooi. “Ek weet dit klink soos ‘n boere-liegstorie, maar ons kalkoenkuikens het sonder rede vreeslik gevrek, tot ons stukke termiethoop in die hok gegooi het. Toe hou hulle op met dood. Want ‘n mier maak ‘n antibiotika wat hulle in daai gangetjies inwerk soos hulle dit bou, en dis wat keer dat hulle siek raak.” By Maskam Gasteplaas word lekker kos en lekker stories met oorgawe bedien.

Met meer tyd op hande, het Ancarene besluit om koeksisters baas te raak – iets waarvoor sy nooit voorheen tyd gekry het nie. 

ROOIBOS-KOEKSISTERS

Bestanddele

  • 500 gram suiker
  • 1 kaneelstokkie
  • ¼ teelepel fyn gemmer
  • 1 koppie rooibostee
  • ½ koppie suurlemoensap
  • 1½ koppie bruismeel
  • 40 gram botter – in blokkies gesny
  • ½ koppie melk
  • Olie om die koeksisters in te braai.

Metode

Stroop:

1. Verhit die suiker, speserye, tee en suurlemoensap en roer totdat alles opgelos is.
2. Plaas die mengsel in die yskas totdat dit heeltemal afgekoel het.

Koeksisterdeeg:

3. Sif die meel en vryf die botter met jou vingers totdat die mengsel krummelrig is.
4. Maak ʼn holte in die middel van die mengsel en voeg genoeg melk by om ʼn sagte deegmengsel te vorm.
5. Draai die deeg toe in kleefplastiek en laat dit twee uur lank rus. 
6. Rol die deeg uit tot ongeveer twee sentimeter dik en sny dit in die lengte van jou keuse. Sny dit dan in drie stroke.
7. Vleg die stroke om die koeksisters te vorm.
8. Braai die koeksisters in olie totdat dit goudbruin is en plaas dit dadelik ʼn paar minute lank in die stroop.
9. Neem die koeksisters uit die stroop en plaas dit op ʼn draadrak om af te koel.

Plaas die koeksisters in die yskas totdat dit bedien word. 

Hierdie resep is genoeg vir 20 koeksisters.


Eienaar: Awie en Ancarene van der Westhuizen | Besigheid: Maskam Gastehuis | Area: Vanrhynsdorp, Wes-Kaap, Suid-Afrika | Kontak: www.maskamguestfarm.co.za | mgf@mylan.co.za

                  

Filed under: Farm to Fork, Farm Tourism, farmers

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

2 Comments

  1. Hallo Bianca. Dankie vir oulike artikels. Ek wil graag met Gawie gesels oor Rooibos. My nommer is 0836297896 en e-pos aneliam@elsenburg.com
    Eintlik wil ek net hê my rooibosvraelys moet na soveel moontlik boere uitgaan!
    https://www.elsenburg.com/survey/index.php?r=survey/index&sid=442197&lang=af

Leave a Reply

Your email address will not be published.