Woorde: Magda du Toit | Fotografie: Helenus Kruger
Die Ernst-familie staan al dekades aan die voorpunt van avokadonavorsing en -ontwikkeling in Suid-Afrika. Edrean en Zander is die vierde geslag boere.
Die boerdery strek oor verskeie plase tussen Tzaneen en Modjadjiskloof en spog met interessante name soos Allesbeste, Avondshoek, Humor, Hansfontein, Vischnaagd en Krabbefontein. In 1927 het dr Adelbert Henry Ernst, ’n Britse burger uit destydse Ceylon (nou Sri Lanka) na Suid-Afrika geïmmigreer. As jong seun het die boerekrygsgevangenes wat ná die Tweede Vryheidsoorlog of Anglo-Boereoorlog na Ceylon gebring is, sy nuuskierigheid oor Suid-Afrika geprikkel. Nadat hy tydens die Eerste Wêreldoorlog as dokter diens gedoen het, het hy sy militêre pensioen gebruik om die 200 ha plaas te koop net buite Tzaneen waar Allesbeste se hoofkantoor vandag is.
Aanvanklik is hier sitrus geplant maar in die 1960’s moes Chicot Ernst, Adelbert se seun, noodgedwonge al die sitrusbome op die plaas uittrek weens vergroeningsiekte. Dit was die begin van die avokado-boerdery. In die 1980’s het dr André Ernst as derde geslag by die boerdery aangesluit en die moderne avokado-kwekery wat hy begin het, het die boerdery tot nuwe hoogtes geneem.
Avokado’s is vandag steeds die hoofbesigheid en die boerdery produseer sowat 2 250 ton avokado’s per jaar.
Die res van die boerdery bestaan uit bloekomplantasies, piesangs, lietsjies, macadamianeute, draakvrugte (dragon fruit) en koffie.
Allesbeste is in 2016 as die Landbouskrywers SA se Nasionale Boer van die Jaar gekroon.
Ná die afsterwe van hulle pa aan COVID-verwante komplikasies in 2020, het sy twee seuns, Edrean en Zander, die leisels oorgeneem en bou hulle voort op dit wat die vorige drie geslagte nagelaat het.
Zander, die direkteur van bemarking en produksie, meen die feit dat sy en Edrean se geaardhede baie verskil, eintlik ’n goeie ding is.
“Ons harte lê hier op die plaas en hoewel ons op verskillende aspekte van die boerdery fokus, vul ons mekaar ongelooflik aan. Ons kyk uit verskillende hoeke na ’n saak en dit is hierdie uiteenlopende benaderings wat ons help om met innoverende oplossings tevore te kom. Om uit twee verskillende hoeke na ’n saak te kyk, gee ’n beter perspektief en help met beter besluitneming. Verder glo ons in deeglike navorsing. Alles is op navorsing geskoei omdat dit ons in staat stel om te verbeter en uitdagings te oorkom,” verduidelik Zander.
Nog iets wat volgens die broers baie belangrik is, is kommunikasie. “Deur gereeld met mekaar te praat, bly mens voortdurend op hoogte van sake en kan brandpunte ook makliker onderskep word,” voeg Zander verder by.
Om skielik die leisels van die boerdery oor te neem, was nie maklik nie, maar twee jaar later kan hulle met tevredenheid terugkyk. “Ons moet verseker dat die kernbesigheid, die avokado’s en die kwekery, gesond bly. Gelukkig is entrepreneurskap van kleins af by ons ingeprent en hou ons daarvan om vindingryk te wees. Ons kyk altyd hoe ons beter waarde kan toevoeg en glo dat ons aanhoudend moet aanpas en innoveer. Ons hou aan droom,” sê Zander.
Hy voeg by dat daar terugslae is en meen dit is krities om uit jou foute te leer. “Só groei mens en pas mens ook by omstandighede aan.”
Volgens die twee broers is hulle juis nou in ’n moeilike fase van die avokadobedryf. Verlede jaar was die pryse laag en hierdie jaar is die produksie nie na wense nie. “Ons het ’n moeilike seisoen agter die rug. Maar ekonomiese omstandighede dwing jou om anders na sake te kyk. Landbou is siklies en mens moet voortdurend daaraan werk om jou vastrapplek te behou. Maar dit is ook lekker om terug te kyk en te sien dat planne wat mens gemaak of aangepas het, gewerk het. Mens moet net nooit te gemaklik raak nie.”
“Wanneer dit goed gaan, fokus mens op produksie-uitsette, diversifisering en uitbreiding. Maar wanneer die dinge begin knyp, word mens tot stilstand gebring en gedwing om indringend na die boerderybelange en -praktyke te kyk. Dit is dan wat ons na die tekenbord terugkeer en ons planne hersien of nuwe planne optrek.”
Een van die dinge waarmee hulle waarde tot die boerdery toevoeg, is die rekenaarprogramme en -stelsels wat Edrean en sy span self ontwikkel en uitbrei.
“Daar is baie inligtingstelsels in die landbou, maar min daarvan vorm ’n totale eenheid. Dit beteken dat ’n boer een stelsel vir produksie, bemesting en grondgesondheid het, een wat die besproeiingskedule beheer, en ’n ander een wat help met personeel en besoldiging. Dit is moeilik om jou hand op alles te hou as daar nie ’n oorkoepelende stelsel is waarop mens alle data kan invoer en waaruit mens data kan trek nie,” sê Edrean.
Hy is nou op die punt om die stelsel wat hy ontwikkel het, by ’n paar produsente te toets. “Natuurlik is dit nie ’n volmaakte stelsel nie omdat elke boer en boerdery se behoeftes verskil. Maar met klein aanpassings kan mens een stelsel implementeer wat uniek vir elke boerdery sal wees, maar wat bestuur heelwat kan vergemaklik. Die programmeringsdeel van die boerdery is die volgende afdeling wat eersdaags op sy eie bene gaan staan. Produsente wat belangstel, kan gerus met my gesels,” nooi Edrean.
Allesbeste is sinoniem met Maluma, die enigste avokado-kultivar wat as eg Suid-Afrikaans beskou kan word. “Die afgelope dertig jaar het die meeste nuwe avokadokultivars uit Kalifornië gekom en was die registrasie van Maluma groot nuus en ’n pluimpie vir Suid-Afrika. Sedert Allesbeste in 2004 planttelersregte en kort daarna uitvoerstatus gekry het, word dit in bykans al die avokado-produserende lande in die wêreld aangeplant – van Peru tot Chili, Colombia, Meksiko, Spanje, Israel, Indië en die Filippyne,” vertel Zander.
Die Maluma-kultivar is in die vroeë 1990’s deur Dries Joubert op sy plaas Maluma in Levubu ontdek. Hy het die kultivar na die Allesbeste-kwekery gebring waar dit onder die kennersoog van wyle dr André Ernst geëvalueer is.
Zander gee ’n vinnige les oor die vrug. “Maluma is uitstekend aangepas vir Suid-Afrika se plaaslike omstandighede en is geskik vir ’n verskeidenheid mikroklimate – van Weipe in die verre noorde tot onder in die Suid-Kaap. Dit is ook geskik vir hoëdigtheid-aanplantings en kom gou in produksie wat beteken dat boere binne twee tot drie jaar volproduksie kan behaal en gouer ’n opbrengs op hul belegging verdien. Die vrugte is groot met ’n natuurlike, kleiner pit en benewens die smaak, beskik Maluma oor ‘n uitstekende rakleeftyd.”
“Ons pas mikrobestuur in ons boorde toe waar alles tot in die fynste besonderhede beplan en bestuur word. Die semi-dwergtipe Maluma pas uitstekend by ons stelsel.” In ooreenstemming met hulle wetenskaplike manier van boer, het Zander oorgeskakel na hoëdigtheid-aanplantings en in 2015 ook met die opleiding van avokado’s op priële. Die eerste proeflopie het uit 30 bome bestaan, maar ná die eerste seisoen het hy gesien dat hy dit moet vergroot. Op die oomblik word ongeveer 32 ha onder hierdie sisteem verbou.
Die groeiwyse van die boom maak dat dit, soos appel- en peerbome, opgelei kan word. Die takke groei teen ’n 90°-hoek aan die stam en omdat dit so goed dra, kan die takke maklik onder die gewig van die vrugte afskeur. Wanneer die takke opgelei word, word dit verhoed en kan meer sonlig ook die binnekant van die bome bereik.
Die hoëdigtheidsboorde word teen 1 250 bome per hektaar met ’n spasiëring van 4 x 2m geplant. Hulle gebruik gereguleerde laevloei-drupbesproeiing teen 1L/ha vloeitempo. Die druplyne word 500mm van mekaar af geplaas met druppers op 500mm intervalle. “Hoewel ons met hierdie produksiestelsel meer vrugte oes en uitpak, het ons gevind dat ons in werklikheid minder water gebruik. Ons kan nou meer met minder produseer en dis vir ons die regte rigting met die oog op volhoubare produksie.”
Allesbeste spog ook met een van die top avokado-kwekerye in die land. Die kwekery is ten volle geakkrediteer by SA Avokadokwekers-vereniging en hul 5-ster gradering dien as erkenning vir die boompies van uitstaande gehalte wat gelewer word. Volgens Zander is hulle doelwit om die leier in die produksie van hoëgehalte-boompies en -onderstamme te wees.
Die kwekery gebruik ’n mikrokloontegniek wat in die 1990’s met sukses kommersieel geïmplementeer is. Dié kwekery is een van twee kwekerye in die wêreld wat hul eie kloontegniek ontwikkel het.
“Die tegniek is duurder as party van die ander metodes en dis ook meer arbeidsintensief, maar die gehalte van die boompies is net soveel beter,” verduidelik Zander.
Daar is net ’n paar koffieprodusente in Suid-Afrika en getrou aan die pionierswerk waarvoor die familie bekend is, het Zander in 2016 die eerste koffie op een van die plase in die Modjadji-gebied geplant. Hy wil ook graag die persepsie oor koffieproduksie verander.
“As boere moet ons voortdurend planne maak, innoveer en nuwe geleenthede soek om risiko’s teë te werk. Ek het die moontlikheid van koffieproduksie ondersoek en bevind dat ons sukses kan behaal met ’n bietjie harde werk,” aldus Zander.
Hy sê dat hy aanvanklik baie konserwatief te werk gegaan het omdat daar nog baie onsekerhede was. “Ons het nie presiese syfers gehad waarop ons kon werk nie, en moes baie navorsing doen.”
Hulle het besluit om koffie te plant op gedeeltes wat nie geskik vir avokado-boerdery was nie. “Nou, ’n paar jaar later, met meer inligting tot my beskikking, besef ek dat ek nie groot genoeg gedink het nie. Die aanvraag na goeie gehalte, plaaslik geproduseerde koffie, is hoog. Op die oomblik kan ek nie voorbly om in die aanvraag te voorsien nie.”
Koffie is ’n genus van die Rubiaceae-familie. Wêreldwyd word hoofsaaklik drie variëteite verbou – Arabica, Robusta en Liberica. Ongeveer 75% van alle koffie wat geproduseer word, is Arabica.
Om in sy eie aanvraag te voorsien en om te verseker dat hy net die beste produk lewer, het hy met navorsing begin en hy toets tans verskillende lyne en kultivars onder verskillende toestande. Volgens hom is dit nie duur om nuwe plantjies te kweek nie omdat die bome maklik groei en gehard is.
Die meerderheid van die 800 koffiebome by Allesbeste is van die F6-variëteit van die Arabica-familie. F6 word bestuur as ’n semi-dwergboom wat dit makliker maak om te oes. Dit bied ook weerstand teen roes.
Meeste van die wêreld se koffie word in die sogenaamde koffiegordel tussen die Steenbok- en Kreefskeerkring geproduseer. “Hoewel koffie in bykans enige rypvrye area sal groei, is goed gedreineerde grond en temperatuur krities. Hoogte bo seespieël bepaal die suurinhoud. Suurheid word normaalweg nie met koffie geassosieer nie, maar tog gee die suurinhoud in koffie die unieke smaak, net soos wyn,” sê hy.
Dit is egter nie net hoogte wat belangrik is nie, verduidelik Zander, maar ook die breedtegraad omdat beide ’n invloed op temperatuur het. Zander plant sy koffie op dele wat tussen 950 tot 1 250m bo seevlak en op ’n breedtegraad van 23 grade is. Hierdie dele skep ’n mikroklimaat soortgelyk aan die areas in die wêreld waar die beste koffie geproduseer word. “Ek dink ons koffie is van die wat die hoogste in Suid-Afrika geplant word.”
“Hoewel dit duurder is om te produseer op dele wat hoog bo seevlak lê, dra die stadiger en meer egalige rypwordingsproses by tot ’n makliker oesproses. Arbeid is die duurste gedeelte van koffieproduksie en omdat dit so duur is om koffie te oes, moet ek verseker dat ander kostes binne perke bly. Ek jaag egter nie opbrengs na nie en fokus eerder op kwaliteit,” sê Zander.
Dit neem ongeveer 3-4 jaar vir ’n koffieboom om in produksie te kom. Die koffieboom dra gelyktydig blomme en vrugte en behalwe dat dit die oesproses meer ingewikkeld maak, rek dit ook die seisoen uit. Onder warm toestande word die koffiekersies vinniger maar meer onegalig ryp. Die kersies verkleur van groen na ’n helder rooi en daarna ’n diep of donker rooi, afhangend van die graad van rypheid. Slegs die ryp kersies word met die hand gepluk en dit is ’n arbeidsintensiewe proses. Zander wys daarop dat hoewel 1ha koffiebome ’n totale opbrengs van 3,5t/ha kan lewer, dit nie op een dag geoes word nie. Die kersies word oor ’n tydperk van 6-7 maande gepluk met intervalle van 10 dae tussenin.
“Gelukkig het ons nie baie siektes en peste wat pla nie. Koffie is ook meer gehard as byvoorbeeld avokado’s. Die kafeïen in die plant se blomme tree as ’n natuurlike insekafweermiddel op, maar lok steeds belangrike bestuiwers soos bye,” sê hy.
Om die koffie teen die berghellings te plant, is nie maklik nie en volgens Zander volg hulle twee benaderings. Die eerste is om terrasse uit te lê wat dit makliker maak vir die arbeiders om die koffieplantasies te bestuur. Die tweede benadering is om ou avokadoboorde te benut en die koffie op die uitvalle of oop spasies in die boorde aan te plant. Die hellings bied die voordeel van meer sonlig wat deur die plante benut kan word, maar aan die anderkant bied die ou boorde weer skadu wat baie voordelig is vir koffieproduksie.
“Die belangrikste aspek van koffieverbouing is waardetoevoeging. Smaak speel ’n groot rol, net soos in die wynbedryf. As mense nie van die koffie hou nie, gaan hulle dit nie koop nie.”
Elke stap in die koffieproduksieproses speel ’n rol in die smaak van die eindproduk. “Mens kan die beste bone lewer, maar as daar ‘n fout insluip wanneer die bone gedroog, verwerk of gerooster word, sal die eindproduk nie die verbruiker beïndruk nie. Omdat alles so inmekaar gevleg is, het ons besluit om beheer te neem van die totale produk – van plant tot die finale koppie koffie.”
Allesbeste se koffie word onder die Krabbefontein-handelsmerk verkoop. Die grond waarop Allesbeste en Merensky Hoërskool staan, vorm deel van die oorspronklike Krabbefontein-plaas waar daar in die laat 1800’s ’n landbounavorsingstasie was. Allesbeste het ook in die beginjare hul sitrus onder die Krabbefontein-handelsmerk verkoop. “Ons het besluit om Krabbefontein ter herinnering aan ons plaas se geskiedenis te gebruik,” verduidelik Zander baie trots.