Die Departement van Landbou het onlangs aangekondig dat ’n plan glo gereed is om tot 14 miljoen beeste teen BKS in te ent. Dit klink bemoedigend, maar volgens drie van Suid Afrika se voorste landboukenners; Dr Theo de Jager, Nick Serfontein en Dr Danie Odendaal, is die prentjie heel anders. Hulle het in In Gesprek op kykNET gesels en ’n ontstellende blik op die werklikheid gegee.

’n Plan sonder inhoud
Nick Serfontein, megaboer en voorsitter van die Sernick Groep, sê hy glo nie die plan bestaan in enige uitvoerbare vorm nie. Volgens hom is daar geen duidelike begrotings, tydlyne of stappe vir implementering nie. Dit is ondanks die feit dat ’n nuwe, hoogs effektiewe entstof reeds in 2023 geregistreer is. Dr Danie Odendaal, uitvoerende hoof van Vets Network, verduidelik dat die staat eenvoudig nie meer die kapasiteit het om die entstof op skaal te vervaardig nie. Waar Onderstepoort eens 95 persent van die land se entstowwe gelewer het, dra die privaat sektor nou die grootste deel, en hy vra waarom dieselfde model nie hier gevolg word nie.
Blokkasie en die koste van geen aksie
Dr Theo de Jager, voorsitter van SAAI en lid van ’n taakspan wat bestaan uit top wetenskaplikes en ervare boere, sê dat niks van hulle aanbevelings deur die regering aanvaar is nie. Volgens al drie kenners is die grootste struikelblok administratief, wat volgens hulle die implementering van oplossings stuit. Hulle is dit eens dat die probleem nie by die wetenskap of die praktyk lê nie, maar by interne blokkasies binne die departement wat dringend aangespreek moet word.
Serfontein waarsku dat die impak van die huidige reëls verwoestend is. ’n Stoetboer wat sy diere inent, mag vir 12 maande geen vee verkoop nie, ’n beperking wat volgens Serfontein een boer tot R50 miljoen aan inkomste kan kos. Hierdie verlies spoel deur die hele waardeketting en raak ook kleinboere wat reeds broos is. Intussen het Suid Afrika die vermoë verloor om die siekte self te bestuur en is ons afhanklik van entstofinvoer uit Botswana.
Is daar ’n pad vorentoe?
Serfontein vertel dat hy met die President gepraat het, wat nie bewus was van die omvang van die krisis nie. Die President het volgens hom belowe om die regulasies te hersien. Odendaal sê dat vooruitgang eers moontlik sal wees wanneer die staat en die privaat sektor ’n funksionele vennootskap vorm. Die siekte kan bestuur word, soos Botswana en Namibië wys, maar dit verg samewerking en politieke wil.

