Farm to Fork, farmers, Niche Farmers
comments 2

’n Etiket wat uitstaan

Woorde: Jacques van Zyl Fotografie: Dewald Kirsten

Callie Louw se instruksies was kort, maar duidelik. Draai regs by die Zwartfontein-naam bord. Ek is heel bo op die berg. Die uitsig is verstommend – lae, groen heuwels wat kilometers verder in digte miswolke verdwyn, met hier en daar ’n kol kanola, soos geel laslappe op ’n woldeken. 

n Gewigtige oomblik. Die 2015 Porseleinberg staan gereed om geproe te word.
Callie Louw

Die 1960’s Heidelberg-drukker wat Porseleinberg se uitsonderlik mooi, inklose, gebosseleerde bottel-etikette maak – netjies eenkant agter ’n glasruit – is die eerste ding wat ons oog vang. Ek kan nie dink dat dit maklik is om hom te gebruik nie, maar die aandag wat Callie aan detail gee, strek duidelik verder as sy wingerde en sy wyn. Om ons staan en lê rye wynbottels in rakke – beide vol en reeds uitgedrink. Meeste is van ander wynlandgoedere en heelparty, soos 

Callie voor die rak waar hy die leë bottels uitstal van die beste wyne wat hy al gedrink het. Mens kan nie help om jaloers te voel as jy eers begin kyk nie.

Domaine de la Romanée-Conti se Richebourg en Jaboulet se La Chapelle is dekade oue wêreld-ikone. Selfs wanneer daar later drie Zalto Denk’Art Universal glase uit ’n glaskas gehaal word, besef ek nog nie eens dat dit dalk die Jaboulet is wat gevlei moet voel nie.

Die grond is die ene klip – van die unieke mika-skis wat aan Porseleinberg se wyn sy sonderlinge mineraalkarakter gee.

KLEIN MAAR GETREIN 

Wolke het intussen begin inbeweeg en dis amper te koud om buite te wees, maar Callie neem ons gou na sy kelder toe. Op die oog af is dit kleinerig, maar daar’s niks beskeie aan wat binne gebeur nie. Die wynmaakgedeelte staan dig gepak met agt netjiese, moderne 2 500 liter betontenke, als uit Frankryk ingevoer. Druiwe word ouderwets met die voete in tenke getrap en ’n saamgestelde mat sorg dat die heel trosse gedurende die natuurlike fermentasieproses onder die wyn van die lug af weggehou word. Geen swawel of gis word bygevoeg nie en daar word byna niks oorgepomp nie.

Die 1960’s Heidelberg-drukker wat Porseleinberg se uitsonderlik mooi, inklose, gebosseleerde bottel-etikette maak – netjies eenkant agter ’n glasruit – is die eerste ding wat ons oog vang.

“Alles word met die hand gedoen,” benadruk Callie.

Porseleinberg se besonderse inklose wynbottel-etiket.

Ná so 10 tot 14 dae se fermentasie word die trosse met ’n klein skroefpers gepars. Die wyn gaan dan na die anderkant van die kelder, waar dit verdeel word tussen beton-“eiers” en aantreklike ovaalvormige 2 500 liter eikehout foudres om vir 12 maande te verouder. Veral die effens soeter geparste sap gaan na die “eiers” toe.

“Meeste mense gebruik hulle vir witwyn, maar hulle is baie lekker,” vertel Callie terwyl ons terugstap proelokaal toe.

Die ou Heidelberg-drukpers wat Callie gebruik om sy etikette te maak.

TERROIR TERROIR TERROIR

Callie laat die argon uit ’n oopgemaakte bottel 2015-wyn ontsnap en skink vir ons. My glas se steel is so dun, ek is bang hy breek tussen my vingers. Amper oorweldigende leiklipagtige mineraliteit is die eerste ding wat my opval, maar dit neem my twee slukke om te besef dat ek miskien nie gou weer so ’n wyn gaan drink nie. Die wyn is taamlik lig en ingetoë, maar tannies en dig van elegante lae rooi- en swartbessiegeure, fynbosagtige speserygeure, swart olywe en donker blomme. Selfs die peper wat meeste van ons land se Shiraz-wyne so verniel, is gesofistikeerd en genadiglik in balans met die geur-kompleksiteit van hierdie hoogs indrukwekkende wyn. Net so is die hout ver in die agtergrond. Ek kan proe waarom dit ’n Suid-Afrikaanse Cornas genoem word en kort-kort met internasionale puntetoekennings in die middel-hoë negentigs uit honderd aangeslaan word. Marc Kent se eie merkwaardige Boekenhoutskloof Syrah 1997 sou dalk selfs ’n halwe treetjie moes terugstaan, wat heelwat is om te sê.

Net soos Porseleinberg se wyn het die drukpers inbors.

Die 2016 is weereens ’n uitsonderlike wyn, maar ná die 2015 vind ek dit nie in myself om daaraan reg te laat geskied nie. Die voller, ronder, meer speseryagtige karakter kan maar net nie by sy voorganger uitkom nie.

Druiwe word ouderwets met die voete in tenke getrap en ’n saamgestelde mat sorg dat die heel trosse gedurende die natuurlike fermentasieproses onder die wyn van die lug af weggehou word. 

Baie min van die druiwe wat Callie hier verbou beland egter in Porseleinberg se eie wyn – die leeueaandeel gaan na sy werkgewer-vennoot Marc Kent se twee ander belange: Boekenhoutskloof en Helderberg Wijnmakerij.

’n Onnadoenbaar mooi, porseleinwit  gebosseleerde bottel-etiket laat beswaarlik reg laat geskied aan Porseleinberg se uitstekende wyn.

Na eersgenoemde vir hulle Chocolate Block en Syrah, en na die ander vir hulle meer bekostigbare wyne. Met 90 ha win-gerd, meestal Syrah met Grenache en Cinsault hier en daar, is dit dalk nie ’n groot wingerd nie, maar duidelik in staat tot groot dinge. Ek sou wou skree “terroir!”, maar wat die verskil maak, is ’n vraag wat dalk nie gou beantwoord gaan word nie. Dalk Marc se kennis en toewyding; Callie se fokus of sy agtergrond by Rustenberg en Tulbagh Mountain Vineyards; Porseleinberg se uitsonderlike, arm mika-skisgrond, of die Swartland Independent Winemakers se lae-swawel-en-hout en minimum hante-ringsetiek. Tyd sal leer.

Selfs die peper wat meeste van ons land se Shiraz-wyne so verniel, is gesofistikeerd en genadiglik in balans met die geur-kompleksiteit van hierdie hoogs indrukwekkende wyn.

“Ons is nou besig om te vestig. As jy wingerde vestig is organies nie so great nie,” verduidelik Callie as ek vra of hulle nog steeds organies verbou. “Daar’s te veel onkruiddruk en die stokkies groei nie so lekker nie. Organiese kunsmis is ook nog nie so ver ontwikkel dat dit water-oplosbaar is nie.”

Die wyn sal maar self moet praat.

Alles word hier met die hand gedoen. ’n Ry ingevoerde Franse beton-fermentasietenks maak seker dat dit op die beste manier moontlik gedoen word.

BLOU SKIS, WIT KLEI, BOSSTOKKE EN PAALTJIES

Die lig is reeds swak en die luggie is dun as ons na die wingerd gaan kyk. Porseleinberg is geseënd met van die beste terroir in die Suidelike Halfrond vir die groei van wêreldklas Syrah. Paaltjies hou die bosstok-lote regop.

“In die noordelike Rhône gebruik hulle dit,” vertel Callie. “Hier nie so baie nie. Snaaks genoeg doen die opleiwingerde die beste – in terme van korrelgroottes en so aan. Die bosstokkies maak net sulke trosse. Maar dis nog vroeg . . .”

Drie van die peperduur “eiertjies” waarin Callie ’n deel van sy rooiwyn verouder.

“So twee of drie plase verder het hulle ’n bietjie kaolien gemyn,” vertel Callie as ek begin wonder waar die naam “Porseleinberg” dan vandaan kom. Die plaas se klipperige terrein weerspreek eintlik die delikate implikasies van die naam.

Drie van die peperduur “eiertjies” waarin Callie ’n deel van sy rooiwyn verouder.

Ek tel ’n kluit blinkblou mika-skis op en ruik daaraan, net om seker te maak. Dit verbaas my hoeveel van hierdie verbrokkelde klip daar in die grond is. Maar behalwe vir ’n leemreuk herken ek onmiskenbaar iets wat in die wyn ook was. En hoe dan anders?


Eienaar: Marc Kent | Besigheid: Porseleinberg | Area: Swartland, Wes-Kaap, Suid-Afrika Kontak: www.porseleinberg.com

Filed under: Farm to Fork, farmers, Niche Farmers

by

A writer with a passion for the arts – including the art of cooking. Jacques concentrates on the stories that surround the people who are involved in making food, craft beer and wine. He received an award at the 2015 Franschhoek Literary Festival and the South African Wine Writers’ Awards. Another feather in his cap is that he is the author of Craft Beer: A Guide to South African Craft Breweries and Brewers. He is a writer of superior calibre and extensive creativity.

2 Comments

  1. Baie mooi artikel! Waar kontak ek vir Jacques?

Leave a Reply

Your email address will not be published.