farmers, Sustainability
Leave a comment

Nuwe paaie by wyse van ou weë

Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel Dei-Cont

N HERLEWINGSLANDBOU-KOPSKUIF WAT BOERE NIE MEER KAN IGNOREER NIE

Op pad na Welgelegen, Oloff Cilliers se melkplaas naby Oesterbaai, ry ons deur Hankey en sien ons die swart kolle in die pad waar buitebande onlangs aan die brand gesteek is om die pad te versper. Afrikaan teen Afrikaan. Vreemdelingehaat aangevuur deur kansvatterpolitiek, armoede en moedeloosheid.

Twee tamaai boerboele groet ons buite Oloff se opstal. Alhoewel hulle vriendelik lyk, sou nie eens die legendariese Coenraad de Buys dit waag om hul koppe ongenooid te krap nie.

Oloff Cilliers, melkboer en voorstander van die herskepping van eertydse landboutegnieke.

Oloff: “Melkboerdery in hierdie omgewing het om en by in 1987 begin toe Eskom hier ingekom het. Voor dit was met vleisbeeste en skaap geboer. Humansdorp was gedurende daardie tyd ʼn graangebied.”

Van Eskom gepraat. Talle windlaaiers het hul tuiste op Welgelegen. Is dit ʼn logiese afleiding dat Oloff darem van die krag mag gebruik?

“Eskom was baie slim gewees. Alles gaan na hulle toe. Ek word huur betaal vir die laaiers om hier te staan, maar ek koop krag en verduur beurtkrag soos enige ander mens.” Vreemd om te dink hy het ʼn windlaaierwoud op die plaas, maar hy moet kragopwekkers aanskakel om die melkery te bedryf wanneer Eskom se liggies afslaan.

Oloff reken hy is eintlik ʼn grasboer wat toevallig diere aanhou wat sy produk in melk omskep.

Nietemin, soos met enige vorm van landbou, speel klimaat die deurslaggewende rol. Alhoewel die Bybel waarborg dat olywe en wingerd ook sal aard daar waar palmbome groei, is dit nie te sê dat waar skaap loop, sal melkbeeste ook wei nie.

“Ons het goeie reënval wat beteken ons kan van droë lande af melk. Hier is ook baie ondergrondse water wat baie ouens die geleentheid bied om te besproei. Ons sit ook nie met uitermatige warm en koue weer nie. Kry ook nie sommer ryp nie.”

Welgelegen se netjiese ry melkmasjiene. Goeie reënval beteken boere kan van
droë lande af melk.

THREE-WAY CROSS MELKBEESTE

Oloff gebruik vir die afgelope agt jaar melkbeeste wat hy ʼn three-way cross noem. Volgens hierdie benadering het hy ʼn koei wat langlewendheid met goeie gesondheidseienskappe (gemiddeld vier laktasies per koei en dus ses jaar oud) en vrugbaarheid bied. Kruisings tussen Scandinavian reds (langlewendheid), Holstein (melk en volume) en die Franse Montbéliarde (om die dier sterk te maak) voldoen aan hierdie vereistes.

Op die vraag of daar enige uitdagings is wat vir melkboere in hierdie omte oor die onderdeur loer, antwoord Oloff argeloos dat hierdie ʼn baie lang gesprek gaan word – totdat die koeie huis toe kom.

In Oesterbaai se omte wei melkbeeste op droë lande waar ondergemiddelde reën tot dusver gelukkig op die regte tye geval het.

“Enige boer in Suid-Afrika se uitdagings is maar klimaat en reënval. Hier spesifiek is gereelde reënval noodsaaklik vir ons weidings. Brandstof- en kunsmispryse wat aanhoudend styg. Die kragvoer wat die koeie in die stalle vreet, se pryse skiet op. En dan begin Eskom ʼn enorme rol speel – die koste van krag en hulle onbetroubaarheid.”

Melkkoeie kan nie wag tot ná beurtkrag verby is nie – hulle is temperamentele diere en soos enige denkende man weet, mors jy nie met vroulike wesens se verwagtings nie.

“Die ander uitdaging, is dat dit wat ons vir melk verdien, nie tred hou met die insetkoste nie. Ál uitweg is dat jy moet bly groei. Jou getalle moet net styg.”

Uitbreiding, beide horisontaal en vertikaal, word deur Oloff toegepas. Hy het 10 jaar gelede by sy pa oorgeneem en sedertdien het sy kudde verdubbel. Die produksie per koei is boonop met ongeveer 40 persent op.

“Maar jy moet jou kostes ook in berekening bring, aangesien die industrie sterk oorleun na weidingsgebaseerde melk. Ons het natuurlik die groot voordeel dat ons klimaat baie goed is vir die grasse wat ons aanplant.”

WEIDINGSBESTUUR EN GRONDVRUGBAARHEID

Belowende klimaat is nie die enigste uitweg sover dit skaalbesparing aangaan nie. Nuwe bestuurspraktyke en denke is ewe belangrik. Indien die natuur jou die pinkie aanbied, moet jy op ʼn volhoubare en natuurvriendelike manier die hele hand vat.

“Weidingsbestuur het oor die jare baie verander. Jy plant ook kultivars aan wat vir langer tye van die jaar gras gee. Besproeiing speel ʼn belangrike rol. Ons fokus die afgelope tyd ook baie op grondvrugbaarheid. Indien grond vrugbaar is, kry jy meer gras van ʼn hoër gehalte waarop daar aansienlik meer koeie kan wei en wat dan meer melk lewer. Dus ʼn kombinasie van bestuur, tegnologie en besproeiing.”

Multispesiegrasse word aangeplant volgens die geenbewerkingstelsel en so verbeter die grond se gehalte en daarmee saam die melkproduksie.

Herskeppende landbou. Hierdie is ʼn benadering waar boerdery die natuur naboots. Waar elke aksie gerig is om die koolstofvoetspoor te verlaag. Om waterretensie en biodiversiteit te bevorder deur die bogrond te herbou. En Oloff is een van die voorstanders van hierdie praktyk.

“Ek het my eerste blok weiding omtrent vyf jaar gelede op daardie manier begin aanpas en ek het multispesiegrasse geplant. Ons skaal was miskien te klein aan die begin, maar ons het die aanplantings gedoen op dele van die plaas waar die grondvrugbaarheid besonder laag was. En ek sien definitief ʼn groot verskil. Nou raak dit elke jaar net groter. Bygesê, daar is geen quick fix wat grond aanbetref nie. Om optimum grondvrugbaarheid te bereik moet jy multispesie plant en jou chemie en die pH-gehalte van die grond in plek hê.”

Volgens Oloff is hy en sy medemelkboere eintlik nie melkboere nie. Hulle is eintlik grasboere met koeie wat toevalling die gras in ʼn gesogte produk omskakel. Dit, ten spyte daarvan dat hierdie omgewing die afgelope klompie jare ondergemiddelde reënval ontvang het. Verlede jaar het die reën darem op die regte tyd geval en kon hulle die knoop deurhaak.

Oloff neem ons om die multispesiegrasse van aangesig tot aangesig te ontmoet en ons stap verby ʼn kraal waarin kalwers wei. Saam met hulle is ʼn spierwit sybok met haarkrulle kompleet soos Shirley Temple.

Multispesiegrasse word aangeplant volgens die geenbewerkingstelsel en so verbeter die grond se gehalte en daarmee saam die melkproduksie.

“Dié het uit die bloute hier aangekom en ek het orals probeer uitvind waar die bok hoort, maar niemand vermis blykbaar een nie.”

Nou reken Olof wanneer herders namiddag met die bokke by die huis aankom en die boere vra of al die bokke teenwoordig is, antwoord die herders: “Nee, een makeer.” Hierdie bok tussen die verse heet dus Makeer.

NUWE DENKE NODIG OM DROOGTE TE OMSEIL

Terug by herskeppende landbou. Vroeër jare, waartydens nog geploeg is, was die grond basies omgedop. Die voordelige fungusse en mikro-organismes onder die grond lê dus nou bo-op die grond. En hulle grootste vyand is ultraviolet. Die son brand hulle dood. En dan sit die boer met onvrugbare bo- en ondergrond. Al uitweg is chemikalieë en peperduur kunsmis.

“Ons het laat agtergekom dat ons besig is om ons grond te verniel en van 1998 af pas ons reeds op hierdie plaas ʼn geenbewerkingstelsel toe. En ons kan sien die grond word stelselmatig al hoe beter en beter. Jou waterhouvermoë is beter en, alhoewel jy steeds droogtes gaan ervaar, gaan jy makliker daar deurkom.”

Oloff gebruik die afgelope agt jaar melkbeeste wat hy ʼn three-way cross noem. Scandinavian reds (vir langlewendheid), Holstein (vir melk en volume) en die Franse Montbéliarde (vir krag).

As gevolg van klimaatverandering en vernietigende landboupraktyke is toenemende droogtes die boer se voorland. En om daardeur te kom is nuwe denke nodig. Soos Oloff sê: “Ons moet terugkeer na van die ouer maniere van boer.”

Geenbewerking is een van die antwoorde. Om sy multispesiegrasse te plant word ʼn geenbewerkingplanter ingespan. Basies wiele met tande. Die tand, met ʼn saadkorrel gelaai, maak ʼn gaatjie in die grond, die saad word geplant en ʼn roller wat agterna kom, maak die gaatjie toe en siedaar. Die volgende tand doen dieselfde en wanneer ons eerste tand se volgende beurt kom, is dit weer met ʼn saadkorrel gelaai – amper soos John Wayne se repeat action-kettie.

Die sybok met krulhare kompleet soos Shirley Temple, heet Makeer.

Hierdie tande word gelaai met onder andere sigorei, tongblaar, twee tot drie soorte wieke, radyse (beide bo en onder die grond, want eersgenoemde is besonder gewild onder die melkgewende dames), verskeie soorte rog, hawer en drie soorte klawer.

“Daikon sak twee-derdes onder die grond in en bied ‘n natuurlike deurligtingsaksie (of rip in die omgangstaal). Indien jou stikstofinhoud laag is, help die wieke daarmee.”

Volgens Oloff volg hy die metode van leer en probeer, of tref en fouteer.

“Soos die jare aangaan, sien jy wat werk en wat werk nie. Byvoorbeeld, indien ons deur ʼn droë seisoen gaan, doen sekere grasse beter as ander. Tydens natter seisoene is daar weer ander wat presteer.”

Alles goed en wel. Maar hoe weet boere wat die lig gesien het, watter grasse om te plant?
“Riaan Vosloo verskaf my saad en hy is besig met navorsing op hierdie gebied en ek is deel daarvan. Ons kyk jaar na jaar hoe dit gaan en maak die nodige aanpassings.”

Charles Eisenstein bring ons tot aan die einde van hierdie begeesterende storie: ‘Herlewingslandbou is meer as net ‘n alternatiewe strategie, dit verteenwoordig ‘n basiese skuif in ons kultuur na ‘n beter verhouding met die natuur.’


EIENAAR: Oloff Cilliers NAAM: Welgelegen AREA: Oesterbaai, Oos-Kaap

Leave a Reply

Your email address will not be published.