Latest Posts

Gooi jy klere weg? Gee hulle eerder ’n tweede kans met Jonsson

Stel jou voor: ’n los naat, ’n skeur of ’n verslete elmboog op jou gunsteling werksklere, en dit word gratis herstel by jou naaste winkel. Jonsson se span doen dit vinnig en doeltreffend, sodat jou klere langer hou, jy geld spaar en minder bydra tot afvalhope.

Hierdie praktiese oplossing vorm deel van Jonsson Workwear se nuwe Rethread-inisiatief, wat ’n volhoubare program is wat werksklere ’n tweede lewe gee én bydra tot gemeenskapsontwikkeling. In ’n land waar meer as 87% van tekstiele op vullishope beland, neem die maatskappy ’n dapper standpunt in teen die weggooikultuur. Die inisiatief beklemtoon Jonsson se belofte van blywende kwaliteit en daag Suid-Afrikaners uit om anders oor hul klere te dink.

Die tekstielafvalkrisis: ’n dringende oproep tot verandering

Suid-Afrika staar ’n groeiende tekstielafvalkrisis in die gesig. Met minder as 13% van verbruikte klere wat herwin word, vul vullishope met vergete hemde, broeke en werksklere. Hierdie afval dra by tot omgewingsbesoedeling, met mikroplastiek wat riviere en oseane besoedel, en gasse wat klimaatsverandering vererger. Jonsson Workwear, wat al jare lank werksklere ontwerp vir die taaiste toestande, sien hierdie uitdaging as ’n geleentheid vir aksie.

“Ons missie was nog altyd om kwaliteit werksklere te maak. Met Jonsson Rethread neem ons daardie verbintenis ’n stap verder. Ons verseker dat ons kliënte se Jonsson-klere hulle so lank as moontlik dien,” sê Nick Jonsson, uitvoerende hoof van Jonsson Workwear.

Die maatskappy se erfenis lê in duursaamheid, klere wat nie net gemaklik is nie, maar ook beskerming bied tydens harde arbeid. Nou kanaliseer Jonsson hierdie tradisie in ’n breër volhoubaarheidsreis wat die idee van fast fashion uitdaag. In ’n wêreld waar hierdie tendens die mark oorheers, doen Jonsson ’n oproep tot verantwoordelikheid. “Ons vra Suid-Afrikaners om anders te dink,” voeg hy by. “Ons benadering is gewortel in die ondersteuning van hardwerkende mense met klere wat hou, en die vermindering van die omgewingsimpak van weggooiklerekas. Elke herstel beteken minder vervanging, minder afval en meer waarde vir dié wat daagliks op hierdie items staatmaak.”

Twee praktiese oplossings: herstel of hergebruik

Jonsson Rethread bied twee eenvoudige, toeganklike opsies: herstel of hergebruik. Albei is beskikbaar by Jonsson Workwear-winkels landwyd en maak dit maklik vir klante om deel te neem.

Klein herstelwerk kan gratis in die winkel versoek word. Vir items wat te ver verslyt is vir herstel, tree die hergebruik-opsie in werking. Hierdie klere word omskep in items soos potloodsakkies wat geskenk word aan kinders in landelike skole deur Rally to Read, ’n vennoot van die Jonsson-stigting. Dié organisasie het sedert 1998 meer as 700 000 leerders in onderbediende skole met leesboeke en leesprogramme bereik.

’n Oproep tot verantwoordelike verbruik

Die maatskappy hoop om ’n breër gesprek oor verantwoordelike verbruik aan te wakker. “Ons werksklere is ontwerp om te hou,” sê Jonsson, “maar nou leer ons ons klante om dit te koester. Dit verminder nie net afval nie, maar bou ook gemeenskappe.”

Jonsson Rethread is nou beskikbaar by alle Jonsson Workwear-winkels in Suid-Afrika.

Vir meer inligting, besoek www.jonssonworkwear.com of kontak jou naaste filiaal.

Peiling wys 34% van boere oorweeg afleggings

As jy ’n minimumloon verhoog in ’n ekonomie wat nie groei nie, koop jy nie noodwendig waardigheid nie. Jy koop dikwels minder werk.

Dít is presies wat Grond tot Mond in 2024 bevind het toe ons ’n peiling onder produsente gedoen het ná die minimumloon-aanpassing: 34% van boere wat reageer het, het aangedui dat hulle minder werkers gaan gebruik (afleggings), en 24% het gesê hulle gaan werksure verminder. Met ander woorde: wanneer die koste van arbeid vinniger styg as die vermoë om dit te dra, word werk self dikwels die eerste ding wat geknip word.

Wat die 2026-voorstel behels

Teen dié agtergrond het die debat oor die 2026-minimumloon nou weer opgevlam. Die Nasionale Minimumloonkommissie het ’n verhoging van die verbruikersprysindeks plus 1,5% vir 2026 voorgestel. AgriSA het kennis geneem van die voorstel en herhaal dat loonbesluite nie in ’n vakuum geneem kan word nie: landbou funksioneer in ’n omgewing van verhoogde kwesbaarheid, en arbeidskoste moet teen dié sektorspesifieke realiteite verstaan word.

TLU SA se waarskuwing: koste wat werk kan kos

TLU SA waarsku intussen dat nóg verpligte loonverhogings in die huidige ekonomiese klimaat werksverliese, meganisering en verdere armoede kan vererger. Die huidige minimumloon van R28,79 per uur word reeds betaal binne ’n ekonomie wat sukkel om te groei. Suid-Afrika se BBP-groei is na raming sowat 1,9%, ver onder die vlak wat nodig is om betekenisvolle werkskepping en ekonomiese herstel te ondersteun. Hierdie swak groei word verder ondermyn deur die energiekrisis, stygende insetkoste, korrupsie, beleids-onsekerheid en ’n staat wat toenemend nie daarin slaag om ’n gunstige sakeklimaat te skep nie.

“In ’n Grond tot Mond-peiling ná die 2024-minimumloon-aanpassing het 34% van boere aangedui dat hulle minder werkers gaan gebruik, en 24% dat hulle werksure gaan verminder.”

“Die regering se primêre taak is om ’n omgewing te skep waarin ondernemings winsgewend kan funksioneer. Sonder wins is daar geen belegging, geen uitbreiding en geen nuwe werksgeleenthede nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Wanneer die staat toenemend in produksiefaktore inmeng, veral deur loonvasstelling, word presies daardie groei ondermyn wat nodig is om armoede en werkloosheid aan te spreek.”

AgriSA: ’n brose sektor onder veelvuldige druk

Vir produsente en werkgewers het die afgelope jaar buitengewone kostedruk gebring. Diesel, elektrisiteit, saad, kunsmis, finansieringskoste en lone het almal skerp gestyg, terwyl marktoestande verswak het en belangrike uitvoermarkte verlore gegaan het. In landbou beteken dit dat feitlik elke komponent van produksie duurder geword het – sonder dat produsente die koste eenvoudig kan deurgee aan verbruikers.

AgriSA plaas hierdie realiteit in ’n groter raamwerk: die landbousektor is die afgelope jare geknou deur ernstige droogte, herhalende uitbrake van dieresiektes, stygende insetkoste en agteruitgang van infrastruktuur. Volgens die jongste BFAP-basislyn het die sektor ná beduidende inkrimpings van 4,6% in 2023 en 8,7% in 2024 nou eers met ’n brose herstel begin. Boonop plaas elektrisiteitstariefverhogings, wat in sekere landelike voorsieningslyne meer as 25% oorskry, tesame met stygende besproeiing-, logistiek-, nakoming- en privaatsekuriteitskoste produsente onder toenemende druk.

Die “skeidslyn”: wanneer papierwins werkwording word

Hier lê die kern van die saak: ’n minimumloonverhoging is op papier ’n verbetering, maar in die praktyk kan dit ’n skeidslyn word tussen “ek kan nog iemand aanhou” en “ek moet nou sny”. Dit is ook waarom die Grond tot Mond-peiling in 2024 so onrusbarend bly: boere se mees algemene “plan” om die verhoging te hanteer, was nie uitbreiding of nuwe aanstellings nie, maar minder poste en minder ure.

“Suid-Afrika se BBP-groei is na raming sowat 1,9% — ver onder die vlak wat nodig is om betekenisvolle werkskepping en ekonomiese herstel te ondersteun.”

Terselfdertyd bly werkloosheid op ’n krisisvlak van 33,9%. In só ’n konteks het elke beleidsbesluit oor lone verreikende gevolge. Wanneer arbeidskoste bo produktiwiteit en ekonomiese realiteite uitstyg, word ondernemings gedwing om arbeid te vervang met meganisasie, herstrukturering of afleggings. Die eindresultaat is minder werksgeleenthede en meer mense wat in die informele sektor of op staatstoelaes beland.

“’n Stelsel wat beoog om werkers te beskerm, maar terselfdertyd werkskepping vernietig, help uiteindelik niemand nie,” sê Van Zyl. “Dit is beter om meer mense in werk te kry teen volhoubare lone, as om minder mense teen administratief opgelêde vlakke in diens te hou terwyl miljoene uitgesluit bly.”

Uitvoerbedrywe en die stryd om mededingend te bly

AgriSA beklemtoon dat landbou ’n strategiese rol in landelike gebiede speel en steeds ’n groot werkgewer is, met byna een miljoen werkgeleenthede. Tog bly indiensneming in landbou besonder sensitief vir klimaatskokke, winsgewendheidsuitdagings en stygende insetkoste.

Uitvoergerigte bedrywe soos sitrus, tafeldruiwe, neute en wyn bly veral blootgestel aan stygende arbeidskoste. Hierdie bedrywe funksioneer in hoogs mededingende wêreldmarkte waar Suid-Afrikaanse produsente reeds strukturele uitdagings in die gesig staar. Dit sluit in hoë vragkoste, druk op hawens, ’n verswakte dieregesondheidstelsel wat marktoegang benadeel, en tariefhindernisse in prioriteitsmarkte. In hierdie omgewing is die handhawing van koste-mededingendheid noodsaaklik om werkgeleenthede en uitvoerinkomste te behou.

Moontlike alternatiewe en ’n bewysgegronde pad vorentoe

TLU SA voer aan dat loonbepaling groter ruimte moet laat vir markkragte soos vraag, aanbod, vaardighede, ervaring en produktiwiteit. Verder behoort daar ruimte te wees vir gedifferensieerde loonvlakke volgens sektor, streek, ondernemingsgrootte en ekonomiese werklikhede. Wat op ’n groot stedelike onderneming van toepassing is, kan nie sonder meer op ’n plaas of klein besigheid in ’n landelike gebied afgedwing word nie.

“Werkloosheid in Suid-Afrika bly op ’n krisisvlak van 33,9%.”

Die organisasie stel ook voor dat alternatiewe benaderings oorweeg moet word, soos gedeelde verantwoordelikheid tussen die staat en werkgewers. Dit kan byvoorbeeld geskied deurdat die staat ’n inkomste-aanvulling voorsien vir lae-inkomste werkers, terwyl werkgewers ’n basiese loon betaal. Só kan werkloosheid verminder word sonder om individuele ondernemings te verpletter, en kan maatskaplike toelaes geleidelik afgebou word namate meer mense volhoubaar in diens kom.

AgriSA sê hy bly verbind tot konstruktiewe betrokkenheid by die Departement van Indiensneming en Arbeid en die betrokke kommissie. Die organisasie sal voortgaan om te beywer vir ’n bewysgegronde beleidsbenadering wat beide werkerswelsyn en die langtermynvolhoubaarheid van Suid-Afrika se voedselsekerheid, landelike indiensneming en die winsgewendheid van landbou-ondernemings in ag neem.

In die lig van die huidige ekonomiese werklikheid, stygende insetkoste en rekordhoë werkloosheid, meen TLU SA dat daar geen ruimte is vir ’n verdere verhoging in die minimumloon nie. Die organisasie doen ’n beroep op die regering en die Minimumloonkommissie om beleid te volg wat werkskepping, volhoubare ondernemings en langtermyn ekonomiese groei vooropstel – nie korttermyn politieke simboliek nie.

Lewende kompos: Die biologiese alternatief vir kunsmis

Woorde: Danie Keet | Fotografie: Mia Truter

Diversifikasie is vir Dolfie Walters van die plaas Rustfontein buite Malmesbury die sleutel tot volhoubare boerdery. Wat begin het as ’n tradisionele graanonderneming, het oor die jare uitgebrei na ’n gevestigde komposaanleg, terwyl die familie ook met beeste, wingerd en ander ondernemings saamwerk.

Dolfie Walters op sy plaas, waar sowat 20 ha vir die komposaanleg aangewys is.

’n Plaas met baie fasette

Dolfie het in 1997 op Rustfontein begin boer nadat hy op Bakenfontein grootgeword het. “Dis hoofsaaklik ’n saaiplaas met sowat honderd Angus-beeste wat op die vleie wei,” vertel hy. “Ons moes egter van die skape ontslae raak weens die vele diefstalle. Net verlede week is ’n trop van sewentig skape in een aand gesteel, maar danksy die plaaslike gemeenskap is hulle vinnig opgespoor.”

Intussen het Hendre sy pa oortuig om weer kleinvee aan te hou en ’n Dormer-kudde begin. Tannie Erika Hanekom, ’n bekende Dormer-teler, het hom baie geleer oor raseienskappe en hantering.

Koring se stryd, kanola se kans

Dolfie lag dat hy nou moet baklei vir ’n plek op die stropers omdat sy seuns hom vooruit is. Op die 800 ha plaas word koring, kanola en hawer afwisselend geplant. “Verlede jaar was moeilik – swak pryse, laer opbrengste en minder gehalte. Die koring se proteïenvlakke was laag weens te min sonlig en te veel reën,” vertel hy. “Die koringprys bly ons groot uitdaging, en daarom móét ons diversifiseer.”

Die kompos lê in windrye om verder te komposteer voordat dit verkoop word; stoom trek uit die rye en temperatuur tot 65 °C word in die hope gemeet.

Vir hom lyk kanola tans belowender. Die prys, gemiddeld R8 800 per ton teenoor R5 500 vir koring, maak dit meer lewensvatbaar, al bly insetkoste dieselfde. Hulle oes gewoonlik tussen 2 en 2,5 ton per hektaar, soms tot 2,8 ton. “Kanola doen goed hier, buiten peste soos slakke, muise en tarentale wat groot skade kan aanrig,” sê hy. “Dis waarskynlik omdat minder kraaie oor is – hulle het vroeër die tarentale se eiers geëet. Dit wys hoe maklik die natuurlike balans versteur kan word.”

Van afval tot goud

As deel van sy diversifikasiedoelwitte het Dolfie in 2005 ’n komposteringsaanleg gevestig wat vandag ’n groot deel van sy besigheid uitmaak. “Ons gebruik alle natuurlike afvalstowwe vir die kompos omdat ek glo dit is goed om die produkte ’n natuurlike siklus te laat voltooi; byvoorbeeld, strooi moet eers deur ’n dier se pens gaan voor ons dit gebruik.

“Ons het begin met Swartland Wynkelders se druiwestingels en -doppe en het toe deur ’n vriend toegang gekry tot abattoir-afval van Roelcor op Malmesbury. Baie van sulke ondernemings sukkel deesdae om van afval ontslae te raak omdat die groot stortingsterreine vol is.

Hendré se Dormer-kudde wei rustig met die neongeel kanolalande as agtergrond.

“Die bedryf het baie uitdagings, en enigiets wat in Malmesbury sleg ruik, word aan ons komposaanleg toegeskryf – maar dis natuurlik nie waar nie. Ek sê altyd: ek maak nie stink kompos nie, ek laat ‘stink’ lekker ruik,” spot Dolfie.

Die roumateriale wat hy gebruik, is enige organiese afval wat hy so goedkoop as moontlik en so na aan sy aanleg as moontlik in die hande kan kry. Verder as 100 km raak vervoer duur, en as ’n mens vir die produk moet betaal, is dit nog duurder. Die roumateriaal kom uit die omgewing, maar ook so ver as Worcester, Ceres, Stellenbosch, Paarl en Moorreesburg.

“Dit is ’n uitdagende produk om mee te werk, en jy moet dit dadelik meng met ou kompos en toemaak, omdat dit voëls en wilde diere lok. Daar moet ’n gunstige balans tussen koolstof en stikstof in die kompos verkry word – ongeveer 25 dele koolstof vir elke stikstofdeel.”

Dolfie in een van sy kanolalande; kanola vaar goed in hierdie deel van die Swartland.

Die onsigbare helpers

Volgens Pierre Goosen van Living Soil, wat Dolfie met die biologiese prosesse van kompostering bystaan, weet min mense dat daar lewende én dooie kompos bestaan. Sommiges ken ook nie die verskil tussen kompos en kunsmis nie.

“Die biologiese komponent van kompos is die mikro-organismes wat reeds op die oppervlak van organiese materiaal sit voordat die komposmaakproses begin. Dit is dus ’n kernbestanddeel van kompos en waarskynlik die belangrikste een, al kan ons dit nie sien nie.

este soos slakke, asook tarentale en muise, kan groot skade aan kanola veroorsaak en verg deurlopende beheer.

“By Living Soil help ons boere om minder afhanklik te wees van kunsmatige insette en eerder te steun op biologie. Ons bestuur die biologie én die aanvanklike voedingstowwe vir boere met die doel dat die organismes self al die nodige voedingstowwe voorsien, en dat die boer minder hoef te doen. Kompos is ’n mengsel wat grotendeels bestaan uit afgebreekte organiese materiaal en biologiese komponente.”

“Daar is ’n voedselketting onder hierdie klein organismes, en aërobiese (voordelige) organismes floreer waar suurstof teenwoordig is. Anaërobiese (nadelige) organismes oorleef weer waar daar min of geen suurstof is nie. Organiese materiaal word afgebreek deur bakterieë en fungi. Fungi word geëet deur onder andere nematodes (klein wurmpies), terwyl bakterieë geëet word deur protozoa (eensellige organismes soos amoebes) en ook nematodes. Nematodes en protozoa word weer geëet deur groter organismes, wat op hulle beurt deur voëls en molle gevreet word.

Die windrye word gereeld omgedraai met ’n selfontwerpte en -geboude kompos-omdraaier.

“Kompostering is die proses waardeur hierdie organismes organiese materiaal afbreek, mekaar opeet en voortplant. Die hitte wat uit ’n komposhoop straal, is die resultaat van die spoed waarteen die organismes vermeerder. Die stelsel is só ontwerp dat geen groep te groot kan word nie,” verduidelik hy die ingewikkelde biologiese proses.

Nog ’n fassinerende aspek is dat die aërobiese organismes ’n beskermende lagie rondom hulself vorm wanneer die komposhoop te warm raak – tot soveel as 65 °C – waardeur hulle oorleef. Die nadelige organismes beskik nie oor hierdie vermoë nie en word uitgeskakel.

Lewende kompos is kompos waar ’n minimum getal voordelige organismegroepe, met goeie diversiteit, teenwoordig is. Dooie kompos, daarenteen, is die inhoud van ’n sak kompos waar die insetmateriale beperk was en waar slegs bakterieë voorkom. Sulke kompossakke het meestal geen ventilasiegate nie, wat beteken die organismes is dood of slegs in spoorvorm.

Slegs natuurlike materiaal – soos tuin- en ander groenafval – word vir die bereiding van die kompos gebruik.

“Die voordele van lewende grond is grootliks finansieel: dit lei tot beter oeste, minder of geen onkruid, minder arbeid en ’n kleiner behoefte aan kunsmis of gifstowwe,” verduidelik hy die produk wat deur Dolfie voorsien word.

Dolfie vertel dat groenafval nou op groot skaal uit Kaapstad na sy terrein aangery word omdat dit nie meer op ander stortingsterreine gestort kan word nie. Hy ontvang dit dan en versnipper dit tot werkbare grootte. “Ek kry dit goedkoper as wat ek my eie koringstrooi kan gebruik.

Masjiene, wurms en koolstofkrediete

“Dan word dit in ’n tipe broeikas geplaas – lang, statiese hope waar die afbrekingsproses vir omtrent ’n maand duur. Daarna oes ons dit uit die broeikaste en pak dit in windrye met ’n komposmasjien wat dit omdolwe.

Hierdie masjien is deur ons self ontwerp en gebou met die hulp van Agrimark op Malmesbury. Dit beweeg teen sowat 300 m/uur wydsbeen oor die rye kompos en word aangedryf deur ’n New Holland T7040-trekker met ’n creeper-ratkas. Vir die eerste dag daarna is daar ’n ligte reukie in die lug, maar as dit dan later genoeg suurstof kry en die mikrobes aan die werk spring, verdwyn die reuk.”

“Ek begin nou ook met vermikompos eksperimenteer. Dit is ’n soort erdwurm, ook bekend as red wigglers, maar wat nie onder die grond bly nie en net in organiese materiaal leef. Dit sal die gehalte van die kompos verder verbeter, maar as jy dit uit ’n biologiese oogpunt wil verbeter, moet jy meer moeite doen,” verduidelik hy.

Hendré met ’n Buff Orpington – aansienlik groter as die gewone plaashoenders waaraan die meeste mense gewoond is.

Hy vertel sy seun Aldo, wat baie meer geduld voor ’n rekenaar het, is besig met onderhandelinge met OAE Greens om koolstofkrediete met die kompos te verdien. Besighede koop die krediete om te kompenseer vir hul koolstofbelasting. Dit is egter ’n komplekse proses waar bewys gelewer moet word van jare se produksie en afvalinnames. Een komponent hiervan is dat hulle betrokke moet wees by gemeenskapsprojekte – iets waarmee DNA Kompos al reeds besig is.

Die meeste van die DNA-kompos gaan terug in die landbousektor, waar produsente dit gebruik om vogbeheer op bankies tussen bome en wingerdstokke te verbeter. Hulle besef al hoe meer die waarde van organiese prosesse. Hy verkoop ook bakkievragte aan mense in die omgewing.

Hoenders van formaat

Terwyl sy pa en ouboet Loedolf met komposmaak en saaiery besig is, is Hendré ’n ware entrepreneur, besig om in ’n skouhoenderteler van formaat te ontwikkel.

“Ek het eers ’n kudde Boerbokke gehad, maar dit het ek stuk-stuk verkoop om geld te kry om die hoenders te kon koop. Nou is hier al 16 verskillende rasse, van verskillende groottes en kleure, hane en henne, en ek skou hulle gereeld. Onder die rasse is Orpington, die hoofras met sewe kleurvariasies, Sussex, Lakenvelder, Hamburg, Ameraucana, Wyandotte, Indian Game, Modern Game, Sebright, Leghorn, Pekin, Barbu d’Uccle en Serama,” vertel hy.

Blou en Splash Orpingtons tel onder die 17 rasse wat Hendré teel en mee skou.

Hy het reeds in die laerskool met gewone plaashoenders begin – die hoenders wat mens gewoonlik op plase sien – soos Loman Brown en Leghorn. “In die hoërskool het ek my eerste hokke begin bou – Pa moes maar help al weet hy niks van hoenders af nie – en in 2019 die eerste skourasse ingekry, alhoewel ek die skoue net bygewoon en nie self geskou het nie. Vandat ek in graad 9 was, het ek self begin skou en sommer gou pryse begin wen. Vanjaar by die Wes-Kaapse pluimveeskou het ek 19 eerste plekke, 9 tweede plekke en 3 derde plekke gekry, met ’n bonus van 3 raskampioene en 4 reserwe-raskampioene.”

Hendré – ja, sy bynaam op skool was “Chicken” – vertel dat hy verskillende rasse teel en verduidelik dat elke ras sy eie standaarde het waarvolgens dit beoordeel word, van kleur en grootte tot houding en voorkoms.

“Die hoogste toekenning wat skouhoenders kan behaal, is die raskampioen. By die SA-kampioenskappe in Bloemfontein, die grootste skou in die land, het ek 15 hoenders ingeskryf en 4 eerste plekke, 3 tweede plekke en 4 derde plekke behaal, asook 2 raskampioene – ’n prestasie waarop ek baie trots is,” vertel die jong boer wat ook al die titel van Jongboertjie van die Jaar verower het.

“Dis nou teelseisoen, en Augustus en September is die hoogtepunt van die broeiseisoen. Ek kies dan die regte hane om by die henne te kom, elke ras in sy eie hok en die teelgroepe bymekaar. Dit hou aan tot vroeg in die nuwe jaar. Ek haal egter die eiers uit en broei dit in broeikaste uit, binne 21 dae, om soveel as moontlik produksie van elke hen te kry. Die kuikens word dan onder rooi ligte grootgemaak, en van die middel van volgende jaar begin ek weer hoenders verkoop. Dit doen ons by skoue of aanlyn-veilings. Hoe meer pryse ’n mens wen, hoe groter is die aanvraag na jou hoenders, en hoe meer geld kan jy maak. Vir ’n gemiddelde hoender kan ’n mens tussen R100 en R400 kry; goeie kwaliteit hoenders verkoop uit die hand tussen R500 en R1 000, maar vir top skouhoenders op veilings kan pryse tot R10 000 en meer styg.

“Die hoenders word voor die skoue goed versorg: hulle word met seep en water gewas, die naels en bekke word geknip, en hulle word apart gehou omdat hane die henne raaktrap. My ma se haardroër word soms gebruik om hulle mooi droog te maak,” vertel hy met ’n glimlag.


NAME: Rustfontein | OWNER: Dolfie Walters | AREA: Malmesbury, Wes-Kaap

Van kudde tot kroon: Wie is Suid-Afrika se top suiwelboere?

Die 2024 ARC Nasionale Meester-suiwelboer Toekennings het weereens die uitblinkers in Suid-Afrika se suiwelbedryf vereer. Hierdie toekennings, aangebied deur die Landbounavorsingsraad (LNR), beklemtoon prestasie en uitnemendheid in vyf sleutelareas: kuddebestuur, somatiese seltelling, sowel as kleinskaal-, mediumskaal- en grootskaalsuiwel-boerdery.

Die wenners van die 2024 LNR Nasionale Meester-suiwelboer-toekennings, van links, dr Andrew Magadlela, LNR-Uitvoerende Groephoof: Veekunde, die LNR Nasionale Mediumskaal Meester-suiwelboer van die Jaar Pieter Steenkamp (Tweekop Boerdery, Heidelberg, Wes-Kaap), dr Litha Magingxa, President en HUB van die LNR, met die LNR Nasionale Kleinskaal Meester-suiwelboer van die Jaar-toekenning van Gugulomuzi Ngcobo (Donnybrook, KwaZulu-Natal), die LNR Nasionale Grootskaal Meester-suiwelboer van die Jaar Barry en Jane Schiever (Foundation Farm, Weenen, KwaZulu-Natal), Joyene Isaacs, LNR-Voorsitter, die LNR Nasionale Kudde met die Beste Tussenkalfperiode Heinrich Hurter (Packwood Plaas, Plettenbergbaai, Wes-Kaap), die LNR Nasionale Kudde met die Beste Somatiese Seltelling Etienne Zeeman (E Zeeman, Swellendam, Wes-Kaap), en prof. Norman Maiwashe, LNR-Hoofbestuurder: Diereproduksie.

Die wenners word erken vir hul toewyding aan genetiese verbetering en produksie van gehalte deur gevorderde boerderytegnieke en samewerking. Hier is die wenners van 2024:

  • Grootskaal Meester-suiwelboer van die Jaar: Foundation Farm (Barry en Jane Schiever), Weenen, KwaZulu-Natal
  • Mediumskaal Meester-suiwelboer van die Jaar: Tweekop Boerdery (Pieter Steenkamp en Dirk van Papendorp), Heidelberg, Wes-Kaap
  • Kleinskaal Meester-suiwelboer van die Jaar: Gugulomuzi Ngcobo, Donnybrook, KwaZulu-Natal
  • Kudde met die beste somatiese seltelling: E Zeeman (Etienne Zeeman), Swellendam, Wes-Kaap, met 157 000 selle/ml
  • Kudde met die beste tussenkalfperiode: Packwood Farm (Heinrich Hurter), Plettenbergbaai, Wes-Kaap, met ‘n tussenkalfperiode van slegs 391 dae Grond tot Mond het met hierdie inspirerende wenners gesels om meer oor hul prestasies en strategieë te leer.
Joyene Isaacs, LNR-Voorsitter, die LNR Nasionale Grootskaal Meester-suiwelboer van die Jaar Barry en Jane Schiever (Foundation Farm, Weenen, KwaZulu-Natal) en dr. Litha Magingxa, President en HUB van die LNR.

BARRY SCHIEVER VAN FOUNDATION FARM
Van kudde- tot mensebestuurder is die sukses

Om die eienskappe van ’n goeie of suksesvolle melkboer saam te vat, is een van die moeilikste dinge om te doen, meen Barry Schiever.

“So baie faktore moet in ag geneem word, en ons almal beskou sukses verskillend. Ek glo ’n uiters uitdagende oorgang vir baie melkboere is daardie punt wanneer die groei van jou kudde so uitbrei dat daar van jou verwag word om van ’n kuddebestuurder na ’n mensebestuurder oor te skakel. Dit is ’n heel ander spel en iets wat dalk nie ons sterkste punt is nie. Maar ons verbeter voortdurend ons leierskapsvaardighede om te verseker dat die besigheid tot op die volgende vlak kan groei.”

Barry Schiever van Foundation Farm sê dit is ’n groot eer om die toekenning as Grootskaal Meester-Suiwelboer van die Jaar te ontvang. Volgens Schiever is die praktyk van melkaantekening, wat in samewerking met die LNR toegepas word, ’n waardevolle hulpmiddel om die prestasie van individuele koeie in ’n kudde te verbeter.

Van 20 koeie tot 2 000

Foundation Farm, wat sowat 2 000 koeie melk, het in 1990 in Weenen, KwaZulu-Natal, begin met net 20 geregistreerde koeie. Hulle het sedertdien uitgebrei tot twee melkerye wat melk aan Nestlé, Douglasdale en Dairyland verskaf.

Barry wou nog altyd boer en het by elke geleentheid op hul melkplaas in die Winterton-distrik uitgehelp. Hy het in 2005 gematrikuleer en ná sy studies aan die Universiteit van KwaZulu-Natal het hy in 2009 op die familieplaas begin werk. In 2015 het hy en sy vrou, Jane, by Foundation Farm aangesluit, sy vrou se familieplaas. Dit is ’n familieplaas wat deur Alan en Frances Webster sedert 1990 met 20 geregistreerde koeie opgebou is. Hulle het harde werk ingesit om die plaas tot waar dit vandag is, te bring. Hulle het ’n gesonde werksverhouding en ondersteun mekaar met die verskillende vaardighede wat elkeen bring.

Jerseys: ’n Keuse vir gehardheid en hoë vaste stowwe

Hulle boer met Jerseys, die ras wat deur Alan en Frances uitgekies is omdat hulle gehard is teen die uiterste somertoestande in Weenen. Hulle kry bulsemen wêreldwyd en ondersteun hul teelprogramme om hul teelstrategieë in stand te hou. Vir Barry is die interkalfperiodes van kardinale belang en ’n kritiese KPI vir alle melkprodusente. Hulle is tans op 394 dae-periodes, wat hoër is as wat hulle sou wou sien, maar omdat hulle druk toepas om die kudde so vinnig as moontlik uit te brei, het hulle van die minder vrugbare koeie in die kudde gehou om hiermee te help. Hulle verbeter deurgaans hul groeistelsels en pas dit by omstandighede aan.

Moderne melkpraktyke by Foundation Farm

Foundation Farm melk in twee melkstalle. Die eerste laktasie-koeie word in ’n 20-punt-Delaval-oorswaaistelsel gemelk. Die nuwe melkstal het twee Delaval 30-punt-swaaiputte langs mekaar wat tans 1 100 koeie in 3,5 uur melk. Delpro-sagteware word in albei gevalle gebruik. Die ou melkstal melk 400 eerste laktasie-koeie in twee sessies per dag, terwyl die nuwe stal 1 100 koeie hanteer, ook in twee sessies.

“Ons hou ’n koei so lank as moontlik in die melk, en die oudste koei in ons kudde is in haar 12de laktasie en is 14 jaar oud. Die Delpro-sagteware gebruik die melkmeters in die put om daaglikse produksie aan te teken. Hierdie data word in die DIMSSA-sagteware ingevoer, waar ons al ons registrasiedata berg en die melkmetings indien.”

Barry glo melkprodusente maak ’n reuse-bydrae tot die landbousektor, en die impak daarvan is baie wyer as net die verskaffing van melk.

Melk: ’n Voedsame kossoort wat voedselsekerheid verseker

“Kommersiële melkproduksie is noodsaaklik om die volumes en hoë gehalte melk te verskaf wat ’n groeiende bevolking benodig. Alhoewel melk as ’n drankie beskou word, is dit inderwaarheid ’n volledige voedsame kossoort. Dit het ’n goeie balans van makrovoedingstowwe soos proteïene, koolhidrate en vet, terwyl dit ook ’n ryk bron van kalsium, kalium, magnesium, sink en vitamiene A, B2 en B12 is. Melk is daardie voedingstof wat die wrede siklus van wanvoeding kan verbreek.”

Barry is trots op die toekenning. “Dit gee ook aan Foundation Farm ’n stem, terwyl ander produsente in die bedryf baie hard en dikwels ‘onsigbaar’ werk. Dit is goed vir die suiwelbedryf om erkenning te kry vir die harde werk wat gedoen word, die unieke vaardighede wat ontwikkel word, die gehalte van ons produkte, en die spanwerk, vasberadenheid, geduld en passie wat daarmee gepaard gaan.”

Jacques Theron ontvang die toekenning van Joyene Isaacs, LNR-Voorsitter en dr. Litha Magingxa, President en HUB van die LNR.

JACQUES THERON VAN HELDERSTROOM, BARRYDALE
Dié manne kan melk

Jacques Theron, wat vanjaar ’n spesiale eretoekenning tydens die 2024 Nasionale Meester-Suiwelboer-Toekennings ontvang het, is al dekades lank ’n suksesvolle melkboer op sy plaas Helderstroom naby Barrydale.

Die eretoekenning is aan Jacques toegeken vir sy jarelange bydrae tot die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf. Sy toewyding aan die LNR se melkmetingstelsel, die genetiese verbetering van sy kudde, en sy leierskap as voormalige raadslid van die Melkprodusente-organisasie (MPO) en die SA Melkraad, maak hom ’n gepaste ontvanger van hierdie eerbewys.

Jacques het ’n pragmatiese benadering tot die suiwelbedryf en fokus op die basiese boustene wat sukses verseker.

“Die belangrikste eienskap van ’n suksesvolle suiwelboer is kos. Ons melkbeeste wei ses uur per dag op weiding, kry kragvoer in die stal, en snags gee ons hooi in die kraal sodat ons die mis kan hergebruik op die landerye.”

Jacques boer met Jerseys, wat hy verkies vir hul maklike kalwings en hoë vastestowwe in die melk – iets wat die kaasfabriek waaraan hulle lewer, verkies. Sy kudde bestaan uit 170 melkkoeie, sowat 200 diere in totaal, met nog ongeveer 30 verse ouer as een jaar en 30 jonger as een jaar.

’n Erfenis van harde werk

Jacques se pa het die plaas in 1969 gekoop vir R40 000, terwyl Jacques aan sy tweede jaar van sy BComm-studies aan Stellenbosch gewerk het. In 1970 het hulle die buurplaas vir R55 000 aangeskaf. Beide plase het minimale infrastruktuur gehad, en dit het harde werk geverg om dinge aan die gang te kry. Jacques het in 1972 op die plaas begin werk en het die aanvanklike kudde van ses koeie, wat met die hand gemelk is, help uitbrei. Die melk is in 40-liter kanne versamel en na Nestlé se fabriek in Robertson gestuur.

“Om ons kontantvloei te verhoog, het ek weiding begin ontwikkel met die hulp van mentore soos Prop van Vuuren van Fedmis en kundiges van die LNR en Bonita. Dit het die grondslag gelê vir die uitbreiding van ons melkery.”

In 1980 het Jacques besluit dat suiwelproduksie die primêre bedryf op die plaas sou word. Hy het die melkstal opgegradeer, in ’n melkmasjien belê, en spesifiek met Jerseys begin boer. Met inspirasie en leiding van Oom MC Truter, bekend as “Mnr. Jersey,” het hy die genetiese gehalte van sy kudde verbeter.

’n Fokus op genetika en tegnologie

Sedert die laat 1970’s gebruik Jacques uitsluitlik kunsmatige inseminasie (KI), wat ’n groot verskil aan die kudde se genetika gemaak het. Sy rol in die suiwelbedryf het ook gegroei, en hy het Barrydale op die MPO verteenwoordig en later tot die Melkraad toegetree.

Vandag melk hulle 170 koeie in ’n 8-punt-visgraad-melkstal – ’n groot sprong van die ses koeie waarmee alles begin het. Jacques glo dat die mentorskap en samewerking oor die jare die plaas tot sy huidige sukses gelei het.

“Melkboerdery bring sy eie uitdagings, van onvoorspelbare weer tot skommelinge in melkpryse. Maar ons leef ’n hoë kwaliteit, maar beskeie lewe hier op die plaas. Ons kan ons nie indink om iewers anders te wees nie.”

Suiwelbedryf: ’n Noodsaaklike skakel in landbou

Jacques beklemtoon die belangrikheid van die melkbedryf in Suid-Afrika se landbou en ekonomie. Hy wys egter op die groot uitdagings soos stygende insetkoste, wat vererger is deur die oorlog in die Oekraïne.

“Ek kan my nie indink hoe Suid-Afrika sonder melkboere of melk kan funksioneer nie. Dit is ’n stapelvoedsel en vorm die basis vir baie ander noodsaaklike voedingstowwe. Vir my is dit belangrik om te weet wat in my melkery aangaan. Deur alles te meet – produksie, kosverbruik, en meer – kan ons suksesvol bestuur. Wie nie meet nie, weet nie. Ek glo daar is steeds ’n toekoms vir melkboerdery, maar dit verg ’n skerp potlood en goeie bestuur.”

Kleinskaal Meestersuiwelboer van die Jaar, Gugulomuzi Ngcobo.

GUGULOMUZI NGCOBO VAN DONNYBROOK KWAZULU-NATAL
Vasberadenheid lei tot suksesvolle melkproduksie

Die verhaal van Gugulomuzi “Ducky” Ngcobo is een van vasberadenheid en liefde vir boerdery. Hy het sy melkery op Summerhill in Donnybrook, KwaZulu-Natal, vanaf ses koeie met die hand gemelk tot ’n moderne onderneming uitgebou waar 300 koeie daagliks gemelk word.

Sy mentor en boesemvriend, Robert Stapylton-Smith, vertel die merkwaardige storie van hoe Ngcobo ’n finansieel volhoubare melkery opgebou het. Danksy sy harde werk en deursettingsvermoë is hy vanjaar aangewys as Klein Meester-Suiwelboer van die Jaar. Ngcobo, wat nou 71 jaar oud is, praat hoofsaaklik Zulu en min Engels. Deur Stapylton-Smith het hy sy pad na sukses gedeel. Hy het grootgeword in Donnybrook en op die harde manier geleer van finansiële bestuur en boerdery.

’n Reis van nederigheid na sukses

Ngcobo het as ’n plaaswerker begin werk, waar sy eerste salaris ’n skamele R23,75 was. Sy pa het hom aangemoedig om net 75c daarvan vir homself te hou en die res te spaar. Hy het later sy swaarvoertuig-bestuurderslisensie gekry en geld begin spaar deur in taxi’s en swaartenkvragmotors te belê. Hierdie spaargeld het hom uiteindelik in staat gestel om sy eie grond te koop.

In 2002 het hy Summerhill gekoop en met ses Jersey-koeie begin melk. Aanvanklik was hy onseker oor sy besluit om die suiwelbedryf te betree, maar met die ondersteuning van Stapylton-Smith het hy sy melkery tot ’n suksesvolle onderneming uitgebou.

Van ’n eenvoudige skuur na ’n moderne melkery

Omdat sy melkery aanvanklik in ’n eenvoudige skuur bedryf is, het Ngcobo en Stapylton-Smith besluit om vir ’n meer doeltreffende melkstelsel te gaan. Met die hulp van die plaaslike departement van landbou en befondsing van ongeveer R11 miljoen, kon Ngcobo ’n dam bou, ’n 20-punt-melkstelsel installeer, en sy plaas verbeter met elektrisiteit, watergeriewe, en melkmasjinerie.

Hierdie verbeteringe het sy melkery verander. Waar dit voorheen die hele oggend geneem het om sy koeie te melk, kan hy nou binne twee uur 2200 liter melk per dag produseer. Die dam, wat naby sy stalle geleë is, het sy werk aansienlik verlig – hy hoef nie meer lang afstande te loop om water vir sy vee te kry nie en sy werksdae eindig nou rondom 17:00 in plaas van 21:00.

Liefde vir boerdery uit die hart

Ngcobo glo dat sukses in boerdery slegs moontlik is as dit uit die hart kom. “Drome om ’n groot, kommersiële boer te word, is nie genoeg nie. Jy moet lief wees vir wat jy doen. Om te boer is nie maklik nie – van ver af lyk dit maklik, maar hoe nader jy kom, besef jy dit is harde werk.”

Na meer as twee dekades in die suiwelbedryf leer hy steeds elke dag nuwe dinge. “Daar is altyd uitdagings en jy moet balans vind – soos ek wat nou meer water vir my vee nodig het. Maar met die regte ingesteldheid en passie kan jy enige struikelblok oorkom.”

Deon Engelbrecht van NOVA Feeds, die LNR Nasionale Mediumskaal Meester-suiwelboer van die Jaar Pieter Steenkamp (Tweekop Boerdery, Heidelberg, Wes-Kaap), en dr. Andrew Magadlela, LNR-Uitvoerende Groephoof: Veekunde.

PIETER STEENKAMP VAN TWEEKOP BOERDERY, HEIDELBERG
Melkprodusente moet die basiese dinge reg doen

Pieter is vanjaar aangewys as Meester-Suiwelboer van die Jaar in die medium-kategorie. Hy het op sy pa se skaap- en graanplaas grootgeword en aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer,waar hy sy BSc-landbougraad met landbou-ekonomie en veekunde as hoofvakke voltooi het. Hy het ook ’n honneursgraad in landbou-ekonomie en herkouervoeding verwerf – ’n spesialisasie wat nou groot waarde in sy rol as suiwelboer bied. Sy loopbaan op die plaas het egter onverwags begin toe hy op sy eerste dag moes vragmotor ry, eerder as om in die melkery, sy voorkeurgebied, betrokke te raak.

Die grondslag van sukses in suiwelboerdery

Pieter glo dat sukses in suiwelboerdery daarop neerkom om die basiese dinge reg te doen. Hy benadruk dat voeding die sleutel is tot sukses – elke koei moet genoeg voer van hoë gehalte kry wat by haar produksiefase pas. Hy beklemtoon ook dat kalfintervalle so laag as moontlik gehou moet word sodat koeie vroeg in hul laktasie dragtig raak. Dit is verder belangrik dat kalwers oorleef, goed groei en teen 24 maande op die regte gewig melk toe kan gaan. Voerkoste is volgens hom die grootste uitgawe op ’n plaas, en hy bestuur dit versigtig deur soveel as moontlik hul eie ruvoer, soos kuilvoer en strooi, te produseer. Konsentrate word aangekoop om die beskikbare ruvoere te balanseer.

Hy maak staat op tegnologie om elke koei op ’n individuele vlak te bestuur. Elke koei se produksie, massa en voeding word gemonitor, met melkproduksie as ’n persentasie van liggaamsmassa wat help om optimale kondisie tydens laktasie te verseker. Hierdie presiese benadering verseker ook goeie kalfintervalle. Pieter glo dat prestasiemeting ononderhandelbaar is. Volgens hom is dit eenvoudig: “As jy nie meet nie, weet jy nie. As jy nie weet nie, kan jy nie verbeter nie.”

Presisiepraktyke en genetika

Pieter is ’n sterk voorstander van presisieboerdery en pas dit toe in beide sy gewasproduksie en melkery. Grondontledings en opbrengskaarte van vorige jare bepaal die veranderlike toediening van kunsmis, wat sorg dat hulpbronne optimaal gebruik word. Hy monitor sy koeie nie net op groepsvlak nie, maar op individuele vlak, met voeding, laktasie en reproduksiestatus wat noukeurig dopgehou word. By bulseleksie fokus hy op langlewendheid, koeigemak, uiergesondheid en produksie. Hy meen dat goeie bestuur van hierdie eienskappe ’n positiewe impak op die langslewendheid van koeie het.

Waarom Jerseys?

Jerseys is volgens Pieter die beste keuse vir suiwelboerdery in die Suid-Kaap. Omdat hul melk hoofsaaklik vir kaasproduksie gebruik word, is die hoë bottervet- en proteïeninhoud van Jerseys ideaal. Hy verduidelik dat hulle ver van die mark vir vars melk is, en daarom maak die kaasmark perfekte sin vir hul besigheid.

Diversiteit op die plaas

Pieter diversifiseer ook sy bedrywighede deur graan, soos koring, gars, canola en koljander, te verbou. Hy boer ook met merinoskape en vestig lusern op droëlande vir weiding. Tot en met die einde van 2023 het hulle in twee aparte stalle gemelk – een vir volvoerkoeie en een vir weidingskoeie. Op 1 Januarie 2024 is die melkery geskuif na ’n nuwe plaas waar alle koeie in een stal gemelk word. Hier word ’n kombinasie van volvoer en weidings benut, en tans melk hulle tussen 750 en 800 koeie.

Die waarde van kompetisies

Pieter glo dat kompetisies soos hierdie waardevol is omdat dit boere in staat stel om hulself teen ander te meet. Hy meen dat wenners se bestuurspraktyke altyd lesse bied wat ander kan inspireer om nuwe benaderings te probeer. Sy passie vir melkboerdery, tesame met sy toewyding aan presisiepraktyke en prestasiemeting, plaas Pieter aan die voorpunt van moderne suiwelboerdery in Suid-Afrika.

Matthew Cooke van Semex, die LNR Nasionale Kudde met die Beste Somatiese Seltelling Etienne Zeeman (E Zeeman, Swellendam, Wes-Kaap), en Breyton Milford, Hoofbestuurder van Agri-Expo.

ETIENNE ZEEMANN VAN LEEURIVIER SWELLENDAM
Voeding die antwoord vir topgehalte melk

Etienne Zeeman is bekroon as die wenner vir die laagste somatiese seltelling in die land. ’n Lae somatiese seltelling is ’n aanduiding van melkgehalte en dieregesondheid.

Etienne het ná skool en sy diensplig direk plaas toe gegaan, aangesien omstandighede dit van hom vereis het. Hy wou nog altyd boer en as enigste seun was hy van kleins af betrokke by die boerdery. Hy kon reeds deur sy skooljare waardevolle ervaring opdoen. Hoewel daar oorspronklik met vrugte en groente op Leeurivier geboer is, het hulle in 2002 die melkery begin en spesifiek Jerseys verkies, omdat hul naaste melkkoper ’n kaasfabriek is wat ook botter produseer. Die hoë vastestofinhoud van Jerseymelk is belangrik vir melkkopers, en die afgelope paar jaar betaal melkkopers premies vir vaste stowwe in die melk.

Die rol van spanwerk en bestuur

Etienne glo die sukses van hul kudde is te danke aan verskeie faktore, waarvan die melkspan die belangrikste is. Hy is dankbaar vir ’n lojale, hardwerkende span en glo in die beginsel: “Die eienaar se voetspore is die beste kunsmis op die plaas.” Hy voeg by: “Jy moet altyd oral wees en weet wat aangaan. Daar is nooit ’n eindfluitjie nie. Jy moet presies weet waar en wat alles gebeur sodat jy bestuursregstellings kan maak waar nodig.”

“Ons melk tans 400 diere twee maal per dag en begin reeds om 05:30.”

Prestasiemeting hou jou gefokus

Etienne beklemtoon die belangrikheid van prestasiemeting. Hy is oortuig dat die LNR se maandelikse melkmonsters wat ingestuur word, produsente gefokus hou. “Die uitslae wat jy terugkry, is belangrik om besluite te neem oor jou kudde. Soms is daar diere wat nie voldoende presteer nie en waarvan jy dalk nie bewus is nie – veral in gevalle van siektes soos mastitis. Deur gereelde meting kan jy hierdie probleme betyds identifiseer.”

Voeding en gevorderde stelsels

Voeding speel ’n kritieke rol in die sukses van hul melkkudde. Hulle bestuur ’n 100% weidingskudde, waar die koeie dag en nag wei. Die koeie kry kragvoer in die stal volgens rekenaargebaseerde programme wat elke individuele dier se voerprogram bepaal. “Die dier se lewensduur hang af van haar natuurlike gesondheid en produksievermoë. Kalfintervalle word met behulp van ons rekenaarstelsel so kort as moontlik gehou. Die stelsel hou tred van wanneer koeie laas gekalf het, wanneer hulle weer moet kalf, en hoeveel keer hulle al geïnsemineer is. Diere wat nie dragtig wil word nie, of wat nie aan produksiestandaarde voldoen nie, word uitgeskot.” Die plaas se melkmasjiene is gerekeneriseer, en elke dier word individueel elektronies geïdentifiseer.

Voer word toegeken op grond van elke liter melk wat die koei gee. Sy ontvang ook 350 g suiwelkonsentraatpille. Ná die melking loop die koei oor ’n skaal, wat gesondheid help bepaal. As ’n dier gewig verloor en moontlik siek is, word sy deur ’n geoutomatiseerde hek afgekeer vir verdere aandag.

Teel en genetika

Teel is ’n ander prioriteit op die plaas. Hulle gebruik uitsluitlik Deense genetika, wat wêreldwyd bekend is vir die produksie van hoë vastestowwe in melk. Daar is geen bulle op die plaas nie; alle koeie word met Deense bulsemen geïnsemineer.

Weidingsbestuur en produksie

Omdat hulle ’n volweidingskudde bedryf, is die kwaliteit van weidings uiters belangrik. Etienne fokus daarop om die weidings in die beste moontlike toestand te hou en die diversiteit van gewasse soos klawers, grasse en lusern te handhaaf. Hierdie balans stel die diere in staat om optimaal te produseer.

Uitdagings in die suiwelbedryf

Etienne wys daarop dat die suiwelbedryf ’n groot bydrae lewer tot Suid-Afrika se ekonomie en voedselsekerheid. Hy waarsku egter dat die aantal melkprodusente afneem, terwyl die kuddes by groot produsente al hoe groter raak. Hierdie konsentrasie hou risiko’s in, veral met betrekking tot biosekuriteit, soos die onlangse uitbraak van bek- en klouseer in die Oos-Kaap. “As een of twee groot produsente ’n siekte onder hul diere kry en grootskaalse vrektes voorkom, kan dit ’n groot impak op die voorsiening van suiwel in die land hê.” Hy beklemtoon ook dat melkpryse wat produsente ontvang, nie in verhouding is met wat verbruikers betaal nie. “Die kleinhandel en supermarkte maak die meeste geld uit ’n liter melk, sonder om enige risiko te dra. Indien ’n produk beskadig word of die raklewe oorskry, word dit teruggestuur na die verwerker, wat dit moet vervang of van die faktuur moet aftrek. Die produsent dra alle risiko’s.”

Voedselveiligheid en die toekoms

“Melk dra grootliks by tot voedselsekerheid,” sê Etienne. Sekondêre produkte soos kaas, botter, jogurt en melkpoeier verseker hoë gehalte voeding. Hy glo die bedryf moet strategies bestuur word om toekomstige uitdagings te oorkom en melkproduksie volhoubaar te hou.

Joubertina Kwekery | Pauw-familie

Fotografie: Mia Truter

Nog ’n familiebesigheid wat die Langkloof bekend gemaak het en landwyd aansien verwerf het, is die Joubertina Kwekery van Bremer en Elaine Pauw. Die kwekery het in die 1960’s ontstaan uit die behoefte aan appelbome vir die groeiende appel- en peerbedryf. Vandag is Bremer en Elaine gelukkig om ook die dienste van hul dogter Karien, haar man Willy, en Deon Lötter, ’n deurwinterde landboukundige en kweker, te hê om die vrugteboom-kwekery teen die hange van die Langkloofberge te bestuur.

Joubertina Kwekery is inderdaad ’n familiebesigheid. Hier staan van links: Karien en Willy Sehm (dogter en skoonseun), Elaine en Bremer Pauw.

Hulle fokus hoofsaaklik op appel- en peervariëteite. Van die gewildste appelbome sluit in verskeie Gala-variëteite, Cripps Red, BigBucks (Flash Gala), Fujis, Golden Delicious en Granny Smith, om maar ’n paar te noem. Gewilde peerkultivars is onder meer Early Bon Chretien, Cape Rose, Forelle, Packham’s Triumph en Rosemarie.

Van pit tot boom

In die groot sitkamer met sy tafel met baie stoele gesels ons oor die familie-onderneming en die groei oor die afgelope jare. Dit blyk gou dat vrugteboomkwekery nie sommer ’n hierjy-besigheid is nie en baie tegniese kennis en jare se ondervinding saamwerk om daarvan ‘n sukses te maak. En voeg daarby toewyding en ‘n liefde vir die grond en dit wat jy doen, en die Pauw-familie se betrokkenheid by die kwekery word beter verstaan.

Die stoor by die Joubertina Kwekery waar sommige van die verwerking van nuwe plante gedoen word.

Die eerste vraag is natuurlik hoe mens begin om bome te kweek – jy moet tog iets hê waarop jy kan inent of okkuleer, om die geleerde woord te gebruik, en dan kom aspekte soos onderstamme, variëteite en grond ook nog ter sprake. En dit moet alles saamwerk om na twee jaar ’n boom te lewer wat weer verkoop kan word.

Bremer vertel die geskiedenis van die plaas. Sy pa, ook Bremer, het in die middel 1950’s na die Langkloof gekom en met appels begin boer vir die Kritzingers van Tulpieskraal se oupa. Later het hy sy eerste grond, Dennehoek, in die laat 1970’s verkoop en in 1968 begin om bome te kweek.

Zuricha Plaatjies (links) en Patricia Mintoor is van die byna 300 werkers wat in die boorde werk.

“Die man wat voorheen bome in die area gekweek het, Nassau Jurie, ’n vriend van my pa, se grond het opgeraak, omdat jy voortdurend nuwe grond moet gebruik om bome te kweek. Hy het my pa gevra om met die kwekery voort te gaan, nadat sy kwekery al vir geslagte aan die gang was. Hy het altyd die bome vir die mense van die Langkloof gekweek.”

Bremer meen die grootste probleem vir kwekers is dat jy voortdurend nuwe grond moet hê waarop die jong bome gekweek kan word. Vroeër jare was daar genoeg nuwe grond om op te kweek, maar deesdae word daar gebruik gemaak van beroking en grondhulpmiddels om die grond weer bruikbaar te kry.

Links: Die rooi verf op die takkies dui op die spesifieke variëteit – elkeen het sy eie kleurkode om dit maklik van ander te onderskei. Middel: Nuwe lote word gevorm. Regs: Plastieklint word gebruik om die ingeplante ogie vas te bind. Dit word na ongeveer ’n jaar losgemaak sodra die ogies behoorlik gevestig het.

Vandag word plantmateriaal, waarop die bome verder gekweek word, van verskeie verskaffers soos SAPO, TopFruit en Star-grow verkry. Sommige variëteite het tantieme wat kopers per boom aan die plantverbete-ringsorganisasie betaal. Die onderstamme kom meestal van hul eie moederblokke wat al vir dekades op die plaas gevestig is en deur die Departement van Landbou goedgekeur is.

“Hulle het oorspronklik van saailinge gekweek nadat hulle die appelpitte geplant het. Werknemers het lank gesit en appels deursny om die pitte te kon kry – veral Goldens, wat baie pitte het. Die pitte is dan in die oop grond geplant, eintlik gesaai soos sout. Dan kom jy agter jy het hopeloos te veel, en dan dun jy dit maar weer uit. Die koms van M793 van Engeland af het dinge baie verander en veroorsaak dat al die onderstamme meer uniform was. Dit was terselfdertyd die saailinge se probleem – die feit dat elke boom se eienskappe verskil. Jy het tog onderstamme nodig vir spesifieke eienskappe ten opsigte van vrugbaarheid, weerstand teen siektes en so meer. Die boorde was nooit eenvormig nie. Vandag kom alle bome van steggies of weefselkultuur. As jy dus vandag ’n M7 koop, sal dit presies dieselfde eienskappe hê as al die ander M7-bome.”

Die ogie het gevestig en ’n nuwe boom groei daaruit.

Van ingenieur tot landbouer

Karien het ingenieurswese geswot nadat sy op Humansdorp gematrikuleer het en lank as siviele ingenieur gepraktiseer. Dit het die bestuur en uitvoering van kontrakte in die Demokratiese Republiek van die Kongo ingesluit, waar hulle ’n goudmyn begin het. ’n Pypleiding in Mosambiek – “die verveligste werk ooit” – ’n sonplaas by Kathu en ’n brug naby Saldanha. Sy het egter moeg geraak vir rondtrek en het vir ’n tyd haar eie praktyk bedryf totdat haar pa haar gebel het en gevra het of sy nie plaas toe wil kom nie. Sy en Willy was toe al bymekaar – hy ook ’n siviele ingenieur – en hulle het saam na die kwekery gekom.

“Die plaaswerk is baie soos die konstruksiebedryf – dit gaan grotendeels oor mensebestuur, en dit is nogal ’n uitdaging om elke dag groot spanne mense produktief besig te hou – tussen inenting, okkulering en die skoon-hou van die kwekery. Ons is baie besig van Junie tot begin September, wanneer al die bome uitgehaal, geklas, in bondels van 10 of 20 gebind, verkoop en versend moet word. “Aan die vrugtekant het ons appels en pere van ’n verskeidenheid kultivars.

Daar is drie produksie-bestuurders wat daar help en wat al die paaie ken,” vertel sy terwyl ons in haar bakkie ’n stamperige grondpad die berge inry na waar die kwekeryboompies gekweek word, digby die dorpsdam wat vir Joubertina water voorsien.

Deon wys waar die insnyding vir die nuwe ogie gemaak word.

Kweperonderstamme vir sukses

Ons kry vir Deon Lötter, Joubertina Kwekery se ervare en deur-winterde kweker, waar hy toesig hou terwyl ’n opgrawer besig is om ’n land om te dol tot sowat 700 mm diep, ter voorbereiding van nuwe aanplantings. Hulle breek die grondbanke oop, en hy vertel dat hulle elke vyf jaar die landerye so oopbreek. Hier gaan hy kweperonderstamme gebruik as basis vir sy nuwe peerboompies, terwyl die Geneva, M7, M793 en MM109-onderstamme gebruik gaan word om appelbome te kweek.

“Kweperonderstamme is baie vrugbaar. Pere soos Forelle en Abate Fetel doen baie goed op kweperonder-stamme, maar is tot by die uithaalstadium baie bros, en die takke breek maklik af as sterk wind waai. Die kweperonderstamme het ’n baie goeie wortelstelsel wat fyn sywortels het, maar wyd vertak. Dit maak die Forelle baie meer vrugbaar, terwyl dit terselfdertyd keer dat die bome nie te wild groei nie. Spasiëring in die kwekery is belangrik om groot bome te kan kweek,” verduidelik Deon.

Joubertina Kwekery gebruik by pere BP1 en BA29, ’n kweper-onderstam. In die erlede is ook BP3-onder-stamme gebruik. Met appels kweek hulle hoofsaaklik M7, MM109 en M9. Die Geneva GCG778 en CG222 is sterk groeiers en word by weefselkultuur-laboratoriums aangekoop. Produsente vra dikwels dat bome op spesifieke onderstamme gekweek moet word, veral nadat grondontledings gedoen is.

Appelbome word meestal vermeerder deur herfsokkulering, wat ’n hoë suksespersentasie het. In hierdie proses word ’n kepie op die onderstam gemaak en ’n enkele ogie van ’n geselekteerde moederplant word daar ingevoeg. Dit gebeur tydens die aktiewe groeiperiode.

Deon Lötter is ’n deurwinterde kweker en sien grootliks om na die okkulering en versorging van nuwe bome.

“Eintlik is dit ’n eenvoudige storie en behels dit in wese dat ons ’n stukkie bas met ’n oog aan op ’n ander boom inplant. Die ogies word aangekoop by die verskeie PVO’s.”

“Die sukses vir ’n groot, gesonde boom is om te begin met ’n gesonde onderstam wat dik genoeg is vir die okuleerproses. Die volgende stap vir sukses is om ’n gesonde en variëteitsegte ogie daarop te okkuleer. Die ogie word dan in ’n vertikale snit wat in die onderstam gemaak is, ingedruk en met ’n plastieklintjie vasgemaak sodat dit stewig sit en daarin kan begin vasgroei. Na ongeveer drie weke haal ons die lintjie af en sny die wilde lote af om te verseker dat die nuwe plant op sy eie kan groei en die nuwe, verlangde vrugteboom kan vorm,” verduidelik hy.

’n Eenvoudige proses? Ja, dalk so, gesien in die lig van hoe dit gedoen word, maar vlytige vingers wat kan raakvat en fyn snitte in takkies kan maak, is ’n besliste voorvereiste – tesame met ’n sterk rug wat letterlik honderde kere per dag moet buig om by die onderstamme uit te kom. Dan weer, as die linte wat die ogies vashou afgesny moet word, kos dit vasvat. En dit verg honderde hande se ure lange werk om dit gedoen te kry – daar is geen meganiese manier om dit te doen nie. In die boord waar hierdie nuwe boompies gekweek word, kan mens gou sien dat die werkers geoefen is aan hierdie rugbrekende werk en presies weet wat om te doen.

Grond word omgedol ter voorbereiding van nuwe aanplantings.

Vermeerdering van onderstamme

Deon verduidelik verder: “Onderstamme kan op verskeie maniere vermeerder word. Eerstens word die moederblokke in November of Desember opgeërd met saagsels. Hierdie afleërs maak dan wortels. In Junie of Julie word dit weer uitgehaal deur die grond weg te krap, en dan het jy ’n gewortelde onderstam wat geplant word, ongeveer 10 cm van mekaar af.

Tweedens word hardehoutsteggies uit die moeder-blokke gesny gedurende Mei en met hormoonpoeier be-handel vir beworteling, waarna dit direk in die grond gedruk word.

Die onderstamme groei vir ’n jaar en word gedurende die volgende herfs geokkuleer.

Die nuwe ogie groei gedurende die winter. Ná winter word die onderstam tot op die ogie teruggesny. Hierdie nuwe variëteit groei dan vir ’n verdere jaar.

In Junie word die jong boompies, wat op bestelling is, uitgehaal en in bondels van 10 of 20 vasgebind nadat dit volgens lengte geklas is. Daar is ’n paar klasse: 1,2 m tot 1,5 m, 1,5 m tot 1,8 m, en langer as 1,8 m. Die meeste produsente verkies deesdae bome langer as 1,8 m,” verduidelik Deon die ingewikkelde proses, wat eenvoudig lyk wanneer hy dit met geoefende hande demonstreer.

By die lande waar die jong boompies geil staan en wag op die nuwe seisoen, is hulle gereed om iewers vrugte te gaan dra – en ’n mens kry nuwe agting vir die werkers wat hierdie werk moet doen.

Hansie Viljoen: ’n Boerdery wat wys hoe volhoubare diversifikasie lyk

Toe Hansie Viljoen van Viljoen Boerdery as die 2025 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar aangewys is, was dit nie net ’n persoonlike mylpaal nie. Dit was ’n viering van ’n boerderymodel wat wys hoe gesinne, tegnologie, grondgesondheid en goeie bestuur saam ’n sterk landbou-onderneming vorm. Die gala-geleentheid op 31 Oktober by Birchwood Hotel, onder die tema Legacy in the Land: The Art of Timing, het die perfekte agtergrond geskep om ’n produsent te vereer wat presies dié balans verstaan.

Gesinswortels, moderne bestuur

Viljoen Boerdery het oor jare ontwikkel vanaf ’n gesinsplaas tot ’n dinamiese onderneming wat oor provinsiale en selfs landsgrense strek. Viljoen boer in Noordwes, die Vrystaat en Botswana – en bestuur graan, soja, mielies, beeste en wild as deel van ’n geïntegreerde portefeulje.

Wat die beoordelaars veral beïndruk het, is hoe die boerdery tegnologie gebruik om risiko te bestuur: presisie-toerusting, deeglike grondontledings, volhoubare bewerking en baie sterk fokus op data. Vir Viljoen is boerdery nie meer net ’n seisoenlike spel nie – dit is ’n bestuurstaak waar elke besluit, van plant tot oes, die volgende jaar se grondkwaliteit bepaal.

“Hierdie toekenning is nie net vir my nie, maar vir my span en my familie,” het hy op die aand gesê.

Diversifikasie as bousteen vir sukses

Wat duidelik deurkom in Viljoen se storie, is ’n strategie wat nooit op een kommoditeit rus nie. Graan bly die kern, maar die boerdery se dierekomponent en wildsbemarking bied ekstra stabiliteit. Hierdie vertakking het hulle gehelp om deur droogtes, markprys-skuiwe en insetkoste-skokke te navigeer.

Sy benadering tot grondgesondheid is een van die redes waarom die boerdery konsekwente opbrengste lewer. Dekgewasse, wisselbou, minimale grondverstoring en volhoubare bemesting vorm deel van die boerdery se langtermynplan – iets wat volgens Grain SA se beoordelaars ’n groot rol gespeel het in sy pryswenprestasie.

’n Bedryf wat groei – en uitdagings trotseer

In sy toespraak het Minister van Landbou, John Steenhuisen, die land se rekordgraanoes van meer as 23 miljoen ton vir 2025 beklemtoon, maar ook gewaarsku dat produsente onder druk staan: insetkoste styg, kommoditeitspryse is onder druk, en klimaatuitdagings word al groter. Juis daarom is produsente soos Viljoen belangrik vir die sektor – boere wat wys wat moontlik is wanneer langtermynbeplanning, tegnologie en volgehoue investering saamwerk.

“Boere ondersteun hulle dorpe en gemeenskappe,” het Viljoen gesê – iets wat duidelik blyk uit sy betrokkenheid by plaaslike projekte en die manier waarop sy boerdery in mense belê.

Hansie Viljoen se toekenning is meer as ’n trofee. Dit is ’n bewys dat volhoubare boerdery – gedryf deur grondrespek, tegnologie, mense en aanpasbaarheid – steeds die hoeksteen van die Suid-Afrikaanse graanbedryf is. En dit wys dat gesinne soos die Viljoens sonder twyfel ’n nalatenskap bou wat ver langer sal hou as net een seisoen.

La Niña op pad: wat boere in 2025/26 moet weet

Klimaatkundiges waarsku dat Suid-Afrika die komende 2025/26-seisoen waarskynlik volledig onder die invloed van ’n nuwe La Niña-fase gaan wees. Vir boere in die somerreënvalstreke beteken dit ’n hoër kans op koeler, natter toestande — met groot opbrengspotensiaal, maar ook beduidende risiko’s.

Volgens die ENSO-verwysingsgroep is die sein nou duidelik: La Niña-toestande neem vinnig vorm aan. In provinsies soos die Vrystaat, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en Gauteng kan bogemiddelde reënval gunstig wees vir gewasse soos mielies, sojabone en sorghum. Koeler temperature kan fotosintese stabiliseer en hitte-beskadiging verminder, maar rypwording vertraag en oes-vensters verskuif. Boere sal dus hul plantbeplanning en veldtoegang fyn moet bestuur.

Siektes, plae en waterbestuur

Natter toestande bring ’n groter waarskynlikheid vir siektes en plae. Produsente kan veral die volgende tendense verwag:

• meer voorkoms van mieliesmuts,
• groter aalwurmdruk, en
• verhoogde swamsiektes in groente, vrugte en wingerde.

Dit beteken dat produsente hul monitering en voorkomende beheer, insluitend spuitskedules, vroeër en meer doelgerig moet aanpas om plantgesondheid te beskerm. Net so kan waterlogging en verspoelde lande meer voorkom, wat dreineringstelsels en grondvogbestuur krities maak.

’n Seisoen van bosluisdruk vir veeboere

Meer vog skep ideale oorlewingsomstandighedevirbosluise. Dit verhoog die risiko vir hartwater, rooiwateren ander siektes wat deur bosluise oorgedra word. ’n Doelgerigte dip- en moniteringsprogram is noodsaaklik om vinnige styging in populasies die hoof te bied.

Kundiges se boodskap: Berei vroeg voor

Die La Niña-verklaring is saamgestel deur ’n span van vooraanstaande klimaat- en landboukenners, insluitend die Suid-Afrikaanse Weerdiens, universiteite regoor die land, die LNR en ekonomiese insette van AGBIZ. Hulle waarsku dat La Niña wél groot geleenthede vir goeie opbrengste bied, maar slegs vir produsente wat betyds bestuur, beplan en voorberei vir ’n natter seisoen.

Boerdery met ’n plan: Hoe Islandview elke hektaar laat werk

In die Umzimkulu-vallei, waar gemengde produksie die norm is en klimaatstoestande die boerdery sterk beïnvloed, ontmoet ons Paul Button van Islandview Plaas. Hier word sitrus, bees, mielies en aartappels as ’n geïntegreerde stelsel bestuur — met 
produksie wat doelbewus geskeduleer word om arbeidskapasiteit, grondgesondheid en opbrengs te optimaliseer.

Paul Button is trots op sy geïntegreerde boerderystelsel.

Paul vertel: “Ek het op die plaas grootgeword en is nou die vyfde geslag hier. Dit was vroeër ’n suiwelplaas. Omstreeks 1993 het my pa egter begin oorskakel na sitrus.”

Die vraag ontstaan waarom ’n boer van suiwel sou wegbeweeg in ’n streek wat daarvoor bekend is. Die antwoord is eenvoudig. Die plaas was te klein en daar was geen ruimte om uit te brei nie.

“En my oupa het al in die 1970’s sitrus begin plant. Hy het selfs sy eie vrugte gepak en uitgevoer.”

“En my oupa het al in die 1970’s sitrus begin plant. Hy het selfs sy eie vrugte gepak en uitgevoer.”

Die sitrusseisoen begin middel April met suurlemoene. In 
Mei word die nawele gepluk. Daarna volg mandaryne en Valencias. Altesaam duur die plukseisoen ongeveer vyf maande.

“Na die oes snoei en bemes ons. Ons doen ook onderhoud aan die besproeiing en spuit chemikalieë as voorbereiding vir die volgende seisoen.”


Sitruskultivars word só beplan dat rypwording opeenvolgend plaasvind.

ELKE HEKTAAR MOET TEL


Produksie word só beplan dat die arbeidsmag so lank as moontlik werk het. Kultivars word ook gekies sodat hulle nie op dieselfde tyd ryp word nie.

Islandview Plaas lê in ’n warm vallei. Dit verskil van omliggende gebiede waar ryp meer algemeen voorkom. Die streek kry sowat 750 mm reën per jaar. Die grond is diep en van goeie gehalte, hoewel effens kleierig. Die boorde word op riwwe geplant om ekstra diepte te skep. Met al hierdie faktore saam vaar sitrus uitstekend hier.

Sommige Valencia-kultivars doen egter swakker omdat die gebied nie genoeg hitte eenhede het nie. Dit is ’n probleem wat in streke soos Limpopo nie voorkom nie.

“Maar suurlemoene, nawele en sagte sitrus doen baie goed.”

Nog ’n voordeel van sitrus is dat die bome lank hou. Paul oes steeds van ses hektaar bome wat sy oupa in die 1970’s geplant het.

Hulle gee nog 50 tot 60 t vrugte. Die bome word egter binnekort uitgehaal en vervang.

“Hulle gee nog 50 tot 60 t vrugte. Die bome word egter binnekort uitgehaal en vervang. Dit behoort volgende jaar te gebeur.”

Prestasie bly belangrik. Nuwe kultivars oortref dikwels ouer aanplantings. Die ou bome word dan uitgehaal en die grond rus vir twee jaar. Dit help om die aalwurmsiklus te breek.


’n Senterpivot besproei die mielielande wat deel vorm van sy wisselboustelsel. 

WISSELBOU EN GRONDGESONDHEID


Gedurende die twee jaar word sekere grassoorte en mielies geplant. Dit word gebaal en later as voer vir die beeste gebruik.

“Hierdie gewasse bou koolstof op en verbeter die grond. Ons plant soveel as moontlik voordat die boord weer monokultuur word.”

Jong sitrusbome word van ’n kwekery in Limpopo aangekoop. Hulle word volgens ’n uitleg van 6×3 m of 7×4 m geplant. Dit bevorder goeie lugvloei 
en fotosintese.

Wind is een van die groot uitdagings.

“In Julie het ’n groot windstorm baie vrugte afgegooi. Laat reën is nog ’n probleem. Dit beïnvloed kwaliteit wanneer dit tydens die oesseisoen val. Ons het selfs ontydige winterreën gehad wat ons moes laat ophou pluk. Ons kry gewoonlik nie hael nie maar laas November het dit ons erg getref.”

Paul grawe aartappels uit wat onder besproeiing in die Umzimkulu-vallei ryp word. 

Sitrus-swartvlek bly ’n groot uitdaging. Vier spuitings is genoeg om dit te beheer. Dit maak nie ekonomies sin om meer te spuit nie.

“Swartvlekvrugte kan steeds uitgevoer word na minder sensitiewe markte soos die Midde-Ooste en Rusland.”
Die Europese Unie aanvaar dit egter nie.

Die vrugte word na Carrisbrooke Valley Citrus gestuur. Die onderneming het nege aandeelhouers wat almal sitrusboere is. Verskeie uitvoeragente word gebruik.

“Ons bestuur dit soos ’n koöperasie en het ook meer fasiliteite oopgemaak vir die nuwe avokadoboere in die omgewing.”


BRANGUS-BEESTE EN ’N VISIE VIR DIE TOEKOMS


Beeste is die volgende faset van die boerdery. Die Brangus is Paul se voorkeur-ras. Dit is ’n kruising tussen Angus en Brahman. Die kruising het in 1932 in die VSA ontstaan. Die Brahman hanteer hitte en humiditeit goed. Die Angus het uitstekende vleisgehalte. Die ideale verhouding is 5 agtste Angus en 
3 agtste Brahman.

“Europese rasse doen nie goed in hierdie hitte nie. Die Brangus is ideaal vir ons omstandighede en speen mooi af.”

Die koeie het goeie melk, is uitstekende moeders en is poenskoppe. Paul wil graag sy eie bulle teel wat by die plaas se klimaat aangepas is.

“Ons gaan waarskynlik vir die volgende tien jaar nie bulle verkoop nie. Ons fokus eers op die verbetering van ons eie kommersiële kudde.”

Die beesstelsel werk op die speenkalfmodel. Kalwers word teen sewe tot agt maande aan voerkraaloperateurs verkoop. Verse en jong bulle word gehou vir toekomstige teelt.

Die ideale bul het ’n korter raam met breedte van voor tot agter. Die haarkleed moet glad en kort wees. Dit help teen hitte en teen bosluise. ’n Sterk kop en nek en goeie beenwerk is belangrik.

“Brangus kan nader aan Brahman wees of nader aan Angus. Ons verkies diere wat effens meer Brahman toon, maar steeds genoeg Angus het vir gehalte.”

Paul wil die kudde uitbrei en uiteindelik ’n voerkraal op die plaas bedryf. Hy het onlangs ’n proeflopie met 40 osse gedoen en dit het baie goed gevaar.

“Dit gee vir ons keuses. Ons kan diere terughou wanneer pryse laag is en verkoop wanneer pryse gunstig is.”

’n Voerkraal moet egter op die regte plek wees met die regte helling en harde grond. Dit help om modder te voorkom. Een voordeel van ’n voerkraal is dat die middelman uitgesny word. Die wins-marges is klein. Dit gaan oor volume.

“Ons bereken dat dit sowat een ton mielies en konsentrate neem om ’n os klaar te maak. Die koste beloop ongeveer sesduisend rand om ’n dier markgereed 
te kry.”


Die Umzimkulu-rivier vorm die plaas se grens en voorsien al die besproeiingswater.

AARTAPPELS EN ’N KLIMAAT WAT SAAMWERK


Mielieproduksie is belangrik omdat dit na die voerkraal gaan. Dit word in wisselbou met aartappels geplant.

“Ons plant ook raaigras vir die verse in winter. Dit is nie ’n groot komponent nie maar dit werk goed saam met die aartappels.”

Tien hektaar word aan aartappels toegewy. Die rotasie is vier jaar. Dit is voldoende omdat Paul nie saad- of kommersiële aartappels produseer nie.

Die Brangus, ’n kombinasie van Angus en Brahman, is Paul se voorkeurras vir gehalte en aanpasbaarheid. 

Die Umzimkulu-vallei het ’n warm klimaat met min ryp. Onder besproeiing kan ’n mens drie oeste in twaalf maande kry. Dit sluit aartappels, mieliekuilvoer en raaigras in.

Alles het goed gegaan totdat Paul gehoor het dat bek en klou-seer tot binne dertig kilometer van sy plaas beweeg het.

Bek en klouseer is ’n aansteeklike virussiekte wat diere met kloue raak. Dit is nie gevaarlik vir mense nie maar kan melk- en vleisproduksie ernstig benadeel. Dit kan ook internasionale handelsverbod veroorsaak.

Boere kan net soveel doen. Die grootste risiko kom dikwels van vee wat vanaf ander gebiede ingebring word vir kulturele gebruike soos lobola, troues of begrafnisse.

“Dit is baie ernstig vir vleisboere maar nog erger vir suiwelboere. Ons is gelukkig dat ’n diep rivier ons grens. Mense en vee kan nie daaroor kom nie.”

Two Minutes is die erfwagter wat altyd op sy pos is.

Indien die siekte voorkom, word besmette diere vir ses maande in kwarantyn geplaas.

Terug na die aartappels.

Aartappels word middel Junie geplant. Ryp is nie ’n probleem nie. Die oes is van middel Oktober tot middel November.

“Ons was nie die aartappels nie en verkoop dit as ’n Transkei Mix. Dit is ongeselekteerd. Die aartappels word op sleepwaens gelaai en kopers neem dit dieselfde dag weg.”

Paul bestuur ’n geïntegreerde stelsel waar al die boerderyonder-dele saamwerk en mekaar versterk.

Groente, Gemeenskap en Guts: Die Rix’e van Philippi

Woorde: Clivé Burger | Fotografie: Mia Truter

Philippi, wat aan die suidoostelike kant van Kaapstad geleë is en deel vorm van die Kaapse Vlakte, is al vir eeue bekend vir families wat vir geslagte lank in die omgewing boer. Die area is ook bekend vir die groente wat hier verbou word en wat na raming tot 50% van Kaapstad se vars groente voorsien.

Leon Rix woon al 75 jaar hier in Philippi, waar hy saam met sy gesin boer. Hier is hy saam met sy geliefde worshondjie, Bokka. 

Een só familie is die Rix’e, wat al dekades lank bekende boere in Philippi is. Leon Rix (75) is hier gebore en getoë, en sy familie boer met groente al so lank as wat hy kan onthou. Sy seun, Adriaan, is al sowat 20 jaar lank op die plaas en boer saam met hom.

Nadat Adriaan sy studies aan Elsenburg Landboukollege voltooi het, het hy plaas toe gekom om saam met sy pa te boer. 

“Hy het vir my gesê ons kan nie so aanhou boer met ou trekkers en implemente nie. Hy wou graag saam met my een neef hier in Philippi gaan boer. Ek het vir hom gesê dis in orde so. Hy moes ’n paar ‘tips’ gaan vang en dan terugkom plaas toe,” vertel Leon glimlaggend.

“Ná ses maande vra ek hom toe wat hy geleer het. Sy antwoord was: ‘Pa, as jy met groente wil boer, moet jy jou eie bemarking doen.’ Toe begin ons ons eie bemarking doen, en dit het eintlik verbasend goed gegaan.”

Verskillende tipes krulkool word geplant. Hierdie gewilde kultivar staan bekend as swart krulkool (black kale). 

Leon sê hy besef hulle het eintlik “dom” geboer en net geplant wat hulle kon en waarvoor hulle water gehad het. Daar was een goeie jaar, en dan weer een minder goeie jaar, en so het hulle voortgegaan. 

“Ons het wortels aan my ander neef gelewer wat groot kontrakte met kettingwinkels het. Later het ons aartappels begin plant. Dit het goed gegaan. Ek was die eerste aartappelboer van Philippi wat 100 000 sakke (15 kg) in een seisoen mark toe gestuur het.”

Hierdie krulkool is reeds ’n paar weke oud en is ’n gesogte groente onder plaaslike inwoners.

KAN NIE VOORBLY MET BLAARPRODUKTE VIR PAP NIE

Die Rix’e plant groente, en veral blaarprodukte, op sowat 50 ha grond. Voorheen het hulle grond gehuur, maar nie meer nie. Aangesien die gebied teenaan Mitchells Plain, Hanover Park en Lansdowne geleë is, voorsien die groente wat hier verbou word, ook baie van die plaaslike informele markte.

Leon, wat as kind by die plaasskooltjie oorkant die pad skoolgegaan het, het met een van die omliggende bure
se dogter, Marita Buhr, getrou. Uit die huwelik is drie kinders gebore. Vandag nog woon die familie naby mekaar. “Elkeen van ons woon op ’n plaas, terwyl ons oudste dogter in die stad woon.”

Dit was ’n hegte gemeenskap van families, en vandag nog is daar Duitse nageslagte wat steeds ’n lewe in die gebied maak.

In die middel 1800’s het Duitse immigrante in Philippi gebly, wat destyds as ’n semiwoestynagtige gebied gesien is. Hulle het egter bewys dat hulle suksesvol met groente in hierdie gebied kon boer en Kaapstad se inwoners daarvan kon voorsien. Dit was ’n hegte gemeenskap van families, en vandag nog is daar Duitse nageslagte wat steeds ’n lewe in die gebied maak.

’n Gesonde bondeltjie sprietuie is gewild in bredies of saam met ander blaargroente in pap.

GROND IN DIE AREA WORD AL HOE MEER GEOORMERK VIR BEHUISING

Grond in Philippi is geweldig onder druk omdat dit deur ontwikkelingsprojekte, veral vir behuising, geoormerk word. Dit veroorsaak dat die landbougebied oor tyd al hoe kleiner word. Natuurlik speel veiligheid en misdaad
ook ’n groot rol hier, want diefstal en sabotasie kom algemeen voor en bedreig boere se vermoë om volhoubaar te produseer.

Ja, misdaad is ’n probleem in ons gebied, maar aan die ander kant word ons ook nie te erg daardeur geraak nie. 

“Ja, misdaad is ’n probleem in ons gebied, maar aan die ander kant word ons ook nie te erg daardeur geraak nie. Mense wat groente steel, kan ook net soveel in ’n streepsak kry — dan is hulle weer vort. Die bietjie wat gesteel word, is maar ’n druppel in die emmer van wat ons produseer en bemark,” vertel Leon.

Hoewel hy en Adriaan vir jare groente soos aartappels, wortels, kool en slaai geproduseer het, is dit eers die afgelope vier jaar dat hulle ’n heel nuwe rigting met hul aanplantings ingeslaan het.

AFRICAN LEAF FARM STALL

Die Rix’e plant nou uitsluitlik groen blaarprodukte. Dit sluit in spinasie, sprietuie, krulkool, raap, Afrika-krulkool, mosterd, brokkoli en kool. Hul grootste mark is die plaaslike gemeenskap wat graag hierdie groen blare in hul pap gooi. Hulle kan skaars voorbly om duisende van hierdie bossies per dag aan groot- en kleinhandelklante te verkoop.

Dit is ’n besonder groot mark as ’n mens in ag neem hoeveel informele nedersettings in die onmiddellike omgewing van Philippi is. Die groothandelverkope vind plaas aan die agterkant van ’n groot stoor, terwyl die kleinhandelverkope gedoen word aan die voorkant vanuit hul plaaswinkel, African Leaf Farm Stall, wat gerieflik langs die pad geleë is wat voor die plaas verbyloop. Hier kan verbygangers en informele handelaars dié gewilde produkte koop.

Adriaan Rix by die vloot Mahindra trekkers.

Hulle verkoop tans ’n bossie groen blaarprodukte en kool vir R5 elk, maar indien dit skaars raak, styg die prys na tussen R8 en R10, sê Leon.

Die blaarplante word in ’n rotasiestelsel geplant. Die plante word deur die week natgemaak en die blare word geoes. Kool en brokkolikoppe word afgesny, waarna die grond met ’n draaiskoffel (rotavator) bewerk word. Kraalmis word dan op die grond gegooi en die land word geploeg voordat daar weer geplant word. Alle besproeiing geskied uit boorgate op die plaas.

Leon sê hulle plant raap op die grond waar brokkoli en kool geplant was, om wisselbou toe te pas en nuwe elemente in die grond terug te bring. Gesonde grond lewer gesonde produkte. Vanaf die agtweke-plantjie wat geplant word, neem dit sowat drie maande voordat ’n kool- of brokkolikop weer geoes kan word.

Kompos wat die Rix’e eiehandig op die plaas produseer.

VROUE PLANT EN OES

Alle plantjies word met die hand geplant en later weer geoes. Daar is 25 permanente werkers op die plaas en sowat 50 dagwerkers — almal vroue. Daar is ook ’n vrou wat die tarentale verjaag in die rye waar die jong plantjies geplant is, want hulle skrop dit uit die grond uit. Sy maak ook tussen die rye skoon waar die trekker gery het en sorg dat dit vry is van onkruid.

Die blare en koppe word uit die land uit met trekkers na die stoor gery, waar dit dan skoongespuit word. Sommige produkte word gelaai vir die groothandel, en ander word in groot kratte in die winkel gepak, waar verbygangers hul produkte kan koop.

Kool word uit die land gebring, skoongemaak en in houtkratte verpak vir groot-handel of verkoop by African Leaf Farm Stall.

Die Rix’e maak hul eie kompos van die afvalkos wat op die plaas weggegooi word, waar sy oudste dogter, Lerita, met skape spekuleer. Daar word ook met varke geboer. “Varkvleis het baie gewild geword. Daar is ’n reuseverskil in die hoeveelheid vleis wat ’n klant kry as hy R3 000 betaal vir ’n skaap teenoor wat hy vir ’n vark kry.”

Die groot vloot trekkers op die plaas het elk sy eie werk wat verrig moet word. “Ons het besluit dit is makliker om elke trekker sy eie implement toe te wys, eerder as om elke nou en dan die implemente tussen trekkers te ruil vir die werk wat gedoen moet word. Dit werk nou baie beter. Daar is sewe trekkers wat chemikalieë toedien en nog sowat drie wat rip, ploeg en grond bewerk.”

PLANTBESKERMING IS ONBEKOSTIGBAAR DUUR

Swamme en siektes bly ’n voortdurende uitdaging, en daar skermingsmiddels is ’n groot uitgawe — ’n liter kos sowat R3 000, en vir elke toediening moet sowat 150 ml van drie of meer verskillende produkte gebruik word.
Een middel is gemik op wurms, ’n ander teen motte, nog een teen luise, en dan is daar ook middels vir algemene plaagbeheer. Daarbenewens moet ’n waterdemper en swamdoders ook gespuit word. Die waterdemper help om die pH van die water te reguleer, veral wanneer die watertafel sak en die pH tot sowat 8 styg. Die water moet gebalanseer word, anders kan die plante nie voedingstowwe opneem nie.

Nadat die waterdemper bygevoeg is, bly die pH slegs vir sowat ’n uur en ’n half optimaal. Daarom moet die plante onmiddellik gespuit word nadat die mengsel voorberei is. Beplanning is dus uiters belangrik, want daar
is net ’n klein venster vir sukses. Al die middels wat gebruik word, is veilig vir mense. Bemarkers kom gereeld besoek aflê en stap tussen die rye om te bepaal presies wat en waarvoor gespuit moet word.

Afloopwater uit die land sowel as boorgatwater word hier opgedam, waaruit besproeiing vir die groente verkry word.

“’n Boerdery soos ons s’n, waar die produk daagliks van die hand gesit word en boonop aan verskillende tipes markte verkoop word, se grootste uitdaging is om die administratiewe werk en boekhouding van plant, plaagbeheer, benatting, arbeiders, oes en verkope daagliks op datum te hou.”

Leon sê hulle besef al geruime tyd dat die gebied onder druk kom weens die uitbreiding van behuising vir die groeiende bevolking. Die regering probeer vir almal huise voorsien en soek voortdurend na nuwe grond. Die Departement van Landbou was nog altyd die boere goedgesind, maar selfs hulle kom nie meer hierheen nie, omdat hulle geen beloftes kan maak nie. Selfs die polisie-hoof van Philippi, wat die boere goedgesind is, kan net sy skouers optrek — hulle sit al drie maande sonder ’n voertuig. Dit is duidelik dat Philippi met geweldige uitdagings te kampe het.

So wat 50 vroue werk in twee spanne, en daar word sewe dae per week in die lande gewerk. 

PHILIPPI MAAK STERK MENSE GROOT

Persoonlike uitdagings vir produsente en ander inwoners in die gebied sluit die beperkte toegang tot skole in. Die meeste skole is reeds vol, en ouers spandeer baie tyd op die paaie om hul kinders na skole in ander voorstede te neem. “My skoondogter moet al voor 06:00 soggens met die kinders ry om betyds by die skool te wees,” vertel Leon.

Hy sê hul eie kinders was destyds gelukkig om in goeie skole in die omgewing te wees. Die twee dogters was in Hoërskool Jan van Riebeeck. En al lê Philippi in die Kaapse Vlakte, moenie sy mense onderskat nie — die Rix-familie spog byna almal met Springbokklere. As dit nie vir tou-trek is nie, is dit vir ysskaats of swem.
Adriaan het enkele maande gelede aan die Wêreldtou-trekkampioenskappe in Nottingham, Engeland, deelgeneem, terwyl Leon self 52 jaar gelede aan dieselfde wêreldkampioenskappe in Engeland meegeding het.

Philippi maak duidelik sterk manne én vroue groot.

2025 se Nasionale Meestersuiwelboere melk dat die skuim spat

Vanjaar se wenners van die Landbou-navorsingsraad (LNR) se 2025 Nasionale Meestersuiwelboer-toekennings hoef geen tree terug te staan vir vorige jare se wenners nie. Hulle is elkeen uitstaande in die afdeling waarin hulle met ander melkboere meegeding het. Hierdie kompetisie van die LNR is jaarliks ‘n hoogtepunt op Suid-Afrika se landbou-kalender waar erkenning gegee word aan uitstaande prestasie deur die land se top-suiwelboere. Die kriteria van die kompetisie fokus veral op die teel van geneties uitstaande diere, met behulp van prestasie-opname en prestasie-toetsing as instrumente.

DIE WENNERS VAN DIE 2025 LNR NASIONALE MEESTERSUIWELBOER-TOEKENNINGS IS:

  • Grootskaal Meestersuiwelboer van die Jaar: JK Basson Familietrust, Darling, Wes-Kaap
  • Mediumskaal Meestersuiwelboer van die Jaar: Van Niekerk Boerdery BK, Caledon, Wes-Kaap
  • Kleinskaal Meestersuiwelboer van die Jaar: Letsolo PT Dairy, Sebokeng, Gauteng
  • Nuwe kategorie: Korrektiewe Dienste Meester-suiwelboer van die Jaar: Goedemoed Korrektiewe Dienste, Maletswai (Aliwal-Noord), Oos-Kaap
  • Kudde met die beste somatiese seltelling: Packwood Farm, Knysna, Wes-Kaap, met 170 000 selle/ml
  • Kudde met die beste tussenkalfperiode: JK Basson Familietrust, Darling, Wes-Kaap, met ‘n tussenkalf-periode van 375 dae

’n Eretoekenning is ook aan Boy Blanckenberg van Klipheuwel naby Durbanville toegeken as ’n huldeblyk aan sy visionêre leierskap, onwrikbare steun aan suiwelboere en lewenslange bydrae tot die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf.

Grond tot Mond het met die kategoriewenners gesels om uit te vind juis hoekom hierdie suiwelboere as die wenners in hul onderskeie kategorieë aangewys is.

JK Basson van die JK Familie Trustboerdery is vanjaar as die LNR se Grootskaal Meestersuiwelboer van die Jaar aangewys.

GROOTSKAAL MEESTERSUIWELBOER VAN DIE JAAR – JK BASSON VAN JK BASSON FAMILIETRUST

JK Basson het in 1990 saam met sy pa tussen Darling en Yzerfontein begin boer. Hul Holstein-melkery bestaan tans uit 2 700 diere waarvan 1 222 koeie drie keer per dag gemelk word. Die melkery is dekades gelede deur sy oupa met net 160 koeie begin.

Enige boerdery bestaan uit verskillende fasette, maar in melkboerdery is daar ‘n hele paar aspekte wat gesinchroniseer moet wees en alles moet bykans perfek in balans wees ten einde suksesvol te kan wees. Die diere moet van topgehalte wees om te verseker dat ‘n uitstaande produk gelewer kan word. En dit is juis tussenin waar al die harde werk lê, vertel JK.

“Ek het baie kennis ingewin by toptelers toe ek in Amerika gewerk het – veral wat betref goeie uiers, bene en bouvorm en waarvoor presies geteel behoort te word. Ons gebruik daarom ‘n teelingprogram om die beste koei te kan teel wat die beste produksie kan lewer.”

Kalfies word gevoer. 

Moderne tegnologie maak ‘n groot verskil

Hulle gebruik verskeie programme om elke fasette van die dier en die melkery tot sy maksimale produksievermoë te stoot. ‘n Dierevoedingsprogram verseker dat die koeie die regte kos inneem om beter te kan presteer. Die Digistar-voedingsprogram bestuur die voeding en riglyne word gevolg om seker te maak dat elke koei die regte hoeveelheid kos inneem. Cowmanager, ‘n melkprogram, help om melkproduksie te verbeter deur onder meer tekorte uit te wys en waarop spesifiek gelet moet word in die kudde.

Die koeie ontvang hoë-gehalte voer vir maksimale produksie.

“Ons voer uitstekende semen van Amerika af in om ons verse te KI (kunsmatige inseminasie). Zoetis help ons ook met ons genomiese ontledings.” JK sê hulle lê baie klem op koeigemak en behuising, want dit speel ‘n groot rol in hoër melkproduksie.

“Dit is belangrik om die diere teen die elemente van die seisoene te beskerm. In 2001 het ons die eerste behuisingskompleks opgerig en ses maande later ‘n tweede een. Nuwe verse is toe ingekoop om die kudde te groei en nog behuising is geskep.”

Watersproeiers sorg dat die koeie afkoel om hitte-stres te voorkom. 

Ocean Breeze Holsteins is, soos die kraai vlieg, sowat 10 km van die see af. Die seebriesie wat die plaas bereik, sorg dat dit by hulle koeler is as in die binneland en dit pas die koeie perfek.

“Die diere kan maklik hitte-stres kry, en daarom is daar ook ‘n voerbaanverkoelingstelsel en waaiers in die stalle en die behuisingskomplekse aangebring om die koeie af te koel.”

JK Basson het ’n groot liefde vir sy diere. Hier is hy saam met ’n kalfie in die kalfhokke.

Goeie biesmelk is soos goud

“Ons filosofie is om ‘n gesonde kalf op die grond te kry en na haar te kyk na die beste van ons vermoë. Ons gee die verskalwers hoë kwaliteit biesmelk wat getoets word deur ‘n refraktometer. Ná ‘n paar dae word die kalf se bloed getrek en ons kan dan sien wat die vlak van teenliggaampies in die kalf se bloedstroom was. ‘n Kalf wat goeie biesmelk ingekry het, gaan nie sommer siek word nie, wat weer groot kostebesparings tot gevolg het.

JK sê hulle poog om die verse op 14 maande op minstens 430 kg te hê om te kan KI. Wanneer sy goed uitgegroei is met ‘n goeie massa, kan sy op twee jaar reeds in melk kom.

“’n Kalf wat goeie biesmelk ingekry het, gaan nie sommer siek word nie, wat wee groot kostebesparings tot gevolg het.”

Hulle koop goeie kwaliteit lusern aan en maak jaarliks kuilvoer op sowat 600 ha wat hulle ‘n bietjie vroeër probeer sny vir laer veselvlakke. Die boerdery was vanjaar ook die kategoriewenner vir die kudde met die beste tussenkalfperiode (375 dae). Hulle sorg dat die diere deur ‘n veearts ondersoek word om te sien of hulle reg is vir hul siklusse. Die eerste siklus word gemonitor en die koeie word geKI in die tweede siklus op tussen 60 en 70 dae in melk. Hoe vinniger besetting plaasvind, hoe beter is die tussenkalfperiode.”

Koeigemak is van kardinale belang

‘n Gemaklike lêplek in die behuisingskompleks word verseker en kompos, wat op die plaas gemaak word, word gebruik as bedding. ‘n Koei moet lê, gelukkig wees en herkou. “Ons wil ‘n goeie balans tussen produksie en bottervet verseker. Verlede maand was die gemiddelde hoeveelheid melk per dag weggelewer altesaam 46,5 liter per koei en die bottervet was 4,1%.

“Dit is vir ons uiters belangrik om saam met konsultante, voedingskundiges van Nova-voere en veeartse te werk. Elkeen speel ‘n belangrike rol in die bestuur en besluitneming van alle fasette van die boerdery en daarom kom ons ook gereeld bymekaar. Die werkers en bestuurders kry deurentyd opleiding om hulle ook só op die voorpunt van nuwe tegnologie te hou.”

Biosekuriteit en navorsing is essensieel

“Biosekuriteit is vir ons baie belangrik, veral nou weer in die lig van die onlangse uitbraak van bek-en-klou-siekte. Ons koop geen diere in nie, maar voer wel verse uit na naburige lande in Afrika.

“Biosekuriteit is vir ons baie belangrik, veral nou weer in die lig van die onlangse uitbraak van bek-en-klou-siekte.”

JK maak gebruik van navorsing en terugvoering waarvolgens hy dan sy bestuurstelsels toets en aanpas indien nodig. “Ons gebruik die LNR se melkaantekeningskemas met terugvoeringsverslae sodat ons ons kudde kan meet teen dié van ander melkboere.

Die uitdagings sal altyd daar wees. Insetkoste en veral elektrisiteit was ‘n groot kopseer veral met al die kragonderbrekings. “Ons het egter aangepas en ‘n sonplaas opgerig om seker te maak ons kan steeds volhoubaar boer.

Dit is vir ons baie belangrik dat die verbruiker die waarde van melk sal besef en eerder ‘n botteltjie melk as ‘n energiedrankie sal koop!”

Wimpie van Niekerk van Caledon saam met sy vrou, Jané, en hul twee kinders, Lienke (4) op sy skouers en Jan-Willem (2).

MEDIUMSKAAL MEESTERSUIWELBOER VAN DIE JAAR – WIMPIE VAN NIEKERK VAN VAN NIEKERK BOERDERY, CALEDON

Wimpie van Niekerk, van die plaas Spes Bona, boer op hul familieplaas in die Caledon-distrik. Hy en sy neef, Niekie, wat die saaikomponent van die boerdery behartig, boer saam. Geslagte boer al so saam en vroeëre jare het hul pa’s, Willie en Eben, ook saamgeboer.

Die melkboerdery is dekades gelede met 12 Jersey- en 6 Ayrshire-koeie begin. Dit is ‘n geslote kudde met kleindogters van kleindogters van die aanvanklike kudde. Hulle gebruik Deense bulsaad om te KI. “Ons probeer eintlik die Ayrshires uitwerk, want hulle is te groot vir ons stalle en vreet verskriklik baie. Hulle gee wel meer melk, maar die bottervet en proteïene, waarop ons boerdery veral fokus, is te laag.

“Ek glo ‘n melkboerdery is een van die mees presisie-boerderye wat daar is. Ons uitgangspunt is: om te meet is om te weet; daarom is rekordhouding vir ons van groot belang.”

Die melkspan maak seker alles loop seepglad tydens melktyd. Links is Geduld Klein, en regs is (van voor na agter): Valicia (Liesie) Julies, Amalia Arendse en Willem Skippers.

Ontwikkeling oor die jare

“My pa het byvoorbeeld jare gelede een melklesing in 30 dae gehad, maar nou het ons met elke melking een lesing en kan ons in ‘n maand 60 datapunte gebruik om te besluit of ‘n koei uit die kudde gehaal moet word of nie.”

Ontwikkeling in die melkery behels ‘n verkoelingstoring wat die melk van 37ºC tot 20ºC afbring, wat beteken die kompressors kan baie ligter werk. Ons kan ook verstellings sodat ons net die krag wat ons nodig het, gebruik. Sonkrag help natuurlik ook dat ons elektrisiteitverbruik laer en goedkoper is.

Willie van Niekerk het jare lank geboer totdat Wimpie die melkery by hom oorgeneem het. Hier kuier Willie ’n bietjie by die kalfies.

Die SenseHub-hittebande van Allflex is een van die beste toevoegings in ons melkery, vertel hy. “Ons het eers met die hitte-plakkers gewerk, maar dit was nie altyd konsekwent nie en die tydfaktor het te veel speling gehad. Vandat hulle die hittebande gebruik, kan hulle ‘n merkwaardige groei in hul dragtigheidsyfers sien met groei vanaf 60% tot amper 90%. ‘n Veearts hanteer die skandering en met nuwe tegnologie is die inligting reeds op die rekenaar gestoor nog voordat hy die plaashekke verlaat.” “Tegnologie het boerderypraktyke só veel vergemaklik, dat ek eintlik nie kan dink hoe mens daarsonder kon klaarkom nie.”

Die Van Niekerk-boerdery fokus op hoë bottervet en proteïen. Jerseys bied juis dit.

Voeding is nr. 1

Voedsel word spesifiek toegedien en elke koei kry haar eie rantsoen. Dit is prestasiegebaseerd, want hoe meer melk sy gee, hoe meer kos kry sy.

Hoewel baie van die voeding geoutomatiseerd is en ons programme dui vir ons duidelik aan hoeveel voer die koeie, verse en kalwers moet kry, is dit steeds belangrik om elke dag by die bakke te gaan draai om doodseker te maak dat die kos reg gemeng is.

Aanvanklik het hulle met sowat 270 beeste geboer, maar in 2017 het hulle ‘n nuwe stal gebou wat gehelp het dat die kudde groter kon groei.

Die kalfies word met kalfvoermasjiene gevoer wat die proses aansienlik vergemaklik, aangesien hulle volgens ouderdom en gewig gevoer word. 

Kernboerderybeginsels wat gevolg word

Wimpie sê hulle probeer die lewensduur van die koeie rek, al beteken dit laer liters op die lange duur. Ons fokus is op hoë bottervet en proteïene. Hulle werk op ‘n volvoerstelsel en ‘n weidingsstelsel. Die toppresteerdende beeste is op die volvoerstelsel en koeie wat later in laktasie kom, skuif oor na weiding.

Tweederde van die kudde loop op die weiding en dit verg fyn bestuur. Wanneer die weiding minder raak, voer hulle strooi- en kuilvoerbalen.

Geduld Klein is al jare op die plaas en is ’n ou hand wat weet van raakvat. Hy werk al 37 jaar op die plaas. 

“Die belangrikste element van ‘n volhoubare melkery is om dit eenvoudig te probeer hou. Die beeste moet melk gee, gesond wees en goeie kos kry. Die somme moet natuurlik ook klop. Dit kos sowat R15 000 om ‘n vers groot te kry; dan moet jy seker maak jy maak die regte vers groot.

“Die DelaVal-melkstelsel maak die lewe vir ons baie makliker. Alles is met ons selfone gekoppel en ons reaksietyd is baie vinnig. Waar ons in die verlede sowat 9 ure gemelk het by 270 koeie, melk ons nou 500 koeie in 5 ure. Die kalwers word gevoer met kalfvoermachines. Hul voeding word aangepas volgens hul ouderdom. Hoewel tegnologie baie duur is, maak dit boerdery supermaklik en haal dit die menslike foute uit die stelsel, wat tyd en geld bespaar.”

Goeie teelmateriaal maak die verskil

Ons boerdery maak staat op goeie genetika. Gemiddeld lewer ‘n Jersey-koei sowat 30 liter en die bottervet- en proteïen-persentasie is hoog. Langlewendheid is van groot belang, want nuwe verse breek eers gelyk met een en ‘n half laktasies. Dan eers begin mens geld maak. ‘n Sewende-laktasiekoei is dus beter as ‘n eerste-laktasievers. In ons kudde poog ons om die gemiddelde laktasie te verbeter.”

Amalia Arendse is besig in die melkery tydens melktyd. 

Omgewingsimpak word gemonitor

Wimpie meen goeie waterbestuur en die volhoubare gebruik van misdamme gaan al hoe belangriker word. Ons gebruik die miswater en die droë mis weer op die plaas. Water word baie effektief bestuur en daar word nie onnodig gepomp nie.

Sy bestuurspan is vir hom van uiterste belang. Niekie help aan die saaiboerderykant waar dit met die melkery oorvleuel en die kuddebestuurder, Jaco Conradie, is ‘n staatmaker. Geduld Klein, wat reeds jare op die plaas is en ook vir sy pa en oom geboer het, is ‘n ou hand wat jare se ondervinding het. Sy pa help geweldig baie met raad en eerlike terugvoer. “Arbeid is nie duur nie. Oneffektiewe arbeid is duur. Gelukkig het ons ‘n baie positiewe span en help die werkers tussen die afdelings op die plaas, veral oor naweke.

Willie van Niekerk en sy kleinseun, Jan-Willem (2), kuier bietjie by die kalfies.

“Opleiding is kardinaal in enige besigheid want dit sluit onnodige onkostes uit. As die werkers ingelig is oor wat van hulle verwag word, is dit maklik om daarop voort te bou. Elkeen neem verantwoordelik vir die rol wat hy/sy moet vertolk. Ek deel erkenning mildelik uit, want juis dit spoor mense aan om ten volle hul kant te bring.”

“Dit is dan ook waarom die LNR-toekenning vir my en my span ‘n groot eer is. Harde werk wat konsekwent gedoen word, sal altyd vrugte afwerp. Ek is baie trots op die span vir dit wat ons vermag het”, sê Wimpie.

Christiaan Tsolo (regs) en sy vrou, Christina, links van hom, saam met hul twee seuns: Philip (32), heel links, en Nelson (37), tweede van links. Hulle boer naby Vanderbijlpark.

KLEINSKAAL MEESTERSUIWELBOER VAN DIE JAAR – CHRISTIAAN TSOLO VAN LETSOLO PT DAIRY, SEBOKENG, GAUTENG

Christiaan Tsolo glo harde werk, geloof en genade is wat sukses bring. Die plaas, Kaalfontein, naby Vanderbijlpark is waar hy en sy twee seuns hul melkery behartig. Met die hulp van die Departement van Landelike Ontwikkeling het hy die grond reeds in 2008 bekom en het sy melkery met 15 Holstein-koeie begin.

Die kudde bestaan vandag al uit 62 beeste waarvan tussen 25 koeie gemelk word. Die gesin het ‘n huis in Heidelberg waar sy vrou, Christina, woon, maar op die plaas is waar jy hom altyd sal vind, tussen sy diere. Sy twee seuns, Nelson (37) en Philip (32), boer saam met hul pa.

LNR help geweldig met melkstelsels

Christiaan sê die LNR help hom geweldig baie met die melkaantekeningstelsel wat presies wys hoeveel bottervet en proteïene die melk bevat. Melkstatistieke wat hulle vir hom deur gee, help om ingeligte besluite te neem. Die melk word aan Abraham Mohapi Melkery verkoop. Die melklewering is soggens sowat 250 liter en saans 195 liter.

Christiaan melk met behulp van drie trolliemasjiene waarop twee beeste gelyktydig gemelk kan word.

Diefstal en arbeidsprobleme is ‘n uitdaging

Probleme wat hy ondervind in sy melkery is onder meer diefstal. “Die werkers is lui om naweke en oor feestyd te werk. Dit is iets wat ek gaan aanspreek, die komende jaar, en ander werkswyse gaan implementeer om te kyk of ons dit kan oplos. Ons het ook ‘n varkboerdery en daarom is arbeid vir ons baie belangrik. Ons kan nie die boerdery alleen hanteer nie en is afhanklik van arbeiders”, sê Christiaan.

Wind en reën speel ook altyd ‘n rol en dit het in die verlede dikwels veroorsaak dat die krag afgaan. In 2021 het Melk SA egter gehelp met bykomende beeste en het hulle sonpanele gedeeltelik gesubsidieer om die kragprobleem te verlig. “Sedertdien gaan dit baie beter en is ons nie meer van kragvoorsiening afhanklik nie.”

Voer en medisyne is plaaslik bekombaar

Ook die plaaslike agribesighede is baie goedgesind teenoor Christiaan en kan hy enige tyd aanklop vir raad en hulp. “Party se produkte is duurder as ander, so mens moet maar mooi jou huiswerk doen voor jy jou aankope doen.”

“Dit is van uiterste belang om seker te maak jou somme klop. Voer is duur, maar die beeste eet baie lekker en dan gee hulle meer melk.”

’n Veearts van die Departement van Landbou staan hom baie mooi by met inligting en maniere om siektes te behandel, sê hy.

Christiaan is ontsettend lief vir sy diere. Hulle het nie net nommers nie, maar elkeen het name ook en word geroep om in te kom om gemelk te word. Dan kom hulle. Witkop, Sadrag en Masepule is maar enkele van die name wat hy sy geliefde koeie noem.